VYFTIG JAAR MET BLOU BLOED


Gelukwensings is welkom! So het ek Saterdagaand na die slagting op Loftus aan ‘n klompie vriende ge-SMS. Wie verjaar? het een grapjas laat terugweet. Gisteroggend was die kerk vol, want dit was nagmaal. Ek het daardie vriend nie gesien nie. As ek het, sou ek sweerlik onder kollekte vir hom tong uitgesteek het.

Die Bulle het nie net die arme Chiefs vermorsel nie, maar ook vir volhardende veteraan-ondersteuners soos die uwe die groot lekkerkry besorg om ‘n slag behoorlik “pê” te kan sê. Pê, pê, pê – veral vir al my Stormervriende wat al lank sonde soek.

Kyk, ek weet vir die eindstryd van die Super 14 was Suid-Afrika bankvas agter die Bulle. Ook in die Kaap was “blou bloed” volop. Maar een swaeltjie maak nie somer nie en een Saterdag se solidariteit vee nie jare se teistering uit nie. Daarom wil ek iets sê, en ek gaan dit sê.

Mos ‘n snaakse nasie die Kapenaars. Derduisende oud-Maties sit op Loftus se paviljoene en “Province, Province” hul harte uit as die WP of die Stormers in Pretoria speel. Kom jy as oud-Tukkie Kaap toe en eis vir jou op Nuweland dieselfde reg op, kry jy nie net die Suidoos nie, maar alle soorte winde van voor.

Jy kan tog nie in die Kaap woon en vir die Bulle skree nie, hoor ek dikwels stom verbaas. En soms nogal erg verontwaardig. Selfs driftig. Die implikasie is dat jy die een of ander soort verraderlike troubreuk pleeg. Beledigings van die Blou-Bul-kultuur, en veral van Bulle-ondersteuners met hul ”horings en bierpense”, moet jy ook maar filosofies verduur.

Ek glo daar sit iets sielkundigs agter, wat ‘n deeglike psigiater seker op sy sofa uit ‘n tradionele Streeptrui sou kon trek. Maar laat my nie probeer diagnoseer nie. Ek soek nie op hierdie anderster soort “blou Maandag” baklei nie.

Al wat ek wil doen,.is om luid en duidelik hier uit te troep: dis lekker om ‘n Blou Bul te is, te is …. Veral na Saterdag, toe die mite van “verbeeldinglose” Blou-Bul-rugby of “net skop-skop-skop” deur die rekord-agt drieë darem seker finaal begrawe is.

Een keer ‘n Blou Bul, altyd ‘n Blou Bul, seg ekke, al het ek vir die Cheetahs ook ‘n sagte plekkie (ek was darem twee skofte van 12 jaar elk in Bloemfontein). Ware rugbyplesier verbind ek nog maar altyd aan Loftus en Pretoria.

Dis waarheen ons Tukkie-generasie van die laat 50’s af gestroom het as groot geeste soos Frik du Preez, Mof Myburgh, Louis Schmidt, Moaner van Heerden, Piet Uys en daardie snare in hul ligbloutruie van destyds die krane oopdraai.

Ek was die onvergeetlike dag op Loftus toe groot Frik nogal in die Curriebeker-eindstryd teen die einste WP ge-“place”, ge-“drop” en ge-“score” het. Ek was ook daar toe Frik in sy Springboktrui deur die Franse storm dat hulle doer spat, toe Joggie Jansen met sy plettervat die Leeus se losskakel Richard (meen ek) Sharp met die aarde gelyk maak en toe Syd Nomis teen die All Blacks onderskep en ooplê doellyn toe terwyl Gerhard (Spiekeries) Viviers dit oor die radio uitkreet: “Siddie, Siddie, Siddie….”

Loftus beteken nie vir my net Springbokrugby of Blou-Bul-rugby nie. Dit beteken ook Tukkie-rugby. Epiese Tukkies-Bobbies-kragmetings is daar uitgespook. Sal ek vergeet die dag toe my Kollegemaat die losskakel Nic Bojé die Bobbies so ge-Morné Steyn het met sy akkurate skepskoppe? Of, voor hom, Anton Prinsloo se vlymskerpe breekslae? Johan (Piepies) Pieterse se kraglopies op senter?

