‘N KOEK WAT DIE KOEK VAT!

Mariette Brummer (4) en Elindi van Rensburg (5) word verdwerg deur 'n berg Kunsmark-koek.

Mariette Brummer (4) en Elindi van Rensburg (5) word verdwerg deur 'n berg Kunsmark-koek.

Gesondheid! So kon jy iemand toeroep wat Saterdag 22 jaar gelede by die vyfde verjaardag van Die Volksblad se Kunsmark in Bloemfontein ‘n stukkie vrugtekoek in die mond sit.

In daardie koek was 15 bottels brandewyn (geen tikfout nie)!

As die brandewyn-volume ietwat ruim klink, onthou darem dit was nie sommer so ‘n koek nie. Vir perspektief, hier is die volledige resep:

70 kg koekmengsel
30 kg meelblom
15 kg suiker
60 dosyn eiers
15 bottels brandewyn
18 kilogram botter
15 kilogram kersies
9 kilogram neute

Die jare 80 was vir die Kunsmark ‘n goue dekade en sy vyfde verjaardag op 2 Mei 1987 was feestelike dag in Koningspark, daar neffens die Vrystaat-stadion. Die spesiale feesprogram het ingesluit vrolike musiek deur die Sukovs-orkes (die Radeszky-mars, Du kannst nich treu sein, Don’t cry for me Argentina en nog ‘n hand vol ou treffers), sang deur Philip en Ella Kotze, ‘n feesrede deur die Administrateur, Louis Botha, die loslating van duiwe, allerlei wedstryde (eerste prys: ‘n Esté Mostert-skildery), ‘n teetuin vir eregaste onder die groot koeltebome en wat nog.

Vyf duisend stukkies van daardie yslike verjaardagkoek is uitgedeel. Die resep is uitgewerk deur die SA Droëvrugteraad se Christelle Muller, en die berg bestanddele is deur ‘n hele rits borge geskenk. Om die koek gebak te kry, was natuurlik ‘n reuse-operasie. Panne is deur die Weermag verskaf en oonde deur Pick ‘n Pay-Hipermark. Twaalf koeke is deur die Hipermark gebak. Die koeke was so onhanteerbaar groot dat dit in twee gesny moes word om te vervoer.

My Tokkie-vrou wat toe organiseerder van die Kunsmark was, en drie vriendinne het gesny en gesny totdat hulle vingers kramp. Toe is die koek Koningpark toe aangery in Hi-Aces wat deur Tooyota verskaf is en waarvan die sitplekke verwyder is.

In een van my 60-plus foto-albums is ‘n foto waar Tokkie opkyk na ‘n straatnaambord: Tokkiestraat. Daardie Tokkie is die nimlike sy. Die plek is Koningpark, en die vernoeming was ter herinnering aan haar jare se arbeid as ‘n toegewyde en gewilde organiseerder van die uiters geslaagde kunsmark. (Voor haar was Georgane Oberholzer en na haar Marietjie Gericke).

Die kunsmark wat 27 jaar gelede, in 1982, met ‘n beskeie 28 uitstallers tot stand gekom het, was gou, volgens mense wat weet, die grootste en kleurrykste in sy soort in die land. Die eerste Saterdag van elke maand was dit ‘n hoogtepunt op die Rosestad se sosiale kalender. Op Kunsmark-Saterdag het gereeld meer mense soggens na Koningpark gestroom as smiddae na die rugby in die Vrystaat-stadion!

By daardie vyfde verjaardag – “die grootste verjaarsdagparty wat Bloemfontein nog gesien het” — was sowat 700 uitstallers op die boeke. Uit alle dele van die land het hulle opgeruk, selfs uit Namibië, Botswana en Lesotho. Günther Brozel, wynmaker van Nederburg, het dit ekstaties beskryf as “Fantasties! Pragtig! Wonderlik! ”

Tokkie (en haar man) is vir die stigting en die bedryf daarvan vereer met ‘n oorkonde van die stadsraad en goue medaljes vir gemeenskapsbetrokkenheid van die Bloemfonteinse Publisiteitsvereniging.

In haar geval wil ek beweer die oorkonde en medalje was meer as verdiend. Vir my was die vreugde wat die Kunsmark gebring het en die liefde van die gemeenskap daarvoor oorgenoeg beloning. Ek het aan die Kunsmark net heerlike herinneringe.

