KAAP VAN STORMS

Die Kaap van Storms doen sy naam hierdie naweek met mening gestand.

Hierdie foto is vanmiddag (Sondag 30 Augustus) omstreeks 14:00 van ons stoep op Melkbos geneem. Die Atlantiese Oseaan is wild!

Vanoggend omstreeks 06:00 was die westerkim so dreigend swart dat my vrou, Tokkie, haar asvaal geskrik het. Dit het gelyk of die tropiese storm Gustav onstuitbaar in ons rigting koers gekies het.

Verlede nag het die noordwester gewaai soos ek dit nog nie in my Kaapse dekade beleef het nie. Die reen het in ondeurdringbare vlae neergegiet. Meedoenloos. Aanmekaar.

Alles wat kon kraak en rittel, het gekraak en gerittel vir die eerste span.

Ons is deur die vreesaanjaende nag en deur hierdie Sondag tot dusver sonder skade. Dit is stof tot dankbaarheid.

Hoogwater is omstreeks 16:00. Ons gaan die tweeling in die Honda boender en op ‘n verkenningsekspedisie Blouberg se kant toe ry. Sulke branders en sulke seeskuim sal hulle nie weer gou sien nie, glo ek.

En om te dink Donderdag was ons nog in die Bosveld! (HvD)

SEE IN DIE STRAAT

Die see is in die straat. Of dit Jacob of Thomas was wat die toneel rondom ons so beskryf het, weet ek nie. Wie dit was, daardie beskrywing van die agterste sitplek van my Honda af was vol in die kol.

Ons het vanmiddag met hoogwater (omstreeks 16:00) ‘n entjie gaan ry om die tweeling die onstuimige stormsee te wys. So iets het hulle nog nie beleef nie. Groot opgewondenheid was aan die orde van die dag as ons telkens deur die water moes ploeg – hoe dieper des te beter.

Op Melkbos en Bloubergstrand was strate besaai met water, skuim, klippe en seewier. Waar normaalweg strand-grasperke en -plaveisel is, was een massa bibberende skuim. Strandbankies het skaars uitgesteek.

Op Blouberg, in die omgewing van die restaurant On the Rocks, het die see aaneen nuwe strome water en skuim in die straat en op motors uitgestort. Mense het begin om sandsakke voor hul motorhuise te pak om die water uit te hou.

Melkbos se Kusweg was ‘n klein Venesie – ‘n plek-plek dieperige waterweg waardeur motors stadig kruie. ‘n Stopstraat omring van water was nogal ‘n potsierlike gesig. Kusweg het ek nog net een keer tevore in ‘n dekade so gesien.

Nog foto’s verskyn in ‘n blitsalbumpie by die volgende skakel:

http://picasaweb.google.com/hennievandeventer/Stormsee30808

Klik op die knopie gemerk “Size” om die foto’s te vergroot.

Vir ‘n vollediger beeld van die Kaap van Storms se stormagtige laaste 24 uur en hoe die Van Deventers dit ervaar het, blaai terug na my vorige blog. (HvD)

‘SERENGETI’ AAN DIE SABIE:

FOTOBEELD

Belofte maak skuld. Die beloofde fotobeeld van die indrukwekkende oortog oor die Sabie van 200 of meer buffels en sowat 20 olifante is pas na die uwe se terugkeer op Melkbos by sy Picasa-albums gevoeg.

Ek het daardie wonderlike Woensdagmiddag, 20 Augustus, die Canon laat oortyd werk. Uiteindelik het ek op 15 foto’s besluit wat na my oordeel ‘n beeld gee van die buitengewone tonele wat ons klein groepie op Sabiepark se uitkykdek so opgewonde gemaak het – blaai terug na die voorlaaste HvD se Blog.

Die eerste foto is van die eerste buffels wat die eilandjie in die middel van die rivier bereik. Die volgende vier foto’s wys die opbou van die buffel-samedromming en die swart tou wat net eindeloos bly kom en kom.

Op foto ses steek die olifante die Sabie van duskant af oor en op foto sewe “groet” twee van die grootvoete mekaar net vir oulaas voordat hulle in die riete aan die oorkant verdwyn.

Foto’s agt en nege toon die agterhoed van die buffels in die water.

Dan begin die olifante – wat intussen ‘n wye U-draai gemaak het – hulle inhaal. Op foto tien is die gapinkie al klein. Op foto elf haal die voorste olifante die agterste buffels in en begin hulle verbysteek.

Daarna is dit net buffels en olifante en olifante en buffels totdat die eerste olifante die noordelike oewer van die Sabierivier bereik – daar waar Sabiepark se ou wandelpad was wat op daardie onheilsdag Maandag 7 Februarie 2000 deur ongekende vloedwaters platgevee is.