(Een van Anton se breekslae, in ‘n intervarsity teen Wits, was so verbluffend dat ek, wat toe al ietwat dof was van die baie bier, weke later in die fliek op “African Mirror” eers gesien het hoe hy deur die Witsies sny!)

Ook die Transvaalse kampioenspan Diggers (met Hennie van Zyl op die vleuel) se neuse is in Loftus se gras ingeboor. Nog ‘n Kollegman, die skrumskakel Proppie Goosen, was een heuglike keer die spesiale doring in hul vlees.

So lojaal was ons studente daardie tyd dat ons selfs vir tweedespan- of derdespanwedstryde na Loftus se B- of C- veld sou opruk – en dan in rusies met die opponente se ondersteuners betrokke raak wat amper ons grootbekke laat bloei het.

Die hoofpaviljoen was normaalweg nie vir ons beskore nie. Watter student se sakgeld kon daardie dae sulke luukses bekostig? Maar intervarsities het die helfte van die hoofpaviljoen aan die Tukkie behoort en die ander helfte aan die Witsies. Die Tukkieliedjies het ek (wat nie juis ‘n sanger is nie) almal van buite geken. Ons en die Witsies het mekaar uit volle bors probeer doodsing en met spitsvondighede gekoggel terwyl ons helde die stryd op die veld uitspook.

Voor intervarsity het ons aand vir aand ons “sing-songs” op Loftus se hoofpaviljoen gehou wanneer ons neuse eerder in die boeke behoort te gewees het. Op die foto hierbo is so ‘n Loftus-“sing-song” – ek meen in 1961. Die dirigent is Jan Lombard wat dokter geword het. Die ou met die dikraambril wat in die voorste ry so vooroor sit, is Is Arend de Waal wat later in Windhoek skoolhoof was.

Dis 50 jaar later. Maar ai, ek wens ek kon Saterdag weer op Loftus gewees het. Saam met die opgewonde Wynie Strydom wat as toegewyde bestuurder van die Bulle telkens demonstreer watter passie en drif in Pretoria heers – een karaktertrek van die Noord-Transvalers wat van die Bulle so ‘n spesiale span maak. Saam met die hordes ondersteuners in blou, met hul vlae en horings, hul geverfde gesigte, hul plakkate en baniere. Saam met die Blou-Bul-meisies wat ongetwyfeld die oulikste van almal is.

Dis deesdae natuurlik ‘n totaal ander Loftus as die oue wat ek leer ken het – baie groter, baie indrukwekkender. Maar die bruisende Loftus-gees onthou ek goed. Daarmee kan ek my ten volle assosieer, en met die kampioen-rugby van Victor Matfield se krygers nog des te meer.

Gun my dan om te sê: “Pê, pê en nog ‘n keer pê!” (HvD)

‘N OU LYF MET BAIE MYLE OP!

Kyk, ek voel skoon siek omdat ek so blatant vir ‘n vriend gelieg het oor hoe gesond ek is.

Hy bel vanoggend uit die verre noorde na ‘n lang onderbreking in kommunikasie en – hoewel hy ‘n jaar nader aan 70 as die uwe moet wees – klink hy onheilspellend opgeruimd, energiek en lus vir die lewe.

Ek steier amper fisiek oor die denkbeeldige joviale skouerklap met sy groot, sterk hand waarmee hy gewoonlik ontmoetings onder vier oë begin.

“Hoe lyk dit ou bulperd?” wil hy weet. “Skop dit darem nog daar op Melkbos?”

Ek wil nie graag verklap dat ek effens oes voel na dalk ‘n glasie of twee te veel sauvignon blanc by ‘n ete saam met vriende gisteraand nie.

Ek sidder ook by die gedagte om hom in te laat in die geheim dat dit deesdae ‘n stryd is om my regterkous aan te kry. Die einde van die gesukkel is gewoonlik n kramp in die linker-bobeen wat as stut moet dien, ‘n brandpyn in die linkerkuit en ‘n gefluit in my kortasem bors.