Na my oordeel was die Kunsmark een van Die Volksblad se beste promosies. Maar soveel hoofde soveel sinne. Enkele jare nadat ek uit Bloemfontein is, het Die Volksblad nie langer kans gesien vir die organisatoriese verpligtinge wat dit meebring nie. Die stigtersband is gebreek.

Oor die beweegredes en die meriete van daardie besluit wil en kan hierdie ou gryse hom nie uitlaat nie. Ek glo nogal as jy jou beurt gehad het, het jy hom gehad. Daarna gun jy diegene wat na jou kom hulle beurt. Jy hou dus jou mond en basta.

Maar ek is darem ook nie onbewus van uitstallers en andere wat na die goeie ou Kunsmark-dae terughunker nie. As iemand van daardie kader hierdie blog lees, kan hy of sy gerus Saterdag saam met my ‘n glasie op die “ou” Kunsmark klink. (HvD)

RAAKVAT, HELEN!

Helen Zille

Helen Zille

Ons is vol moed hier in die suide dat onse kontrei (in die konteks van Suid-Afrikaanse werklikhede natuurlik) oorgehaal is om vornetoe verreweg dié modelprovinsie in die land te word. Daardie status gaan egter nie uit die lug val net omdat die D.A. regeer nie.

Raakvat met haar kabinet – dit is na hierdie bekeerling se oordeel die eerste groot uitdaging vir Helen Zille wanneer sy as premier die septer in die Wes-Kaap begin swaai.

Gelukkig het die gedugte Helen klaar laat blyk sy wil haar omring met die bewaamste mense wat beskikbaar is. Dit sal ‘n goeie begin wees, en dadelik vertroue inboesem as sy in hierdie opsig die daad by die woord kan voeg.

Kyk ‘n mens na die kandidate oor wie bespiegel word, moet ongelukkig by minstens een naam ‘n vraagteken geplaas word. Ek verwys na Lennit Max , gewese Wes-Kaapse polisiekommissaris.

Max is dalk ‘n knap, energieke en toegewyde man wat ‘n aanwins vir die kabinet sal wees. Dat in 2003 druk op hom uitgeoefen is om op ouderdom 41 jaar onverwags vroeg uit te tree, is egter ‘n feit.

Mense met lang geheues sal onthou hardnekkige gerugte wou dat onvrede tussen Max en ‘n adjunk- kommissaris, Zelda Holtzman, ‘n rol gespeel het. Dié “oorlog” tussen Max en Holtzman het, volgens koerante, begin toe sy uit sy kantoor gestorm en die deur toegeklap het. ‘n Klag van onder meer seksuele teistering teen Max het gevolg. Dit is ongegrond bevind.

Voordat oor die res van hul geskille besleg kon word, het sy egter bedank en van die toneel verdwyn. Die troebelheid rondom Max se uittrede is toe nooit opgeklaar nie.

Onplesierige botsings met die polisie se regsafdeling het ook voorgekom. Stories daaroor het dik in polisiegange geloop. Max se rassevooroordeel is as ‘n rede genoem. Hy sou dit hardhandig probeer opdwing het met die skorsings van polisiemanne wat in tugsake moes verskyn. Die bewering is gehoor dat hy koppig volhard het om ongeregverdigde onderskeide te eis.

Max self het soos die graf bly swyg oor hoekom hy padgee. Marthinus van Schalkwyk, destydse Wes-Kaapse premier, het egter nie doekies omgedraai nie. Hy het reguit verklaar dat hy nie tevrede was met die bestuur van die polisie in die provinsie nie. “Die bestuur moet eerder met die misdadigers baklei as met mekaar in die media.”

Max is later politiek toe.Sy politieke loopbaan het begin by die Onafhanklike Demokrate. Hy het tot Wes-Kaapse leier van die OD gevorder. ‘n Allemintige rusie het egter in 2005 tussen hom en die nasionale leier, Patricia de Lille, losgebars. Die beledings (en beskuldigings van wangedrag) het heen en weer gevlieg.

