SEWENTIG SAKKE SEËN!

Die kalwers van 1939 loop raak vanjaar 70. Niks buitengewoon daaraan nie, buiten dat daardie kalwers hope van my matriekmaats op Potch-Volkies en mede-eerstejaars in Kollegetehuis, Tukkies, insluit. As een verjaar, kan jy maar vra: “Jy’s nie dalk vandag 70 nie?” Die antwoord sal dikwels bevestigend wees.

Ook my swaer Fanie van Wyk – ‘n kleurryke karakter – word vanjaar 70. Dit gaan Donderdag (5 Februarie) ‘n besige dag wees in sy aftreehuis in Limietbergstraat, Klaradyn, Brackenfell, raai ek. Gelukwensings van vriende gaan sekerlik instroom, veral uit Harrismith waar hy lank ‘n gewilde hoof van die laerskool was. Die voordeurklokkie gaan ongetwyfeld lui en lui soos die Klaradyners kom geluk sê.

Fanie maak maklik nuwe vriende en ken die kuns om ou vriendskappe rotsvas in stand te hou. Hy is in ‘n goeie sin wat ‘n mens kan noem ‘n allemansvriend, ‘n mens-mens wat ook as storieverteller uitblink, met ‘n aansteeklike geesdrif, jovialiteit en lewensvreugde wat dit lekker maak om in sy geselskap te wees. So iemand word nie eensaam en alleen 70 nie.

Omdat ek hom nie geld skuld nie, gaan ek nie net die heuningkwas swaai nie. Fanie is nie net hartlik en wellewend nie – hy het ook maar sy kwota draadwerk. Kom ons stel dit eufemisties en sê een nuk is dat hy nogal uitermate opgewonde kan raak. As daardie opgewondenheid uitbars, moet jy koes!

Een keer toe die tuinman, arme drommel, op ‘n Saterdagmiddag op Harrismith sy besproeiing stukkend spit, was dit sulke tyd. Met water wat in ‘n boog hoog die lug in spuit, trek swaer Fanie bulderend los soos ‘n kampioen-markagent wat aartappels opveil.

Skoonsuster Maretha skrik haar boeglam vir die onaardse lawaai en storm nader. Sy tref ‘n onstuimige en papnat Fanie aan wat verbete die gat probeer toedruk. Telkens wil hy sy woordevloed met ‘n handgebaar beklemtoon. Dan laat los hy die stukkende pyp – en kry opnuut ‘n skoot water direk in die gesig.

Te midde van die tirade ontwaak die buurman oorkant die straat uit sy middagslapie. Hy hoor die gegil en sien Maretha hardloop. “Bel die ambulans,” skree hy vir sy vrou, en duik by die venstrer uit net in sy onderbroek. Sy vermoede was dat Maretha vir Fanie met die bakkie omgery het.

Ander eienskappe is o.m. sy traagheid om van sy swaarverdiende geldjies afstand te doen – hy koop nie sommer ‘n ding as hy hom verniet kan kry nie! – sy, noem dit maar, versigtigheid vir hoogtes en allerlei ander gevare, asook sy ongeneeslike versameldrang.

Ek en my vrou, Tokkie, sy enigste suster, vat die Van Wyks een middag saam rugby toe op Nuweland. Waarmee ons nie rekening gehou het nie, is die posisie van die Naspers-losie wat soos ‘n vinknes hoog bo die veld hang. Fanie is handeviervoet af na sy sitplek en het met swetende hande die hele middag aan die reling vasgeklou sonder om links of regs te kyk.

Sy hande was ewe sopnat gesweet toe ons om Chapmanspiek ry – en toe ons in Sabiepark in 1998 op die ou wandelpad gaan stap waar ‘n onverwagte ontmoeting met die een of ander gevaarlike dier nooit uitgesluit was nie. Fanie sal my hopelik nie verkwalik nie as ek verklap hy het met ‘n klip in sy hand op ‘n veilige afstand agter die voorhoede en al murmurerende die afstand afgelê (Foto).

As die stomme man maar kon weet ek het voor die avontuurtjie van die brug oor die Sabierivier af ‘n olifant naby die einde van die pad gewaar. Ek het hom en skoonsuster Maretha dus met voorbedagte rade letterlik om die bos gelei om juis op daardie tydstip te gaan stap. Hy sou my sommer met sy klip bygedam het.

