‘BRILLE EN PILLE’ TOT ‘KROM EN DOM’

Die bekende stadium van “brille en pille” breek vir sekere seniors aan wanneer hulle, by wyse van spreke, nog in die kinderskoene van hul bejaardheid verkeer. Ek verkies om nie te probeer onthou hoeveel jaar gelede ek al die volgende versie uit pynlike persoonlike ervaring neergepen het nie:

Sonder sy medisyne
is die oubaas
vol skete en pyne;
sonder sy bril
is hy ‘n ronde nul.

Namate ‘n al hoe dikker stroom van vriende vir ‘n verskeidenheid “vervangings” na die ortopediese afdelings van Medi-Clinics en Netcare-hospitale stroom, raak ek my toenemend van ‘n volgende stadium op die geriatriese glyplank bewus.

Hierdie stadium se naam kan wees “vervang en verlang”. Die ‘vervang” slaan natuurlik op die enorme lot verrinneweerde heupe, knieë en skouers wat deesdae lag-lag uitgeslag en met spiksplinternuwe metaal of plastiek vervang word. Na ‘n ruk op krukke is die ou lyf dan weer pure perd .. of amper.

Die ”verlang” blyk uit die oulike llustrasie hierbo. Daardie ou in die rolstoel wip gewis nie om dowe neute so ambisieus al hoër en hoër op die wipmat nie. Enersyds word hy seker gedryf uit menslike nuuskierigheid – die gras aan die anderkant van die draad, jy weet. Andersyds is die arme drommel vermoedelik ook maar soos die hert in dorre streke van die ou Psalms en Gesange – skreeuend dors na die genot.

Verlange na vergange tye, ai ja. Maar laat ons maar nie te diep op die ou sakie ingaan nie. Netnoumaar lees kinders in tedere jare ook hierdie gryse ou omie se blog, en ek soek nie ‘n PG-klassifikasie nie!

Helaas lê nog stadiums van agteruitgang voor. Net eers gou twee stories uit die huis van vriende waar die ortopeed se skalpel die vrou en moeder onlangs geruime tyd van haar flukse voete af gehad het.

Nadat sy so drie weke op die gemeente se gebedslys was, kondig haar vermoeide man sugtend aan hy gaan nou vra dat haar naam met syne vervang word!

Hy is dieselfde ou wat die blink plan bedink het om ter wille van gladde kommunikasie vir sy liewe gade ‘n fluitjie te gee om hom te ontbied wanneer sy dienste benodig raak. Een middag kyk hy rugby. Wat hy nie verstaan nie, is dat die skeidsregter se fluitjie blaas en blaas, maar die spel gaan voort. Geïrriteerd draai hy die klank af. Die blasery hou nie op nie. Eers toe dring dit deur waar dit vandaan kom. Hy spring op en storm kamer toe!

Stadium drie kan ons noem “dop en verstop”. Ken ek hom nie. Twee glase rooiwyn en die neusj is bhot-thoe van die sjinus. Atiesjoe!

Oor dié stadium het ek ook ‘n versie geskryf:

Elke denkbare kanaal
– van nasaal tot urinaal –
is verstop of skeef of krom,
dis die kruis van ouderdom!

Stadium vier – dis die gevreesde stadium van “krom en dom”. Sy HvD-versie lui so:

Ouderdom, benouderdom;
Die oud buig die lyf al krommer,
Die dom word, helaas, al dommer!

Ouderdom, benouderdom …..o wee, hier kom ekke! (HvD)

RAPPORT, JOOST EN DIE VIDEO

By die Bybelstudie het ons gisteraand gepraat oor ‘n onderwerp wat na 10 dae op die lippe bly: die sogenaamde Joost-seksvideo. Die aanknopingspunt was die Bergpredikasie in Matttheus 5: “Geseënd is dié wat treur …” Die leraar wou weet of “treur” in die openbare reaksie te bespeur is. Geeneen kon hom juis gerus stel nie.

Toemaar, ek gaan nie ‘n notule van ons groepie se uiteenlopende insigte hier weergee nie. Wel het ek in die gesprek uit ‘n koeranthoek ‘n standpunt gestel wat ek – na nadenke in die lig van my voorneme om my liefs uit polemieke te hou – tog brand om hier te herhaal.