Max is as Wes-Kaapse leier geskors, en De Lille het beweer hy is oneerlik deurdat hy by geleentheid van die party se geld misbruik het vir hotelverblyf en alkohol. Max het glo ook OD-lede afgedank en kiesafdelingkantore gesluit sonder die nodige toestemming óf deur die regte prosedure te volg.

Soos ‘n kurkprop het Max telkens weer na die oppervlak gekom, en nou word hy selfs genoem as kandidaat vir die Kabinet. Helen Zille moet egter maar rustig oorweeg of dit wys sal wees om iemand met so ‘n geskiedenis tot ‘n leiersrol in die “nuwe Wes-Kaap” te bevorder, glo hierdie veteraan. Tensy sy doodseker van haar saak is.

Naskrif: Wonder of Max nog daardie motorfiets ry waarmee hy as polisiehoof gespog het – ook oor die feit dat die registrasienommer onwettig was of so iets. Die foto was op Die Burger se voorblad, as ek reg onthou. (HvD)

‘N BYLTJIESLYPER ONTMASKER


Ek wil vir Chris Louw (die nimlike hy van die Boetman-brief) ‘n pluimpie gee. Ter wille van die “historiese perspektief” moet ek eers meld dat ons nie juis lief is vir mekaar nie. Ek meen hy sal dit verwelkom as ek dit hier konstateer.

Rede vir die disharmonie is onder meer te vinde in die spotprentjie hierbo. Dit het op 27 Julie 1997 in die Sondagblad Rapport verskyn nadat ek op die RSG-program Monitor onder sy giftige aanslag moes deurloop. Louw het daardie oggend my onboetvaardige voorlegging aan die WVK as “geromantiseerd” afgemaak, Verligte Afrikaanse redakteurs was, wat hom betref, onafskeidelik deel van die “apartheidsregime” en daarmee basta. Hy het uiters opgewonde geraak en het my omtrent verskreeu.

In vandag, 26 April 2009, se Rapport in die bylae Weekliks (tog ‘n koddige naam vir ‘n bylae in ‘n weekblad!) verskyn egter ‘n artikel uit sy pen wat ek as buitengewoon insiggewend beskou. Onder die opskrif “André P. Brink se kleingeestigheid verstommend” ontmasker hy Brink “swift, brutal and without mercy” – soos ‘n Amerikaanse joernalistevriend, John Painter van Portland, Oregon, sou sê – aan twee belangrike fronte.

Die eerste is dat hy in sy afkrakende resensie van R.W. Johnson se jongste boek, South Africa’s Brave New World, hom ongetwyfeld aan ‘n kleinlike en geniepsige persoonlike vendetta skuldig maak. Brink betaal Johnson in eie munt terug vir ‘n negatiewe resensie in die Londense Sunday Times van sy biografiese ontboeseming A Fork in the Road.

Gaan lees maar self – Louw se saak is waterdig.

Amper nog vernietigender is sy tweede ontmaskering: dat Brink vir die gesofistikeerde lesers van die Londense dagblad The Daily Telegraph ietwat van ‘n ander deuntjie oor die Johnson-boek sing. In ‘n resensie (deur Brink aangebied) vind hy in Brave New World selfs heelwat positief.

‘n Klassieke geval van “wie se brood n mens eet, dié se woord ‘n mens spreek.”

Oor sulke misbruik van ‘n resensie om byltjies te slyp en met ‘n gevurkte tong vir twee gehore twee stories op te dis, moet Brink maar met sy eie gewete saamleef.

Vir my strek die waarde van Louw se bydrae veel wyer as Brink. Dit is die resensiebedryf in die algemeen wat onder die loep kom, en die altyd wesenlike risiko dat ‘n kwaadwillige resensent ‘n boek met verdienste as ‘t ware na willekeur kan “begrawe”.

Ek vergeet minstens een giftige resensie van ‘n eie boekie nie, en skud meermale die kop oor die stelligheid waarmee Jan Rap en sy liggewig-mater verwoestende oordele kan uitspreek oor ‘n boek wat hy of sy self nie sou kon ewenaar nie.

Net verlede Sondag was in die einste Rapport ‘n prima-voorbeeld toe ene Corné of Cornel, ‘n subredakteur by ‘n dagblad, Jaco Kirsten se Staar na ‘n wit plafon beetkry. Dit is ‘n boek wat sy nie op haar boekrak wil hê nie, deel sy uit die hoogte mee.