Maar om sò naby ‘n olifant in die bos te kom, het tog vir enigeen sy bekoring. Later kon Fanie in die gasteboek manhaftig neerpen: “Met ‘n klip in die hand stap ek tot teenaan die olifant!”

Fanie versamel boeke, bonsais, seëls, skilderye, wyn en wat nog. Trouens, wat versamel hy nie? Maretha probeer maar altyd om stilletjies die opgegaarde bates tot realistiese vlakke te reduseer, en so skenk sy in ‘n stadium stilletjies ‘n klompie ou boeke vir ‘n kerkbasaar of iets. Fanie val by die boektafel vas en vergaap hom aan al die waardevolle eksemplare waarvan replikas, so dag hy toe nog, in sy eie studeerkamer pryk.

Tuisgekom, is hy dadelik tot barstens toe voldaan na sy boeke toe. Die gapings verklap dadelik dat Maretha ietwat uitgedun het. Het ek gesê Fanie kan opgewonde raak!

Sy kinders kla ook hul pa gaan haal altyd die bobbejaan agter die berg. Daarop het Fanie ‘n vindingryke antwoord. As hy die bobbejaan hoor boggom, weet hy mos hy’s daar!

Ja, Fanie is ook ‘n vindingryke man. Op ‘n dag moes hy ‘n span bandiete op sy dak oppas terwyl hulle verf. Toe raak die verf op. ‘n Boer maak ‘n plan. Fanie het eenvoudig die leer verwyder en met ‘n geruste hart winkel toe gery terwyl die vasgekeerde bandiete die uitsig op Platberg van sy dak af geniet!

‘n Jaar of vyf voordat ons paaie gekruis het, het die nimlike Fanie vriend en vyand verras deur vir die steratlete van stedelike spogskole weg te hardloop en die Suid-Afrikaanse 440-tree-kampioen vir seuns onder negentien te word. ‘n Stuk of ses van sy atletiekrekords staan nou al meer as 50 jaar jaar ongeskonde by die Hoërskool Bultfontein. Dis glo die plate duwweltjies op Bultfontein se atletiekbaan wat hom sy bene – en sy kaalvoete! – leer dra het.

Fanie sal nie weer ‘n 440 hardloop nie – die asempies raak soms maar min. Mag hy egter, soos die atleet wat hy was, die pas in die pylvak warm maak. Op pad wenpaal toe het ek vir my ou swaer, by alles, twee spesiale wense:

dat hy nog lank die lus sal behou om sy duisternis stories met dieselfde entoesiasme te vertel vir almal wat wil luister, en dat hy ook steeds ontvanklike gehore sal vind wat die ene ore sal bly;

dat sy kleinseun met die groot name, Alesandro Domenico Stefano Brocchetto (die Stefano kom natuurlik van Fanie se Stephanus), altyd vir Oupa Fanie so ‘n loutere vreugde sal bly soos in sy eerste ses maande in die Van Wyk-geledere.

Vat vyf, Fanie! Sewentig sakke seën vir jou – en via Fanie sommer ook vir al my ander maters wat vanjaar die 70-baken bereik. (HvD)

MARKO, DIEDERIK EN SAN-MARI

Wiekie Moolman en HvD - kamermaats in matriek en lief vir een meisie.

Wiekie Moolman en HvD - kamermaats in matriek en lief vir een meisie.

Die “ewige driehoek” is ‘n tema so oud soos die berge in romantiese fiksie – jy tref dit aan in boeke, verhale in tydskrifte, rolprente (veral romantiese komedies), TV-stories (die sogenaamde “soap operas” of sepies) werklike operas en operettes, trefferliedjies deur die jare … en natuurlik die werklike lewe.

Op die oomblik is Afrikaanse TV-kykers vasgenael voor die skerm terwyl die liefdesdriehoek tussen Marko, Diederik en San-Mari in die SABC2-sepie Sewende Laan ontvou (Ek noem dit sommer Half-sewende Laan omdat die program om 18:30 uitgesaai word.) .

Moenie verwag dit sal vinnig oor en uit wees nie, want soos Wikipedia op die web hoogdrawend verklaar: “In television shows, a love triangle is often prolonged for a lengthy amount of time, delaying any final declarations of love between the pursued character and his or her suitors that may prematurely end this dynamic or displease fans.”

