HOU VAS DIE LEEUS … EN OLIFANTE!

Leeus het ‘n vlakvark platgetrek. Hulle lê reg voor die piekniekplek op die klipplaat oorkant die Sabierivier en vreet. Regs is vyf olifante in die rivier. Hierdie sms van Leonora Mouton is genoeg om die mond op Melkbos te laat water. Enkele dae tevore was daar ‘n oproep van Gerhard de Bruin – ook oor leeus by die piekniekplek. Terwyl die Sabieparkers nog so oor die rivier tuur, daag ‘n wyfie duskant uit die bloute op, teenaan ‘n gemesselde tafel waarop mans met hul verkykers staan. “Moet ek hardloop?” pers ‘n nuwe intrekker dit toe benoud deur dun lippe.

Ai, dis nog net vyf slapies, dan bestyg die Van Deventers Kulula op die eerste skof van die wintervakansie. Die tweeling, Jacob en Thomas, nou ook al n kordate vier, tel ewe geesdrigtig die ure om tot hul derde Sabiepark-avontuur. Amper elke oggend word Melkbos toe gebel om nota’s te vergelyk. Gister was Thomas se boodskap kort en kragtig: hy het die malariapil “sommer heel ingesluk.” Klem op die sluk. Die muskiet, deel hy mee, “gaan net sê bzzz en weg is hy!”

“Hou vas die leeus, ons kom,” laat weet Tokkie vir Leonora, en in my snorbaard brom ek oor die liewe Nationwide se dinge wat ‘n paar waardevolle uur (en meer as R5 000 vir verlore kaartjies!) uit ons vakansie gehap het. Ons vlieg nou Woensdag na O.R. Tambo en moet dan die N4 met ‘n gehuurde CityGolfie (let wel, Cindy Nell!) aandurf Nelspruit toe waar die ou Honda CR-V staan en wag. Maar ons kom, ons kom – hou vas die leeus … en die olifante, en al die ander diere!

Elke jaar voor ‘n Sabiepark-vakansie blaai jy deur ou foto-albums en wonder: kan ons weer sulke wonderlike dinge beleef? In Maart-April was hoogtepunte soos ‘n luiperd by ons swembadjie (terwyl HvD, arme drommel, en sy Canon hulle elders bevind!), vier hiënas om middernag al plassende in ons watergat, twee witrenosters saam by die piekniekplek en buffels, buffels, baie buffels by die Nyamundwadam naby die Phabenihoek.

Onder die bagasie wat Woensdag saamvlieg, is juis ‘n paar geraamde foto’s vir die reeds oorvol mure – een van die buitengewone buffel-stormloop by Nyamundwa. In die grootste raam – waar gaan hy tog hang? – is net olifante. Laat ek dit nou maar self sê: dis nie sommer sulke elkedagse ou hierjy-olifant-fototjies nie!

Verder terug in die album is die vorige Julievakansie toe die tweeling ook twee weke saam met Oupa en Ouma in die bos was. “Ster van die Vakansie” was toe ongetwyfeld die olifantbul Langtand met sy tamaaie Mafunyane-agtige tande – so naby aan piekniekmakers dat jy die slaap in sy oë kon sien.

Nader was ‘n Grootvoet nog nooit aan die Van Deventers nie. En het Langtand hom nie die attensies van die Sabieparkers met hul flitsende kameras laat welgeval nie! Hy’t amper elke dag na sy persoonlike drinkgat aangewaggel gekom en dan ewe aanstellerig diekant, dan daaikant toe sy groot lyf vir die fotograwe gedraai.

Die episodes met Langtand het die kroon gespan op die vrugbaarste Sabiepark-vakansie aan die olifantfront sedert 1998 – in die Van Deventer-annale as die “Jaar van die Olifant” gedoop. En natuurlik staan Langtand nou sy plek breed vol in die nuwe olifantraam.

Die foto hierbo, ook in ons olifantraam, is een Sondag na kerk geneem toe ons en Dawie en Annatjie Strydom op pad huis toe was . Op die S3-rivierpad draf twee olifante vinnig voor ons verby. Langtand se handelsmerk verraai dadelik sy identiteit. Ek hou stil. Gelukkig. Die volgende oomblik begin die twee mekaar stamp-stamp. Hulle kry mekaar in ‘n kopklem beet en die slurpe knoop soos koeksisters.

Maar ‘n vakansie in Sabiepark (en die Wildtuin) bestaan nie net uit olifante nie. Van die hoogwaterbrug oor die Sabierivier op die Onder-Sabiepad het ons in Julie ‘n spannende leeujag dopgehou. Dit was onsuksesvol. Maar die operasie was nogal iets om te aanskou. By die Nyamundwadam het ‘n luiperd oop en bloot om die dam geloop (‘n halfmaan van ‘n goeie 200 meter) agter ‘n troppie rooibokkies aan.

