AMPER VERVELIG, SOVEEL VOORSPOED!

Mag die voorspoed jou verveel! So word ‘n mens soms toegewens. Voorspoed in Wildtuin-terme is vir baie mense hoeveel leeus hul besoek opgelewer het. Party hou sulke deeglike leeu-statistieke dat hulle na jare nog iewers kan gaan uitkrap watter jaar hul beste of slegste “leeujaar” was.

By Sabiepark beleef ons hierdie winter sulke “leeu-voorspoed” op ongekende skaal. Dit raak (darem net speel-speel) amper vervelig!

By die piekniekplek is ‘n boekie waarin waarnemings aangeteken kan word. Vir Julie staan die “leeu-telkaart” nou al op 8 dae. Dit sluit twee vangste in (albei rooibokkies), asook ‘n hand vol amper-vangste. Die Van D’s het een vangs met vyf minute misgeloop en die opwinding van een amper-vangs beleef.

Een keer het ons 11 leeus getel, drie mannetjies, vyf wyfies en drie welpies.

In die Wildtuin moet jy geduld, goeie tydsberekening en gesonde verstand gebruik. In al drie opsigte het ek en Tokkie op 26 Julie nie presteer nie. Ons is gewaarsku daar is leeus en daar is aan ons uitgewys waar hulle plus-minus onder die bosse wegkruip. Ons was oorhaastig om huis toe te gaan – om niks te gaan doen nie.

Vyf minute nadat ons ons kykpos verlaat het, stap die verkenner van ‘n trop rooibokkies water toe. Woerts, uit verskillende rigtings storm drie wyfies die benoude bokkie. Hy gly en val al tollende in ‘n stofwolk die wal af. Toe’s hulle op hom. In daardie stadium daag die kraagmannetjie op, skeur vir hom ‘n boud af en soek ‘n lekker eetplekkie in die koelte. Die wyfies gryp ook elkeen stuk en verkas.

Toe ek en my vrou ‘n halfuur “net weer gaan loer”, is alles doodstil en rustig. Maar Elvis, die waarnemende opsiener by die piekniekplek, vryf sout in ons wonde met sy kleurryke weergawe van die gebeure. Ai, ai…..

Van een amper-vangs het ons darem gawe aksiefoto’s. Een wat deur ons dogter, Marisa, geneem is, verskyn by die vorige blog. Van oud-kollega en vriend Salie de Swardt op Stellenbosch het dit die vermaning ontlok: sorg net dat julle nie deel van die leeus se piekniek word nie!

Ek wou my verstout om te se dat Julie Sabiepark se geilste “leeu-maand” in die geskiedenis moet wees. Een blik op Junie se inskrywings laat die rooiligte flikker. ‘n Mens moet altyd waak teen die hiperbool.

Buiten al die ander leeu-akwiteite op die oorkantste oewer van die Sabierivier in Junie, was daar enkele dae voor ons koms ‘n vlakvark-vangs. Op grond van ‘n SMS daaroor het ons laat weet: “Hou vas die leeus … ons is op pad!” Nou-ja, ons kan nie kla dat nie na ons geluister is nie!

Wat Sabiepark se piekniekplek so ‘n fantastiese uitsigpunt vir die leeus (en ander diere) se doen en late maak, is dat die oewer aan die Wildtuinkant so oop is. Dis amper ‘n kaal stuk veld, soos ‘n arena. Die vloed van 2000 was in ‘n groot mate daarvoor verantwoordelik deur die digte oewerbos plat te vee. Daarna het besige wildverkeer vir ‘n netwerk aaneengeskakelde wildpaadjies gesorg.

Nou kyk ons wild of ons op die Nationlal Geographic-kanaal op DSTV ingeskakel is – en ek het nie eens DSTV op Melkbos nie!

By ons boshuis Tarlehoet het ons na jare weer ‘n muskeljaatkatjie gesien. Hy het haastig voor die motor oor ons motorpaadjie geskarrel toe ons Sondagaand van die Nagmaal in Skukuza terugkeer. Die gebande muishondjies het om die duikertjie se pitjies kom meeding. ‘n Duiker-mamma en haar kleinding kom onder die kleed van die donker uit om te wei. Vanoggend het ‘n bosbokooitjie by die voels se bad water gedrink.

Nie net die groot goed sorg vir GROOT plesier nie! (HvD)

“ONS” LEEUS: VANDAG SE FOTO

Vanoggend het Julie se leeu-telkaart vir Sabiepark se piekniekplek op agt gestaan. Toe kom die vuilbaarde weer – die negende dag … en die maand is nog nie verby nie.

