WAT VAN ONS EIE NOOD?

Ek wil kom vra, Heer, wat van die kinders
wat nood en lyding glad nie verstaan?
Wat van die mense wat stukkend en seer is?
Wat van die een wat eensaam vergaan?
As ek dan vra Heer, waar is u liefde?
Moet ek erken, dit le nog by my!
Hier in my selfsug stap ek gevoelloos
by nood en seer van mense verby!

Aangrypende woorde – hierdie tweede vers van Ben du Toit (meen ek) se nuwe beryming van die ou Sendinglied met sy meesleurende wysie. Vir my onthalwe kan ons dit elke Sondagoggend in die kerk sing … en dan diep nadink oor die woorde.

Ek bewaar die lied in ‘n vakkie in my studeerkamer en het geweet presies waar om dit te soek nadat ek Donderdagoggend na Freek Robinson se Praat Saam op my motorradio geluister het.

By al die ellendes wat Suid-Afrika op hierdie oomblik soos in ‘n reuse-knyptang vasknel – xenofobie, geweld, armoede, brandstof- en kospryse, weghol-inflasie – sit Freek toe ook nog die stygende nood van verwaarloosde, verwerpte kinders op die agenda.

Genoeg om die keel te laat toetrek: die onstuitbare aanwas weens die verval van morele waardes, armoede, die saamgehoktheid in enkelkamer-woninkies sonder enige privaatheid, die siniese uitbuiting van kindertoelas en wat nog.

Wat ook al die oorsaak, die resultaat is maar net nog ‘n rede tot die uiterste benoudheid oor ons land se toekoms – die massa kinders wat op straat groot word, of by oumas in die verre platteland afgelaai word terwyl pa en ma om oorlewing die groot stad aandurf. ‘n Geslag wat grootword om nog ‘n Verlore Geslag te wees.

Miskien die heel ergste: die teel-vir-toelae-kultuur onder sekere groepe. Hoe meer mondjies, des te meer meer dok die staat mos op, des te groter is die maandelikse kado-tjie om mee goedkoop wyn en sigarette te koop. Of tik. Dis hartverskeurend.

In die radiodebat kom uiteenlopende gesigspunte en gesindhede na vore, en Freek moet soms net keer as mense wil oorkook. Toe bel iemand van die Overberg. Rustige stem. Hy vra die vraag wat ook vir my al lank pla: waar is die Kerk? Kan die Kerk in so ‘n noodtoestand maar net blindelings op sy huidige wee volhard? Kan hy voortgaan om die wye wereld vol sending te beoefen? Kan hy, asof niks verander het nie, steeds duur uitreike na verre uithoeke oorkant ons grense befonds? Kan die land dit regtig bekostig?

Dit is ‘n saak wat ek jare gelede in ‘n brief in Kerkbode aangeroer het. Toe was die krisis in Suid-Afrika veel kleiner as nou. My brief was sonder impak. Nou kom van die Kerk weer ‘n dawerende stilte. Sulke noodkrete bons skynbaar teen die mure vas.

Verstaan mooi, ek is nie teen buitelandse sending nie. Ek verstaan die Bybelse opdrag. Maar ek is jammer, ek begryp eenvoudig nie die beginsel nie dat jy, as jou eie huis en haard in ligtelaaie staan, die paar tuinslange wat jy het op bure se huise rig.

Bowendien, om buitelanders deur sending te bereik, is dit werklik nie meer nodig om ver na hulle te gaan soek nie. Hulle is hier, binne ons poorte, in hul miljoene op soek na ‘n nuwe droom. Tienduisende sit op hierdie oomblik opgedam in oorvol vlugtelingkampe sonder hoop of aardse besittings.

Die krisis is nie daar ver nie; dis HIER. Die krisis word GROTER. Die krisis kruip al hoe nader aan JOU EN MY. Durf ons langer wegkyk? Kan ons ons troos dat ons genoeg doen? Ek dink nie so nie.

Kan iemand met genoeg geloofwaardigheid en gesag die nood van Suid-Afrika dan nie raaksien en die tenkskip help omdraai voordat dit vir altyd te laat is nie?

