SOP MET SKOP EN SOSATIE AU NATURAL

Kulinêre avonture in Taiwan. Bo: HvD (27 jaar gelede!) by ‘n slang-restaurant. Onder: straat-sjef.

Kulinêre avonture in Taiwan. Bo: HvD (27 jaar gelede!) by ‘n slang-restaurant. Onder: straat-sjef.

Kom ons gesels verder oor koddige kos na aanleiding van die stukkie oor die “afskeepkos” (be-roerde eier?) in Spanje toe die bul die keer die stiergeveg gewen het (blog hieronder). Vir my spel “koddige kos” die Ooste, reg of verkeerd. Suspisieuse spyskaarte duik egter oral op.

Met die Desember-loomheid (luiheid?) wat so stadig oor onse mensekinders begin spoel, gaan ek onbeskroomd die weg van die minste weerstand inslaan. Ekskuus dat ek sommer vir vandag se joernaal ‘n stukkie uit my humor-reisboek van 1998, “Oos, Wes- Reismoles!” aanhaal. Hy’s in elk geval lankal uit druk; moet dus nie vrees ek probeer boeke smous om vir my Kersvakansie te betaal nie!

My stukkie vir die dag kom uit die hoofstuk met die titel “Reis en vleis”. Hier volg dit:

Van Oosterlinge het iemand gesê dat hulle enigiets eet wat bek of pote het, buiten miskien die tafel en die stoele. As dit ‘n oordrywing is, is dit nie ‘n yslike een nie.

In die agterstrate van Chinese stede neem hulle jou na hokke waar jy jou eie slang of lewende hondjie vir aandete kan uitkies. Die Chinese glo albei is fynkos, wat, as bonus, ook ‘n seksopkikker is (Viagra in onverwerkte vorm – HvD!)

In Japan word n hartlike “itadakimass” (smaaklike ete) dikwels gevolg deur n waarskuwing dat die “o-naba” (‘n geheimsinnige maar heel lekker visgereg) jou dalk kan vergiftig. Terwyl jy nog steier van die skok, kom ‘n tweede onheilspellende mededeling. Moenie groot happe vat van die “o-mochi” ( ‘n taaierige ryskoek) nie; elke jaar sterf ‘n klomp mense wat daaraan verstik het.

In Australië was tot onlangs rou kreef en garnale (o grillerigheid op note, die sushi loop op pote, HvD!) op sekere spyskaarte. Dit is op wreedheidsgronde verbied.

In Abuja, Nigerië, is weer vasgestel dat aasvoëls op groot skaal doodgemaak, geslag, verpak en as hoender verkoop word op een van die groot markte in die stad Vermoedelik het sommige restaurante aasvoëlvleis in sop voortgesit.

Grieselige ervarings soos die skep by die besoeker ‘n knaende suspisie oor enigiets wat in sommige gewestes uit die kombuis kom.

Voor ‘n besoek aan een van Taipei se talle straatmarkte wat saans soos plakkerskampe verrys, was ek maar wantrouig. Ek sou die kat (of is dit in hierdie geval die hond?) goed uit die boom kyk voordat ek iets te ete aanskaf.

Uiteindelik gewaar ek ‘n gereg wat lyk of dit met ‘n Vrystaatse spysverteringstelsel sou akkordeer: ‘n hoendersosatie.

No,” sê ‘n hulpvaardige gidsie, “you won’t like.”

“Hoekom nie? Ons eet ook hoender; trouens, ek hou nogal daarvan.”

“No,” hou die gids vol. “ Not light for you.”

Na ‘n hele diskoers, uiteindelik die verklaring vir sy teenkanting: “It’s chicken’s behinds.”

So ingeryg aan ‘n stokkie, verbeel jou – en dit deur gaatjies wat gerieflik deur die natuur voorsien is! (Kry ek nou skielik ‘n hol kol op my maag, HvD!)

(Word vervolg)

ALET KRUIP UIT HAAR DOP*

Een van die dorpsgeheime was waarom Alet van Dyk** nooit getroud is nie. Sy was ‘n netjiese dame, goed versorg en altyd geklee dat jy haar deur ‘n ring kan trek. Net titseltjies grys in die kuif en langs die slape het haar jare verraai .