Ons is so skuins voor 12:00 saam met Eric en Sannie Wiese en Hennie en Babs Conradie van Kaapstad piekniekplek toe. Eric en Hennie is oud-kollegas by Naspers. Hulle het hier langs gery op pad van Sabie-Sand na die Kruger-wildtuin.

Drie leeus le toe op die groot rots in die son en bak en ‘n paar ander – ook die welpies – stap onder rond. Hier is die foto van die drie. In ‘n stadium was sewe op die rots, verseker Tokkie my. Dit was toe ek besig was om lense te verwissel vir ‘n “spanfoto” van die Van Deventers, Wiese en Conradies.

‘n Luiperd het ook vanoggend by die piekniekplek aangesuiker gekom. Vir hom was ons te laat.

By die huis het twee bloukuifloeries darem kom bad – dis ook pragtig om te aanskou.

Van al die vorige leeu-opwinding van Julie word in die blog hieronder vertel. (HvD)

MEER VAN DIE DRIE RAAISELS

Lake Panic - 'n oomblik van betowering (Foto: Brent Claassens)

Lake Panic - 'n oomblik van betowering (Foto: Brent Claassens)

Die Meer van die Drie Raaisels – vanwaar Gehasi? Nee, so ver my kennis strek, bestaan ‘n plek met die naam nie regtig nie. Dis sommer my eie naam vir ‘n stukkie Wildtuin-weelde waarvoor die Van D’s baie lief is.

Ek verwys na Lake Panic, die voelskuiling in die Kruger-wildtuin neffens die Skukuza-gholfklub en ‘n hanetree van die teerpad tussen die Krugerhek en Skukuza. Draai net in by die eerste grondpaadjie na links. Dan is dit net twee kilometer.

Die drie raaisels is die volgende:

Hoekom is die juweeltjie nog so relatief onontdek?

Hoekom so ‘n koddige naam?

Wat het ‘n onbekende daar gesien wat, volgens hom of haar, alle verbeelding te bowe gaan?

Ons het al hoeveel vriende na Lake Panic verwys. Dan is die bestaan van die plek aan hulle onbekend en die kennismaking ‘n heerlike ontdekking. Op hulle beurt stuur hulle vriende daarheen. So ontstaan ‘n ketting van “ambassadeurs” en bewonderaars. Desondanks kom ‘n mens selfs op ‘n besige dag nog redelik maklik in – al word staanplek vir motors tot agt beperk.

Die naam kom van ‘n vloed toe die dam in aanbou was en die vrees dat die nuwe wal sou meegee. So het ek iewers gelees. Ek skryf toe vir Ben en Jeanette Coetsee in Tennessee, wetende dat hulle meer lig sal kan werp. Lake Panic is gebore in hul era in die Kruger-Wildtuin.

Jeanette het nie op haar laat wag nie. Sy het laat weet:

“Die Lake Panic storie moet ek hier uit die argiewe van my kop grawe en dit is nie meer ‘n jong kop nie!

“Die Skukuza-gholfbaan was net nege putjies en met die groter maak, is die dam gebou. Ek skat dat dit omtrent 1977 was. Die dam het ‘n grondwal, soos jy weet, met die oorloop wat na die toeristeteerpad se kant uitmond.

“Een middag het ‘n vreeslike donderstorm losgebars en die sluise van die hemele oopgetrek – wat ons noem ‘n wolkbreuk. Hierdie reen was in die opvanggebied van die dam en skielik kom al hierdie baie water in die nuwe dam in. Sou die water oor die wal gaan, dan sou dit verby wees met die dam – en, glo my, dit was ‘n massa water.

“Al wat leef en beef kom toe met hulle grawe en grawe die uitloop van die dam dieper en groter sodat die water kan uitloop om te verhoed dat dit oor die wal gaan. Teen hierdie tyd was die reen al verby en het die manne net paniekerig probeer om die dam te red. En gered is hy!

“Die nuwe gholf-klubhuis was in daardie stadium langs die muurbalbaan. ‘n Klompie jare later is die klubhuis op die oewer van die dam gebou (gaan eet gerus daar ontbyt – HvD).

“Ons het in die hoekhuis, nommer 91, gewoon waar die nuwe stuk baan toe aangele is. Gou-gou het een seekoei by die nuwe dam ingetrek. Smiddags laat het hy uitgekom en op die baan gewei. Ons het dit geniet om uit die sitkamervenster na die ou grote te kyk. Ons het ‘n dapper poging aangewend om gras te plant op die sypaadjie, maar met daardie groot voete wat gate trap in die nat grond en ‘n bek wat elke spriet uitpluk, het ons naderhand opgegee. Die vlakvarke is natuurlik ook nie bevorderlik vir die dapper poging om gras aan die groei te kry nie.