Nou kyk, ek ken Jaco Kirsten nie. Ek het Wit plafon nie gelees nie. Ek spreek dus geen waarde-oordeel uit nie. Maar dat Corné of Cornel vermoed dat dit hoegenaamd vir lesers relevant is wat sy op haar boekrak het of wil hê, is in hierdie outeurtjie se oë onuitstaanbare arrogansie.

Waarom boekeredakteurs resensente soveel vryhede toelaat , slaan die uwe dronk, veral as hulle nog onervare en sonder enige aanspraak op letterkundige superioriteit is. Dat hulle sulke buitensporige ruimte aan sommige spookasem-meninkies afstaan, vind ek nog onverklaarbaarder.

Die arme slagoffers is die arme outeurs wat lank en hard geswoeg het om ‘n boek voort te bring en die uitgewers wat ‘n hoop geld daarin belê het.

En dan bring prulsangers die een na die ander nikswerd-CD-tjie op die mark sonder dat ‘n haan daaroor kraai. Maar dis nou weer ‘n ander storie. (HvD)

ZO ZIJN DE HELDEN GEVALLEN!

Te groot?

Te groot?

Noem dit wetsgehoorsaamheid. Noem dit ‘n kniebuiging voor intimidasie en viktimisering. Noem dit wat jy wil. Feit is my Honda CR-V het, na 18 maande se senutergende konfrontasies met die gereg, nou nuwe, kleiner nommerplate.

Die sage het begin toe ek in November 2007 buite Laingsburg met R300 beboet is oor my nommerplate wat TE GROOT is – TE SIGBAAR dus. Danksy die doeltreffende argiefstelsel van Yahoo kon ek sonder veel moete opspoor dat ek op 23 November 2007 my lot in hierdie ruimte daaroor bekla het.

Die maatband is daarna uitgehaal en noukeurige metings het aan die lig gebring my plate is 520 mm diep teenoor die voorgeskrewe 515 mm en die letters .052 lank terwyl dit net .028 moet wees.

Vertoë is gerig (ook met beredenering van die rotsvaste funksionele beweegrede vir die effens groter plaat) en op langelaas is die saak op die vooraand van die verhoordatum teruggetrek. Maar dit was nie die einde van die storie nie.

Eers is ek op die N7 deur ‘n verkeersman met flitsende noodligte en ‘n skellende sirene ingejaag om my te waarsku my nommerplate is “onwettig”. Gelukkig het ek na die Laingsburg-insident die oorspronklike “regte” plate vir die wis en die onwis in die bagasieruimte saamgery. Ek kon die omgekrapte verkeersman oortuig ek is as’ t ware op pad om hulle op te sit.

Toe kry ek twee keer binne vyf dae op die N2 soortgelyke teenspoed. Onthutste verkeersmanne jaag my in, trek my van die pad af, weer met loeiende sirenes en flitsende ligte, en dreig met yslike boetes wat klaarblyklik vinniger as die inflasiekoers styg. Elke keer red die “spaar”-plate in die kattebak en die vrome belofte dat ek hulle onverwyld en dringend sal opsit gelukkig my bas.

Wat ek, tussen ons, nie werklik van plan was om te doen nie. My Tokkie-vrou bly egter neul dat ek maar moet toegee. Toe vertel ek haar die storie van Spioenkop.

Dit gaan oor ‘n opruiende Geloftedagspreker wat telkens sy diskoers onderbreek met die uitroep: “Hulde aan die helde van Spioenkop”. ‘n Omie in die voorste ry raak vreeslik opgewonde, vlieg orent en klap hande vir ‘n vale.

Na die tyd gaan vra die nuuskierige spreker vir hom hoekom die helde van Spioenkop so ‘n entoesiastiese reaksie by hom uitgelok het. Die omie reageer teleurgesteld. “Helde van Spioenkop? Ek dag jy seg: ‘Te hel met die spietkops!’”

Maar so ‘n te-hel-met-die-spietkops-gesindheid takseer sy as uitdagend. Ten einde laaste kom sy met ‘n dodelike argument: ek gaan my boete gaan kry wanneer die motor geparkeer staan en ek nie teenwoordig is om die bak met my “bewysstukke” triomfantlik oop te maak nie. Da-da-da-da….