In ‘n stadium is druk gegis oor ‘n beweerde liefdesteleurstelling in haar jongmeisiedae in ‘n ander omgewing. Niemand kon ooit met enige getuienis daarvan vorendag kom nie. Soos dit maar gaan, het haar ongetroude status met die tyd al hoe minder tot raaiskote of bespiegelings gelei. Sy was op die rak, soos sommige onvriendelik opgemerk het – ‘n stoere “oujongnooi”. In haar vriende- en familiekring is dit as n feit van die lewe aanvaar: Alet is ongetroud, dit bekommer haar nie en trou sal sy nooit.

Toe ‘n hupse wewenaar intrek – ‘n boer wat sy grond verkoop en ‘n stewige franchise op die dorp bekom het – het niemand dadelik die potensiaal raakgesien vir ‘n skielike vonk in Alet se saai lewe nie. Carl Olivier** se silwergrys Mercedes is egter later al hoe meer voor Alet se huis opgemerk en Alet se wit Corsa-tjie nog later ook soms voor die gerieflike dorphuis in ‘n mooi, boomryke straat wat Carl by ‘n plaaslike dokter gekoop het toe dié stad toe is.

Onbekend aan enigiemand was ‘n ding besig om te ontwikkel. Op ‘n dag was die nuus op almal se lippe: die “boer” het Alet die jawoord gevra. Alet het onmiddellik en ongekwalifiseerd ingestem. Verraste vriende en familie van Alet had bedenkinge oor die skielike troukoors na ‘n vlugtige romanse, en dit boonop met ‘n “wildvreemdeling”. Trou is nie perdekoop nie, is onderlangs gefluister. Sê nou net Alet saal nou ‘n mal perd op, is die vrese grootoog verwoord.

Die welmenendste navrae oor haar gereedheid vir die nuwe status en die vreemde vryer se geskiktheid as huweliksmaat is egter fronsend aangehoor en met ‘n ongeduldige handgebaar weggewuif. As iemand sou nader staan om tot versigtigheid te maan, ‘n wenkie oor behoorlikheid te laat val of in die algemeen advies te gee, het Alet fisiek en simbolies haar ore dig toegedruk.

Dusdanig ontmoedig, is die onderwerp van Alet se nuutgevonde Groot Liefde later in bevriende kring beleefd verswyg, al brand die betrokkene ook van nuuskierigheid.

Die huweliksdag het mettertyd aangebreek met die gewone seremonies, rituele en pret. ‘n Mens sê dit nie graag hardop nie, maar dis die reine waarheid dat die “nuwe” Alet van die konserwatiewer bruilofgangers laat kriewel het deur dalk net ‘n glasie of twee te veel vonkelwyn weg te sit – dit in die kerksaal waar die etos kwalik vir sulke vrysinnigheid voorsiening maak.

Die vrug van die druif het die stralende bruid se vrolikheid tot ongekende vlakke opgedryf. Sy het, soos die aand vorder, al guller en guitiger begin lag vir elke opmerking, snaaks of sedig. Die bruilofsgaste is naderhand huis toe, party vol vrae en vrese. “Sy is sweerlik nie haarself nie”, is opgemerk. Of: “Wat sou sy wou verbloem agter die masker van ‘n koket? “ Slim teorieë is geopper. “Klaarblyklik het sy haar fout agtergekom, was een somber diagnose. Maar nou ken ons mos almal vir Alet. Sy is net te hardkoppig is om dit te erken. ‘n Klein derde groep was uitgesproke verheug dat ‘n deugsame, maar dalk effens te ernstige vrou uiteindelik haar beweerde liefdesteleurstelling te bowe gekom het en so uit haar dop gekruip het.

Die wittebroodsbestemming was ‘n eksotiese eiland. Die dankiekaartjies vir bywoning van die huwelik, geskenke en dies meer wat later opgedaag het, het almal die naskrif gedra: “Dit was heerlik, heerlik, heerlik!” Niemand het die fout gemaak om te dink dat sy oor die weer rapporteer nie.