By Lake Panic het twee seekoeie stomend en proesend vlakvoor ons gepaar. Op die Phabenipad was vier cheetahs onder ‘n boom. Ons het twee keer swartwitpense en drie keer njalas raakgeloop. Renosters was volop.

Tuis, was kameelperde een oggend so na aan die huis dat jy feitlik uit die kombuisvensters aan hulle kon vat. ‘n Stewige trop rooibokkies het tot teenaan die heining van die voorste lapa kom wei. Ander het uit die watergat gedrink. Vier loeries was saam in die rooiboswilg by die watergat.

Die eerste Saterdag in Julie het ons jaarvergadering gehou met vier leeus wat op en af marsjeer oorkant die rivier – heel opwindend. Later moes ‘n trop sebras ‘n ent hoër op teen die rivier voor die vier laat spaander.

Koedoes – tot 10 op ‘n slag – het periodieke besoeke aan die voëls se pitjies gebring. Die bosnagaap het weer sy verskyning gemaak, gelukkig betyds vir Jacob en Thomas om ook met die gulsige meneer met die spoggerige stert kennis te maak.

‘n Bobbejaan het by ons kamerdeur ingestap (dit fluister ek maar saggies!) en by die eetkamerdeur uit, met (genadiglik!) min skade en/of gemors. ‘n Opgekrulde swart slangtejie teen die skuifdeur van die gastekamer het Esther le Roux van Mosselbaai vinnig laat retireer.

Ek vra weer: is dit hoegenaamd moontlik dat ons hierdie vakansie weer soveel kan beleef? Maak ook nie eintlik saak nie. Elke aand se kampvuur is eintlik oorgenoeg om die hart te laat spin. Wat te meer wanneer jy as bonus dan olifante by die rivier hoor trompetter, seekoeie hoor snork, leeus by hul vangs hoor brul, naguiltjies hul soet aandgesange hoor aanhef … en as die getroue nagapies in n eindelose stroom kom piesang soek!

Kan ‘n doodgewone Van Deventertjie só onverdiend en só eindeloos bederf word? (HvD)

Volgende webjoernaal: Die volgende bydrae op HvD se blog sal eers oor sowat ‘n week uit Sabiepark wees.

Foto’s: Vir foto’s van vorige bosvakansies, klik eers op www.picasaweb.google.com/hennievandeventer. Klik vervolgens op die album van u keuse. AANBEVEEL: Albums 11 en 22, By die piekniekplek, Albums 14 en 21: Sabiepark en Albums 10 en 15: Wildtuin

‘N KLEIN WERELDJIE

Die foto van die vrolike, singende poppies hierbo het ek gaan uitgrawe uit een van my plus-minus 80 propvol foto-albums diep in ‘n kas. Die oorsprong is Oujaarsdag 1976 in Disneyworld, Florida.

Die Van Deventergesinnetjie het daardie dag grootoog deur Walt Disney se wonderdorp van pret, avontuur, sang, kleur, fantasie en verbeelding getou. Ons was onder meer op ‘n “bootvaart” deur ‘n grot met baie kamers. Die vaart se naam was It’s A Small World, en die uitnodiging aan besoekers was: “Join hundreds of singing, dancing international dolls on the happiest cruise that ever sailed”.

Van grot tot grot het die opgewekte liedjie It’s A Small World uit die kele van die poppies in hul volksdrag opgeklink terwyl die bootjies stadig hul weg deur die kronkelgange vind.

“Dis ‘n klein wereldjie.” Aan daardie boodskap herinner ek en jy/u mekaar telkens as ons iemand raakloop wat iemand ken wat ons ook ken. Veral in Suid-Afrika gebeur dit nie ongereeld nie – daardie “kleindorpsheid” van hul geboorteland is, trouens, een van sy eienskappe wat ontheemdes glo van die heel meeste mis.

Hoe klein die wereld is, het die sage van Mujati senior, die pa van die Springbok, Brian, wat Tienie Martins van die spogplaas Tiny by Inyazura, Zimbabwe, verdryf het, opnuut onderstreep. Toe die storie in Zimbabwe breek, stuur my studentemaat Piet Henning van Chiredzi dit dadelik vir my. Die leidraad is die van Martins, want saam met my en Piet in ons geliefde Kollegetehuis op Tukkies was twee Martins-broers uit die ou Rhodesie, Jannie en Kokkie.