Dan is die kous nog maar driekwart aan, en lê ‘n laaste stukkie kraginspanning voor om die tone tot voor in te wurm.

Ek sien ook nie kans om te verklap watter folterpyn van die lae rug af grondwaarts geflits het nou die dag toe ek ewe onskuldig van ‘n riempiestoel aan n etenstafel wou opstaan nie.

“Tokkie, bring my kierie,” moes ek dringend sis.

Selfs my liewe vrou, wat gewoonliki vermoed dit kan nie so erg wees soos ek voorgee nie, was klaarblyklik dadelik oortuig dis nie ‘n gewone ou pyntjie wat my beet het nie. Binne n paar sekondes was my kierie in my hand. Steunend en met bewende hand op die kierie se handvatsel, kon ek toe darem seer-seer met verdrag orent beur.

Al die pynlike tonele van fisieke agteruitgang skiet soos promosie-flitse voor my oë verby terwyl ek kuggend ‘n antwoord op daardie gelaaide vraag formuleer.

“Ja,” antwoord ek oplaas – en hoop om oortuigend te klink – “dit skop.“ Toe lieg ek, wat nie ‘n gewoonte-leuenaar is nie,ongevraagd ‘n stertjie by. “Pas terug van ‘n lang verfrissende wandeling op die strand. En die jong meisies word mooier by die dag, hoor. Jy moet kom kyk.” (hy’s n wewenaar)

“Goeie,ou Hennie,: laat hy hoor. “Skop vas, my maat, skop vas. Moenie laat die ouderdom by die voordeur in kom nie. Dan trek die goeie lewe by die agterdeur uit. Ha-ha.”

“Jy ook,” sê ek, en ek tas na my kortisoonspuitjie omdat ‘n ontydige niesbui my wil oorval.

Sy selfoon lui in die agtergrond. Hy maak verskoning en groet.

En ek sit hier in my bondeltjie en verknies my omdat my lyf soveel myle op het – dan het ek daardie mylmeter waaragtig skaamteloos soos ‘n oneerlike verkoopsman van gebruikte motors probeer terugdraai om my ou maat om die bos te lei oor my ware kondisie. (HvD)

“N LEM TEEN DIE KEEL VAN ‘N KIND”

“Kinderbagasie” het eers na my 60ste jaar in my woordeskat verskyn. Deesdae hoor ek die woord al hoe meer. Veral van die kansel af. In Pinksterweek is in ons gemeente opnuut gewag gemaak van dié “bagasie” wat sommige jong slagoffers tot in hul grootmensjare treiter.

Voorbeelde wat genoem word, wissel van ‘n vals beskuldiging, ‘n taai oorveeg, ‘n afgedankste loesing tot by ekstreme vorme soos seksuele molestering (die “hande op die lyf”, die “fluisterstem in die oor”) en dies meer.

Dat kinders soms swaar ly onder bose ouers, nare onderwysers en allerlei gesagsfigure met voete van klei is ‘n feit. Met die slagoffers van mishandeling, teistering en vertrapping en hul lewenslange gesukkel om beproewings te verwerk, het ‘n mens (ook ek) diepe deernis. Oor die begip ”kinderbagasie” het ek desondanks tog sekere vrae.

My kennis van sielkunde is maar effentjies. Ek het in die Honneursklas op Tukkies vroeg-vroeg belang verloor en die res van die jaar liewers in die Capitol gaan fliek as om in Weskoppies praktiese ondervinding te gaan opdoen. My opinie is dus ‘n leke-opinie.

My indruk, vir wat dit werd is, is egter dat party mense iets onplesierigs uit hul kinderdae onthou opvallend nadat hulle as grootmense drooggemaak het en ‘n verskoning broodnodig het om hul onbehoorlike optrede te probeer regverdig.

‘n Mate van skeptisisme moet dus bely word oor die buitengewone prominensie wat die huidige generasie aan hierdie relatiewe nuutjie van “kinderbagasie” gee. .

Maar kom ons los my en my twyfel eers eenkant. Ons gaan lees in Genesis – die verhaal van die eerbiedwaardige Abraham wat in opdrag van Bo sy seun Isak na die berg Moria bring om hom te gaan offer.