In flieks word so ‘n driehoek gewoonlik ook maar soos ‘n stuk gomlastiek uitgerek. Die ontknoping kom eers naby die einde, hoewel kykers dan ten minste ‘n duideliker afronding van die deurmekaar-liefdeslewes van die hoofkarakters as in ‘n slepende sepie kan verwag.

Waarom ek my vandag so slim hou oor ‘n esoteriese onderwerp soos ‘n liefdesdriehoek is nie omdat ek so danig baie daarvan weet nie, maar wel omdat ek op grond van een enkele ervaring (liewe lesers, lek jul lippe af!) tog voel dat ek vir Marko en Diederik kan raad gee.

Ek wil soos my kollega Johan van Wyk destyds in sy rubriek Stop van Myne in Die Volksblad, toe Anneline Kriel en haar studenteliefde Jacques Malan se liefdeslewe gekompliseerd begin raak het, vaderlik en vermanend ‘n woordjie meespreek.

Anneline en Jakkie (soos my kollega die jong Tokkelok deernisvol aangespreek het) wou nie luister nie. Of miskien wou die een luister maar die ander een nie. Hoe ook al, het daar ‘n breukspul gekom. Jacques is op sy weë en Anneline op hare. Wat van hom geword het, weet ek nie (hoop hy’s gelukkig getroud), maar Mej. Wêreld of te nie, het die skone Anneline ook maar haar kwota liefdesongeluk te beurt geval.

Of Marko en Diederik na Oom Hennie gaan luister, is seker ook maar te betwyfel. Dalk glo hulle soos my vriend Henri van Biljon van Melkbos, ‘n oud-prokureur, dat geen raad iets werd is as jy nie daarvoor betaal het nie. Dalk is hulle net eiesinnig, soos jong mense maar kan neuk om te wees. Dalk bereik my raad hulle nie eens daar op Half-sewende Laan se stel nie.

Nietemin, of dit hulle nou gaan bereik of nie en of dit indruk gaan maak of nie, verklaar ek nou hier met volle oortuiging dat daar net een manier is om so ‘n tameletjie soos met daardie oulike rooikoppie San-Mari volwasse te hanteer, en dit is soos my Amerikaanse John Painter jr. van Portland, Oregon, dit so ondubbelsinnig stel: “Swift, brutal and without mercy” – bedoelende sonder genade teenoor die self en die eie ego. Net een se wense tel immers aan die ou einde van die dag (soos Naas Botha sê), en dit is die meisie s’n.

Meen, toe ek in matriek was was daar ‘n oulike kortrok-meisie in standerd agt met wie ek dan gekys was en dan weer nie gekys nie. In ‘n stadium was sy selfs my matriek-kamermaat, Wiekie Moolman, se nooi!

Een Saterdagaand keer hy toe na ‘n afspraak met ‘n somber gesig na ons gemeenskaplike tuiste in die Jack Pauw-koshuis by Potch-Volkies terug en deel my sonder lang stories die stand van sake mee: “Kammie, sy’s nog lief vir jou.”

Daar en dan gee hy haar toe in ‘n daad van roerende opoffering aan my terug. Geen woede-uitbarstings, geen verwyte, geen kwade gevoelens nie. Net: “Sy wil jou hê, so vat jy haar dan.”

Wat ek toe die volgende Saterdagaand sonder seremonie gedoen het. En toe gaan die lewe vir almal rustig voort.

Dalk is Wiekie se soort ridderlikheid ‘n seldsame verskynsel op hierdie ondermaanse met al sy intriges, beroeringe en emosies. Maar dat dit vir ons gewerk het, is ‘n feit soos ‘n volmaan.

Wel, om volkome eerlik te wees, het dit vir die volgende ses maande gewerk. Toe’s ek en Wiekie uit matriek uit en vind sy ‘n nuwe liefde – met wie sy toe lank en gelukkig getroud is.

Ces’t la vie. (HvD

GESKENK AAN OU MENSE

Soos elke oupa van wie ek weet (om van oumas nie te praat nie!) is hierdie ene behep met sy kleinkinders. Ek probeer dit net verbloem, want ek weet hoe irriterend dit kan raak.