Dit gaan oor die Sondagblad Rapport se hantering. As uitgangspunt: vanselfsprekend moes Rapport die opspraakwekkende storie prominent publiseer. Prof. Piet Cillié wat ‘n ding raak kon sê, het by geleentheid verklaar: “Die doelbewuste weglating van ‘n sappige onnoselheid of ‘n afgrondelike flater van ‘n hoë persoon is …. ‘n ondiens aan die waarheid.” Beter kan ek dit nie stel nie, buiten om vir die kwessie ter sake die woordjie “beweerde” in te voeg. Tot vandag toe weet ons nie of die video inderdaad is wat dit voorgee om te wees nie.

Forensiese kenners, plastiese chirurge en ‘n falanks ander “deskundiges” verskil van mekaar oor die kernkwessie, naamlik die identiteit van die drommel wat uitgevang is. Ander onsekerhede sluit in hoe oud die video is, in watter omstandighede en deur wie dit dit vervaardig is, wie skielik met watter motief die bestaan aan die groot klok wil hang, en dies meer.

Al hierdie faktore behoort deur Rapport fyn opgeweeg te gewees het voordat hy ingestorm het en Joost so ongediskwalifiseerd opgehang het.

‘n Waarskuwingslig wat al my antennas as oud-redakteur orent sou laat wip het, was dat iemand duidelik die koerant wou gebruik – liewer “misbruik” – om sy vuilwerk te doen. Hierdie storie is nie aangedra tot heil van die groter gemeenskap en die beskerming van sy morele waardes en sedelike kodes nie; dit is aangedra om Joost (en sy gesin?) te verneder en/of te probeer breek. Daar sit wraak agter, of die een of ander giftige venyn wat nog nie uitgepluis is nie.

Jammer, maar ek dink Rapport het die toets gedop deur met die gesiglose siek mense agter die video in dieselfde bed te spring. Deur sy haastige geskarrel om homself (of is dit deesdae haarself?) te oortuig dat dit wel Joost se lyf op die video is en deur daardie feit of vermoede (kies ‘n woord) as die groot nuus uit te basuin, het hy (sy?) sy posisie as nuusmedium onomkeerbaar vir die posisie van mede-laksman verruil. Dis so eenvoudig soos dit is.

Rapport moes afstand behou het. Hier word ‘n skokvideo oor ‘n bekende met klaarblyklik onwaardige motiewe by die koerant aangedra om daardie bekende te verguis. Die video kan eg wees of nie eg nie. Vir Rapport se eie mense en prokureurs wat vinnig geraadpleeg is, lyk dit eg. Die persoon ontken egter die egtheid. Hy lig op sy beurt die sluier oor allerlei waarskuwings en vreemde optredes wat op ’n veldtog van intimidering kan dui.

Hierdie feite verteenwoordig tog voor die hand liggend die nuus in Rapport se besit. Waarom Rapport sy funksie skielik gaan herdefiniëer het van boodskapper van wat hy op sy tafel het tot gewillige meeloper om Joost in bedenklike omstandighede voor sy lesers oop te spalk, sal net hy (sy?) weet.

Meer koerante verkoop? Ek twyfel. ‘n Berig met die strekking soos hierbo uiteengesit, was na my nuusoordeel ewe potent – net verreweg billiker. Hier’s sommer ‘n opskrif ook wat Rapport se lesers nie minder sou laat gons het nie: Is dit jy, Joost? ‘n Tweede opskrif sou kon lui: Raaisel van geheimsinnige seksvideo. Dan was Rapport nie so pens en pootjies saam in die ding nie.

Belangrikste van alles: dan was Rapport moreel op heelwat hoër grond as daar uit op die tak waar hy hom nou bevind in die ongemaklike geselskap van die tydskrif Heat (berge bedek my!), ‘n wulpse, semi-kaal danseressie met ‘n poeierkwassie en ‘n versteekte kamera asook ‘n spul ander kwaadwillige knoeiers wat kwylende agter die deur bondel.

Noem myn outyds maar as ek moes gekies het, sou dit vir die morele hoë grond gewees het. (HvD)

ASSEBLIEF EN DANKIE

As hulle in Frankryk reis, byvoorbeeld, is hulle voor in die koor met hul “silvous plaiz” ’s en “merci” ’s. In Suid-Afrika kan hulle om die dood nie “asseblief” of “dankie” deur hul lippe pers nie.

In die briewekolom van vanoggend se Die Burger word daardie lotjie voor stok gekry deur iemand wat onder die naam Groot Verbruiker uit Overstrand oor die afskeep van Afrikaans deur winkels en kassiere saamgesels.

