BEKERS LOOP OOR – LETTERLIK!

Dit is die radio-omroep van Sabiepark. Hier volg die weerverslag van die veertien dae sedert 15 Desember …

Klink na doodgewone roetine-inligting wat gaan volg. Moenie glo nie, dis ‘n eksklusiewe stuk hierdie, spesiaal saamgestel vir my Kaape vriende wat botweg bly weier om te glo dat die Bosveld in Desember lekkerder kan wees as in die Kaap.

Ek besef ek gaan daardie ongelowige Thomasse in die suide nie oortuig nie. Mites kan kwaai wortel skiet. Boonop, as jy bly glo dat daar nie iets ernstigs met WP-rugby skort nie, is jy nie ‘n mens wat maklik tot nuwe insigte kom nie.

Nietemin, ek doen hier uit ‘n modderbad verslag nadat gister in Sabiepark 93 mm neergegiet het. Alles loop vandag oor: die Van D’s se swembadjie, ons reënmeter en ons harte. Julle moet die Sabierivier by die piekniekplek sien en hom hoor dreun. Hy loop vol, diep en kragtig. Die sitbankies op die uitkykdek moes haastig verwyder word. By Tarlehoet loop ons spruitjie – die tweede keer in tien jaar dat ons dit beleef.

Mense, die bos is ‘n lus. Die beste van alles (buiten vir die sonsoekers langs die groot swembad hier neffens die TV-kamer) is dat dit al van die middag van 24 Desember – toe 48mm in ‘n japtrap uit die hemele gestort het – bewolik is, soos in loodgrys bewolk. Netnou het die eerste skrefie sonnetjie deurgbreek. Nie vir lank nie.

Ek, Tokkie en die tweeling Jacob en Thomas Claassens het op 15 Desember hier aangekom. In die veertien dae is op 7 dae reën aangeteken. Nog ‘n dag of twee het bewolk verbygegaan sonder dat dit gereën het. Sonskyndae? Op die meeste dus vier of vyf uit veertien!

Selfs op daardie handjie vol dae het daardie verskriklike temperature van rondom die veertigs wat ons liewe vriende so besorg stem oor ons treurige lot hier in ons bosparadys nog nie eens naastenby grealiseer nie. Hier by 33, 34 grade – dit is waar die kwik op die warmste dae vasgesteek het. Een keer het dit oor 34 geskuif, net-net. Dit was op 24 Desember. Maar om 15:00 toe’s die lug donker en dit donder en blits. Die lafenis was onbeskryflik wonderlik.

Die swembadjie bied, soos altyd, heerlike uitkoms as dit wil-wil warm raak. Maar glo dit of nie, die kinders kla aanmekaar die water is te koud. Hulle soek son om dit ‘n slag deeglik warm te bak.

Die waaiers in ons sit- en slaapkamers was nog selde aan, en dis nie oor ons wil krag spaar nie. Die batterye is springlewendig.

Die waarheid is dat hierdie ons derde bos-Kersfees was. My derde bos-verjaardag, ons derde bos-huweliksherdenking en ons derde bos-nuwejaar lê voor. Ons kom vrywllig, nee reikhalsend, en nie omdat ons masochiste is nie.

Glo ou Hennie, liewe vriende, ons kuier hier is weer een absolute genot. Ons dink aan julle as ons hoor hoe die Suidoos swiep en die branders perdjies maak.

Ons bring vir julle foto’s van die Sabie, breed soos die Mississippi, en die eksotiese groene van veld en bos in al sy stemmings en skakerings. (HvD)

VREUGDES VAN KERSFEES IN DIE BOS

Die toppunt van ‘n bos-Kersgeskenk? Tot Woensdag 24 Desember omstreeks 15:00 was vir my loshande die onoortreflikste denkbare geskenk die rooibok-rammetjie wat ‘n meneer van ‘n luiperd-mannetjie die vorige dag op die voorstoep van mede-Sabieparker Ettienne Liversage se huis kom deponeer het.

Toe skeur die hemele Woensdagmiddag oop. Reën giet neer in ondeurdringbare grys vlae soos ek nog maar min in my lewe – indien ooit – gesien het. In twee magnetiese uur van donder, bliksem en selfs ‘n bietjie hael word ‘n kruipende droogtegreep in een enkele storm op Kersaand gebreek. (Ek hou, om klaarblyklike redes, vol dat die aand van 24 Desember Kersaand is, nie Oukersaand nie!)