Kom ons sing weer vers twee:

Ek wil kom vra, Heer, wat van die kinders
wat nood en lyding glad nie verstaan?
Wat van die mense wat stukkend en seer is?
Wat van die een wat eensaam vergaan?
As ek dan vra Heer, waar is u liefde?
Moet ek erken, dit le nog by my!
Hier in my selfsug stap ek gevoelloos
by nood en seer van mense verby!

(HvD)

DIE HARTKLOP VAN S.A.

Die lekker wysie van Smokie se trefferliedjie van lank-lank gelede Living next door to Alice draai in my kop. Die liedjie handel oor die skaamste vryer denkbaar, maar dit is nie my assosiasie nie. Die Alice wat by my spook, is die Oos-Kaapse dorp met daardie naam – die tuiste van die Fort Hare-universiteit.

Tot dusver was die trustgebiede aan die soom van die Nasionale Krugerwildtuin vir my die outentiekste stukkie Afrika in Suid-Afrika. Elkeen wat al deur Numbihek is, sal weet wat ek bedoel. Moenie die pad na die Krugerhek weggooi nie. Of die ou dorp van Hazyview.

Die straathandel daar is uniek. Lewende hoenders word sommer uit ‘n draadhok agter op ‘n lendelam fiets bemark. Kos word op oop vure in konkas op die sypaadjies berei. Haarkappers werskaf met hul knippers op straathoeke. Kruiwaens met vragte hout is die wëreld vol. Beeste en bokke dwaal oor die paaie. Die malende mensemassa laat die keel toetrek – veral op bankdag as die tou eindeloos tot doer ver krul. Dan dra die winkels hul klanktoerusting na buite en die musiek dawer oorverdowend oor die pleine. Ex Africa semper aliquid novi!

Nou het Alice (en in ‘n effens mindere mate Fort Beaufort) in my boekie by Mpumalanga oorgeneem. Alles wat jou in Mpumalanga laat terugdeins, is ook hier teenwoordig, net meer gekonsentreerd. Die rommelhope lyk groter. Die verkeer is skrikwekkender. Die sukkelende gekronkel deur Aliceweens blykbaar nimmereindigende padwerke is ‘n nagmerrie. Die rye gehawende ou woonwaens wat in die hartjie van die dorp as allerlei soorte winkels (en sypaadjietuistes) dien, is ‘n onuitwisbare herinnering van ‘n onplesierige reiservaring.

Mpumalanga het darem‘n positiewe kant. Moderne sakesentrums, asook top-hotels en –blybeurtoorde, dui op vooruitgang. Hazyview spog met ‘n boetiek-buurt op Perry’s Farm en vakansiebestemmings soos die Krugerpark Lodge waar elke Westerling tuis sal voel. Alice (en Fort Beaufort) lyk of hulle net agteruitboer.

Albei stukkies Afrika is poorte tot gewilde vakansiebestemmings. In Mpumalanga lê anderkant die Afrika-ervaring die Wildtuin waarna toeriste in hul tienduisende stroom. Verby Alice (en Fort Beaufort) wag die woude, blommeweelde, kunstenaarskolonie en koloniale karakter van die romantiese Hogsback.

Living next door to Alice. Dit is of die kontraste tussen Derde Wêreld en Eerstewêreldse sofistikasie vir jou iets in die oor wil fluister van wat Suid-Afrika in sy wese is – ‘n unieke kombinasie van beskawings en kulture.

Nou hoor ek by vriende Alice (en Fort Beaufort) was op hul dag bekoorlike plattelandse dorpies waar mense graag wou gaan aftree. Weerskante van die rustige straatjies was ouwêreldse wonings met stoepe en “broekielace”-gietysterwerk. Ek hoor ook om by Fort Hare se kampus in te ry, is ‘n gerusstelling dat om van Afrika te wees, nie noodwendig agteruitgang beteken nie.

Wat hierdie reisiger betref, is dit egter dankie maar nee dankie. Alice (en Fort Beaufort) sien hom nie weer nie. Ook vir die aangename, karaktervolle Hogsback is dit dus hallo en tot siens.

