KYKIE IN ANDER SE OU KIEKIES

Ander mense se foto’s kan nogal pynlik raak as hulle jou die slag beetkry en vriendelik verplig om te kyk, kyk en nogmaals te kyk totdat jou gô uit is.

Veral uit die gloriedae van die skyfie – deur sekere taalbewustes ‘n skuifie genoem, omdat jy die skyfie moes in- en uitskuif in jou projektor, sien – onthou ek ‘n paar martelaande terwyl allerlei private versamelings eindeloos teen ‘n skerm of sommer ‘n wit muur geflits is. ‘n Sinkende magteloosheid het jou gepak terwyl jy deur stywe lippe oe en aa.

Ietwat verleërig onthou ek een aand in Randburg in 1977 toe ek nie aan die ontvangkant was nie, maar arme bure oorkant ons in Maroelastraat, Randparkrif 3, nogal in hul eie huis, onderwerp het aan ‘n skyfiesessie wat eers die gasheer Neil McLeod snorkend in sy leunstoel gehad het en later die gasvrou, Estelle, na ‘n dapper stryd uiteindelik ook voor Klaas Vakie laat swig het.

Die Van Deventers was pas terug na ‘n jaar in Amerika, tot barstens toe entoesiasties oor al die wonderlike dinge wat ons gesien en beleef het, en met letterlik sulke bliktrommeltjies vol skyfies. Die McLeods het seker nie besef waarvoor hulle hulle inlaat nie toe hulle ons in ‘n onbewaakte oomblik vir aandete oorvra en ons nooi om sommer ‘n klompie skyfies saam te bring.

By my vrou, Tokkie, is my aandele t.o.v. bedagsaamheid hoeka nie hoog nie. Daardie aand het my reputasie in daardie verband ‘n dramatiese duik gemaak. Sy ril nou nog as sy aan my demonstrasie van dikvelligheid dink. Ek het my nie laat afskrik nie en meedoënloos elke liewe skyfie wat ek saamgebring het, tot die laaste ene op die sitkamermuur geprojekteer. Dit was laat in die nag toe ons afskeid neem.

Jy kry natuurlik twee soorte mense: die foto-mense en die nie-foto-mense. Eersgenoemdes raak maklik aan die klik van ‘n kamera verslaaf. Hul pakke foto-albums reik naderhand hemelhoog en oral in laaie en bokse is nog foto’s, foto’s, foto’s. Of negatiewe wat al total onidentifiseerbaar geraak het, maar as te waardevol geag word om snippermandjie toe te gaan.

Ek moet bely dat ek van daardie spesie is. En die digitale era maak vir ons soort nogal allerlei deure oop. Koerante en tydskrifte se webwerwe en foto-parkeerplekke soos by Flickr en Picasa skep nuwe geleenthede vir opberging en uitstalling.

Op Die Burger se webwerf is byvoorbeeld ‘n rubriek met die naam Leserlense met ‘n rits galerye waarheen jy na hartelus foto’s van enige onderwerp onder die son kan stuur. Een van die nuwe afdelings heet Vergange tyd. Stuur foto’s wat jou ver-ver laat terugdink, lui die uitnodiging.

Wel, die uwe het hom nie twee maal laat nooi nie. Die foto hierbo van ons plaashuis in die distrik Babanango in Noord-Kwazulu-Natal is een wat ek gestuur het. Dit is ongeveer 1940/1941 geneem, net voor of na klein Hennie se geboorte. Kyk net daardie karre!

Ek sou nog hope tydgenootlike foto’s kon stuur, maar ek wil nie ‘n oorlas van myself maak, soos daardie aand by die McLeods nie. Vir die halwe kans dat daar dalk mede-verslaafdes is wat tog omvattender insae in ou Van Deventer-kiekies sal verwelkom, meld ek egter graag dat veral twee Picasa-albums nogal ver terugdelf in sowel my as Tokkie se lewens.

Wie hulle wil besoek, is welkom. Gaan net net www.hennievandeventer.com en gaan soek ‘n entjie onder die besoekersboek die skakel na my Picasa-albums. Die twee wat ek veral hier wil uitveil, is album 1, HvD: Eerste 40 jaar, en album 2, Goeie ou dae (tot 1980).

BLAAI, BLAAI DEUR BUFFELSBAAI

Op die saamgestelde foto hierbo word aangesit vir aandete op Kammarus se asemrowende dek op Buffelsbaai. Die branders rol as’ t ware onder jou voete in!