Hoop besoekers aan die blog beleef iets van die handjie vol toeskouers se tinteling in hul are as hulle die foto’s so deurkyk.

Ongelukkig was die lig nie meer 100 persent nie. Tussen 17:00 en 17:30 raak dit in Augustus nog vinnig skemer in die Laeveld.

Klik vir die fotobeeld net op die volgende skakel : http://picasaweb.google.com/hennievandeventer/Wintervakansie2008SerengetiAanDieSabie

Om die foto’s te vergroot, klik op die knoppie “Size” heel regs bo die foto-album. (HvD)

Naskrif: Die getal foto’s het intussen tot 17 gegroei. Ek het uit Johan van D. se foto’s twee bygevoeg: een van olifante in die rivier op pad oorkant toe en een van Mariza en Michael op die dek. Dit wys: ons was inderdaad in die voorste sitplekke!

HUIS TOE MET ‘N MANDJIE SOOS MIN

€˜n groter verskeidenheid – na amper twee maande in die bos.

Ek gaan huis toe ook met ‘n buitengewone vrag foto’s wat in albums gesorteer moet word. ‘n Yslike werk daarmee lê voor. Dat na al die jare se Sabiepark-kuiers, seker omtrent 25 keer, die kameravinger steeds honderde kere jeuk, getuig van al die wonderlike dinge wat die eerste keer of opnuut gesien en beleef is.

Die kleinkinders is hoog op die lys van foto-onderwerpe. Vanselfsprekend.

Die tweeling was ‘n derde keer hier. Met hul entoesiasme, geselsies, sêgoed, ywerige hulp met die kosmaak en ander bydraes tot die samesyn was hulle vir Oupa en Ouma tot soveel plesier dat hulle weer genooi is vir Desember – om dan die swembadjie ook te kom ontdek.

Michael het ‘n eerste, onvergeetlike boskuier agter die blad. Tokkie en Mariza het reeds berig oor Michael se “driekuns”: skokdraad, watergat, stoeptrappies. Ek dink die groot diere met hul kolle en strepe, lang nekke en slurpe, sterte en tande, moes op sy tweejarige gemoed net soveel merke gelaat het as die bos op sy tweejarige lyfie. Hopelik is dit positiewe merke. Ek dink hy gaan sommer nog ‘n eersteklas-bosseuntjie word.

Die groot skrik van die vakansie? Vir Michael was dit ongetwyfeld die dinge hierbo genoem. Maar Tokkie het dalk die grootste skrik weg…. ek het haar nog nooit so benoud hoor uitroep nie. Die rede was ‘n enorme swart mamba, langer as syself, wat onder die sementpaadjie by die swembadtrappies ‘n wegkruiplekkie gevind het. Toe sy met haar harde sool amper op hom trap, peul hy as’ t ware onder haar voete uit en seil kronkelend weg in die katjiepiering se rigting. Ek was betyds om sy laaste maneuvers waar te neem.

Tokkie se lugtigheidsvlak is sedert daardie amperse konfrontasie heelwat hoër as gewoonlik. Toe ‘n geitjie die volgende dag uit die dak tuimel tot op ons bed het sy hoog gespring!

Die grootste skouspel was ongetwyfeld nou die middag se optog oor die Sabie deur die 200 buffels en 20 olifante. (Ek onthou die Picassa-album wat belowe is.) Die piekniekplek het egter ook vir ander hoogtepunte gesorg, soos die leeus wat oor en oor gekom het, olifante in oorvloed en die groot verskeidenheid wild wat ons in vrugbare ure daar gesien het. Wonder hoeveel ander Sabieparkers het al die Vyf Grotes by die piekniekplek gesien.

Die grootste bokkerop sedert Perdeberg was natuurlik die leeuvangs by die piekniekplek wat die Van Deventers weens ondeurdagte haastigheid met ‘n skrale vyf minute misgeloop het. Swak Piketberg!

Ek het hierbo na die kleinkinders verwys. ‘n Buiging na hul ouers is darem ook gepas. In die tien jaar van Sabiepark toe kom, was hierdie die bedrywigste vakansie aan die kinderfront, met eers Brent en Marisa (plus Jacob en Thomas en die nuwe enetjie wat op pad is), toe Johan, Mariza en Michael. Vir die ou gryse was dit heerlik om so bederf te word met die skinkery en braaiery elke aand. En pizza uit ‘n Weber smaak vorentoe – dit weet ek nou.

Wat die Wildtuin betref, was die twee ure van betowering met die olifante, njalabulle, seekoeie, krokodille en swetterjoel watervoëls – blaai net so ‘n bietjie terug – ‘n blink, blink hoogtepunt.