“Intussen het baie water in die see (dam!) geloop”

Inderdaad, Jeanette. Ook die seekoeibevolking het geweldig gegroei. En die voellewe is iets om oor huis toe te skryf. Alle soorte reiers, grootlangpote, slanghalse, riethane en die hele reeks visvangers wemel. Hulle lok voelkykers van oral met ‘n verskeidenheid diverse kanonlense wat die leek verstom.

Krokodille en bosbokkies is volop. Njalas skuil in die bosse. Die kinders het ‘n trop olifante afgeneem wat die water oorsteek. Ek en Tokkie het al buffels gekry – en ‘n hiena. Een keer was ons net te laat toe ‘n krokodil ‘n bosbokkie probeer vang.

Op die blad van die skuiling het iemand geskryf: ” What I saw here you could not even imagine.” Wat sou dit wees? So ‘n vangs? ‘n Statige reier wat na ure se intense konsentrasie ‘n geil vis uit die water pik? Twee seekoeie wat vlakvoor jou “maatjies maak” (mate), wat ons ook al gesien het?

Nee, ek glo dit moes iets werklik uitsonderliks gewees het. ‘n Een-keer-in-‘n-leeftyd-natuurbelewenis. Ek bars van nuuskierigheid en jaloesie. Wens iemand kon oor die oorsprong van daardie boodskappie die raaisel opklaar. (HvD)

AS DIE NOOD DRUK

Kyk, as ek dan vasgekeer moet raak, sou my voorkeur van plek wees een van daardie glaskaste wat veral by duur hotels in eksotiese vakansie-omgewings as buite-hysbakke dien – verkieslik een met ‘n panoramiese uitsig oor ‘n diepblou oseaan waarop die golwe ry op ry aangerol kom. ‘n Bonus sou wees om die petalje te beleef in geselskap van aanvallige nooientjies in vrolike strandddrag wat in die benarde omstandighede vir bemoediging van die vaderlike gryskop-oom afhanklik is.

As ek nie die weelde van ‘n keuse gebied sou word nie, en ek maar moet aanvaar ons praat van inkerkering in ‘n toilet, sou my keuse val op een van daardie vyfstermodelle met strelende Mozart-musiek teen net die regte desibels, vars bergies ys in die krippe, allerlei handdoekies, snesies en pommades oral en ‘n tros knoppies en pedale wat verskillende funksies in werking stel; ‘n omgewing wat meditasie bevorder.

Die toilet by Sabiepark se -kamer is nie in daardie uitgelese geselskap nie. Dis dienlik en skoon, maar basies, met ruimte ekonomies benut. Dis toe die nimlike plek waar hierdie arme drommel hom skielik in ‘n tronk bevind met ‘n deurknoppie wat al in die ronde tol en redding ver vandaan.

Rede tot ekstra ongemak is dat die insident hom afspeel terwyl die Springbokke en die All Blacks in ‘n titaniese stryd gewikkel is in ‘n maak-of-breek-toets op Carisbrook, die sogenaamde “house of pain” in Dunedin waar die draers van die silwervaring as’ t ware onoorwinlik is, maar waar later die dag ‘n roemryke Springbok-sege aangeteken sou word.

Maar ek loop die storie vooruit.

Toe die omvang van my penarie insink, uiter ek ‘n hoopvolle dog benoude joe-hoe. ‘n Bekende stem joe-hoe terug. Ek bemerk egter die onmiskenbare klank van ongeduld. Die tweede helfte moet begin en die vriend wil gaan rugby kyk!

‘n Ruk lank sak stilte toe. Toe kom die voorposte van ‘n reddingspan met ‘n skroewedraaier. Dit werk nie. My raad om ‘n byl te gaan haal en die duur oop te kap, word egter ferm van die hand gewys.

Bring dan ‘n leer gebied ek. My plan is dat ek die leer benut om tot bo-op die skermmuur te klouter. Dan hys ek die leer op en laat sak dit aan die ander kant vir die tog af ondertoe. Toe die leer egter veilig by my is, heroorweeg ek die proposisie. Die besef dring deur dat so ‘n akrobatiese poging dalk vyf jaar gelede ‘n opsie sou gewees het, beslis nie nou meer nie.

Ek opper weer die “bree-die-deur-oop”-moontlikheid. Gerrie van Niekerk, bestuurder van Sabiepark, is teen die tyd persoonlik op die toneel en maan egter tot kalmte. Sy plan is om die skarniere se pennetjies uit te kap.