Isak raak kennelik ongemaklik as hulle so in broeiende stilte aanstap. Hy sien sy pa het hout en vuur, maar geen offerlam nie. Hoe dan? Abraham stel hom gerus dat God sal voorsien. By die offerplek aangekom, is Isak (wat die hout op sy rug soontoe moes dra!) nog altyd in die duister. Hy aanskou onbegrypend sy pa se altaarbouery. Eensklaps gryp Abraham sy seun dan, bind hom vas, sit hom op die altaar en vat die mes om hom te slag.

In daardie stadium gryp die Engel van die Here in, maar watter trauma het die arme Isak nie dan al beleef om so goedsmoeds ter slagting gelei te word nie – sy kinderlike vertroue aan flarde geskok deur ‘n vaderlike geweldsdaad wat, in die woorde van oud-premier John Vorster in ‘n ander verband, eenvoudig “too ghastly” was “to contemplate”?

Vergeefs soek ek in Genesis ‘n vertroostende verduideliking van die vrome Abraham aan sy verskrikte seun, of enige insig oor hoe Isak deur die vreesaanjaende gebeure diep in sy hart getref moet gewees het. Die volgende wat ons van Isak hoor, is wanneer die skone Rebekka sy bruid word.

“Kinderbagasie”? ‘n Vertroude vader wat jou vasbind om jou te slag, moet tog ‘n onvergelykbaar groter trauma vir ‘n kind wees as ‘n onverdiende klap of ‘n kwaai pak slae. Maar Isak kry nie angsaanvalle nie en sy verhouding met sy pa bly klaarblyklik ongeskonde.

Ook in Genesis lees ons die verhaal van Lot en sy twee dogters, albei nog maagde, wat hy absoluut carte blanche aan ‘n seksbeluste spul woestaards in Gomorra aanbied: “Doen met hulle wat julle wil.” Maar dié verfoeilike daad van gruwelike troubreuk eindig, volgens huidige standaarde, verrassend. Diè twee gaan bly saam met die vlugtende Lot in ‘n grot. Daarna maak hulle hom dronk en verlei hom.

Moet my tog nou net nie beskuldig dat ek die Ou Testament met sy ingrypend anderse kulture, tradisies en praktyke wil misbruik om wandade van hier en nou te probeer vergoelik nie. Abraham was onder onmenslike druk om sy geloof te bewys en Lot se optrede was walglik, kort en klaar.

Maar dat sulke Bybelverhale my eie onsekerheid oor die kwessie van “kinderbagasie” voed, kan ek nie ontken nie. As ek lees wat Abraham en Lot hul arme kinders aangedoen het, is ek verbaas om byvoorbeeld van die kansel te hoor van ‘n “bekende sportpersoonlikheid” wat in die kleedkamer angsaanvalle kry net oor niks meer nie as ‘n onderwyseres wat hom kleintyd in die klas ‘n klap gegee het oor ay alewige gesnuiwery weens hooikoors!

Arrie-nee, hoeveel loesings en klappe het ek (en my maats) nie self gekry nie, en dan is my pa boonop dood toe ek maar ‘n tenger vyf jaar oud is. Ek moes die swaar eenvoudig op eie houtjie verwerk. Ook daarom sukkel ek om van die suspisie ontslae te raak dat nie almal wat “kinderbagasie” pleit, inderdaad sulke slagoffers was soos hulle te kenne gee nie.

Ek wil nie ongevoelig klink nie. Ek weet ook ek steek my kop in ‘n byenes. Ek kan egter nie help om te wonder nie of te veel gewig in terapiekamers nie soms aan onbeduidenhede in ‘n mens se kinderjare geheg word nie om sodoende emosionele stoornis of afwykende gedrag van ‘n ander oorsprong te verklaar.

Bestaan ‘n waterdigte metode om tussen “egte kinderbagasie” en “nie-egte kinderbagasie” of “gewaande kinderbagasie” te onderskei? (HvD)

“ONS EIE KEUSE”

Ligte klassieke musiek het in my lewe gekom met die periodieke Plate-aande Saterdagaande in die skoolsaal van Potch-Volkies. Dit was nie die gewildste aktiwiteit nie, want die skoolsaal se ligte het dwarsdeur bly brand, en selfs ‘n handjies-vashouery was uit. Van die snitte wat oor en oor gespeel is, is egter tot vandag toe gunstelinge.