‘n Mens wil nie altyd op die oorlogspad wees oor jou taal nie, maar jy kan nie ook nie net stilbly nie. Groot Verbruiker maak ‘n geldige punt dat kassiere “tog seker intelligent genoeg (is) om net “dankie” te sê in Afrikaans – ons verwag nie ‘n gesprek nie.” Ek ondersteun hom graag volmondig.

Hy merk ook op (ewe geldig) dat reisigers deur die wêreld binne dae woorde in ‘n vreemde taal leer wanneer hulle ander lande besoek.

Dit bewys mos hier te lande bestaan ‘n klomp vooroordeel en weerstand. Ons geld is goed genoeg, maar ons taal moet maar tweede viool speel – dit maak ‘n mens opstandig.

Groot Verbruiker se opmerkings herinner my aan n idee wat ek aand om ‘n kampvuur gehoor het. Dit is daar by die een oor in en die ander oor uit, maar ek dink dit het nogal meriete dat ons, soos langs die vuurtjie voorgestel is, ophou om “please” en “thank you” te sê.

Ons kap daardie woorde eenvoudig uit ons woordeskat. Ons sê net “asseblief” en “dankie”, soos die Franse “silvous plaiz” en “merci” sê – nie uit onhoflikheid nie maar ter wille van groter wedersydse hoflikheid.

Diegene wat nie weet (of wil weet) wat daardie woorde beteken nie, sal hopelik mettertyd agterkom. (HvD)

DIE LEKKERSTE WERKPLEK

Gesoek: Suid-Afrika se lekkerste werkplek. As so ‘n ambisieuse soektog wel geloods sou word – stel ek ‘n aanspraakmaker voor wat ander mededingers harde bene sou laat kou. Mense wat Sabiepark se piekniekplek ken, sal seker nie verbaas wees nie dat daardie seer geliefde stukkie grond aan die Sabierivier my kandidaat is.

‘n Artikel oor die piekniekplek en Solly Sibuyi (op die foto) wat daar die septer swaai, verskyn in die Maart-uitgawe van die S.A.L. se invlug-tydskrif Sawubona. Dit word hier in in ietwat verkorte vorm in Afrikaans weergegee:

Dink net, jou “kantoor” is aan die Sabierivier met ‘n onbelemmerde 180-grade-uitsig vir kilometers lank op die rivier en die Nasionale Krugerpark aan die oorkant. Die enigste dak oor jou kop, is die blare van ‘n norring gedugte Bosveldbome bedags; en snags die sterrehemel – met sterre so helder dat jy daaraan wil raak.

‘n Verrassing op jou dagprogram is dalk ‘n leeuvangs vlak voor jou oë, ‘n trop olifante wat met ‘n gedruis die water inplons of honderde buffels wat die riete skielik swart spikkel. Soms – as jy gelukkig is – kom soek ‘n luiperd sonnetjie, maak wildehonde ‘n vinnige draai of slenter ‘n jagluiperd nonchalant oor die klippe in die rivier.

Om jou hang die amper tasbare rustigheid van die natuur soos ‘n beskermende kombers. Wat jy heeldag hoor, is net die seekoeie wat luidrugtig snork; visarende wat melancholies roep; tien teen een ‘n paar bloukuifloeries wat in ‘n sierlike trosvy sit en kok-kok-kok.

Dit klink te goed om waar te wees. Vir die die 35-jarige Solly Sibuyi van Mpumalanga is so ‘n idilliese werkplek egter werklikheid. Hy is die opsigter van Sabiepark – twee kilometer van die Krugerhek van die Wildtuin – se piekniekterrein.

Die uitgestrekte grasperk is ‘n oase in die bos wat selfs in die middel van ‘n harde winter aanloklik is. Die wydse uitsig oor die rivier op die Wildtuin self sluit talryke drinkplekke en wildpaadjies in. Dit bied wildbesigtiging om van te droom – veral van die twee uitkykpunte op die houtdek wat met ‘n lang voetbrug bereik word.

Vir Solly is elke dag ‘n fees en hy draai nie doekies om nie: sy werk verruil hy vir niks op aarde nie – al daardie Sabiepark-eienaars wat heimlik daarvan droom om op vrywillige basis Solly se pligte te kom oorneem, kan dit dus maar op die maag skryf en met hul hemde doodvee, baie dankie!