Ek was dadelik nuuskierig waar pas Tienie die uithaler-losskakel in die groter Martins-prentjie in. Dadelik versprei ek toe ‘n e-pos onder Tukkiemaats en skryf ook ‘n briefie vir Die Burger om lesers se hulp te vra. Binne dae stroom uit alle oorde die mededeling in: Tienie is Jannie en Kokkie se jonger broer. Reaksies kom (heel eerste) van Pierre le Roux van Mosselbaai wat Tienie leer ken het toe hy in die 60’s terug Tukkies toe is om nagraads te gaan studeer, van Kokkie se skoonsuster, Karin Pretorius in Bloubergstrand, van Tienie se skakelmaat in Inyazura se rugbyspan en nog ‘n hele paar ander.

Dis ‘n klein ou wereldjie inderdaad. As jy begin krap – soos ons Boeremense graag gedoen het – kom jou gou op die interessantste konneksies af. Sal ek dan nie nou die dag verras agterkom ‘n jarelange kollega, Pierre van Manen, en ‘n Tukkiemaat, Willem van Niekerk, wat later predikant geword het, was saam aan die Oos-Rand in matriek nie. So kon bande tot wedersydse vreugde weer opgetel word.

Vanoggend lees ek in Die Burger regter John Hlophe wou dadelik by regter Bess Nkabinde weet: ” Watter Nkabinde is jy?” Overgesetsynde: “More, niggie, hoe voer jy die van … en van watter Nkabindes is jy?” Dis klaarblyklik ‘n “Boeregewoonte” wat ver paaie geloop het!

Hoe klein die wereld is, het ek onder meer ook een aand in Londen agtergekom toe ‘n huurmotor my kom oppik vir ‘n onderhoud by die BBC. “Minister?” wil die klein Engelsman agter die stuur van die Rover weet. “No, newspaper editor.” “Johannesburg?” “No, Bloemfontein in the small province Orange Free State.” “Oh,” kom dit toe dadelik: ” 1 Valskermbataljon!” Net so in Afrikaans.

Dit blyk toe hy is ‘n Zimbabwier wat in Bloemfontein valskermopleiding ondergaan het voordat hy sy vlerke Londen toe gesprei het.

Maar die wereld is darem ook nie altyd so klein nie. Oud-kollega Jean le Roux sien op ‘n dag iewers in Europa op ‘n stasie ‘n gesig wat bekend lyk. Die man betrag hom ook redelik intens. Hy stap nader. :Ek is van Suid-Afrika en jy?” “Ek ook.” ” Ek kom van Kaapstad.” “Ek ook.” “Ek werk by die Nasionale Pers.” “Ek ook”.

Dis toe altyd Jurgen Fomm, ‘n kollega by die uitgewers, en die twee ontdek hulle het nie te lank gelede nie by ‘n dinee van die Pers aan dieselfde tafel gesit!

Laat ‘n mens dink aan die ou grappie: “Maar hoekom praat ons dan Russies as albei Afrikaans is!” . Dis egter nou weer ‘n ander storie. (HvD)

GEGROET, AFRIKANER-ADEL

Feestelik saam. Die Van Deventers en die Moutons aan 'n dineetafel in Stellenbosch in 2004.

Feestelik saam. Die Van Deventers en die Moutons aan 'n dineetafel in Stellenbosch in 2004.

Afrikaner-adel. Die beskrywing van Wynand en Daleen Mouton het spontaan by my opgekom toe ons paaie langer as ‘n kwarteeu gelede in Bloemfontein kruis. Dit is ‘n beskrywing van die voortreflike egpaar Mouton wat mettertyd des te meer geldig geword het. Dit was ‘n lewenservaring om hierdie twee fyn beskaafde, stylvolle, hartlike Christenmense goed te leer ken. Nou is albei binne twee maande na mekaar heen. Dit is amper te onwerklik om tot ‘n mens deur te dring.

As aan twee mense met opperste opregtheid en ongekwalifiseerd lof betuig kan word, dan is dit prof. en mev. Mouton, hoewel hulle – uit ‘n opregte diep gewortelde nederigheid – ongemaklik sou raak as hulle te veel geprys word. Albei het altyd met met insigte en optredes gewys dat hulle meer gawes as gewone sterflinge het, maar sou vinnig enige sodanige vermoede met ’n verleë handwuif afmaak.

Ek sê doelbewus “prof. Mouton” en “mev. Mouton”; nie Wynand of Daleen nie. Oor die formeler aanspreekvorm het ek en hulle meer as een keer koppe gestamp. Hy wou net “Wynand” wees, sy Daleen, kort en klaar. Ek sê egter “prof. Mouton of prof. Wynand” en “mev. Mouton” nie om afstand te hou nie, maar om respek te betoon en omdat ek daarmee gemaklik is, het ek koppig volgehou. Hulle het my al protesterende laat begaan.