Daarom sal ek darem nie, soos die oupa in die grappie, met ‘n pakkie foto’s in my binnesak in ‘n vliegtuig van ry tot ry loop op soek na ‘n sagte teiken vir wie ek die “unieke” wonderwerkies trots, met die nodige kleurryke kommentaar natuurlik, kan vertoon nie.

Wel neem ek die vrymoedigheid om hier op my eie blogruimte formeel aan te kondig dat Christopher Claassens, derde seuntjie van Brent en Marisa en boetie van die tweeling Jacob en Thomas, Saterdagaand, 24 Januarie 2009, ge-arriveer het. Dit het nogal vinnige voetwerk geverg nadat hy op ‘n troue in die Paarl sy voorneme te kenne gegee het.

Nietemin, Christopher het toe omstreeks 09:00 in die Panorama MediClinic sy opwagting gemaak, ‘n bondeltjie van 3,2 kg – ietwat meer as die tweeling se geamentlike geboortegewig!

Hoe reageer Jacob en Thomas? Die twee is erg ingenome met die nuwe “piepklein” boetie – al is hy “sonder tande”. Veral Jacob wil hom net vashou. Thomas staan egter nie ver agter met sy liefdevolle attensies nie. Hy het gister opofferend meegedeel dat hy sy sokkerbal in Christopher se kas gaan sit het!

Vir Oupa en ouma is Christophger die eerste kleinkind wat ons dadelik as pap babatjie kon optel en die lyfie teen ons kon voel. Die eerste twee is vinnig-vinnig uit die teater na die waakeenheid vir babas weggeboender en was vir wat na ‘n ewigheid gevoel het, in die beskermende kokonne van hul broeikaste.

Michael, pleegseuntjie van ons ander kinders, Johan en Mariza, het as amper tweejarige in hul lewens gekom. Die outjie is ‘n lewendige knaap, stuit vir g’n duiwel nie en is tuis soos ‘n vis in die water. Hy is hierdie week speelskooltjie toe, en dit geval hom klaarblyklik. Na die tweede dag was hy so ingeburger dat hy opsluit nie wou huis toe nie!

In elk geval, dit was mos John Vorster wat gesê het kleinkinders is God se geskenk aan ou mense. Dit is ‘n raak beskrywing. Hulle kruip in jou hart en verower dit stomenderhand.

As hulle so stroopsoet nes engeltjies vir die kamera poseer soos Jacob en Thomas – hulle word werklik in April al vyf – hier met Christopher op hul skoot swel die oupahart van uitermate vreugde en trots. (HvD)

MELKTANDE EN DIE ‘WISSELKOERS’

Elke melktandjie wat gewissel word , kom slaaptyd onder die kopkussing of in ‘n glas water langs die bed. In die nag sluip die tandemuis (of tandefeetjie) stilletjies in en ruil die tand vir ‘n muntjie, lekkerny of ander presentjie. Die tradisie is omtrent oral op ons planeet deel van kinders se fantasiewêreld.

‘n Kinkel in die kabel hedendaags is blykbaar die uitwerking van inflasie op die “wisselkoers”. Gister, eergister hoor ek van R100 vir ‘n tand – ‘n inflasiekoers wat my amper my tande laat insluk.

Goed, blykbaar is die prys in daardie geval opgejaag deur ‘n kommunikasiegaping tussen die pappe en die mamma. Pappa het klaar R50 opgedok. Toe kom mamma en, onbewus van haar eggenoot se ruime kompensasie, haal sy ‘n tweede R50-noot uit die handsak.

‘n Kompliserende faktor was blykbaar die teenwoordigheid van heelwat bloed toe die wisseltandjie met die tou-aan-‘n-deurknop-metode uit die bedorwe brokkie se tandvleisie gelig word. Dit was op pa, ‘n tandarts se advies, maar strydig met die ma se moederinstinkte. Die skielike bloed op haar telg se lippies het haar hart week gemaak. Noem haar paaiement dus gerus “bloedgeld”.

Nietemin, die haasbekkie-in-wording glimlag toe al die pad bank toe, soos hulle sê.

Nou weet ek maar te goed van inflasie en so. Die impak voel ek elke dag aan my eie oumens-bas. Dit is seker net te verstane dat ander begrotings – ook dié van die tandemuis wat seker geen kerkmuis is nie – nie die byt van die inflasiemonster vryspring nie. (Lekker titel dalk vir ‘n trekker-kinderboekie: Tandemuis en die lelike ou inflasiemonster?)