Daarvoor is ‘n hamer en ‘n lang spyker nodig. Twee helpers word afgevaardig om die nodige te gaan haal. Intussen stap die horlosie aan … ook op Carisbrook.

Uiteindelik verskyn hulp in die vorm van die arbeider Alfred se vriendelike gesig oor die muur. My Samaritaan klim oor (soos ek wou uitklim) en begin kap, kap, kap – eers die onderste, toe die boonste skarnier.

Toe ek die TV-kamer instap, het die nuus al wyd versprei wat die rede vir my vertraagde verskyning is. Simpatieke applous klink op. Vyf en twintig minute bly oor, se die kommentator Hugh Bladen op daardie oomblik. Gelukkig is ek dus betyds vir Ricky Januarie se droomdrie.

Met al die gejuig en so bedaar my ergernis en verleentheid vinnig. Al wat oorbly, is die voorneme om nooit weer in rustyd van ‘n kritieke rugbywedstryd ‘n toiletdeur te sluit nie!

Naskrif: Die foto hierbo het met die toilet-sage natuurlik niks uit te waai nie. Dis van ‘n jong leeu en ‘n bokkie in ‘n spannende oomblik van kos of nie kos nie vir eersgenoemde en lewe of dood vir laasgenoemde. Die foto is by Sabiepark se piekniek geneem deur Marisa Claassens, my dogter en ma van die tweeling. Jacob en Thomas. Die bokkie – so rapporteer ek graag – het uit daardie leeu se kloue gebly. Hy het hom nie laat vaskeer nie! (HvD)

Leeus op jag, en die ou Bose jag saam

Ledigheid is mos die duiwel se oorkussing. So het my ouma altyd gewaarsku. Die teenoorgestelde van ledigheid is seker hiperaktiwiteit. Die ou Bose speel ook daarin ‘n rol, glo ek.

Getuienis daarvan is pas by Sabiepark se piekniekplek aanskou. Tien leeus kom doelgerig na ‘n troppie rooibokkies aangestap. Jy kan sien hoe hulle hulleself strategies ontplooi vir ‘n vangs. Die volgende oomblik storm ‘n hiperaktiewe jong wyfie stoksiel-alleen. Die bokkies spaander in alle rigtings. Die voortvarende wyfie sit vergeefs die laaste enetjie agterna en syg toe verslae kop-onderstebo grond toe – ‘n bondeltjie verleentheid. Jy moes haar jammer kry.

Die ander leeus was waarskynlik hoogs die duiwel in. Wat de duiwel het in jou ingevaar, jou stommerik, wou hulle sekerlik by haar weet. Die bokkies sou op hul beurt kon vra: hoe de duiwel het ons sonder ongeval uit hierdie leeu-slagyster ontsnap?

Die piekniekplek lewer vanjaar weer juwele. In drie dae was daar die leeujag, ‘n reusetrop buffels (foto hierbo) en die luiperd (sien vorige blog). In my elfde jaar van eienaarskap kan ek nou uiteindelik daarop aanspraak maak dat ek al die Vyf Grotes by die piekniekplek gesien het.

Vriend Fickie Visagie het die Vyf Grotes nou die dag op ‘n vrugbare oggendreis rondom Skukuza raakgeloop. Nie almal is so gelukkig nie. Renosters het my tot dusver hierdie vakansie ontwyk. Gister is ons Pretoriuskop toe. Dit was ‘n vasbyt–rit wat lang ente geen wild opgelewer het nie. Maar gistermiddag kry ons toe ons eerste renoster op die S7. Vanoggend sien ons toe nog twee op die Doispanepad Daardie missie is afgehandel: die Vyf Grotes voltooi vir die wintervakansie van 2008.

In Sabiepark bly spanne hiënas al van vroeg skemer om kampvure dwaal. Vermoedelik het vir hulle ‘n “hongersnood” na die skoolvakansie aangebreek. Met die verskuiwing van Sabiepark se vakansiebevolking na hul gewone tuistes is die beentjies en oorskiet-tjoppies deesdae seker heelwat minder. Ja, werklik daar is nog mense wat hierdie ondiere voer, en nie wil glo dat hulle daardeur ‘n risiko vir onskuldiges skep nie – veral vir kinders.

Ek het oor diesulkes ‘n versie geskryf. Die titel is Na Die Vakansie. So lui dit:

Hope honger diere
Sluip vroeg al om die vure;
O, waar’s hul dan nou:
Al daai gawe hiëna-spyseniere?

