KERK INNIBOS, PIEKNIEK INNIKERK

Kerk in dreigende reen op ‘n verlate koppie op die oop vlakte; piekniek knus in die kerk tussen die kerkbanke. Raai waar gebeur iets so raar?

Goed, hier’s ‘n leidraad: in die nimlike kerk is so twee weke gelede ‘n vlakvarksog en ses kleintjies per ongeluk toegesluit. Die besorgde moeder het later benoud teen die deure begin stamp.

Die leraar, ds. Carl Louwrens, is ontbied om die onverklaarbare geluide te kom identifiseer. Toe die oorblufte ds. Carl oopsluit, sien hy net krom tande. Die verligte vlakvarke is na die herderlike ontsetting op stertjie-orent op ‘n drafstappie Skukuza se personeeldorp in.

Waar anders as in die wonderlike Kruger-wildtuin? Om presies te wees: waar anders as in die NG gemeente Krugerpark in Skukuza – die Van Deventers se bosgemeente wanneer ons in Sabiepark kuier.

Sondagaand was ons en ons gaste, Herman en Rina le Roux van Randburg, bevoorreg om op die indrukwekkende Granokoppie tussen Skukuza en Pretoriuskop die gemeente se viering van Palmsondag mee te maak – des te meer ‘n spesiale geleentheid omdat dit vir die Van D’s persoonlik ook ‘n baie besonderse naweek was.

Vir eers kon ons met vreugde en dankbaarheid terugdink aan ‘n verbintenis van presies 10 jaar met Sabiepark. Ons het op 15 Maart 1998 die ou naam “Ukuthula” (Vrede van binne) met “Tarlehoet” vervang. Ten tweede was dit vroulief, Tokkie, se 62ste verjaardag, wat met daardie heuglike herdenking saamval (sien die webjoernaal hieronder).

In die Wildtuin het die kwik Sondagmiddag skielik dramaties getuimel. Teen 17:00 kon jy die reen in loodgrys vlae uit die verte sien aankom. Die skraal windjie het aan jou sambreel geruk. Maar die Gideonsbendetjie op Granokoppie het dapper deurgedruk.

Met palms in die hand is entjies, entjies teen die steilerige koppie opbeweeg om die gebeure van die Paastyd treffend met woord en lied in herinnering te roep.

“Hy’s die bruidegom. Ons is die bruid wat wag op Hom.” Ek kan nie beskryf hoe mooi kerkliedere soos hierdie met kitaarbegeleiding so in die naderende aand in die bos klink terwyl die eerste druppels jou hare nat spat nie (foto bo). Dis ‘n sielservaring om oor huis toe te skryf.

Ds. Carl is ‘n man vir simboliek. Toe ons op 14 Maart 2004 ons eerste Paas-sangdiens op Granokoppie bywoon, is brood gebreek wat deur sy vrou, Sarah, gebak is. Spykers is ook uitgedeel om ons aan Golgota te herinner. Hierdie keer het ons kruise ontvang wat kunstig uit palmtakke gevleg is.

Sulke aande eindig tradisioneel met ‘n piekniek-ete onder die sterre. Die gemeente – wat al deur Tokkie as ‘n “uitgebreide familie” beskryf is – bring hul opvoustoele, mandjies kos, en ietsie vir die keel. Dan word ‘n hond uit ‘n bos gekuier!

Twee jaar gelede toe Brent en Marisa hier was, het duisende stinkbesies teen die einde op die gemeentelede toegesak. Hulle moes vinnig die aftog blaas en in Skukuza verder gaan kuier. Hierdie keer was dit die weer. “Kerk toe,” het ds. Carl gebied, en daar trek ons toe met ons stoele, mandjies en wat nog.

Piekniek in ‘n kerk? Dit was ook ‘n eerste in hierdie man se lewe. Sedert ons Sabieparkers geword het, was daar al baie eerstes – glo my! (HvD)

ONS LOOP ONS EIE “LUIPERD-LOOP”

In Sabiepark loop ons op die oomblik omkyk-omkyk. Dis ons weergawe van die “luiperd-loop”. ‘n Fris kalant het hier ingetrek en duik hier, daar en oral op. Hy is so tuis in Sabiepark soos ‘n hoender op ‘n winkelstoep.

Patson, ons eersteklas-handlanger, ag dit gerade om nie na ‘n dag se harde arbeid alleen langs die pad te gaan sit en wag op vervoer nie. Te gevaarlik!

By die hek moet jy ‘n vorm teken dat jy kennis neem van ta se teenwoordigheid. Dis dieselle meneer wat onlangs op Fickie Visagie se stoep afgeneem is. Die waarskuwing lui dat hy nie aggressief is nie, maar bly maar in jou pasoppens. Moenie met hom sukkel nie. Retireer stadig – wat in omstandighede dalk ‘n uiters moeilike opdrag kan wees om uit te voer!