Op die foto hierbo is die NG kerk op Cradock. Dis ‘n groter replika van St. Martins-in-the-field op Trafalgarplein in Londen. Werklik indrukwekkend. Op die sypaadjie voor die kerk sit ook maar lemoensmouse. Maar dis tog of jy hier (en in ‘n pragtige stad soos Grahamstad) in ‘n ander tydsone is as in in Alice (en Fort Beaufort), net ‘n paar uur se ry daarvandaan.

Waaraan die geweldige kontras toe te skryf is, wil ek liewer nie probeer uitpluis nie. Dit help egter nie om daaroor swartgallig te raak nie. Dis immers die hartklop van Suid-Afrika: aan die een kant ‘n Alice, aan die ander kant ‘n sierlike St. Martins-in-the–field in die Karoo. Eerste en Dêrde Wereld hand aan hand. (HvD)

HAPOOR – PLEK VAN OLIFANTE

Die Hapoordam kry sy naam by ‘n legendariese bul wat 24 jaar lank in die Addo-olifantpark geheers het. Sy naam is onuitwisbaar in Addo-folklore oor die genadedood wat hy ‘n gedaan ou olifantkoei, Ouma, toegedien het. Hapoor het haar skedel vier keer met dodelike presisie deurboor om haar van haar pyn te verlos, as ek reg onthou.

Die voortreflike bul was ook die hooffiguur in ‘n boekie van jare gelede, Hapoor en Slurpie, wat mense van die ouer generasie dalk sal onthou.

Ironies genoeg, het op Hapoor ‘n minder romantiese dood gewag. Nadat hy uiteindelik deur ‘n jonger kroonprins uit die trop gedryf is, het hy ‘n ruk alleen rondgedwaal – nukkerig en aggressief. Toe hy te avontuurlustig raak en oor ‘n heining klouter, is hy deur ‘n veldwagter doodgeskiet. Sy manjifieke kop hang in die eetkamer by Addo.

Destyds met die Ouma-insident in die jare sestig het ‘n Volksblad-kollega Ollie Olwagen ‘n liedjie gekomponeer wat ons jonger garde seker maar uit die een of ander verdorwenheid hartlik saamgesing het: Hapoor steek vir Ouma dood, van die wal tot in die sloot…

Dit net terloops. ‘n Waarheid moet uit. Dit is dat hierdie Wildtuin-verknogte na dese moet erken dat Addo in die algemeen, en Hapoordam, in die besonder, plekke is waar olifante wemel. ‘n Mens kan maar met groot verwagting na hulle gaan soek.

Sondagmiddag het ons ure lank, wyntjie in die hand, sewe Grootvoete van die stoep van ons huisie, nommer 33, dopgehou. Twee was in ‘n langdurige slurpgesprek. Daarna is ons op ‘n wildsrit.

By die Gwarriepan kry ons toe weer olifante: sewe grotes en twee kleintjies. Na ‘n ruk het die twee suigelinge hulle uit die beskutting van die olifante se voorbene – soos boomstamme rondom hulle – gewikkel, teen die pan se rant af gegly en heerlik in die modder geplas, soos varkies. Wat ‘n genot vir ons en vir hulle!

Toe kom vriende verby met die nuus dat ‘n trop olifante by Hapoordam saamdrom. Ons is vort in daardie rigting. Net toe ons die laaste draaitjie vat, sien ons die rye karre, en daarna die olifante. Daar was seker twintig of so, lyf styf teen lyf vasgebondel, terwyl hulle ‘n middag-verfrissing geniet met slurpe wat in gelid sak en opslurp, sak en opslurp. Ook daar was ‘n paar kleintjies – wat gewis op ‘n geil jaar vir Addo se olifantbevolking dui.

By die kamp aangekom, laai ek gou ‘n klompie e-posse op my koffiemeule-drarekenaartjie af. Een kom van my broer Christo Malan uit Australie. Wat soek ons in Addo, wil hy weet. Sy enigste besoek was ‘n mis-lukking. Hy het net mis gesien!

Ek kon dadelik met genoegdoening ons gelukkiger ervaring rapporteer – en toe was die plesierigste olifant-geleentheid van ons kort besoekie nog voor.

Die het die volgende oggend gewag toe ons deur die park na die nuwe (relatief nuwe) Matyholwenihek naby Colchester, minder as 50 km van Port Elizabeth, ry en besluit om vir oulaas by Hapoordam te gaan loer.