Eers op Tukkies in die jare vyftig het ek met “U eie keuse” op die Afrikaanse Radiodiens (nou RSG) kennis gemaak, al was die versoekprogram al sedert 1945 (toe ek vier jaar oud was) op die lug. Op alleen-aande was die mooi musiek ‘n troos.

In 1974 toe ek en Tokkie van Bloemfontein vir ses jaar Johannesburg toe is, het ek Kosie Jooste se huis in Randburg sterk oorweeg. Hy laat val toe hy het die eerste “U eie keuse” op 20 Oktober 1945 uitgesaai. Die man het in my estimasie gestyg, maar sy huis se pype het darem te erg gerammel as jy ‘n kraan oopdraai!

(Na Jooste, het verskeie aanbieders gevolg: Pieter Naudé, Jan Spies, Vincent Hesse, Hennie Pietersen, André Liebenberg, Frikkie Oosthuizen, Henk Bierman, Retief Uys, Anton Prinsloo, Robert Young. Deesdae is dit natuurlik Wouter de Wet, wat ook tenniskommentator is. Young is die vader van die gewilde “U eie keuse”-CD’s. Retief Uys was ‘n vriend uit die Bloemfonteindae. Malaria het sy lewe geëis).

In April 1988 was Pa en Ma Malan vir oulaas by ons op Buffelsbaai waar ons vroeër altyd saam vakansie gehou het. Wat ek nie sal vergeet nie, is die laaste siens die aand op George se lughawe: hy, ’n uitgeteerde bondeltjie mens in ’n rolstoel op ’n windverwaaide laaiblad, wagtend om aan boord geplaas te word.

Die volgende ontmoeting was in die kankersaal van Pretoria se H.F. Verwoerd-hospitaal. Pa Malan was in ’n beswyming. Ek het die nag by hom gewaak en is in daardie eensame ure deur ’n diepe droefheid beetgepak. Ons het ’n lang pad saam afgelê.

Vroeër die aand het ’n pasiënt in die verste hoek sy radio op “U eie keuse” ingeskakel. Robert Young was die aanbieder. Dié verheffende musiek te midde van lyding was ontroerend. Ek kon nooit weer na daardie program luister sonder om daardie aand in die kankersaal in herinnering te roep nie. Vier dae later is Pa dood.

Van almal wat daardie aand in Saal 21 deur Young en sy musiek betower is (ook die bekende Oom Fasie van die TV-program “Nommer Asseblief”), is dit waarskynlik nog net ek en die verpleegsters wat in en uit is, wat in die lewe is – ’n ongemaklike gedagte.

Ewenwel, op ‘n dag het ek en Tokkie gaan sit en “ons eie keuse” saamgestel. Hier volg ons lysie “hartsmusiek”, nie in gewildheidsvolgorde nie:

Nonnekoor & Laura se aria uit Casanova (J. Strauss II)–dir. sir Neville Marinner

. Mozart se klavierkonsert Nr. 21 in C Majeur (‘Elvira Madigan’) K. 467 Adante

Amazing Grace—Diana Ross

Gebed van ‘n jong meisie—Joseph Cooper

Fa La Nana Bambin—Anna Maria Alberghetti

8de Variasie op ‘n rapsodie van Paganini op ‘n tema van Rachmaninoff

Largo uit Nuwe Wêreldsimfonie (Dvorak)—Stuart Burrows

Bella Figlia dell’amore-kwartet uit Rigoletto (Verdi)

Tsjaikofski se Klavierkonsert Nr. 1 in B Mol Mineur

Non, Je Ne Regrette Rien—Edith Piaf

O Holy Night—George Beverly Shea

Hoe Groot Is U (S.K. Hine) —Rudi Neitz

Marieke—Jacques Brel

Seënbede—Anneli van Rooyen

Barcarolle uit Verhale van Hoffman (Offenbach)—op harp

Jantjie—Tygerberg-kinderkoor

Neuriekoor uit Madama Butterfly (Puccini)

Wals op. 39 nr. 15 van Brahms—Wessel van Wyk

Va pensiero (Slawekoor) uit Nabucco (Verdi)

Stille Nacht—Bielefelder Kinderchor

Die omvang van die lys sal Wouter de Wet seker sy hande in die lug laat gooi. Dis stof vir twee programme. Toemaar, Wouter, dis in elk geval nie vir die radio bedoel nie – sommer net vir ons eie plesier.