Die reënmeter klim, klim, klim … tot ‘n vinnige 50 millimeter. Die veld begin lewe in ‘n koor van tjilpe, kwetters en kwake. Die vreugde in die hart, die diepe dankbaarheid wat mens en dier verenig, is so meesleurend, so oorheersend dat selfs Ettienne se unieke luiperd-ervaring daarteen verdof.

Bonus op bonus: ‘n bewolkte Kersdag met milde temperature (maksimum 22 grade, minimum 10) en ‘n Welwillendheidsdag wat vanoggend aanbreek met ‘n ligte gestuif – “kiesa” het ons dit in my kinderdae in Natal genoem. Lyk nie of die son maklik vandag gaan deurbreek nie.

Vergeet van braai in die buitelug, vergeet van in die swembad rondplas, maar ag wat maak dit nou saak as die bos so sprankel? Hoe geseënd en gelukkig kan ‘n gewone mensekind tog nie wees nie! So in die Kerstyd tref die gedagte ‘n mens met dubbele impak.

Maar die luiperd en die rooibok – ongelooflik soos dit klink, het dit werklik Dinsdag gebeur. Nou is die ongewone verhaal ook deel van die Sabiepark-annale van bos-avonture en veld-ervarings wat immer nuwe hoofstukke bly byvoeg.

Die drama is ingelui toe Ettiene, onderwysman van Natal, se dogter vroegoggend ‘n vreemde geluid op hul stoep in Apiesdoringlaan hoor. Toe sy die deur oopskuif, kyk sy en die luiperd mekaar in die oë. Hy probeer sy prooi by die trappies opsleep.

Toe hy die mensekind gewaar, neem die groot kat die wyk. Die kantoor kom, saag die ram se kop af as ‘n trofee vir die Liversages en plaas die karkas in die mik van die boom. Net na 18:00 is die luiperd terug, maar is ook vier hiënas op die toneel met ambisies vir ‘n stukkie vars vleis vir Kersfees.

Tot 23:00 probeer die jagter sy prooi beskerm teen die hiënas wat al hoe vrypostiger raak. Die Liversages en vriende sit vasgenael die verrigtinge in die ligte van die vriende se voertuig en dophou. Later is die luiperd selfs weer op die stoep – en hulle in die vriende se voertuig. Maar 23:00 is al ver verby slaaptyd in die bos.

So sak die gordyn op ‘n Sabiepark-sage waaroor nog by vele kampvure bespiegel, gesels en geredeneer sal word – natuurlik met ‘n gesonde kwota afguns van mense soos ek wat salig onbewus van die hele tedoe rustig tuis, om die hoek in Wildevylaan, my vleisie sit en braai het. Niks, maar niks kan uiteindelik egter daardie twee vreugde-ure van Dinsdagmiddag oortref nie.

‘n “Kersgeskenk” van ‘n totaal ander aard het die Van D’s gelukkig vrygespring. Want ja, die bobbejane het toe teruggekeer om weer te kom swem. Maar hierdie keer het ons hulle gefnuik. Die blou seiIltjie was gespan. Al wat vir hulle oorgebly het, was om so ‘n bietjie te mors en “trampolien” te spring.

Die ongeluk: moeite of nie, maar daardie sieltjie sal klaarblyklik nou maar op somerdae altyd gespan moet word as ons gaan rondloop.

Op nog ‘n persoonlik noot, wil ek darem ook net rapporteer dat die tweeling, Jacob en Thomas Claassens (4), hul eerste vuurproef van ‘n Laeveldse donderstorm dapper deurstaan het. Die lugtigheid was groot, want hulle was gewaarsku die harde donderslae en die bliksemstrale is anders as die knalletjies waaraan hulle in die Kaap gewoond is. Maar hulle het al hoe makker en makker geword, en was aan die einde van die storm omtrent so meegevoer soos Oupa en Ouma. (HvD)

ONGEMANIERDE DIERE

Die tweeling Jacob en Thomas Claassens maak swembad skoon in Sabiepark.

Die tweeling Jacob en Thomas Claassens maak swembad skoon in Sabiepark.