Daardie scenario wek twyfel in my gemoed. Toe boor sy in met ‘n deurslaggewende voorbode. “Jy sal van vooraf moet begin vertoë rig. Jy sal weer briewe skryf waarop jy geen antwoord gaan kry nie. Jy gaan bel, bel en weer bel om jou storie te verduidelik aan mense wat nie die vaagste begrip of belangstelling het in wat jy hulle probeer wysmaak nie. Jy gaan gedagvaar word. Jy sal dalk honderde kilometer moet ry om op een of ander Godverlate plekkie in die beskuldigdebank te gaan staan.”

Nadat ek daaroor geslaap het – drie, vier, vyf rustelose nagte – besluit ek sy is nie altyd verkeerd nie. Die pyn van die “te groot” nommerplate kan geweldig word. Die status van “voortvlugtige misdadiger” is aan die einde van die dag (soos Naas sê) eenvoudig ‘n te swaar las om te dra.

Een oggend toe ek wakker word, is my eerste woorde: “Het jy plakgoed?”

Sy bied aan om dadelik na brekfis te gaan koop. Kort daarna word my TY 24 WP vervang met die kleiner weergawe. Dié spog ewe breed met die amptelike stempel van daardie Wes-Kaapse magte en owerhede wat so toegewyd oor so ‘n lewensbelangrike saak soos die grootte van nommerplate bly waak.

Op die foto is die vervanging vir die nageslag digitaal verewig.

Hulde aan die helde van Spioenkop? Hel, mens, toe wen die spietkops! (HvD)

+ MORNAY DU PLESSIS – JUWEELMENS

Vier matriekmaats van Potch-Volkies 50 jaar later. Van links is Giel de Swardt, Mornay du Plessis, Leon Engela en Hennie van Deventer

Vier matriekmaats van Potch-Volkies 50 jaar later. Van links is Giel de Swardt, Mornay du Plessis, Leon Engela en Hennie van Deventer

Die eerste sterfgeval van ‘n klasmaat wat teenwoordig was by ons klas van ’57 se “goue bruilof” in September 2007 was dié van Mornay du Plessis – na ‘n motorongeluk. Die nuus van sy treurige dood het werklik soos ‘n skokgolf deur die klas getrek, want hy was ‘n juweelmens vir wie ons almal lief was.

Sy nederigheid, vriendelikheid, mensliewendheid en sonnige glimlag het van hierdie ortopeed van Pretoria ‘n baie spesiale vriend gemaak.

Die laaste keer dat ek hom gesien het, was by daardie heuglike reünie op Potchefstroom. Hy was dalk die een van ons wat die minste verander het – hy’t jonk van voorkoms en van gees gebly, en was net so hartlik en opreg belangstellend in ons elkeen se wel en wee soos altyd.

Al het ons mekaar nie gereeld gesien nie, het ek wonderlike herinneringe aan Mornay, my kamermaat in standerd agt in Volkies se Jack Pauw-koshuis. Ons het saam vrugte gesteel langs Potch se watervore en smiddae ”bok-bok-staan-styf”, “rounders” en “French krieket” gespeel.

Die kameraadskap tussen my, Mornay en twee boesemvriendinne, Marie en Juriana, met wie ons gekys was, onthou ek na meer as ‘n halfeeu met deernis. In ons eerste jaar op Tukkies het ons selfs een keer Potchefstroom toe geryloop vir ‘n Sondagkuiertjie saam met ons meisies op Juriana-hulle se plaas by Fochville.

‘n Geskenk van Mornay is ‘n CD, “Strykers vir Snuiters van Christa Steyn”, met onder andere ou volkspeleliedjies soos “Kom Patertjie buig” en “Jy, jy, laat my soms treurig voel…”

Ek luister daarna en voel dan werklik treurig oor Mornay.

* Mornay du Plessis is op 18 April 2009 oorlede. ‘n Ander klasmaat, Christine Marais (nèè Steyn), is op 16 Januarie 2008 oorlede, maar weens haar siekte was sy nie by die reünie nie. (HvD)

VLIEG, KRAANVOëL, VLIEG!