Ons tydsberekening was perfek. Toe ons aankom, sien ons skielik net stof en hoor ons die dreunende voete. ‘n Horde olifante, groot en klein, bestorm die dam asof ‘n Groot Dors hulle dryf.

Party bondel by die groot dam. Ander sak toe op die kleiner enetjie langsaan. Dit bad en drink, stoot mekaar rond en rol in die modder. Die mae grom van lekkerte.

Ons het vasgenael bly sit en kyk, onbewus van die horlosie. Maar so skielik soos die trop gekom het, het hulle weer padgegee. Amper geruisloos. Eensklaps was die olifante net weg en die dam verlate.

Tokkie het nie minder nie as veertig Grootvoete getel. My Canon het natuurlik oortyd gewerk. Die foto hierbo is van ‘n groepie wat by die klein dammetjie drink. Ek kon net so wel ses of sewe ander foto’s gekies het.

Addo, ons kom weer! Hapoordam, jou doodlekker dam! (HvD)

TOT SIENS TOT WEDEROM

Die hortjies word ‘n wyle laat sak hier op HvD se blog.

Ons ry Maandag Oos-Kaap toe – ‘n lekker groep van 25. Op ons reisplan is die Karoopark, Bergkwaggapark, Hogsback, Addo en Tsitsikamma. Dalk kry ons nog sneeu by Hogsback!

Daarna gaan ek en Tokkie George en Mosselbaai aandoen. Baie ou vriende (bedoelende vriende vir lank en nie lank in die tand nie!) in daardie kontrei! Ons mik om 21/22 Mei terug te wees in ons Melk- (en heuning-)bos.

Die blog is dus toe omdat hy nie oop is nie – soos die kroeg op die foto hierbo.

Leesgieriges kan o.m. verwys word na die laaste drie joernale:

7 Mei – herinneringe aan die jaar 1961 in Die Perdeby van Tukkies se redakteurstoel;

4 Mei – Moedersdagbydrae oor my ma, haar trapfiets en haar werk in die sentrale in Kimberley;

1 Mei – Nationwide het die Van Deventers ‘n nare streep getrek!

Maar daar is 150 of meer ou blogs om na hartelus tussen rond te kerjakker terwyl HvD ‘n blaaskans vat.

Groete (HvD).

DIE PERDEBY WORD 70

Links: Mej. Perdeby 1961 Regs: Mnr Asterhof 1961

Links: Mej. Perdeby 1961 Regs: Mnr Asterhof 1961

Ons draai vandag die horlosie ver-ver terug – tot in 1961 toe die uwe redakteur van die Tukkie-studentekoerant, Die Perdeby, was. Daardie bytjie zoem nou al 70 jaar, en aanstaande week word daardie verjaardag saam met U.P. se eeufees gevier. Dis ‘n feesprogram om oor huis toe te skryf.

Daan van der Merwe, Studenteraadsvoorsitter en latere L.V. van die Konserwatiewe Party, ontbied my aan die begin van 1961 na sy kamer in Sonop-tehuis en gee my die nuus. Ek willig dadelik in, wetende dat ek vir my kursus B.A.(Hons) in Sielkunde net Donderdagaande klas sou hê. Lekker baie tyd om koerantman te speel.

Wat ‘n jaar word dit nie! Suid-Afrika word ‘n Republiek — ‘n droom bewaarheid. Dr. H.F. Verwoerd verbreek Suid-Afrika se bande met die Statebond. Kerkmense bots by Cottesloe oor die politieke rol van die kerk. Oor al die gewigtige gebeure praat Die Perdeby saam.

Hoë besoekers stroom na die kampus. Dr. H.F. Verwoerd kom kuier twee keer — die Maandag voor die referendum en toe weer op 29 Mei om ‘n gedenkplaat te onthul. Pres. C.R. Swart woon die intervarsity by, wat Wits tot algemene verbystering daardie jaar wen, en kom ontvang die eerste uitgawe van die jaarblad, Trek, (op die foto ook ‘n jong Frits Gaum, redakteur van Die Kerkbode; destyds lid van die Trek-redaksie).