Dit was nie Saterdag regtig baie warm in die Bosveld nie. Net warm. So 33 grade. Warm genoeg darem vir die ape om te gaan swem. “Gaan swem” is nie heeltemal korrek uit die hoek van die Van D’s nie. “Kom swem” is korrekter.

Toe ons die oggend Skukuza toe ry vir ‘n ontbyt by die gholfklub (lees die reistydskrif Weg se Desember-uitgawe) was daar bobbejane al rondom ons huis in Sabiepark. Toe ons terugkeer was die stoep in chaos.

Die kleur van die swembadwater verklap daar was ander lywe in as die gewone gebruikers. Oral op die stoep is plasse water – water, wyn en die produk van die ongemanierde besoekers se nierfunksie onuitkenbaar vermeng. (Die wyn was op ys in ‘n groot verkoelerboks.)

Besonder weersinwekkend is die toestand van minstens vyf stoelkussings. Blykbaar het die tropleier – so ‘n lelike gevaarte met die bou van ‘n rofstoeier en onaangename geel tande – hom op my swembadstoel neergevlei. Die kussing is deurweek , hopelik net met swembadwater.

Ek gril aan die toneel wat ek in my verbeelding sien.

Ons wou graag ook “vinnig afkoel”. Maar vir daardie besoedelde water het ons darem nie kans gesien nie. Toe draai ons maar die kraan oop en tap uit. Al die kosbare water van ons bos-swembadjie daarmee heen.

Amper 24 uur later was ons al plassende terug in ons eie gerief, en die bobbejane veilig op ‘n afstand. Die slegte nuus is egter dat hulle weer kan kom … en weer.

My eie persepsie was dat bobbejane bra sku is vir water. By die kerk deel ‘n kundige egter mee ‘n swembad is ‘n prima-speelplek vir primate. As hulle eers gelê, sta’ en proe het, raak hulle meer erg (in die woorde van my gewaardeerde oud-kollega Johan van Wyk van Stop van |Myne-faam).

Ek sweer die bokkers oefen kliphard om te sing: “Alle bobbejaanties klap julle handjies, by Wildevy 154 is ‘n groot fees!”

Enigste diere-ongemanierdheid op ons stoep was hierdie waterkaskenades nie. Dinsdagnag was ‘n hiena op besoek. As visitekaartjie los hy ‘n plas, waarin hy rondtrap sodat geen misverstand kan bestaan oor die oorsprong van die kussingspore op die stoepteëls nie.

By die piekniekplek lees ons van 15 wildehonde wat ‘n week of wat gelede daar kom “aansit” het vir ‘n feesmaal. Ons lees ook van twee krokodille wat hul buffelprooi by ‘n troppie verbaasde leeus gegryp het.

Lyk of die vakansiegees ook vaardig is in die diereryk! (HvD)

BOS, HIER KOM ONS!

Hennie en Johan van Deventer

Hennie en Johan van Deventer

Sing saam met my op die wysie van Stadig, stadig oor die klippertjies:

Die lewe in die bos
Die is so wonderlik,
Jy drink jou koffie
uit ‘n ou jemblik,
Jy pak jou vuurtjie
net met hardekool
En jy kyk in jou
Voelboekie
Wat is watter voel …..

Ja, Sabiepark die roep ons en ons moet gaan. Maandag is dit sulke tyd. Om 10:00 styg Air Link se vlug SA 8663 van Kaapstad na Mpumalanga Internasionaal op met die Van Deventers en die Claassens-tweeling (ons kleinkinders) in sitplekke 1A, 1B,1C en 1D. Om 12:35 is ons daar.

“Wat gaan soek julle Desember in die Laeveld?” vra besorgde Kapenaars. “Julle gaan mos uitbraai.” Die antwoord is eenvoudig: ons ken die Kaap in Desember en ons ken die bos in Desember. By ons is geen kwessie watter een ons verkies nie.

Die suidoos knak ons; die bos verkwik ons.

Dit word warm ja, maar dan skuil jy onder jou grasdak met jou dakwaaiers volstoom aan. Of jy sit heeldag en bier drink halflyf in die water van jou primitiewe swembadjie.

Saans roer geen windjie as jy jou kampvuurtjie pak nie. Dis braai, braai, braai elke aand. Dis buite kuier tot wie weet hoe laat,

Rondom jou huppel die 2008-oes van klein bokkies. Kos is volop. Die diere lyk gesond en gelukkig. Die voels roep uitbundig.