Sondag was ons Satara toe waar die gerestoureerde rondawels met hul private braaiplekkies ‘n aangename verrassing was. Op pad het ons in die Maroelaloop ‘n luiperd gekry wat ‘n sivetkat in ‘n boom opgehys het. By die Welverdiend-watergat op die Swenipad het ons ‘n kortstondige paring tussen ‘n leeupaar aanskou. Die ou maanhaar is gou grommend afgeskud. Weet nie of dit “welverdiend” was nie!

Op die Trichardtpad het ons vier renosters gekry – ook ‘n ma en haar kleintjie. Die vier draf seker nou nog – iets aan die naderende voertuig moes hulle erg ontstel het. Tussen Skukuza en Tshokwane was ‘n reuse-trop buffels.

Op ons lang “spesielys” ( amper 40 vir die een ‘n halwe dag) is ‘n kroonarend met sy Afro-kuif – ‘n eerste vir die Van Deventers. Ons het ook gompoue, berghane wat baklei oor ‘n kossie in die gras, bromvoëls en ‘n boskorhaan gesien. ‘n Kenmerk was die baie fisante en patrysies. Een fisantjie het naby Satara soos ‘n verkeersman met ‘n valskerm uit die lug op die enjinkap neergedaal en die Honda se lisensieskyfie deeglik betrag

Van voëls gepraat – Satara se A-blok was werklik in daardie opsig ‘n fees met o.m.kuifkophoutkappers, pylvlek-katlagters, groenvlekduifies en buffelwewers (voorheen aan ons onbekend).

Die wintervakansie van 2008 sal nie maklik oortref word nie. Sabiepark en die Wildtuin sal moet uithaal om vanjaar se vertonings selfs net te ewenaar. (HvD)

TONEEL UIT SERENGETI

Soos ‘n toneel uit die Serengeti van my verbeelding (ek was nie self daar nie) was dit Dinsdagmiddag 19 Augustus skuins voor vyf toe ‘n trop van minstens 200 buffels en sowat 20 olifante by Sabiepark se piekniekplek saam die Sabierivier oorsteek.

‘n Arme kiewietpaar was radeloos toe eers die hoewe van die buffels en daarna die groot voete van die grootvoete hul nessie op ‘n sandbankie in die rivier fyn trap. Hul verslaenheid en dapper pogings tot weerstand het aan die hart geruk.

Die enkele gelukkiges wat verruk daardie natuurskouspel waargeneem het – die Van Deventers (ook ons seun, Johan, Mariza en Michael), Anne en Ria Weiland van die Rand, ‘n Oostenryker en sy dogtertjie op sy skouers en Solly Sibuyi, die piekniekterrein-opsigter – kon nie ophou foto’s neem en mekaar gelukwens met die grootsheid van hul gedeelde ervaring nie.

Toe ons opdaag, was die buffels swart spikkels in die uitgestrekte rietland aan die oorkant van die rivier voor die uitkykdek. Die olifante was versprei ten weste van ons aan ons kant van die rivier. Verbasend vinnig het eers die buffels en darna die olifante begin konsolideer.

Toe die voorhoede van die buffels die water binnegaan, was die olifante nog aan die duskant. Maar hulle is vinnig oor die rivier en op ‘n drafstappie voor ons verby. Die buffels was in daardie stadium in die naderende skemer al ‘n dik swart streep in die blou water.

Die groot verrassing was toe die olifante op die spoor van die buffels weer links swenk en ‘n tweede keer binne tien minute of so weer die water indons, die keer in die teenoorgestelde rigting as flussies – asof iets hulle dryf om by die buffels uit te kom.

Ons het nie lank gewag nie. Enkele oomblikke nadat die eerste ou grotes die rivier in is, was hulle kort op die buffels se hakke en nog oomblikke later het die voorstes die agterste buffels ingehaal en begin verbysteek.

In ‘n stadium was dit net buffels en olifante deiurmekaar – soos ek nog nooit beleef het nie. Die foto hierby slaag nie werklik om so alleenstaande die treffende toneel uit te beeld nie. As ek terug is in die Kaap – na 28 Augustus – sal ek ‘n spesiale Picasa-album oor daardie dramatiese Dinsdagmiddag op my webwerf, www.hennievandeventer.com plaas.

By dieselfde piekniekplek het ons die vakansie leeus, leeus en nogmaals leeus gesien – onder meer twee vangste (‘n rooibokkie en ‘n buffel), asook luiperds en renosters. Al vyf die Vyf Grotes het ons ingenome Sabieparkers met gereelde besoeke vereer.

Dar was soms ook pragtige dieretonele van ‘n verskeidenheid van ses, sewe, agt spesies saam kom water drink – iets wat ek ek laas in Etosha gesien het.

Ons glo ons piekniekplek en ons uitkykdek bied die beste wildbesigtiging langs die ganske Sabierivier. Iemand wat daardie aanspraak in twyfel wil trek, sal moet uithaal en wys. (HvD)