Oor prof. Mouton wil ek by sy dood Hamlet se woorde oor sy vader aanhaal: “We shall not look upon his like again”. Dis groot woorde, maar nie ydele woorde nie. So ‘n mens met soveel kwaliteite is inderdaad seldsaam.

Omdat hy so ‘n rustige, menslike mens was, iemand wat sag gepraat en geredelik geglimlag het, het sommige hom tot hul eie skade of verlies onderskat. ‘n Bekende wat liewer naamloos moet bly, het hom een keer as ‘n “malvalekker” tipeer. Dit was ‘n dwase oordeelsfout, want binne daardie sagte uiterlike was keiharde staal: die staal van beginselvastheid, opregte geloof, verstandigheid en logiese denke.

Terwyl sovele mindere ligte uit hoofde van hul sogenaamde “wetenskaplikheid” Christelikheid bevraagteken, was die kinderlike geloof van hierdie begaafde kernfisikus – in sy later jare deur F.W. de Klerk met die hand uitgekies om Suid-Afrika se kern-arsenaal af te takel – altyd vir my ‘n openbaring. Ook in die kerk was hy, soos oral, ‘n steunpilaar.

Sy rotsvaste lojaliteit was ‘n kenmerk. Hy was skaars rektor van die Vrystaatse Universiteit toe die roepstem Matieland toe kom. Uit lojaliteit het hy nee dankie gesê. Daardie lojaliteit teenoor sy alma mater en ‘n nuwe geslag leiers het hy tot die einde behou – geen Reitzkamers-krisis of wat ookal kon dit skud nie.

In onstuimige tye het hy die voorsitterskap van die SAUK as ‘n tweede verantwoordelikheid aanvaar. Soos sy rektorskap vir die U.V. ‘n goue era was, was sy voorsitterskap dit vir die SAUK.

Ek dink graag aan hom as “kollega”, omdat sy eerste inkomste by Die Volksblad verdien is. Hy was naamlik as seun een van die kranigste koerantverkopers, en “Nantie se hoek” in Bloemfontein se middestad was by almal bekend.

Miskien is dit as koerantverkopertjie dat hierdie onpretensieuse mens sy nederigheid geleer het. Sal ek vergeet die dag met die ondertekening van die Verdrag van Nkomati in ‘n tent naby die Mosambiekse grens? Wagte wou my en prof. Mouton by die feesmaal voorkeer, maar hy was vasbeslote om by P.W. Botha en Samora Machel se tafel te kom ten einde, as aandenking, hul handtekeninge op die amptelike dokument te kry. Uiteindelik roep Botha ons toe, stel ons aan die Mosambiekse president voor as sy vriende, en help dat ons kry wat ons soek. Prof. Mouton was opgewonde soos ‘n seuntjie toe hy daardie twee handtekeninge kry.

Die Mouton-egpaar het volgens eie getuienis op hul oudag al hoe nader aan mekaar gegroei. As die een sterf, sou die ander nie lank daarna nie volg, het hulle mekaar belowe. Toe gebeur dit dalk vinniger as wat enigeen van hulle kon besef.

In mev. Mouton, wat op 27 April vanjaar oorlede is, het ek altyd die kwaliteite van ‘n geëerde queen mother waargeneem en ge-admireer – ‘n Engelse term wat ek doelbewus gebruik omdat dit dalk net daardie iets meer sê as die Afrikaanse “koninginmoeder”. Daarmee bedoel ek nie dat sy ‘n “stywe” mens was nie. Allermins, Almal sal egter saamstem dat sy op haar persoon eksie-perfeksie was met geen haartjie uit sy plek nie. Daarby het sy perfek daarin geslaag om rondom haar ‘n deftige omgewing te skep wat egte vorstelikheid weerspieël.

Vir swierigheid, oppervlakkige glinster of pronkerigheid sou jy by haar en in haar huis vergeefs soek. Sy was smaakvol in die eg-klassieke styl en haar keurige aanslag was altyd vir my tekenend van ‘n diepgewortelde aristokrasie. Sy het die kuns geken om elke skildery, elke kunstige ornament, elke meubelstuk presies so te plaas dat dit in treffende harmonie ineenvloei. Die resultaat was ‘n onopgesmukte, huislike atmosfeer wat ‘n ware Renaissance-gees adem.

Hul laaste blyplek was ‘n pragwoonstel in Kusweg, Strand, met ‘n manjifieke see-uitsig. In ‘n spesiale hoekie had elkeen sy/haar eie stoel. Ek kan my nie daardie hoekie voorstel sonder hierdie twee wellewende, gulhartige mense nie. Trouens: hul afsterwe skep ‘n leegheid wat in die harte van hul wye vriendekring veel dieper strek as net daardie huislike hoekie hoog-op in die Metropole Plaza. (HvD)

Op HVD se blog verskyn 2 nuwe inskrywings

Op HvD se blog verskyn twee nuwe inskrywings.