Ja, helaas, geld verloor maar vinnig sy waarde. ‘n Ander mamma bekla juis haar lot nou die dag: eers het haar kinders twee-sent-stukke ingesluk, nou’s dit twee-rand-stukke!

Maar honderd rand vir ‘n tand is darem dik vir’ n daalder, sou ek reken. In my tyd was die koers tiekie ‘n tand, maak nie saak hoe arm of ryk jy was nie. (Vir diegene wat nie weet nie, moet ek verduidelik dat ‘n tiekie gelyk was aan twee en ‘n half pennies – die helfte van ‘n sikspens en die kwart van ‘n sjieling. Ons geldeenheid was die pond. Die rand (en sent) het eers later, aan die begin van die jare 60, saam met Daan Desimaal hul buiging in Suid-Afrika gemaak.)

My eerste tande-tiekie het ek gelukkig darem sonder bloedvergieting verdien toe die los tandjie daar in 1946 rond kaplaks! uit my mond val in die potjie waarop ek in die badkamer gesit en doen het wat kinders oral nou nog op potjies doen.

Wie ook al wonder wat op deeske aarde so ‘n lummel wat al begin wissel het, dan op daardie kritieke moment op ‘n potjie gesoek het, begryp van ‘n ander belangrike element van my kleintyd-kultuur klaarblyklik geen snars nie.

Mense, dit was in die tyd toe die naam “kleinhuisie” presies beteken het wat dit suggereer – ‘n los, aparte geboutjie doer iewers in die agterplaas. By die Van Deventerwoning in Diagonalstraat, Kimberley, ‘n hoogs beskeie “semi-detach” naby die stasie, was dit onder ‘n peperboom in die verste hoekie – nie gerieflik vir sorgvrye besoeke na donker nie.

Onder die houtbank was ‘n emmer met die versamelde inhoud van 24 uur. Die inhoud was nie ‘n plesierige konkoksie nie. Gelukkig het die eerste HvD-tandjie nie in daardie gemors beland nie, want dit sou herwinning ongetwyfeld ‘n onbegonne taak gemaak het.

Daarvoor dank ek my sterre, want sonder die stawende getuienis was ek dan nog tien teen een, behalwe my tand, my tiekie ook kwyt!

Naskrif: Op die foto bo is Johan (amper 38) toe hy circa 1976 minus sy twee voortande was. Hoe sentimenteel sy ma, Tokkie. oor sulke sake was, blyk daaruit dat sy eers aan die begin van hierdie jaar (2009) daardie twee tande formeel aan hom oorhandig het. Sy het dit, werklik, soos sy eerste lokkie hare wat afgesny is, nog altyd soos goud bewaar! (HvD)

HIER KIEP-KIEP, DAAR KIEP-KIEP

Dit is nogal ‘n aardige ontdekking dat die name Hennie en Tokkie in die liewe Nederland as “leuke namen voor kippen” geag word. Dit is immers die twee bekendste name in hierdie Van Deventers se nameregister. “Hennie” behoort aan my; “Tokkie” is hoe my gade vir 42 jaar van haar kleindae af bekend is.

Dat ons daardie twee dierbare name met Nederlandse hoenders deel, hou ontsenuende moontlikhede in. ‘n Mens sou in daardie karaktervolle stadjie Deventer in die provinsie Overijssel by ‘n KFC kan instap, en onwetend met ‘n stukkie Hennie-hoenderboudjie en ‘n stukkie Tokkie-hoendeborsie in jou boksie uitstap .

Die gedagte is so pervers dat dit my hoendervel gee.

Waar kom ek hieraan? Iemand wat dink ek is hoenderkop, het niks anders om oor ‘n eiertjie te lê nie of suig sommer alles uit my duim (vingerlek-lekker, onthou!), pas op. Jy kan met ‘n gesig vol roereier uit die petalje kom. Liewe leser, ek kry my inligting uit daardie onuitputlike bron van nuttige en nuttelose wetenswaardighede, die internet.

Op ‘n doellose swerftog waar ek sommer ‘n bietjie hier kiep-kiep en daar kiep-kiep (mooi alternatief vir “surf”?) kom ek naamlik af op die webwerf www.bokt.nl met ‘n insiggewende afdeling oor “Leuke namen viir kippen”.