Meer foto’s van die Van Deventers se nostalgiese herbesoek aan ‘n geliefde ou kuierplek hier van 1971 af tot 1995 verskyn in ‘n Picasa-albumpie wat vinnig saamgeflans is. Om daarby uit te kom, is die maklikste roete:

1. Gaan na www.hennievandeventer.com ;

2. Beweeg af, af, af op die tuisblad en klik op Picasa-albums;

3.Klik op die albumtitel Buffelsbaai, Maart 2009 .

Dis maar ‘n beskeie albumpie met iets soos 35 foto’s. Ek wed egter dit sal veral liefhebbers van Buffelsbaai se monde laat water…

In die blog hieronder vertel ek meer van die kuier – hierdie keer nie net meer met ons eie kinders nie, maar ook saam met ons kinders se kinders. (HvD)

BOEMELAARS EN BROOD OP DIE WATER

Herman en Rina le Roux in Maart 2008 in Sabiepark

Herman en Rina le Roux in Maart 2008 in Sabiepark

Boemelaar-stories gryp mense dikwels aan, waarskynlik weens die wete: was dit nie vir die genade van die Vader nie, kon dit ek gewees het daardie – “for the grace of God there goes I.”

In matriek in 1957 het ek trouens tot die jaarblad ‘n stuk bygedra oor ‘n denkbeeldige reünie jare later. Advokate, dokters, suksesvolle sakelui, Springbokrugbyspelers en sulke snare staan, drankie in die hand, en ginnegaap. Skielik daal ‘n stilte. ‘n Versukkelde ou boemelaar skuifel met neergeslane oë by die deur in. Dis ekke … Hennie van Deventer.

Nou-ja, gelukkig het ek toe darem nie ‘n boemelaar geword nie. So ver ek weet, het daardie lot ook geeneen van my destydse klasmaats getref nie. Die “dice” kan egter maklik vir iemand verkeerd val. Die broer van ‘n prominente senior student uit ‘n goeie plaashuis uit wat nou Limpopoprovinsie is, het byvoorbeeld in my Tukkiedae op ‘n dag net die pad gevat. Hy het nooit weer tot sy ou lewenswyse teruggekeer nie.

Wat my op hierdie mooi sonskyndag op Melkbos aan boemelaars laat dink, is my vriend en oud-kollega Herman le Roux se stuk wat, terwyl ek op Buffelsbaai was, in Die Volksblad en in die rubriek My Storie op www.beeld.com verskyn het. As u dit gemis het, gaan lees dit gerus by bogemelde skakel. Die titel is: Jy het iets mooi oor my geskryf.

In kort is dit die storie van die boemelaar “Andries” met ‘n welige grys baard en verslonsde klere wat ‘n verbaasde Herman in Sedgefield bydam met die woorde: “Jy is mos Herman? Jy het jare gelede iets mooi oor my in Die Volksblad geskryf…”

“Andries” deel toe mee: “Ek wil net vir jou sê ek het vir die Vrystaat se onder 19-span rugby gespeel en jy het geskryf die ‘lang, lenige losskakel was die uitblinker.’ ”

Dit was 45 jaar gelede, maar daardie pluimpie het vasgesteek!

Herman, ‘n oud-sportredakteur van Die Volksblad en later Beeld, se storie maak nog verskeie verrassende kinkels en draaie. Ter wille van lesers wat dit al elders onder oë gehad het, gaan ek nie voor die versoeking swig om die hele sak patats weer hier uit te skud nie.

Ek het egter twee kommentare, die eerste oor boemelaarstories en die tweede oor Herman le Roux.

Veral een boemelaarstorie het my tot nou toe diep getref. Dit is deur Madeleine van Biljon, die boekevrou, self op skrif gestel. Ek noem dus vrymoedig haar naam en die feit dat dit haar verlore seun was wat een winteraand bel en haar vra om hom iewers te ontmoet.

Sy haal ‘n taxi, kry hom op die afgespreekte plek en verneem deur hoesbuie sy hortende storie van waar in die ooptes hy die uiters onplesierige Kaapse winter deurbring.

Sy pleit hy moet saam huis toe, maar hy skop vas. Sy “huis” is nou een van Nuweland se paviljoene (as ek reg onthou). Later trek sy haar warm baadjie uit en oorhandig dit aan hom. Hy wil eers teenstribbel, maar aanvaar die baadjie tog dankbaar, en verdwyn in die nag.

Die volgende dag kom die nuus: hy is daardie nag oorlede.