Hieronder is my resensie. op versoek van Beeld, van Tol Pienaar en span se ensiklopediese nuwe boek oor die geskiedenis van die Laeveld en die ontstaan van die Krugerwildtuin, wat vandag in die koerant verskyn het. Die boek is 767 bladsye plus 5 los kaarte. Ek moes lees, hoor, om daardie resensie te kan skryf!

Die volgende inskrywing op die webjoernaal net onder die resensie is ‘n huldeblyk aan prof. Wynand Mouton en sy vrou, Daleen, wat minder as twee maande na mekaar oorlede is. Daardie twee mense was Afrikaner-adel in die beste sin van die woord. Die huldeblyk het vandag in Volksblad verskyn.

****************

SOOS SPORE BY ‘N WATERGAT

Soos die see van spore by ‘n watergat in die Krugerwildtuin lê die voetspore in hierdie boek van mense wat ‘n wilde landstreek – nie om dowe neute nie nog tot 1930 bekend as die “witman se graf” – kom tem het.

Die San, magshonger swart “koloniste”, die Voortrekkers van die roemryke Trichardt-era, voorposmense soos die Portugees João Albasini, ontdekkingsreisigers, sendelinge, goudhonger fortuinsoekers, transportryers, beroepsjagters, wildstropers, smokkelaars, Crooks Corner se alle soorte swartskape – almal duik op, doer van die Steentydperk af. Dan, na ‘n jammerlike “eeu van uitdelging”, oplaas ook die heldegalery van stoere Wildtuin-pioniere wat Paul Kruger se grootse ideaal moes vergestalt.

Ons leer ken in-diepte natuurbewaarders soos die fanatiese James Stevenson-Hamilton – die nimlike Skukuza (die “een wat skoon vee”) – wat bestem was om so ‘n reuse-rol te speel; Harry Wolhuter, legendariese oorwinnaar oor ‘n leeu in ‘n kaalhand-geveg, en sy seun, Henry; Lou Steyn, wat sy hand in ‘n gewonde leeu bo-op hom se bek gedruk het om sy tong vas te gryp, Bert Tomlinson wat nooit weer ‘n leeu vir ‘n bondel hout sou aansien nie….

Om al hierdie diverse voetspore – van deurlugtiges tot ongures – uit ‘n romantiese waas te ontrafel en in ‘n sober historiese konteks te verpak, is die enorme taak wat Tol Pienaar en sy span aangedurf het. Die resultaat is ‘n boek van ensiklopediese omvang, heerlik leesbaar, keurig versorg en beslis ‘n baken in die stelselmatige oopskryf van ‘n stuk van die aangrypendste Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Ervare reisigers dons nie sommer net met dwase moed in nie. Hulle weet: hoe grondiger die huiswerk, des te vrugbaarder die reis. ‘n Vinnige oriëntasie het my bv. die kans gebied om twee keer stil te staan by J.B. de Vaal se ontroerende klein kamee oor Dina Fourie – ‘n verhaal van ‘n vrou van staal se leeuemoed en die opperste trou van haar swart Samaritaan, Makakikiaan, indoena van Chabana, in ontberinge wat die hart vasgryp (p.206). Dit was die moeite werd.

Ook aan die sjarmante fotoskat uit ‘n Wildtuin van weleer kon ek my in dié voorlopige vingeroefening al verkneukel: dowwerige tweespoor-paadjies, eenvoudige rondaweltjies in uiters basiese kampe, ponte oor riviere, piekniekplekke in die bos… Ons het weliswaar die gerief; ons voorgeslagte het die romantiek gehad (vergelyk die jong manne wat by Onder-Sabie in die rivier was en skeer op p. 603)! En – wrintiewaar! – kyk daardie kansvatters op die dakke van hul tjorries (p. 574). Hulle kyk leeus in die 1930’s.
Op p. 541 skryf Pienaar: “So is die goeie aarde wat vandag die Krugerwildtuin is …. met bloed gedoop.” Dit is ‘n sleutelsin in dié meesleurende boek. Baie het immers in die Wildtuin hul bloed vir ‘n ideaal gestort. Nog meer het op ander altare hul lewens opgeoffer vir hul ideaal van ‘n beter, toegankliker Laeveld vir hulleself en hul nasate.

Impi’s se bloedige kampanjes; veldslae van die Anglo-Boereoorlog; die gevreesde malaria; leeus, luiperds, olifante, seekoeie, buffels, krokodille en slange; hongersnood, watergebrek, hitteslag, brande en vloede; moord en doodslag – niks kon hierdie opmars na ‘n nuwe beskawing stuit nie. Die nasate kan hul safarihoede in dankbaarheid hoog lig vir daardie vasbyters, soos Pienaar-hulle dit so waardig doen.