Die netjiese Solly, altyd vriendelik, glimlaggend en hulpvaardig, is ‘n boorling van die Huntington-trustgebied middelin bekende wildparke soos die Kruger, die Sabi-Sabi, Mala-Mala, Londolozi en Sabiepark. Hy het in 1995 by Sabiepark begin werk, aanvanklik as assistent van die kleurryke indoena Willem Shabangu, Sabiepark se gas-ekspert, by die kiosk. Tien jaar later is die sorg van die piekniekplek aan hom toevertrou.

Sy taak sluit in om te sorg vir die sekuriteit – nie enigiemand kan sommer net instap nie – en algemene netheid. Hy sny byvoorbeeld die gras met ‘n trekkertjie. Boonop dien hy as onuitputlike bron van inligting vir die besoekers wat hoopvol met hul verkykers en kameras opdaag.

Op die ontvangstoonbank lê ‘n informele “logboek” waarin Solly en andere interessante waarnemings aanteken. Om daardeur te blaai, is ‘n openbaring. Die volume en verskeidenheid wild wat van Sabiepark se kant waargeneem word, kwalifiseer die piekniekplek sekerlik as een van die vrugbaarste uitkykplekke langs die ganse Sabierivier.

Hoeveel keer Solly al die Vyf Grotes – leeu, luiperd, olifant, renoster en buffel – daar van sy domein af gesien het, weet hy nie. Hy het opgehou tel. ‘n Resident-leeutrop – drie kraagmanne, vier wyfies en drie welpies – sorg vir sporadiese jagtogte, nie altyd ewe geslaagd nie. Olifante kom en gaan in troppe van tot 70 of een-een – daardie kolletjie van die Wildtuin trek hulle soos ‘n magneet. Hy sien ook gereeld die allerpragtigste Wildtuintonele soos kameelperde, koedoes, sebras, blouwildebeeste, waterbokke, impalas en ander wild uit die bos te voorskyn kom om te kom drink. Veral in die winter as die bos droog is.

Soms dring olifante die piekniekplek binne. Hulle klim ewe fyntjies oor die paaltjieheining en skokdraad of loop sommer goedsmoeds die versperrings plat. Dan is dit ‘n hele tedoe om hulle uit te kry. Daar word op blikke geslaan, “ramshorings” ( baie soos sokker se irriterende vuvuzelas) geblaas en in die algemeen ‘n grote lawaai opgeskop. Gewoonlik werk dit – uiteindelik. Daarna is dit vir Solly Operasie Skoonmaak. Olifantbolle en boomtakke lê besaai oor die hele terrein.

‘n Wonderlike toneel wat Solly in Augustus 2008 waargeneem het, was die gesamentlike oortog van sowat 300 buffels en 20 olifante – grotes en kleintjies – oor die Sabierivier Sabiepark se kant toe. Die tou buffels was eindeloos. Skielik kry die trop olifante aan die duskant van die rivier toe lewe, drafstap die water in, gooi aan die oorkant ‘n wye u-draai en kom in die spore van die buffels weer duskant toe. In n stadium was dit net olifante en buffels en buffels en olifante – so naby aan die oostelike uitkykdek dat jy die diere kon hoor en ruik.

Net enkele bevoorregte eienaars was daardie middag saam met Solly op die brug. Een, ‘n buitelander, was oorstelp oor die grootsheid van wat hy aanskou. Vir Solly was daardie opgewondenheid rede tot groot vreugde. Hy geniet dit as “sy mense” onvergeetlike ervarings by die piekniekplek het. Hy ken die meeste van hulle nie net by die naam nie, maar ook die nommers van hul erwe.

Solly het al gesien hoe leeus buffels, koedoes, impalas – en ‘n skamele vlakvarkie – op die ooptes oorkant die rivier plattrek. Die laaste keer dat ‘n ou mank buffel die slagoffer was, het die leeus vir ‘n oomblik hul konsentrasie verslap. Toe kom ‘n yslike krokodil haastig aangewaggel om hulle van hul vleis te probeer beroof. Die uiteinde was ‘n groot geveg. Vir Solly was dit ook een van sy groot oomblikke, en dit helderoordag.

Solly skud maar net sy kop oor die mense wat in die wildparke so ry en ry – en selfs nagritte onderneem – om wild te soek. Die wild wat hy sien, kom dan oop en bloot na hom toe.

Ook oor watervoëls het hy al uitgebreide kennis opgedoen, want dié is volop – van die groot reusereier en saalbekooievaar tot die klein visvangertjies en die nog kleiner bont kwikstertjie. Solly moet gereeld help om skaars soorte soos die watertrapper, waterdikkop en die bont kiewiet te identifiseer. As hy vasbrand, raadpleeg hy sy boeke wat hy byderhand hou. So leer hy self ook amper elke dag iets nuuts.