Alet het ingetrek by die huis wat aan Carl behoort. Dit het almal bly tref hoe sy haar in die nuwigheid van ‘n huwelikslewe werp met aansteeklike entoesiasme en avontuurlus. Wanneer die Oliviers uitgenooi word vir ‘n braai of self gaste ontvang, was Alet sjarmant en vol stories, soms selfs met ‘n dubbelsinnige kinkel wat die toehoorders laat brul het van die lag.

Die betrokke dorp, plattelands maar groterig en met ‘n goeie infrastruktuur, bied hope lewenskwaliteit, onder meer die weelde van middagetes tuis. Carl en Alet se huis is een van die beter eiendomme op die dorp: ‘n lekker, leefbare plattelandse woning met ‘n gevestigde tuin en ‘n salige, beskutte swembad in die agterplaas. Die groot bome en struike bied kosbare privaatheid.

So afgesonder van die lewe buite hul private nessie, het oor die middaguur ‘n energieke geheime ritueel posgevat. Die een wat eerste tuis kom, wag die ander binne die swembad in – meesal sonder ‘n draad. Dan is uitgelate geplas en kerjakker vir ‘n sorgvrye kwartiertjie of so.

Op ‘n dag het Alet weens buitengewone werkdrukte heelwat later as gewoonlik by die huis opgedaag. Sy was sommer ergerlik oor die inbreuk op haar middag-ontspanning en storm toe by die voordeur in, verby die wit briefie waarop haar naam groot geskryf staan in die bekende handskrif van haar dierbare eggenoot. Sommer in die portaal al het die eerste kledingstuk gewaai. Bloese, romp, ondergoedjies en sandale het in n streep agter haar gelê toe sy met ‘n Rooi Indiaanse oorlogskreet by die agterdeur uitbars op pad na die uitnodigende lafenis en haar wagtende man.

Skielik het die kreet opgedroog. Haar lyf was styf geruk soos ‘n snaar. Haar hande het beskermend boontoe en dan weer ‘n ent af geskiet. Sy het begin gil. Die verbysterde heer van die huis was met net twee reuse-treë tot aan haar sy. Toe vou hy haar toe in sy arms en sleep-dra haar die huis in, terwyl die onverwagte gas, ‘n studentemaat van dertig jaar gelede, die petalje in ongeloof gadeslaan.

Nadat sy haar hart uitgehuil het en die verleë studentemaat diplomaties vinnig afskeid geneem het, wys die steeds verbouereerde manlief haar die briefie. Daarin was ‘n kort boodskappie wat sy nie kon misverstaan het as sy nie so haastig was nie: “Moenie – ons het ‘n gas!”

Meteens was dit of die “ou” Alet daarna herbore is. Die stemmigheid was oornag weer terug. Sy was weer in haar dop, letterlik en figuurlik. Op die dorp is opnuut gefluister en vrae gevra. Die studentemaat – wat die uwe was – het egter sy mond gehou oor die toneel wat daardie middag voor sy verbaasde oë afgespeel het. Een geheimpie sal hy darem verklap – daardie Alet is deksels mooi gebou, hoor!

* Alet kruip uit haar dop verskyn in die rubriek Blaaskans in Huisgenoot van 4 Desember.

** Nie hul regte name nie. (HvD)

Naweek leesstof op HVD se blog

* Alet kom uit haar dop – die vuur en avontuur van laat liefde uit die rubriek Blaaskans in Huisgenoot van 4 Desember

* Sop met skop en sosaties au natural – suspisieuse spyskaarte uit die humorboekie Oos, Wes- Reismoles (uit druk)

* Afskeepkos – die storie oor ‘n “verpoepte” etetjie nadat die bul ‘n stiergeveg gewen het

* Dankie, Max, en tot siens – HvD se swanesang as deelnemer aan pers-polemieke

Hou net aan blaai

AFSKEEPKOS

Na al die erns sommer ‘n stukkie plesierigheid – wat is ‘n blog sonder ‘n bietjie bog tog?

Hier’s my storie:

‘n Karooboer woon in Spanje ‘n stiergeveg by. Die aand in ‘n restaurant oor ‘n glasie sangria sien hy die kelner bring vir die Spanjaard aan die tafel langs syne ‘n gereg wat baie aantreklik voorkom.