‘n Nuwe dimensie in dié gedugte boek is hoe ingedelf word in die verre verlede toe die Laeveld (nog) woes en leeg was (hoofstuk 1, p.11.) Die San-faktor kry uitgebreide erkenning en rotsskilderkuns word omvattend gekarteer. Historiese integriteit word verder gedien deurdat swart veldwagters van formaat verdiende eer kry. Een is Mankoti Nkuna wat hom 36 jaar na die Wolhuter-insident ook alleen in ‘n leeu vasloop. ‘n Feitlik identiese sage speel hom af. Mankoti was minder gelukkig as sy eertydse baas. Sy eie pa het die volgende dag sy lyk gekry.

Partikuliere uitdagings en verwikkelings vir die Wildtuin na die koms van demokrasie is vlugtig bygewerk. ‘n Mens wonder egter: moes die boek nie tog – al was dit net met ‘n ekstra voorwoord – t.w.v. nog groter eietydse relevansie sterker by die eise van natuurbewaring in die 21ste eeu aansluiting gesoek het nie?

Foto’s sorg vir ‘n sterk visuele element. Die Singapoerse kleudrukwerk is egter wisselvallig en party foto’s is eenvoudig te klein. ‘n “Unieke natuurtoneel” (p. 529) kan nie tot een kolom gereduseer word nie. Meer dierefoto’s soos op p. 687 (swartwitpense) en p. 569 (wildbeeste en sebras) sou ‘n aanwins gewees het. Die dramatiese omslagfoto is kennelik op die buitengewoon historiese waarde beoordeel (kyk p. 635). Ongelukkig ly die impak met vergroting skade.

Die boek volg kort op die hakke van Salomon Joubert se prag-trilogie, The Kruger National Park – A History, wat spesifiek op natuurbewaring gefokus is. Neem uit die verlede en die Joubert-boeke vul mekaar aan. Saam vorm hulle ‘n onvergeetlike herdenking van die eerste eeu plus tien van hierdie “ryke natuurerfenis wat ons nie van ons voorvaders geërf het nie, maar van ons kinders geleen het!” (p.610) (HvD)

KOMBUISKASTE VIR LETTIE *

Wyle Hennie en Lettie Smit saam met Tokkie van Deventer op Melkbos se strand.

Wyle Hennie en Lettie Smit saam met Tokkie van Deventer op Melkbos se strand.

Kort na die onverwagte dood van my studentemaat Hennie se vrou, Lettie, bel ek op ‘n dag Potchefstroom toe om te hoor hoe hy daar op die plaas so alleen regkom. Hy hou maar besig met dit en dat, antwoord Hennie op sy rustige manier. Sy groot projek op die oomblik is Lettie se kombuiskaste.

‘n Paar sekondes neem daardie mededeling die die wind uit my seile. “Lettie se kombuiskaste?” My eie stem klink vir my bra krakerig en onseker. Hennie snap dadelik my ongemak. Hy verduidelik – dalk so ietwat geamuseerd.

Lettie het ‘n rukkie voor haar dood ‘n klompie geld geërf. Sy besluit toe dis tyd om haar met iets spesiaals te bederf. Dit het haar nie lank gevat om vas te pen wat dit sou wees nie. Nuwe kombuiskaste – dis wat haar hart bo alles begeer. Die deugsame Lettie spring toe in met entoesiasme, begin brosjures versamel en win kwotasies in.

Onthou, dis ‘n plaaskombuis en daar is hope kaste. Die kwotasies wat inkom, is nie kleingeld nie. Die bedrae laat Hennie se oë rek . Wil sy nie maar dat hy die kaste vir haar verjaardag vir haar maak nie, waag hy eindelik. Maar Lettie wil niks weet nie. Dis haar geld, en sy soek professionele kombuiskaste met klas en styl, hou sy vol.

Ai Lettie, probeer Hennie weer. Jy besef tog ek is ver van gesond. Die kanker het my weer beet. Jy hoor hoe hoes ek. Die ou hart is weer aan die rittel en beef. As jy nou toelaat dat ek vir jou die kaste maak , dan het hy jy darem iets om vir jou vriendinne te wys as die laaste ding wat ek voor my dood vir jou gedoen het.

Lettie wil-wil huiwer. Hennie se pleidooi tref haar diep. So het sy nog nooit aan die saak gedink nie. Maar tog …. “Nee Hennie,” byt sy vas, “ek gaan daardie kaste laat maak by kombuismense wat hul storie ken. Ek betaal self, elke liewe sent. Dis my eie geld wat ek uitgee, nie joune nie. Toe nou, dis nou die laaste woord daaroor.”