Hoekom? Hoekom? Hoekom? Oupas en oumas moet bontstaan om al die raaisels op hul ontdekkingsreis van grootword vir die kleingoed te verklaar.

Oupa en Ouma Hennie en Tokkie – veral Ouma Tokkie – word weens hul vermeende status as ”kenners van die bos” meer as normaalweg met veldverwante vrae gepeper.

“Ouma, hoekom het die bobbejane ouma se eiers gesteel?”

“Ouma, hoekom is die nagapies bang vir die uil?”

“Ouma, hoekom is die kameelperd se poef so hard?”

Oorgenoeg egte “hoekoms” bestaan dat ‘n mens nie nog in jou lewe kunsmatige hoekoms nodig het nie.

“Ouma, hoekom sing die tannie dat kraanvoëls nie kan vlieg nie?”

“Ouma, hoekom kan ons nie ook in die Wildtuin rondstap nie?”

Die vraag oor die kraanvoëls is op grond van ‘n Carike Keuzenkamp-CD met die titel “Alle Voëls Het Vere”. Alle voëls het vere, sing die duursame Carike daarop, maar nie alle voëls kan vlieg nie. Die hoender, eend, kalkoen, pikkewyn en – verkeerdelik – ook die kraanvoël word dan deur haar onder die nie-vlieëndes geklassifiseer.

Die komplikasie is dat die seuntjies met hul eie oë gesien het hoe kraanvoëls in die koringlande tussen Welgemoed en Melkbos sierlik opstyg en land. Ouma het ook vir hulle ‘n pragfoto oor ‘n dubbelblad in die tydskrif “Weg” gewys met ‘n swerm kraanvoëls in vlug.

Hoekom jok die tannie dan so? Die versoeking is om taamlik kras te antwoord, maar uit billikheid sing die tannie ook maar net liedjies wat deur ander mense vir haar geskryf is. Die misleiding van kindertjies hoort dus voor ‘n ander deur.

Die ambisie om in die Wildtuin rond te stap, is geïnspireer deur ‘n boekie met die titel “Wikus gaan Wildtuin toe”. Wikus is ‘n beertjie. Hy en sy vriend Wim, die muis, stap alte heerlik in die Wildtuin rond en kuier by die minsame leeus, renoster, seekoeie, ens.

Op die oog af lyk dit heel onskuldig. Ouma moet egter mooi verduidelik hoekom Wikus en Wim mag gaan waar Jacob en Thomas nie durf gaan nie.

Wel, Wikus is natuurlik ‘n beertjie en Wim ‘n muis. Dit is hul paspoort tot die bos. Maar die kinders assosieer met die twee. Albei kan immers praat. Dit verg voetwerk om te verduidelik hoekom ‘n pratende beertjie salig op sy gemak met wilde diere geselsies kan aanknoop en kindertjies nie. Dan het hulle boonop ‘n maatjie Wim by die speelskool, wat sake nie makliker maak vir Ouma nie.

Die boekie, deur Human & Rousseau uitgegee, blyk, by nadere ondersoek, nie van Suid-Afrikaanse oorsprong te wees nie. Sy oorspronklike titel het ‘n Franse klank – of dalk Spaans. En wat weet Europeërs nou van gevaarlike diere en Wildtuinkulture ? Hulle klim sommer lag-lag uit hul motors om ‘n beter hoek vir ‘n foto te kry as roofdiere langs die pad lê en smul of olifante tussen die bome skuil. Dit het ek al meermale met my eie oë gesien.

So vreeslik ernstig is die saak seker nie, maar dat die sorgvrye Wikus en Wim in die Van Deventer-sfeer vrae laat ontstaan het, is seker. Hopelik het die verduideliking dat ‘n sagmoedige maanhaar op die geduldige bladsye van ‘n boek en ‘n potensiële verskeurder van allerlei ander diere, kindertjies en grootmense in die bos ‘n perd van ‘n ander kleur is, tog ingesink.

Uiteindelik knaag die vraag steeds: is die uitgewers van CD’s en boeke vir kinders altyd voldoende daarop bedag dat hulle klein kindergemoedjies kan verwar – veral met allerlei onlewensgetroue goed wat om minder duidelike redes uit die buiteland ingevoer is. (HvD)