Die boer trek die kelner aan die mou. “Wat is daardie?”

Die kelner lyk ingenome, en vertel geesdriftig: “Meneer, ek kan sommer sien jy is ‘n fynproewer. Op u buurman se bord is die testikels van die bul wat vanoggend in die arena doodgemaak is. Uiters delikaat.”

Karooboere ken skaappeertjies. Die ou is nie links nie en bestel vir hom ook ‘n porsie.

Die kelner klik spyt met die tong. “Jammer, meneer, daar is elke dag net een porsie beskikbaar. Maar ek kan more s’n vir u bespreek as u wil.”

“Afgespreek,” se die boer.

Die volgende aand is hy vroeg daar. Die gereg stel hom egter diep teleur. “Watse ou verpoepte goetertjies is dit hierdie? Gisteraand s’n was dan sulke knewels. ”

Die kelner trek ‘n droewige gesig. “Ag ja, meneer, soms wen die bul!”

OU MANNE MET SLIM PLANNE

Die tradisionele definisie van ‘n sogenaamde “senior oomblik” is negatief: dis volgens die jonger garde en arme gebreinspoelde senior burgers self wanneer jou geheue jou in die steek laat; die naam van ‘n bekende om die dood nie by jou wil registreer nie, ‘n eenvoudige woord op die punt van jou tong vashaak en dies meer.

Synde self een van die kieriekommando, fluks, op pad na die geseënde leeftyd wat in die Groot boek vir gryses in die vooruitsig gestel word, versoen ek my moeilik met die populêre definisie van die begrip. Ek verkies om ‘n “senior oomblik” positief te sien: as ‘n oomblik van briljantheid, ‘n oomblik van flinkdink, die spreek van ‘n troefwoord, ‘n dodelike kwinkslag, ‘n geleentheid raaksien en soos blits daarop toeslaan.

Die sangeres Julie Andrews van “Sound of Music-faam” is op 69 vier minute lank oorverdowend toegejuig. In New York se se Music Radio Hall. Die gehoor was op hul voete. Was daardie oomblik van glorie nie eerder ‘n “senior oomblik” as ‘n ongemaklike of ‘n embarrasserende oomblik nie? Ek vra maar net.

Hier is nog ses voorbeelde van “senior oomblikke” volgens die HvD-definisie:

i. Bielie van ‘n kielie

Doer in die Dorsland tussen Broekafval en Gorragas staan ‘n ou boer met sy steeks perd. Die perd se baas probeer alles. Hy raas en skel. Hy trek ‘n paar skote af met sy .22. Die perd roer nie. Die son vat dooierus op die twee. Dit voel of net ‘n sifdraad daardie plek en die hel skei – boonop ‘n stukkende een vol gate.

‘n Daglank duur die staking. Toe kom ‘n meisie verby in ‘n spoggerige nuwe 4 x 4. Mooi, soos ‘n voorbladnooi. Uitgevat vir goeie ventilasie op so ‘n snikhete dag.

“Wat skort?”

Die boer verduidelik sy droewe lot.

“Toemaar,” se die meisie. Sy klim met ‘n swaailyfie uit die 4 x 4, fluister in die perd se oor, stap na sy agterkant en kielie hom waar ‘n steeks perd waarskynlik nie verwag om deur ‘n mooi meisie gekielie te word nie. Hy trek weg of hy ge-turbo is.

“Hoe op dees aarde?” vra die boer.

“My geheim,” glimlag sy liefies. “Ek weet net waar en hoe om te kielie.”

Die oom trek sy skouers reguit, en maak keel skoon. “Juffrou,” se hy, “dan moet ek jou nou vra om my ook dadelik so te kielie, want ek moet daardie verdekselse perd gaan vang!”

ii. Gelukhou

‘n Jong fisioterapeut speel ‘n potjie gholf en tref die balletjie skrams. Dit trek windskeef. Sy hoor ‘n man gil en storm nader. Dis ‘n ouerige gryskop heer. Hy lê met sy hande tussen sy bene en krul van die pyn.