Wat is mooier as die bos in sy groen-groen somergewaad? Kyk maar na die foto hierbo. Ek en ons seun, Johan, staan op ‘n kol voor ons huis wat gou verraai as dit droog word. Dit is waar die gras eerste verwelk. Maar as dit goed gereen het, soos in 2005 toe hierdie foto geneem is, lyk dit so. In November vanjaar het 130 mm geval; Desember het ook goed begin. Net so groen gaan dit wees.

En die vreeslike hitte? Iemand kan gerus statistieke hou hoeveel dae in Desember is mild en bewolk. Hoeveel dae sous dit? Hoeveel dae is dit werklik warm, warm, warm? Nee wat, ons het al wonderlike Desembers daar beleef.

Die beste van alles is die kampvuurtjie elke aand (as dit nie reen nie). Geen wind om jou vlamme te versteur en jou siel te versondig nie. Net een, lang vreugde…

Ek groet met ‘n Bosversie wat werklik uit my hart kom:

Here, as ek regtig
Vir enigiets, maar
Enigiets mag bid –
Here, kan ek maar
Vir ewig by my
bosvuurtjie bly sit?

Dalk gesels ons oor ‘n paar dae uit die bos – hang af hoe die gees my lei. Indien nie, seenwense vir elke leser van hierdie blog. (HvD)

‘KLAP MY ORE MAAR WARM’

Verfrissende boodskappie gekry van die nooi wat verantwoordelik was vir die Honda se “luikrug” wat in die advertensie in Die Burger “luikrag” geword het. “Klap maar my ore warm,” se sy – “ek kan dit vat.”

Dankie, Terisa, vir jou boodskap. Ek hou daarvan dat jy so geredelik die “mistykie” vir jou rekening vat en van jou humorsin. Dit laat die ou omie se hart sommer vermurwe.

Maar fyn trap vorentoe, hoor! Veral met die Hondas!

Hier is Terisa se briefie

APOLOGIE

“Ek moet met alle eerlikheid erken dat daar ’n groot glimlag op my gesig was toe ek dit (gister se bloggie) lees, en dit het ook my dag opgehelder.

“Die blote feit dat dit ’n menslike fout was, bewys weer dat geen mens altyd alles reg doen nie. Gelukkig ‘vat’ ek nog ’n paar klappe teen die oor as ek dit verdien. Hierdie fout kan ek ongelukkig nie as Die Burger se fout sien nie, maar as TERISA, verteenwoordiger van Die Burger se fout, en ek is bereid om met my warm ore te loop

“Oor hierdie “LUIKRAG” van Honda: ek sal volgende keer seker maak dat dit LUIKRUG is!

“Ek sal reel dat ons ook ’n apologie in Die Burger plaas vir enige ongerief van enige aard wat die advertensie kon veroorsaak het.”

Groete

Terisa

TRAAGHEID OP WIELE

Vandag weet ek nie mooi of ek moet lag en of ek moet huil nie. Oor die Honda-advertensie hierbo. Ek kry dit op die agterblad van Die Burger.

Beoordeel my storie asseblief in die volgende konteks:

(i) Ekself is ‘n Honda-ryer. Vra my oor die kar se verdienste en jy sal iemand kry wat glad nie saamstem met die volgende akroniem-speletjie nie: “Had One, Never Did Again.” Nee, ek glo eerder: “Happy Owners Never Drive Anything else!”

(ii) Onder ‘n klompie rampspoedige motorname wat nou die dag hier uitgewys is, was onder meer die Nova van die Chevrolet Nova wat in Spaans beteken: “Dit loop nie.”

Bekyk nou weer mooi daai Honda-advertensie (die heel boonste lyn). Wat waarskynlik “luikrug” moet gewees het, het goedsmoeds “luikrag” geword.

Arrie-nee, so mors ‘n mens darem nie met ‘n Honda en met Afrikaans nie!

Wonder net: het iemand by die advertensie-agentskap of by Die Burger dit raakgesien en die nodige ore warm geklap?

Ek glo nie, want lyk my deesdae of almal maar maak en breek soos hulle lus kry. Om ore te klap, beteken waarskyn die aantasting van een of ander onskendbare mensereg. (HvD)