Dr. Anton Rupert is die spreker op Lentedag. Hy bepleit ‘n “nuwe rassebenadering” en stel, in botsing met Verwoerd, nywerheidsvennootskap met onderontwikkelde Bantoegebiede voor. N.P. van Wyk Louw praat op gradedag oor wie en wat ‘n intellektueel is. Elke keer is Die Perdeby op die toneel met ‘n verslaggewer — dikwels in die persoon van die redakteur self — en ‘n fotograaf, Dirk Cloete, ‘n fris ingenieurstudent met ‘n motorfiets.

Oor Cottesloe word op Woensdagaand 8 Maart ‘n monstervergadering gehou, waarheen etlike honderde Tukkies opruk. Ferdi Hartzenberg, latere KP-leier, stel ‘n mosie dat die Bantoe geleer moet word hy sal nooit op direkte politieke regte kan aanspraak maak nie, en dat die enigste blywende oplossing vir die land geleë is in “uiteindelike totale skeiding van blankes en nie-blankes en ‘n gedifferensïeerde ekonomiese ontwikkeling van die naturel in sy gebied”.

Die meerderheid stem ten gunste van die Hartzenberg-mosie en Die Perdeby bevind: “Hiermee het die vergadering ‘n magtige mandaat in die hand van die VSR. (Verteenwoordigende Studenteraad) gelê om namens die studente van UP, deur middel van die ASB. (Afrikaanse Studentebond), sterk aan te dring op selfs drastiese maatreëls ten einde die apartheidsbeleid ten volle te verwesenlik.”

Onthou: Dit was 1961 en die redakteur was nog nie mondig nie!

In dieselfde uitgawe van 17 Maart, verskyn ‘n voorblad-hoofartikel wat Tukkies oproep om op die lughawe Jan Smuts (nou die O.R. Tambo) aan dr. Verwoerd “hulde te gaan betuig vir die onverbiddelike standpunt in belang van ons vaderland wat hy (oor die Statebondskwessie) op die Premierskonferensie in Londen ingeneem het.” Die Tukkies ruk drie dae later met tien munisipale busse na die lughawe op, en Die Perdeby van 24 Maart jubel dit uit: “Magtige skare verwelkom ons premier — grootste uittog in geskiedenis.”

Op die hoofartikelblad het ‘n gereelde rubriekie verskyn, waarby ‘n tekening was van ‘n vet Meksikaan met ‘n hangsnor en ‘n rokende pistool in die hand. Hy sê: “Ek skiet jou as nie saamstem nie ….” In die uitgawe van 24 Maart moet daar eenstemmigheid wees “ dat ons nou almal Commonwealth Old Boys-kleurbaadjies kan dra!”

Die Perdeby was darem nie net politiek nie. Van een mooie Bloemfonteinse roos, Gerdia Neethling, wat later joolprinses geword het en by wie ‘n verliefde redakteur in ‘n stadium knaend flikkers gegooi het, tel ek nie minder nie as sewe foto’s in die jaar se 22 uitgawes. Dit is seker ‘n rekord in nepotisme, maar het ongetwyfeld die koerant versier. Sy het mev. Gerdia Pretorius geword en het tussen Klerksdorp en Lichtenburg verongeluk.

Sosiale nuus was o.m. dat die naelloop-kampioen Sep Serfontein gekroon is tot 1961 se Mnr. Asterhof . Vir die eer moes hy daardie koshuis se ses verdiepings op en terug in minder as 46 sekondes.

Op die sportblad duik ‘n speler sierlik oor die doellyn nadat hy uit ‘n lynstaan weggebars het in ‘n naelbyt-wedstryd teen Diggers van Johannesburg. Dis niemand minder nie as Hans Smith, later die grootbaas by Yskor, ‘n ratse slot wat ook vir Transvaal uitgedraf het. Tukkies het daardie ene gewen met 25 teen 20.

Van die Akademie het in 1961 helaas maar min gekom. Maar lof vir Die Perdeby het uit verskillende oorde opgedaag. Jan Grobler, gewese Nasionale LV wat met dr. Andries Treurnicht in sy ministersdae oorhoops geraak het, het geskryf: “Namens vele Tukkies wil ek u geluk wens met die wyse waarop u gevlieg het: soms so hoog dat die President daar kon bykom, soms so laag dat selfs ‘n ienk dit kon verstaan. “Laat nagte was vir u nie te veel moeite nie, laat bydraes kon nog altyd iewers ingedruk word. “Die beste ‘By in die afgelope ses jaar wat ek al hier rondlê. Baie, baie geluk.”