Besorgd buk sy by hom en sê sag in sy oor: “Oom, ek is verskriklik jammer. Maar ek is ‘n fisioterapeut. As ek jou masseer, sal die pyn bedaar. Wil jy dat ek dit doen?”

“Asseblief,” knik hy.

Sy laat hom op sy rug lê, maak los wat losgemaak moet word, en begin masseer, terwyl hy doerie kant toe kyk.

“Voel jy al beter?” vra sy na ‘n rukkie.

“O, dis wonderlik,” sê hy. “Maar my duim is nog net so seer waar die bal dit getref het!”

iii. Krokodil in die water

Op ‘n familiefees gaan swem die jong meisies kaalbas in die swemdam by die perskeboord. Die eienaar, redelik bejaard, stap af boord toe om te gaan perskes pluk vir sy gaste. Die meisietjies gil, hou toe en drom in n hoekie van die dam saam. Die water raak koud. Enetjie waag dit later: “Oom, gaan jy lank bly?” Die oom: “Nee, ek voer net gou die krokodil in hierdie dam, dan gaan ek huis toe.” Toe sien jy net water spat soos hulle uitstorm.

iv . Naakte waarheid

Die bejaarderige buurman van ‘n bloedjong kat druk die voordeurklokkie pas nadat sy uit en haar man in die stort geklim het. ‘n Stryery ontstaan oor wie die deur moet gaan oopmaak. Uiteindelik gee sy bes. Sy gryp die handdoek en draf voordeur toe.

Sy maak die deur oop en daar staan hul gryse buurman, oom Arend de Waal. Voordat sy ‘n woord kan rep, sê die buurman: “Ek gee jou R500 as jy daardie handdoek laat val.”

Die jong vroutjie huiwer ‘n oomblik. Maar R500 is R500. Toe laat val sy die handdoek. Sy staan daar voor hom in haar volle jeugdige glorie. Hy versit sy bril om beter te kan sien. Toe oorhandig hy die R500 en loop weg.

Uit die veld geslaan maar baie in haar skik met die geldelike gelukkie, bedek die vrou weer haar bates met die handdoek en sit af badkamer toe.

“Wie was by die voordeur?” vra haar man uit die stort

“Die oom hier langsaan.”

“Het hy iets gesê van die R500 wat hy my skuld?”

v. Toe ons jonk was

Voorbeeld vyf – en ook voorbeeld ses – wyk tematies ietwat af van die voorgaande, sodat lesers nie kan sê hierdie ou man het ook net een ding op sy brein nie!

Nommer vyf is van ‘n selfingenome eerstejaar-student wat uit die hoogte aan n sestig-plusser in ‘n kuierplek verduidelik waarom die die ouer generasie nie in staat is om sy generasie te verstaan nie. “Julle het in ‘n totaal ander wêreld grootgeword,” deklameer hy hard genoeg sodat almal kan hoor. “Eintlik ‘n baie primitiewe een. Die jong mense van vandag het grootgeword met televisie, spuitvliegtuie, ruimtereise, ‘n maanlanding, kernenergie, rekenaars, selfone, en …..” Toe bly hy ‘n oomblikkie stil om aan sy bier te teug.

“Jy’s reg, ou seun,” vat die oom die gaping. “Ons het nie daardie dinge gehad toe ons jonk was nie. Daarom het ons dit uitgevind Nou, jou arrogante klein strooi, wat doen julle vir die volgende generasie?”

Die applous was oorverdowend.

vi. As jy dit het

‘n Gryse wil met sy groot Mercedes parkeer toe ‘n jong mannetjie in ‘n byderwetse cabriolet sjoef by hom verbyglip die parkeerplek in. “That’s’ what you do when you’re young and you’re with-it,” sê hy vermakerig. Die gryskop sit sy Merc in trurat en ry die cabriolet se voorkant flenters. “That’s what you do when you’re old and you’ve got it,” antwoord hy rustig.

Ja, die ou manne met hul slim planne, ne. So lyk “senior oomblikke” mos! (HvD)

DANKIE, MAX, EN TOT SIENS

“Gee my bril. Ek moet briewe skryf.” Dit was die sterfbedwoorde van Boy Stockenström(71), kampioen-briefskrywer wat in 1972 in Johannesburg oorlede is. Dié afgetrede geskiedenisonderwyser het in sy leeftyd iets soos 2 000 koerantbriewe geskryf.