Nie lank daarna nie word Lettie skielik siek. Sy moet dringend hospitaal toe, met die duur kaste steeds ‘n ongemaklikheid tussen die twee. Een middag met besoektyd verras sy Hennie egter met haar vraag uit die bloute: “Het jy al die gereedskap wat jy nodig het om die kaste te maak?”

“Watter kaste?” “Die kombuiskaste natuurlik.” “”‘Amper alles,” se Hennie. “Buiten miskien … en hy noem ‘n ‘n byderwetse gereedskappie of twee wat hy hoeka al lank begeer.

“Nou-ja,” sê Lettie, “in die boonste laai van my spieëlkas is my tjekboek met ‘n paar getekende tjeks. Vat soveel geld jy nodig het en koop die regte gereedskap. Dit is my verjaardaggeskenk aan jou. Dan maak jy vir my die kaste as jou verjaardaggeskenk aan my.”

Hennie stap die hospitaal uit met ‘n ligter gemoed. Hy gaan delf die tjekboek uit die laai. Vroeg die volgende oggend is hy by Potchefstroom se voorste hardewarewinkel waar, so warempel, ‘n uitverkoping aan die gang is. Hy verlustig hom aan sy kopies.

Bowenal is in sy hart ‘n lied omdat hy graag vir sy ou beste die kaste wil bou. In sy kop het hy al so half en half ‘n ontwerp. Sy model is ‘n treffer-kombuis in een van die brosjures wat, na sy waarneming, die blinkste blink-oog reaksie by sy vrou uitgelok het.

Enkele dae later lui sy telefoon met die treurige nuus: Lettie se toestand het oornag vinnig verswak en sy in die voordagure onverwags oorlede. ‘n Klassieke geval, soos hy dit later self droogweg gestel het, waar die langslewende eerste gesterf het.

Om daardie beloofde kaste te maak, raak nou vir Hennie ‘n missie. Hy spring aan die werk met vuur en ywer. Elke los oomblik bring hy in die kombuis deur. Die krag-gereedskap dreun en die skaafsels spat tot laat in die nag. Die projek vorder mooi en die kaste is werklik voortreflik in konsepsie en afwerking. Dit sou Lettie ongetwyfeld behaag het, dink Hennie met voldoening as hy met sy hand oor die blink houtoppervlak vryf.

Intussen begin Hennie se voet hom opkeil. Dis ‘n ontsteking wat vinnig versprei en die pyn raak ondraaglik. Hy is van dokter tot dokter, en die prognoses is nie gerusstellend nie. Later kom die bittere uitspraak: amputasie is die enigste uitweg.

Op my laaste besoek aan die plaas kry ek die forse Hennie – ‘ n diskuskampioen wat as veteraan saam met sy seun, Hennie, hoeveel pa-en-seun-kompetisies gewen het – in ‘n rolstoel. Hy lyk bra ontuis, maar dit tref hoe behendig hy tog sy “wiele” tussen die meubels deur maneuvreer.

Na tee en die fynste, fynste botterbroodjies uit die plaaskombuis, kondig hy aan: “Laat ek vir julle (dis nou ek en my vrou, Tokkie) Lettie se kaste gaan wys.”

In die kombuis staan Hennie se meesterstuk plafon-hoog teen vier mure. Dis ‘n formidabele stuk skrynwerk uit donker hout met intense geel vlamme – net hier en daar ontbreek ‘n laaste hoekie of randjie.

Dis nou die af voet se skuld, verduidelik Hennie verontskuldigend. Met die lompe rolstoel kan hy nie oral bykom nie, en sonder die rolstoel het hy geen balans nie. Die afronding sal dus maar moet wag tot die prostese kom en hy die nuwigheid – weer met sy droë humor – deeglik onder die knie het.

Wel, die prostese daag toe op die bestemde tyd op, maar nog voordat die finale meet en pas afgehandel is, val Hennie een oggend in die stort. Hy is duidelik ‘n baie siek mens. Sy kinders jaag met hom hospitaal toe – dieselfde een op Potchefstroom waarin Lettie enkele maande gelede oorlede is.

Hennie ly nie lank nie. Vroeg die volgende oggend, op 10 Maart 2008, blaas hy ook ook daar sy laaste asem uit. Nie weens die vretende kanker, soos hy so lank verwag het nie. Nie aan sy hart waaraan al twee, drie keer geopereer is nie. Ook nie aan komplikasies weens die amputasie van sy voet nie, maar aan dubbele longontsteking.