Dis ‘n storie wat sterk manne sal roer. Herman se storie, wat darem ‘n gelukkiger einde het, sal ek voortaan egter ook by my onthoustories oor boemelaars voeg.

Oor Herman is my kommentaar dat hy seker die grootste mens-mens is wat ek ken. Soos hy (en sy vrou Rina) vriendskappe vertroetel, is ‘n openbaring. Om van die Rand Kaap toe te ry vat vir hulle soos in die tyd van kar-en-perde dae en dae, want oral is vriende om by aan te ry

Geen wonder nie dat sy “Andries”-storie wyd reaksie uitgelok het. Vriende en kennisse van selfs oorsee (Kiev in die Oekraïne, die VSA, Duitsland en Nieu-Seeland) het van hulle laat hoor. ‘n Ou wat beweer dat hy byna 50 jaar gelede op Herman en Rina se troue gesing het, het ook gereageer, hoor ek maar so deur my kanale.

Die predikant wat hulle in 1959 op Frankfort getrou het, het glo die sanger (‘n familielid van hom) aanbeveel. Herman het gedink dit is Willem van Tonder, maar die ou sê hy is Wim Bosman. “Wie is ek om te stry?” was Herman se lakonieke kommentaar.

Ten slotte: Herman gedy daarop om mooi dinge van mense te sê. As joernalis was dalk sy grootste kenmerk ‘n sagte, wellewende pen – anders as my eie wat kon gesel en wond, en wat vir die goeie Herman dikwels tot pyn was, weet ek.

Dat “Andries” 45 jaar lank Herman se woorde in sy hart bewaar, sê dus iets van albei. Ek is bly oor daardie joernalistieke brood op die waters wat op so ‘n mooi manier na my ou vriend teruggekeer het. Hy verdien dit. (HvD)

BUFFELSBAAI, JY IS NOG JY!

Die vuurtjie begin flikker vir die eerste aand se braai.

Die vuurtjie begin flikker vir die eerste aand se braai.

Die dierbare Buffelsbaai is nog dieselfde plek as die een wat die Van Deventers in jare her liefgekry het. Hy is ook anders.

Van Vrydag tot Dinsdag was ons hele gesin – nou versprei oor drie geslagte – in dié bekoorlike Lilliput aan die Suid-Kaapse kus saamgetrek rondom die matriarg, Tokkie, se 63ste verjaardag. Die nostalgie was hewig Om dieselfde plekkies, paadjies en poeletjies saam met die kleinkinders te verken as wat meer as 30 jaar gelede met ons eie kinders verken is, was een groot hartsvreugde.

Een andersheid wat dadelik getref het, is die teenwoordigheid van Trellidors voor die skuifdeure van die vakansiehuis Kammarus, met die hand uitgesoek vir dié sentimentele herbesoek. As jy by sy voordeur instap, begin die herinneringe immers opstapel. In Kammarus en die buurhuis Kop-bo-Water het feitlik al ons vorige Buffelsbaaivakansies hulle afgespeel.

Rede nommer twee is ligging. Geen ander huis op Buffelsbaai staan so teenaan die immer woelende oseaan nie. Die naam Kop-bo-water spreek vanself. Maar die heerlike dek van Kammarus is nog nader aan die water. As jy by sy voordeur instap, wil jy koes vir die dreunende branders wat jy deur die sitkamertjie se venster ritmies aangerol sien kom.

Nog ‘n andersheid tref jou soos ‘n hamerhou. Buffelsbaai het die speelplek van rykes geword, boetie. ‘n Oulikrige huis kos ‘n plaas se prys – van R6 miljoen tot ver oor die R8 miljoen. ‘n Huis in holte met die naam No View (nie sonder goeie rede nie) is aan die onderent van die leer teen R4,5 miljoen – maar die “eienaar sal waarskynlik R4.4 miljoen vat”! Wat die nuwe paleise kos wat intusen kol-kol soos paddastoele verrys het, wil ek liewer nie weet nie.

Ons raai oor Kammarus se waarde. Die raaiskote begin in die lig van bogenoemde kennis by ‘n “beskeie” R7 miljoen en druk aan die bokant deur die R9 miljoen-plafon. “Position, position, position” … julle weet mos.

In die afgelope dekade het sy nuwe eienaar vir hom net R600 000 betaal. En hier in die middel 70’s kon oupa Malan hom koop vir R28 000, meubels die lot. Oupa wou nie – die ou dorpie met sy baie opslaanhuisies het vir hom bra gomtorrerig gelyk. Toe gaan koop hy as belegging ‘n ordinêre Capitolpark-huis in Pretoria vir dieselfde prys. Ai, ai, ai.