Ek verbeel my nie ek is in die kranige Stockenström se liga nie. Sedert ek 1997 by Naspers weg is, het my koerantgiere egter ook heel dikwels in meningskolomme tot uiting gekom. Koerantkwessies, Belhar, geskiedskrywing, Luke Watson, kollegas wat oorlede is – dit is o.m. onderwerpe waaroor ek ‘n stuiwertjie in die armbeurs wou werp.

Vandag sê ek nie soos Stockenstrom: “Bring my bril; ek moet skryf” nie. Ek sê: “Bring my pen dat ek dit toeskroef; ek sal nie sommer weer (koerantbriewe) skryf nie.” Hierdie joernaal is inderdaad ‘n soort persoonlike waterskeiding. Ek wil nie sê nooit weer enige persdebat vir my nie (‘n mens weet nooit nie!), maar ek sê tog sonder huiwering: nie sommer weer nie.

Ek verwag eerlik nie dat iemand oor my voorneme sal trane stort of dat my bydraes gemis sal word nie. Maar oor een aspek wil ek my tog aanmatig: ek wil graag dink dat my motivering ter sake kan wees.

My kernrede is dat hedendaagse debatte te veel ontaard in ‘n “kontaksport” (“bloedsport”?). Die dryfveer is: as jy nie met iemand saamstem nie, trap hom! Briewe dwaal soms baie ver van die kernkwessie en raak uitermate neerhalend en persoonlik. Soms verdring die skrywer se ego (of ander agendas) die saak heeltemal en neem die “eie ek” onbeskroomd oor.

In my redakteurstermyn (1980 – 1992) was dit doodgewoon beleid dat die brieweredakteur beskerming teen persoonlike tirades verleen. ’n “Briewebussie” het nog bestaan waarin kort redes, in telegramstyl, verstrek is vir briewe wat snippermanjie toe is. “Te persoonlik” en “nie onder n skuilnaam nie”, was konsekwent van die primêre beweegredes. Tye het verander, goed en wel, maar daardie was ‘n stukkie bedagsaamheid wat ek mis.

Max du Preez se frontaanval in By van 15 November speel ‘n rol in my besluit. Sy vendetta is nie vir my lekker nie. Ander briewe uit ander oorde het egter ook ‘n rol gespeel, veral een skuilnaambrief in Die Burger (15/10), kamma uit “Koeberg”, met ‘n onaangename sinspeling oor teenstanders van Belhar se Christenskap. “Boetman Genade” se kakebeen is oop. Ek slaan egter doelbewus nie terug nie.

Vir Du Preez sal ek die pluimpie gee dat hy ‘n voorslag was in die eerste verslagspan van Beeld wat ek in die jare 70 as nuusredakteur aangevoer het. Op grond van botsende insigte en waardes het ongelukkig verwydering gekom. Dit behaag hom om, soos in By van 15 November, uit sy pad te gaan om my integriteit en geloofwaardigheid af te kraak.

My eerste impuls was om ewe strydend te antwoord. Toe kry die wysheid van die grysheid gelukkig die oorhand. Trouens, na ‘n rukkie se dink het ek besef ek moet eintlik vir Max du Preez dankie sê. Dit is daardie stuk van hom wat my oë finaal geopen het vir die nutteloosheid van blinde konfrontasie en vrugtelose debat, veral oor die komplekse koerantgeskiedenis van die onstuimige 80’s waarvan baie beterweters hul oppervlakkige begrip telkens openbaar. Dit is net nie goed vir jou gemoed nie.

Ek is amper 68 jaar oud, al 11 jaar lank afgetree op Melkbosstrand en wil verder my geseënde “herfsseisoen” rustig geniet na ‘n loopbaan wat heerlike werksbevrediging verskaf het, waarvoor ek nie in die minste skaam is nie en wat niemand, dankie tog, met ‘n enkele rubriek, artikel of brief ongedaan kan maak nie.

Betrokke raak by allerlei pennestryde is na dese nie meer vir my nie. My pen is toe. (HvD)