Van die historiese, sentimentele en ander redes waarom bepaalde snitte op ons lysie pryk, vertel ek graag in ‘n volgende aflewering (HvD)

HARTSMUSIEK

Baie dringend benodig – Perry Como se liedjie”I love you and don’t you forget it.” Hierdie klein advertensie in Die Burger het mense dae lank laat wonder. Die storie agter die storie is dat ‘n weduwee daarna op soek was vir haar oorlede man se gedenkdiens. Dit was sy gunsteling-lied.

Ek hou ook van Perry Como, maar verkies persoonlik treffers soos “Magic moments”, “Don’t’ let the stars get in your eyes” en “More”. Vir ‘n gedendiens sou my keuse op “I believe” val.

Vir my eie gedenkdiens (Tot-siens-diens) is my keuse egter nie Perry Como nie. Ek soek die “Largo” uit die “Nuwe Wêreldsimfonie” van Dvorak, uitgevoer op die orrel deur Melkbos se gewese orrelis, Riana Hanekom.

Die storie agter die storie is dat ek hierdie meesleurende Dvorak-skepping leer ken het toe ek einde 1958 vakansiewerk by Die Volksblad in Bloemfontein gaan doen het. Kollega Wiets Beukes het dit graag op sy draaitafel gesit.

Vir my was dit simbolies. Die eerste proesel van die grootmens-joernalistiek het inderdaad ‘n “nuwe wêreld” vir my geopen. “Going home …” dit is boonop ‘n vertroostende wete as jou dag aanbreek om finaal afskeid te neem.

Elkeen van die 20 liedere op my en Tokkie se “Ons eie keuse” in die blog hierbo het natuurlik “’n storie agter die storie” hoekom ons hulle as “hartsmusiek” reken. Die redes kan sentimenteel of histories wees, soos hierbo. Soms het die kunstenaar die deurslag gegee. Diana Ross (“Amazing Grace”), Anna Maria Alberghetti (“Fa La Nana Bambini” – die treurige wiegeliedjie met die snik aan die einde), Edith Piaf (“Non,je ne regrette riem”) en die Tygerberg-kinderkoor (“Jantjie”) is maar ‘n paar.

Van Piaf het ons ‘n langspeelplaat, “Homage a Piaf”, as trougeskenk gekry. Daarop sing die “Mossie van Parys” o.m.ook “Milord” en “Le Trois Cloches”. Aangrypend! Die smeulende Alberghetti het ek leer ken toe ek vir Tokkie op Bultfontein gaan kuier het. CD’s van haar is skaars. Ek het onlangs een van Duitsland laat invoer – teen ‘n prys.

“A Country style Christmas” (foto bo) is die naam van ‘n reeks Kersplate wat ons in 1976 in kniediep sneeu in Cambridge, Massachusetts, gekoop het. Daardie “wit Kersfees” het diep in ons harte ingeboor. Die Amerikaanse Kersmusiek was vir ons hemels. George Beverly Shea – wat ‘n stem!

Amper 20 jaar later het ‘n besoek aan Oostenryk sy eie musiek-herinneringe in sement gegiet. Johan Strauss II se ”Nonnekoor” en die onoortreflike Mozart se “Elvira Madigan” val in daardie kader.

“Stille nag” was ‘n seker keuse vir my en Tokkie se lys. Maar watter opname? Uiteindelik moes ons kies tussen die Amerikaner Carl Smith se weergawe op “A Country style Christmas” en ‘n opname van die Bielefelder Kinderchor op ‘n plaat wat ek as nuusredakteur van Die Volksblad amper 50 jaar gelede by Lufthansa present gekry het. Laasgenoemde het net-net gewen.