Oor die storie van Dawie Strydom, die bobbejane en die duikertjie wat volgens hom deur verskeur is, het ek van Ben Coetzee, gewese Sanparkeman ‘n interessante brief uit Amerika ontvang:

Hy skryf:

“Om Dawie Strydom se oortuiging te versterk, vertel ek van ‘n ‘n Wildtuintoneeltjie wat hom in die laat jare sewentig afgespeel het. ‘n Toeris het sy verfilming daarvan aan ons klomp by Natuurbewing op Skukuza besorg. ‘n Troppie rooibokke en bobbejane het so saam-saam gekuier toe ‘n bobbejaan doodluiters ‘n rooibok wat verbystap naderpluk en aan hom begin vreet, somaar so sonder om hom eers dood te maak. ‘Skuus, ek weet dis ‘n aaklige storie, maar dit sluit aan by wat Dawie gesien het.”

‘n Persoonlike petalje waaroor ek nog die aandrang uit bevriende (?) kringe oorweeg om dit vir ‘n wyer gehoor op skrif te stel, was om verlede Saterdagoggend met die triomftoets in die “House of Pain” vir ‘n goeie tien minute in ‘n toilet met ‘n steeks slot vas te sit. Die frustrasievlak was hoog en my aanmoediging vir die reddingspoging was nie minder entoesiasties as die TV-kykers se toejuiging van die Springbokke nie! Miskien skryf ek tog maar daaroor in ‘n volgende blog. (HvD)

WELKOM IN DIE WILDTUIN MET ‘N VERSKIL!

By Sabiepark se piekniekplek kan ‘n mens weer asemhaal. Die skole het begin. Die massas het gewyk. Net toe die menseverkeer afneem, het die diereverkeer ‘n hoogtepunt bereik.

Gisteroggend was daar leeus, met spelerige welpies wat heen en weer oor die rotse klouter, nege olifantbulle teenaan die uitkykdek, kameelperde, koedoes, impalas en ‘n vlakvark. ‘n Fees van diere soos ‘n mens min saam sien – wat verskeidenheid betref, van die mooiste tonele nog by die piekniekplek.

Die toeskouers was beperk tot Kapous en Leonora Mouton, hul twee gaste, die Steenkamps, en die Weilands, Anne en Ria. Die name van die die Van Deventers asook die Claassense, Brent, Marisa, Jacob en Thomas ontbreek.

Hoekom? Nie omdat die “bostelegraaf” skielik “van lyn af” geraak het nie, maar omdat die uwe se selfoon ongelukkig “aanlyn” was. Toe die oproep kom om alles te los en piekniekplek toe te haas, was my Nokia besig om e-pos-verkeer te hanteer.

Toe hoor ons maar later by ‘n opgewonde Kapous van die oggend der oggende. Moet erken: dit was nie sonder ‘n element van jaloesie nie …en van frustrasie oor ‘n verlore geleentheid weens niks meer nie as die spreekwoordelike kinkel in die kabel.

Om te huil oor verlore geleenthede is menslik – maar dit kan ook tot skade vir jou eie gemoed oordryf word. Om die geleenthede raak te sien en te waardeer wat na jou kant toe gekom het, is veel sinryker. Wel, daarvan was daar darem ook ‘n paar.

Sondagoggend na kerk kry ons ‘n stewige olifanttroppie buite die Krugerhek. Hulle storm voor ons oor die straat tussen die motors en die menigte flisende kameras deur. Een gaan poseer voor die granietbeeld van Oom Paul Kruger, die visioenere stigter van die KNP (foto hierby). ‘n Ander kry ek(ongelukkig met ‘n blertsie van my voertuig se voorruit) saam met die bord wat besoekers aan die Wildtuin verwelkom. ‘n Welkom in die Wildtuin met ‘n verskil!

Dieselfde middag kiek ek my eerste luiperd by die piekniekplek – trots op ‘n rots. Dit is self nie te versmaai nie.

Gisteraand het twee hienas hier by ons opgedaag net toe die tweeling, Jacob en Thomas, bed toe gaan. Die twee is betyds uit die vere geruk om die twee sluipers neffens die watergat grootoog gade te slaan. Hopelik help die eerstehandse ervaring om Oupa en Ouma se waarskuwings te laat insink dat die bos bedrieglik is. Een oombliki is alles nog rustig en vreedsaam. Die volgende oomblik is die gevaar op jou!

Die bosnagaap het nou ontdek agter die huis word ook vir die kleiner variasie gedek. As laasgenoemde nie honger wil gaan slaap nie, moet hulle wikkel. Dis dieselle storie van geleenthede en verlore geleenthede …. (HvD)