Vir Sabiepark se eienaars is Solly se kennis een van die pluspunte wat hy bied. ‘n Ander is sy skerp oog. Stop die bobaas-verspieder ‘n verkyker in die hand en hy kyk vir jou vinnig, vinnig ‘n leeu uit die bos uit.

‘n Bonus, sê Solly, is dat dit alles hom niks kos nie. Geen duur safari’s vir hom nie. Hy was nog nooit eens op ‘n wild-rit nie.

Solly is nie net lief vir sy werk en vir Sabiepark nie; hy is ook baie trots daarop. Al verdien hy nie ‘n sak vol geld nie, meet hy sy rykdom in ander terme. Dit laat hom baie bevoorreg voel om gedurig dinge te beleef waarvan baie ander mense geen kennis of ervaring het nie. Dit is wat elke minuut in sy persoonlike stukkie hemel op aarde vir hom dubbel en dwars die moeite werd maak (HvD) .

TOT SIENS BY DIE BRAAI, OU FICKIE!


Dat ek nooit weer saam met Fickie Visagie om ‘n vleisbraaivuurtjie in Sabiepark sal sit nie, is ‘n vreemde, amper onwerklike wete. Goed, Fickie was al 83 toe ‘n aggressiewe leukemie hom beetgekry het, maar in my oë was dié goeie vriend onverwoesbaar soos ‘n ou Datsun-enjin, aldus vanmelewe se TV-advertensie.

Hy was immers al heelwat oor 80 toe hy ‘n lewensdroom verwesenlik het om Serengeti te besoek. Oor die indrukwekkende migrasie van blouwildebeeste wat hy en sy vrou, André, daar beleef het, kon hy nie uitgepraat raak nie.

Fickie Visagie was ‘n natuurkind by uitstek. Dat in Sabiepark ongewone wild-ervarings hom te beurt geval het, soos ‘n luiperd-besoek op sy voorstoep en ‘n seekoei wat oor die hele breedte van die park stap om in sy watergat sy dors te kom les, was wat die Engelse noem “poetic justice” het ek altyd gedink, omdat hy so weergaloos entoesiasties, met stralende oë, oor sulke episodes kon vertel.

Fickie se kinders het hom in sy begrafniskennisgewing ‘n “oop” kop genoem – ‘n pluimpie wat ek dan sommer by verstek vir myself ook toe-eien. Want ek en Fickie het omtrent oor alles onder die son hartroerend saamgestem as hy so aan sy Skotse watertjie en ek aan my wit wyntjie teug terwyl die Vrystaatse boerewors en tjoppies op die Bosveldkole perfek gaar word – van die politiek tot sport, wat nogal twee omstrede onderwerpe kan raak.

En dit was nie met ‘n ja-broer-gesindheid nie. Ons het immers albei Hondas gery en na sy dood hoor ek toe sy keuse vir begrafnismusiek sluit ook Dvôrak se Nuwe Wêreldsimfonie in – ‘n Walliese kooropname van die onoortreflike Negerlied Going Home.

Een van my standpunte wat hom ietwat ergerlik gestem het, was oor Sabiepark se aansienlike hiënabevolking wat uitdagend en astrant ‘n vleisie op jou rooster sal kom aas as jy nie oppas nie. Vir my spel hulle gevaar, veral vir kinders, en daarom pleit ek gereeld vir uitdunning en goeie kontrole.

Fickie het gemeen dis hiënas se goeie reg om te kom en gaan soos hulle wil. As jy die slagoffer van ‘n wilde dier in Sabiepark sou wees, sou dit in ieder geval ‘n veel verkiesliker manier wees om te gaan as om deur kapers, rowers en dies meer platgeskiet te word. Hierdie standpunt som Fickie se lewensfilosofie heel netjies op, en ons het darem ook nie te kwaai daaroor gestry nie – liewer nog ‘n laaste enetjie geskink voordat die vleis van die kole kom.

My oorvloedigste dankbaarheid teenoor Fickie het juis met Sabiepark te doen. Twintig jaar gelede al het die Van Deventers dié salige Bosveldse paradys aan die Sabierivier ontdek. Ons was, op pad Nasionale Krugerwildtuin toe, hier op sy drumpel dankbare gaste in mede-Bloemfonteiners Fickie en André se boshuis.