Dit tref nietemin dat die Te Koop-bordjies volopper is as wat jy ooit op Buffelsbaai gesien het. En in meer vensters as tevore pryk hoopvolle Te Huur-kennisgewings. Die tentakels van die vrot ekonomie – nes misdaad – wurg klaarblyklik ook hier nes daardie die kwaai seekat met die vele arms in die poel voor Kammarus toe die kinders hom met hul visnetjies versteur.

Die element van bekendheid is tog groter as die effense vreemdheid wat jy aanvanklik ervaar. Want terwyl strandoorde oral onherkenbaar verander het, het Buffelsbaai Buffelsbaai gebly. Hy is nog hy, soos Lafras Verwey.

Hope nuwe huise het oor die jare bygekom, nog meer huise is gerestoureer en opgegradeer. Oral tussen die ou bekende name by die voordeure pryk nuwes wat verklap dat ander eienaars nou daar die leisels hou. Die houthuisie Die Anker anderkant langs Kop-bo-Water heet byvoorbeeld nou Vol Sand.

Omdat die dorpie nêrens grense hierdie kant toe of daardie kant toe versit het nie (kon versit het nie), het sy voetspoor egter dieselfde gebly. Ook sy karakter.

As jy gaan stap, is dit in dieselfde steil straatjies as 30 jaar gelede. As jy gaan swem, nooi die wye strand jou steeds ewe gul. As jy brood, ys of ‘n koerant wil gaan koop, bestaan nog altyd net die een plek: die halfmaan-winkel-cum-restaurant aan die soom van die swemstrand. Dit lyk of die tyd stilgestaan het – en dis as een reuse-kompliment bedoel.

Op die preekstoelrots voor Kammarus sit selfs ‘n ewe groot seemeeu op presies dieselfde kolletjie as drie dekades gelede!

En toe ‘n storm die voorlaaste aand losbars, skep die krag van die wind en die wrywing van onstuimige water teen die rye op ry soliede rotsbanke wat bo die water uitrys, weer ‘n reuse-“melkskommel” van wiegende bruin skuim, identies aan die een wat ek 20 jaar gelede op dieselfde patroon hier voor my sien vorm aanneem het.

Die sonsondergang skilder die lug presies soos jy dit onthou, met dieselfde intense diep kleure en meesleurende spel tussen donker en lig. Kan enigiets ander ewigheid so treffend uitspel?

Glo my, toe ons Kammarus en Buffelsbaai Woensdagoggend groet, was dit met ‘n amperse bewoëndheid van hart. Was dit dalk die laaste keer dat jy, 68-jarige, met daardie verspoelde stuk pad by Goukamma verby koers kies N2 toe?

Gelukkig het ons pakke en pakke foto’s om op terug te val, en ook die wete dat die liefde vir ‘n stukkie wonderlike skeppingswerk van die Goeie Vader diep in die hartjies van ‘n nuwe generasie Buffelsbaai-liefhebbers voortgeplant is. Dat dit stewig vasgeanker is, twyfel ek nie. (HvD)

‘HEMEL’, HIER KOM ONS!

Vrydagmiddag aanstaande val die Van Deventers Buffelsbaai binne – die skilderagtigste, heerlikste strandoord wat ek ken, die geliefde plekkie naby Knysna waar ons van 1971 af tot in die 90’s seker 25 keer vakansie gehou het. Elk keer is die gees en liggaam verkwik.

Marisa was nog nie gebore nie toe ons die eerste jare Buffelsbaai toe is. Johan was in doeke. Dit was voor enige vorm van elektrisiteit op daardie idilliese kusdorpie. Die enigste liggies op Buffelsbaai was lampe (gas of lampolie) en flikkerende kerse.

Ons pak albums uit daardie era vertel ‘n storie van die kinders se grootword. Op letterlike honderde foto’s van luilekker uurtjies op die strand, vuurtjies, sonsondergange, wandelinge, stormsee en wat nog kan jy die babatjies sien uitrank tot jong mense… en die jong paar, Hennie en Tokkie, eers bloedjonk, stelselmatig sien ouer en ouer word.

Tokkie wat 25 jaar oud was toe ons Buffelsbaai ontdek het, vier Sondag daar haar 63ste verjaardag. Marisa, ons jongste, is getroud met Brent Claassens en is die ma van drie seuntjies, die tweeling Jacob en Thomas (amper 5) en Christopher (5 weke). Ouboet Johan is diep in die dertig, getroud met Mariza en die pleegpa van ‘n vierde seuntjie in die familie, Michael ( halfpad tussen 2 en 3).