Selfs die rektor, prof. C.H. Rautenbach, het lof uitgespreek: “U het ‘n moeilike taak op ‘n eervolle wyse behartig … ek dink dit was ‘n goeie jaar — ook vir die redaksie van Die Perdeby.”

In my eie laaste hoofartikel was ek half weemoedig. “’n Mens raak lief vir die ‘By. Dit is nie alleen jou verantwoordelikheid nie, maar ook jou trots. Die verskyning van elke uitgawe word ‘n persoonlike bevrediging soos ‘n kunswerk vir sy skepper.”

Dat 47 jaar intussen verloop het, stem my opnuut weemoedig. (HvD)

VIR MOEDERSDAG

Moedersdag en daardie klas van ding was nooit juis vir my nie. Selfs verjaardae glip amper ongesiens by my verby.

Die eerste keer toe die ma van my skool- en Tukkiemaat Giel de Swardt – by wie ek gekuier het – my dwing om op Moedersdag huis toe te bel, was ek ongemaklik. Ek het geweet my ma sou die oproep vreemd vind omdat sy haar kind ken. Ek het nie werklik geweet wat om te se nie. Toe prewel ek maar iets soos: “Gelukkige Moedersdag, Ma.”

Teen daardie agtergrond is ek nogal verbaas dat ek voel om die stukkie hieronder vir Moedersdag op my webjoernaal te sit. My ma is ook al amper 15 jaar oorlede. Die foto hierby is in 1946 geneem. Sy was toe n weduwee van 26 en ek n seuntjie van vyf. Ons was daardie tyd in Kimberley waar my pa kort tevore skielik dood is. (HvD)

EERS BAIE JARE LATER HET EK BESEF …

Toe Pa Seun in 1946 dood is, moes Ma Baby moet uitspring en gaan werk. Dit was in Kimberley se sentrale. Sy het tussen ons skakelhuisie in Diagonalstraat en die poskantoor fiets getrap, want motor kon sy nie bestuur nie. Sy het botweg geweier om eers te probeer leer – al was sy ‘n bekwame vrou.

Verwese is die seuntjie Hennie ses maande na die begrafnis skool toe – die Laerskool Diamantveld oorkant die ou begraafplaas met die baie sipresse; die lang wit skool met die inspirerende leuse: “Concordia res parvae crescunt” (Deur gesamentlike inspanning kom groot dinge tot stand.). Vandag is dit verkort tot: “Van krag tot krag deur samewerking”.

Op my eerste skooldag gee Ma Baby my vroegoggend ‘n vinnige drukkie, klim op haar fiets en ry in Diagonalstraat af stad se kant toe vir ‘n vroeë skof by die telefoonsentrale. ‘n Ouer boetie of sussie om my hand vas te hou, is daar nie. Ek is alleen. Ek het haar kwalik geneem.

Weeskind of nie, skool akkordeer met die jonge Jakob, soos ek deur my eerste onderwyseresse op grond van my doopname genoem word. Spel en lees is my kos. Na ses maande is ek een van die twee of drie “spring-kaantjies” wat vroegtydig na die Sub B-klassie promoveer. Toe ek trots by die huis opdaag met die rapport en die groot nuus, is ma by die werk. Ek het haar n tweede keer kwalik geneem.

Aan die einde van die eerste skooljaar bring ek twee diploma’s huis toe: een vir tweede hoogste klasprestasie in Standerd B1, die ander vir vordering en (onverklaarbaar) vir kuns. Ek is later bed toe sonder om die blye nuus met haar te kan deel. Ek was opnuut bitter ongelukkig.

Eers baie, baie jare later het ek besef: sy het dit vir my gedoen – vir my kos en my klere, dat ek ook so netjies kon aantrek soos my klasmaatjies. Ek sou graag vir haar wou dankie se. Maar dit was te laat. Sy was toe ook al dood.

* Maria Petronella (Baby) Malan is op 1/11/1993 oorlede (HvD).