Toe ons aand van 1 Julie 1988 onder die helder sterre soek-soek by nommer 97 uitkom, net mooi daar waar Maroela en Wildevy mekaar ontmoet, kry ons slapende sebras en impalas wat in die motorligte laat spat. Ons het ons verwonder aan die lewe op die werf – selfs as dit nag geword het.

Op 3 Julie sit ons die reis voort, deur die Krugerhek na Skukuza en daarna noordwaarts na Satara en Olifants. Net voordat ons ry, pen ek en Tokkie die volgende spanpoging tussen die foto’s en allerlei pennevrugte in die Visagies se gesellige Sabiepark-dagboek neer:

“Dit was ‘n fees!

“Sebras en rooibokke het ‘n verwelkomingskomitee gevorm wat ons ingewag het. Daarna het ‘n nuuskierige gesinnetjie vlakvarke, ‘n eensame blouwildebees, ‘n huppelende troppie rooibokkies en ‘n duikertjie kom dagsê.

“‘n Kameelperd het ook gekom, maar toe was ons nie tuis nie. Sy spore was tot teenaan die stoep. Hy het blykbaar ook aan die groot boom op die stoep staan en peusel.

“Besoekers met skynbaar minder vreedsame intensies was ‘n regiment gebande muishonde wat die huis kompleet omsingel het. Die generaal het gedurig bevele gegee en sy manskappe in onheilspellende slagordes opgestel. Toe hulle sien dat ons nie gaan wyk nie, het hulle net so skielik padgegee as wat hulle gekom het.

“‘n Houtkapper het ‘n boodskap in Morsekode gebring. Ongelukkig kon ons dit nie ontsyfer nie.

“Die buffels (wat toe nog nie verban was nie – HvD) het nie kom kuier nie, maar ons het hulle wel raakgeloop waar hulle met verwondering en intense konsentrasie ‘n tenniswedstryd staan en dophou. Geen wonder nie, want dit was mos Wimbledon-naweek.

“Dankie vir ‘n heerlike blaaskansie in jul Bosveldparadys. (H en T)”

Min het ons kon droom ons sou ‘n dekade later terugkeer; hierdie keer met die kaart en transport van ‘n eie tuiste in die bos in die sak.

Vandag is ek verleë oor daardie 1988-kuier . Nou weet ek ‘n huis in Sabiepark staan nie sommer reg vir kuiergaste om net in te trek nie. ‘n Groot operasie skoonmaak is nodig. Gas moet gekoppel word. Yskaste word aangesteek. Soms word selfs geskoffel.

Nou is Fickie oorlede sonder dat ek ooit my skuld vereffen het!

* Fickie Visagie is op is op 19 Februarie oorlede. (HvD)

SKELM KYKIES BY DIE WASBAK

In Carl Niehaus se matriekjaar in 1977 het sy ma ‘n nuwe huisbediende , Mary, in diens geneem. Niehaus beskryf haar as jonk, lank en skraal “met vlytige hande en ‘n bree, vriendelike glimlag” (Om te veg vir hoop, Human & Rousseau, bladsy 41).

Een middag, terwyl sy besig was om skottelgoed te was, het hy besef dat sy vir hom aantreklik is. ‘n Ruk lank het hy dit geniet om na haar daar by die opwasbak te kyk … toe begin die skuldgevoelens. Hy is wit, sy is swart: hy mag nie die “oulike kuiltjies in haar wange sien wanneer sy lag nie”.

Oor die onmoontlikheid van die situasie het hy “stug en ongeskik” met haar geraak. Later het sy hom ook nie meer met ‘n glimlag gegroet nie. Een middag toe hy tuis kom, was sy afgedank. Sy was, volgens sy ma, “te astrant”.

Jare later het hy een nag in die tronk wakker geword en Mary onthou. Eers toe het hy hom die lang ontwykte vraag veroorloof: “ Is sy afgedank omdat Mamma gesien het hoe ek na haar kyk?”

Feit of verdigsel? Dis enigiemand se raaiskoot. Na al die Carl Niehaus-bog wat in die laaste dag of drie oopgekrap is, begin ‘n ongemaklikheid wat ek met die eerste lees van hierdie vreemde anekdotetjie ervaar het, egter weer aan my knaag.

Dalk is ek nou te skepties oor als wat hy kwytraak. Dat die man ‘n ryke verbeelding het, het ons egter tog al vasgestel. (HvD)