Ene GingerMorgan (korrek) soek daar raad. Die arme kind se kopkrap-kwessie is dat sy/haar vader “een paar kriel kippetjes gaat nemen” en hy/sy “de namen macht verzinnen!”

Wie kan help met ‘n paar “leuke kippen namen?” vra Ginger.

”Hennie en tokkie bv?”

Dit gee ‘n hele gekekkel in die hoenderhok af

Onder diegene wat nader staan om te help, is ene Valentinow (korrek) met ‘n bydrae so ligsinnig dat dit my sommer die hoenders in maak. “Wat ik zou kiezen is zo iets dom als bv:

Takkie
Tekkie
Tikkie
Tokkie
Tukkie,” waag Walentinow.

Dom, sê hy! “Tokkie” en “Tukkie” dom? Kyk, Walentinow, nou speel jy darem op AVBOB se stoep, soos my vriend Jan Scholtz van Bloemfontein sou sê. Dis twee name wat naby lê aan hierdie gryse ou se hart, kêreltjie! Loop na die hoenders man!

Gelukkig is nie alle Hollanders sulke leë doppe nie. Ene wat skryf onder die naam “Shattered” kom met ‘n paar verdienstelike voorstelle n.a.v. die inwoners van hul eie hoenderhok, naamlik Hessel, Greta (wat saam met Hessel; daar aangeloop gekom het), Hip (‘n hennetjie met n gebreekte pootjie), Hop, Josefien en Goudje (“een gelen kip”).

Die “Hennie” vir ‘n hennetjie kan ek wel begryp. Meen. my neef Ben Smith het my in die jare her in Kimberley altyd geterg met “Hen druk en daar lê die eier!” Maar “Tokkie”? Die klanknabootsende “Kok-kok-kokkie” klink tog meer logies, of hoe?

Ander logiese hoendername wat dadelik by my opduik, is ondere andere Pote, Kraai, Kammetjie, Skroppie, Pitte en Snawel. Vindingryke lesers (veral met ‘n plaasagtergrond) sal ongetwyfeld die lys veel langer kan maak. Maar Tokkie!

Terwyl ek nog so oor die logika van hoendername, of die gebrek aan logika daarvan, sit en tob, lei die hoenderspore as ‘t ware my na Barry, Ingrid en Imke se blog (barryeningrid@blogspot.com). Via daardie Hollandse gesinnetjie kom ek by twee hennetjies uit wat regtig Hennie en Tokkie heet. Dit is die stewige twee op die foto (leghorns dalk?) – nogal heel aansienlik in my oë, al moet ek bely dat ek geen gesag of kwalifikasie het om hoenders aan hul voorkoms te beoordeel nie.

Wat daardie liewe mense Berry en Ingrid se van is, weet ek nie, maar Imke is ‘n fraai blondekoppie, en uit hul blog kom ek te wete dat hulle stadskinders was wat die blink liggies verruil het vir “een boerderij” met “natuurlijk ook dieren”. Dit trek my aan.

Barry en Ingrid berig: “We hadden natuurlijk al een kat, Tom, maar sinds kort hebben we ook twee kippen, Hennie en Tokkie… zij waren bij de koop van het huis inbegrepen. Hennie is momenteel broeds en komt zelfs niet voor wat lekker kippenvoer van het nest. Omdat ze anders omkomt van de honger moeten we haar nu elke ochtend met een bezemsteel van het nest jagen, wat nog niet meevalt want dat vindt ze niet bepaald leuk.

“Eerdere pogingen met een veger en blik hebben we wegens te grote kans om gepikt te worden gestaakt, maar met een bezemsteel gaat ‘t redelijk. Barry begint de dag dus tegenwoordig niet met een dansje maar met een kippengevecht haha. Tja zo leer je elke dag weer wat bij. Verder hebben we wel bijna elke dag een vers eitje, dus dat is heerlijk!”

Ek het nogal deernis met ou Hennie daar op sy (haar!) nes. Synde self semi-verslaaf aan roereier, begryp ek die waardering vir die daaglikse “vers eitje”. Maar daardie “kippengevecht” elke oggend en die gerondstampery met ‘n “bezemsteel” – is dit nou regtig nodig?