Die oorheersende SAUK-storie (“radiosepie”) van die 60’s was “Soetmelksvlei” en in die volksmond was die “18de Variasie uit ‘n rapsodie op ‘n tema van Paganini” gou bekend as die “Soetmelksvlei-serenade”. Ek het my neef Ben Smith van Pretoria altyd (tot my heimlike lekkerkry) verstom as ek die regte naam so kon afrits.

Wyle Fred Schnetler, meesterlik op die gebied van motors en musiek, het die pikante gewoonte gehad om vir vriende op bakenverjaardae CD’s te sny met musiek uit hul geboortejaar. Toe ek in 2001 60 word, was daar ‘n Fred-CD in die pos. As toegif Jacques Brel se ”Marieke” bygevoeg. Joe, luister ek graag.

Die naam van die komponis van “Gebed van ‘n jong meisie”, Baderzwska-Baranowska, is ewe seer ‘n mondvol as die “18 Variasie….” ens. Die hemelse musiek het ek en Tokkie na ‘n lang tyd so drie jaar gelede by Cas en Nella Jacobs in Centurion gehoor. Geen twyfel daarna nie dat dit op ons lysie hoort!

Van gebede gepraat: te veel CD’s van wisselvallige kwaliteit kom deesdae op die mark met ‘n geestelike inslag. Rudi Neitz se “Hoe groot is U” en Anneli van Rooyen se “Seënbede” (wat aan my oorlede swaer Neels Nothnagel behoort het) roer my egter elke keer.

Tokkie was ‘n belowende jong pianis met hoë Universiteit van Suid-Afrika-kwalifikasies en ek ‘n dromer dat ek ook nog een dag my vingers so oor die klawers sou kon laat gly. Natuurlik moes daar heelwat klaviermusiek op ons lys kom. Tsjaikofski se “Klavierkonsert Nr.1” was ‘n vanselfsprekende keuse. Ons het in die dae van ons jonkheid ‘n plaatjie daarvan in Bloemfontein gekoop. Wessel van Wyk se idilliese weergawe van Brahms se “Wals opus 39, nr.15” verdien ook sy plek.

Ag, maar dit kan ek eintlik van al die ander sê, hoewel ek darem nie elkeen se storie hier kan vertel nie. Ek hoor reeds mense brom dat my blogs darem te lank is.

Maar dit wil ek nog graag byvoeg: dat ons, nadat ons ons lysie gemaak het, steeds heelwat verheffende musiek hoor wat ons graag ook sou wou opsit. Nie een van die uitsoek-20 sou ons na nadenke egter wou weglaat nie. (HvD)

“TROOSKOMBERSIES”

Jy is buitengewoon as jy nie, soos amper almal om jou, ‘n “trooskombersie” of meer het nie. Of dit nou ‘n verslete ou baadjie, ‘n knipmes met ‘n stamboom of ‘n geliefde pyp is (manlik); serpies (Hilda van Sewende Laan), ‘n handsak of ‘n stukkie spesiale juweliersware (vroulik), of ‘n verrinneweerde teddiebeertjie (kind) – so klou die meeste van ons vas aan dingetjies wat vir ons sentimentele waarde het, en wat dikwels net vir ons mooi is.

Kyk maar na die TV-advertensie van “Goggatjie” se skeerbeker van Absa I-Direct op TV. Sy huis is rot en kaal besteel, maar “Goggatjie” dink dadelik aan die veiligheid aan sy bekertjie met die skerpneus-gesig wat seker ‘n lang pad saam met hom gekom het. Dan …o wee… die spinnekophart van ‘n vrou ….

Op die foto is Michelle du Plessis van Centurion en haar draadhoender wat die hele wêreld saam met haar rond toer. Ek kry dit op www.Beeld.com se lekker rubriek My Storie. Michelle het die hoender, “Chicken” in Centurion gekoop toe sy vir haar onderhoud gegaan het om op ‘n luukse-boot oorsee te gaan werk. Van toe af is hulle onafskeidbaar. “Chicken” sal jy altyd in haar handbagasie kry.