Die foto hierbo is van die seekant af – d.w.s. seker van ‘n bootjie af geneem. Heel links onder steek ‘n piepklein stukkie uit van Kop-bo-Water, prof. Bethel Muller van Stellenbosch se wit huis met die blou dak, wat die wondere van Buffelsbaai vir ons ontsluit het. Net regs van hom, die donkergeel huis, is Kammarus waarheen ons later weens logistieke redes uitgewyk het. Dit het behoort aan prof. Vaatjie du Toit, in lewe ginekoloog van Bloemfontein en later dekaan van Maties se mediese fakulteit, en sy vrou, Lida. Die huidige eienaars is McSeveny’s van die Rand.

By daardie twee strandhuise, wat ons soos ons eie gekoester het, het ons dikwels ook saam met ons ouers gekuier. Toe Pa Malan sterwende was aan kanker, was Buffelsbaai die bestemming van sy heel laaste vakansie. Hy was broos en Ma het om hom gekloek. Die laaste dag het hy haar ontglip. die skuifdeur stilletjies soos ‘n stout kind oopgestoot, op Kammarus se dek gaan staan en behaaglik die vars, sout seelug ingeadem. Sy oë het geblink – vir oulaas. Daardie toneeltjie het my met ‘n diepe weemoed vervul. Ek het tussen die rotse my hart gaan uithuil.

Dit is na Kammarus waarheen ons nou na al die jare terugkeer. Vrydagmiddag sal die vuurtjie vroeg-vroeg aan die seekant voor die huis aangesteek word vir ‘n braai soos seker meer as 100 keer tevore. Laat ek egter maar erken dat skoonma Marietjie van Wyk (amper 95 en nou in ‘n versorgingsoord) meer as een aand ‘n papierbord moes staan en waai om ‘n trae Van Deventervuurtjie ‘n bietjie aan te wakker!

Die onhandige gesukkel om soms in die seebriesie ‘n vleisie gebraai te kry, is deel van ons skat van Buffelsbaai-herinneringe. (Tokkie beweer dit was nie onhandigheid nie, maar eenhandigheid. In die een hand was konstant ‘n glasie!)

Ons brand om herinneringe met die kinders te deel en hulle die wonderlike plek te wys; die yslike preekstoelrots reg voor die huis wat jou nooi om te klouter, die poeletjies met seekatte, seesterre en klein vissies, die eksklusiewe “private” strandjie ‘n klipgooi van jou voordeur waar jy kan bak en brou soos jy wil, die strandkafee waarheen kindertjies alleen kan stap…

Vergeet egter nie van die middag van die Groot Skrik nie toe ‘n reuse-fratsbrander skielik bo-oor daardie rots breek en opdrifsels tot teenaan Kop-bo-Water se voordeur aanspoel. Tokkie sien ‘n swart plastieksak in die skuimende water dobber en dink dis Johan se baadjie. Sy storm onstuitbaar die see in…. Gelukkig kon die bure vinnig gerus stel: die kinders is veilig. Hulle is skaars ‘n minuut voor die fratsbrander in ‘n ander rigting.

Vergewe tog: oor Buffelsbaai kan ek raak soos ‘n grammofoonplaat wat vasgehaak het. Ek sal my maar inhou en net nog vertel van die “afspraak” tussen ‘n Bloemfonteinse leraar en sy vrou oor waar die eerssterwende vir die langslewende sal wag – op Buffelsbaai se strand natuurlik!

Ja, Buffelsbaai het iets van ‘n hemelse kwaliteit aan hom wat sulke denke stimuleer. Vir my het dit tot die volgende versie met die titel Hemel geïnspireer:

Die trein stoom in /by die stasie Hemel/dis berg, see en sand/’n mensegewemel/‘n engel knik skalks – “Oom’t reg geraai/die hemel is wel/nes Buffelsbaai.” (HvD)

NASKRIF: Ons is altyd in die somer Buffelsbaai toe. Volgens my kollega van baie jare Johan van Wyk kan jy ook ‘n perfekte wintervakansie op Buffelsbaai deurbring. Jy het net drie dinge nodig: ‘n blondine, ‘n bottel Old Brown-sjerrie en ‘n “baaisiekel”. Vra jy hom: “En die baaisiekel dan?” was sy antwoord: “Om die blondine te stuur om nog Old Brown-sjerrie te gaan haal as dit opraak!”