Meen, ek voel nogal aangetrokke tot daardie verre Hollandse hoenderfamilie. Dat ons name deel, maak ons tog as ‘t ware voëls van eenderse vere, of hoe! (HvD)

OU LIEFDE WAT ROES

Die fluweelstem van die Spaanse hartebreker Julio Iglesias het vir vele treffers gesorg – min mooier en geliefder as sy To all the girls I loved before. Ek onthou van hierdie liedjie veral ‘n seepgadde duet met Willie Nelson in Engels en Spaans:

To all the girls I loved before
Who travelled in and out my door,
I’m glad they came along,
I dedicate this song …….

Die meeste mans wat ek ken, sou graag so ‘n sentimentele liedjie aan hul ou liefdes wou opdra, vermoed ek. Ou liefde roes mos nie, lui die spreekwoord. Maar ek wil nou ‘n raaiskoot waag: dit is dat die meeste mans ewe nostalgies voel oor hul ou karre. Metaal roes dalk – maar die liefde vir die karre wat hulle in hul fleur was, leef voort. Die herinneringe is salig. Hier’s woorde vir ‘n alternatiewe dedikasie aan sulke ou liefdes op wiele:

To all the cars I drove before
All cars that passed my garage door,
I’m glad they came along,
I dedicate this song….

Ek is nogal ‘n kar-ou, met veel meer karre in my lewe as meisies. Voor in my kar-liefhebbende oud-kollega wyle Fred Schnetler se boek A century of cars het ek ’n volledige lys, so op datum as kan kom. In my terugblik-boek In Kamera het ek ‘n hele hoofstuk aan my karre gewei. Een resensent, Cecile Celliers, het dit “vervelig” gevind. Vele lesers (motor-entoesiaste?) het my daarmee gekomplimenteer.

Dit daar gelaat. Van my jonger broer, Christo Malan, wat al dekades land-uit is, kry ek uit Australië ‘n e-pos met n interessante variasie op die tema “herinneringe aan my eerste motor”. Pleks van sentimenteel en met geneentheid, bekyk hy – kenmerkend van sy saaklike benadering tot alles – sy eerste Anglia’tjie op armlengte en uit ‘n suiwer tegniese hoek.

Sy vergelykings verraai merkwaardige kennis en ‘n geheue oor die skewe-ruit-Anglia’tjie se spesifikasies soos min. Sy slotsom sal egter nie ‘n romantiese Iglesias-treffer inspireer nie.

Die nuus uit Australië is dat Christo se vrou, Ruth, ‘n nuwe motortjie gekry het, ‘n pragtige klein Micra. Daaroor rapporteer hy:

“ Dis die luukse model van ‘n basiese karretjie gemik op vrouens. As ek hom met my ou Anglia vergelyk, ook ‘n basiese klein karretjie op sy tyd, dan is daar geen vergelyking nie.

“Hy het ‘n 1400 cc enjin met dubbel kopnokaste, 16 kleppe en petrolinspuiting. Die ou Angla was 1000cc met stootstange en ‘n pieklein vergassertjie. Hy het net 27 perdekrag ontwikkel. Die Micra ontwikkel 72Kw wat oor die 80 perdekrag is.

“Die ou Anglia het ‘n ou radio gehad wat agterna ingesit is, die Micra het ‘n ses- CD-speler. Die ou Anglia het nie eens ‘n verwarmer gehad nie, die Micra het lugreëling in.

“My remme was maar gewone dromremme. Die Micra het ABS met skywe voor. Dan het hy ook nog ses lugsakke in, getinte ruite en allooiwiele – 15″ wiele in so ‘n klein karretjie. Hy’s ook outomaties.

“Hy ry heel lekker, trek sterk en is baie solied. Die uitsig is baie goed en die draai-sirkel onder 9m.

“Ruth is baie in haar noppies. Die feit dat haar Micra pienk is, speel ‘n groot rol. Sy het ‘n stuurwieloortreksel en sitplekoortreksels in swart met pienk blomme ingesit. Cassandra (hul dogter) sê dis Barbie se kar.”

Die foto bo is ‘n kompilasie van “Barbie” by haar nuwe kar en ‘n voorbeeld van Christo se ou Anglia . Oordeel maar self of hy darem te straf oordeel oor die tekortkominge van sy eerste wiele. Of is dit net uitgelatenheid oor sy vrou se opwindende nuwe Micra, wat die ou liefde so laat roes het? (HvD)