Nou is daardie knap paar hande van Hennie die hoenderboer stil. Lettie se kombuiskaste sal hy nooit self kan klaarmaak nie. Maar hy het dapper probeer. Ja, jy het waaragtig dapper vasgebyt tot die bittereinde toe, Hennie, ou maat. (HvD)

* ‘n Weergawe van hierdie bydrae tot HvD se Blog verskyn in Huisgenoot van 19 Junie in die rubriek Blaaskans.

KLEIN BOTTELTJIE GIF

Dit is die klein botteltjies wat die groot gif het. Soos ek hierdie woorde verstaan, beteken dit dat mense wat klein van persoon is dikwels oor die grootste dryfkrag beskik. Klein maar getryn!

Om die spreekwoord in aksie te sien, mik maar net De Doorns toe. Tussen die spogwyne in die De Doorns-Wynhuis kry jy Melanie Viljoen. Sy’s so ‘n botteltjie vol plofkrag – die ene oorborrelende entoesiasme, lewensvreugde en positiewe energie.

Soos sy De Doorns se wyne en die Hexriviervallei bemark, wil gedoen wees. Haar idees raak nooit op nie. Sy sit – soos hulle sê – die plek behoorlik op die “map”. Op die oomblik is sy juis aan die woel aan ‘n bemarkingsplan vir die streek se wyne in die Vrystaat, Noord-Wes, Gauteng en Mpumalanga.

Haar plan behels wynvoorleggings waar kunstenaars sal optree – iets op die trant van die kosskrywer Dine van Zyl en Randall Wicomb se vertoning wat groot akkolades by die Woordfees op Stellenbosch uitgelok het. Dine het lirieke geskryf oor haar koskokery. Toe het Randall daarmee gaan liedjies maak. Nou wil Melanie De Doorns se wyne bytrek.

Hoe Melanie gekom het waar sy is, is ‘n storie van geloof en volharding wat werklik besielend is.

Sy vertel dat sy by die eerste onderhoud eerlik erken het: “As dit kom by wyn weet ek niks! Omdat ek op medikasie is vir epilepsie, drink ek dit byna nooit. As ek wel iets geniet, is dit ‘n klein glasie OBS in die winter of brandewyn en coke in die somer.” Tot vandag toe is sy nie seker of saam met haar of vir haar gelag is nie!

Twee weke later moes sy vir ‘n onderhoud met direksielede gaan. Sy was opgewonde en gespanne en het vroegoggend auras (“black-outs”) begin kry. Sy het heeltyd, op pad na De Doorns gebid. Die asemrowende uitsig oor die Theewaterskloofdam en haar laaste twee weke in die hospitaal is al wat sy kon onthou….

Sy was na die ongeluk bitter lank uit aksie. Tog is sy ingelig dat De Doorns vir haar wag. “Ons soek jou nie op krukke nie. Jy moet kan bokse dra,” was die speelse voorwaarde.

Toe lees sy in die tydskrif Insig van ‘n operasie wat mense van epilepsie kan genees. ‘n Mediese fonds is iets wat sy nie gehad het nie en nie kon bekostig nie, maar deure gaan oop vir diegene wat glo. Discovery Health kom in daardie stadium met ‘n spesiale aanbod, en sy gryp die geleentheid.

In Junie 2005 meld sy haar by die Medi-Clinic Constantiaberg in die Kaap aan, en hoor toe eers hoe groot die risiko werklik is dat iets kan skeefloop. Sy het huil-huil aan die slaap geraak. Die volgende oggend het sy egter kalm wakker geword. By die teater het sy haar ma geterg: “Mamma, daar’s fout.” Benoud het haar ma haar hande vasgegryp en gevra: “Wat is dit my kind?” Amper sorgeloos kon Melanie antwoord: “Ek is nie meer bang nie!”

“Ag, my liefie. Daar het so baie mense gisteraand vir jou gebid. Miskien het die Heilige Gees jou met ‘n bietjie hemelse narkose bygekom!” Die verpleegpersoneel het lekker saamgelag.

Melanie was Dinsdag 28 Junie 2005 in die teater, het die eerste nag in die waakeenheid verwyl en is die volgende dag al terug na haar knus, sonnige kamertjie. Na net vier dae is sy huis toe. Na ‘n maand het sy volstoom begin werk. Van die risiko’s het niks gekom nie.

Sy is diep dankbaar, getuig Melanie. Sy wonder net soms of die De Doorns-Kelder nie dalk al spyt is dat hulle haar aangestel het nie. Want: “Ek het ‘n passie vir my werk, doen alles voluit. My oorentoesiasme kan hul dalk soms versmoor… “

Melanie, op jou klink hierdie oom graag vanaand ‘n glasie van een van De Doorns se keurprodukte! (HvD)