Die beskeie hoendertjie was al oral. In die hele Suid-Afrika, Kanada, Los Angeles, Miami, Fort Lauderdale, San Diego, San Fransisco, Hawaii, Bora-Bora, Tahiti, Fiji, Australië, Nieu Seeland, Pago, Somao, Gwam-eilande, Yap-eilande, die hele Meksiko, Guatemala, Panama, Bahamas, Barbados, Karibiese Eilande, Peru, Ecaudor, Kuba, Venezuela, Colombia, Costa Rica, Japan, Hong Kong, en nog vele meer.

Elke plek wat hulle besoek het, het gesorg vir ‘n foto of tien vir bewys, skryf dié mooi nooi op Beeld.com. Gelukkige hoendertjie!

Hierbo het ek teddiebeertjies in die kategorie geplaas van n “trooskombersie” vir ‘n kind. Wag ‘n bietjie. Heelparty grootmense, soos die skone Dezi (Elma Postma van ‘n Boer soek ‘n vrou), erken sonder skroom dat hulle steeds saans iets sags (soos n teddiebeertjie uit die kleintyd) bed toe vat. Gelukkige teddiebeertjie!

My eie “trooskombersies” behels nogal ‘n bonte versameling. Ek raak maklik geheg aan allerlei wat vir ander waardeloos kan voorkom. Snags geniet ek byvoorbeeld my drinkwater uit ‘n emalje-koffiebekertjie wat beter dae geken het. Dit was ‘n speelse geskenkie by my laaste einde-van-die-jaar-partytjie by Naspers in 1997. Wonder wie van die ander kollegas nog hul bekertjies het, maar vir my proe water uit geen ander houer presies so verfrissend nie.

Twee kieries lê na aan my hart., Die eerste is van swarthout. My seun, Johan, het dit vir my laat maak met die eerste geldjies wat hy verdien het as koerantseuntjie van Die Volksblad in Bloemfontein. Ek was verras en ingenome. Vandag is die kierie vol merke, soos dit onder meer al deur honde op die strand bygekom is, maar dit bly ‘n spesiale HvD-besitting.

Kierie nommer twee staan in Sabiepark – ‘n meesterstuk van inheemse Transvaalse kiaat met ‘n bielie van ‘n vlakvarktand as handvatsel. Dit was ‘n geskenk van my kollega Jan Scholtz, ‘n vakman soos min wat met hout kan toor.

Op Sabiepark is ek en my Jan Scholtz-kierie ‘n onskeibare tweemanskap. Maar daardie kiaat-kierie het my groot laat skrik op ons eerste kuier nadat dit in my lewe gekom het.

Ek en Tokkie stap piekniekplek toe. Op pad tref dit my soos ‘n donderslag: “Waar’s my kierie dan?” Ek het hom nie by die huis gesien nie, en nee, my vrou weet ook nie. Met elke tree styg die ongelukkigheid. Later is in my gemoed geen twyfel meer nie: my geliefkoosde kierie is gesteel.

Dalk vir muti? Renosterhoring verskaf glo net die regte doepa vir ‘n kwynende libido. Daardie aanspraak is nie onbekend nie. Waarom dan nie ook vlakvarktand nie? Die potensiële gebruike van vlakvarktand eskaleer met elke tree wat ons loop.

By die piekniekplek bereik die spanning breekpunt. Ek moet dadelik gaan soek. Nou drafstap ek. Tokkie bly al hoe verder agter. Sy protesteer en hyg en sweet. Oor my skouer roep ek net na haar toe: “Jy kan by die huis in die swembad spring.” Ek bars behoorlik by die deur in. Soek agter die boekrak, skuif die kas met glase weg. Kyk selfs in die dak op.

In die kamerkas pluk Tokkie haar klere opsy. Veilig in die hoekie staan die kierie. Ons het klaarblyklik die vorige vakansie besef so ‘n waardevolle kierie moet deeglik weggesteek word. Toe steek ons dit amper te deeglik weg! Die geheues is ook nie meer wat dit was nie.

Na die hereniging laat ek my lippe so vee-vee oor die blinkgladde vlakvarktand. Tokkie wil ewe opportunisties weet of ek net so uit my vel sou wees as dit sy was wat weg was en weer gevind is. Volgende vraag! (HvD)