Die waarskuwing by die hek sluit ook die spesie olifant in. Onlangs was hier twee Grootvoete wat deur die draad gebreek het tussen die piekniekplek en die brug. Maar hulle is darem weer uit, terug Wildtuin toe.

Teen die regte rampokkers – die hienas en die bobbejane – word ‘n mens nie gewaarsku nie.

Die voorhoede van eersgenoemde was al eergisteraand op ‘n inspeksie in loco. Kom doen blykbaar ‘n opname oor wat hier te knaag is. Onlangs is Tokkie se tuinslang tot stukkies wors-lengtes (“anderhalf duimpie”) gereduseer.

Toe ek dit vir Patson wys, grinnik hy: “tsotsi”. Dis wat hulle is.

Die bobbejane was dadelik hier rond. Aan die trant van hul boggoms hoor ‘n mens dat hul duiwelsplanne smee.

Die goeie nuus is dat twee klein kameelperdjies slaag om te midde van al die bosgevare te oorleef. Die drie voor hulle was minder gelukkig.

Sabiepark is heerlik: groen, dikwels bewolk en met groot koeltekolle by Tarlehoet se voorstoep. Die swembadjie is gou reggeruk deur “Mev.Pool Doctor”. Drie paddareste is uitgevis, Tokkie suig aan haar “bos-kreely-kraupy” vir ‘n vale en handevol chloor doen dit res. Spiekeries. Min dinge kan lekkerder wees as om in die somer in die bos in jou eie swembadjie te kan induik.

Jy voel sommer dadelik tuis as nagapies die eerste aand kom piesang soek, olifante halflyf in die Sabierivier kom afkoel, die luidrugtige kakelaars by ontbyt opduik, die blou-apies die voels se pitjies kom gaps en die skuimpaddas se liefdesnessie bokant jou watergat hang.

Net Witnek bly weg. In sy plek kom ‘n kruppel duikertjie. Sy kanse op oorlewing lyk skraal…

Wat opval, is hoeveel bosbokkies hier rondloop. En oral is kleurryke spinnekoppe besig om reuse-ragfyn-webbe te spin.

Swak tydsberekening is aan die dag gele toe 30 buffels by die piekniekplek opdaag tegelyk met ses kameelperde by Tarlehoet. Ons is rivier toe om foto’s te neem. Van die kameelperde het Tokkie vir die tweeling sketse gemaak. Haar model was die langnek-karikatuur op die Tall Horse-wynbottel.

‘n Persoonlik plesier word deur die foto hierbo ge-illustreer. Dit is om my bosboeke, Buurman van die Wildtuin, Mayafudi en Mayafudi – memories of an elephant, oral op die rakke in die Wildtuinwinkels en ook by die Protea-hotel te sien. Dit was ‘n hele aardigheid toe Tokkie die foto neem. Klante kon nie verstaan wat al die opgewondenheid veroorsaak nie! (HvD)

SABIEPARK, HIER KOM ONS!

Olifante steek op die foto hierbo die Sabierivier oor van die Krugerwildtuin na Sabiepark. As Nationwide se vliegtuie op skedule is, is dit waar Tokkie en ek moremiddag (Woensdag) hierdie tyd (16:00) sal wees.

In salige Sabiepark, ons Bosveld-Eden. Tot 27 Maart sal elke webjoernaal op HvD se Blog die Sabiepark-adres dra. Maak u dus maar klaar vir stories uit die bos. As dit u verveel, bly liewer weg!

Met die bos se geur as’ t ware in my neusgate vertel ek net gou van ‘n ander Hennie van Deventer – eienaar van ‘n Bosveld-lodge naby Hoedspruit – wat, indien moontlik, dalk nog meer bosbloed in sy are het as die uwe.

Volgens hom spog hy gereeld by buitelandse gaste dat daar nie bloed in sy are is nie, maar wel rooibokke en olifante wat die werk doen. Hy se ook,so na my hart, dat wat hy doen. nie regtig werk is nie – dis net ‘n Hemelse voorreg om daar te wees.

Van daardie Hennie kry ek uit die bloute nou die dag ‘n boodskappie:

“Nou ja, ek moet seker eintlik se Oom Hennie, want te oordeel op die foto in die boek Buurman van die Wildtuin is ek op 42 ‘n bietjie aan die junior kant, alles met groot ‘respekte’ gese!

“My geboortename is Henrik Theunis van Deventer en ek is nogal vrek trots daarop. My oom met dieselfde name is dr. Hennie van Deventer van die Hervormde kerk in Pretoria.

“Ek woon in Hoedspruit en is ‘n Laevelder in murg en been. Ek is die operasionele eienaar van www.nyalasafarilodge.co.za . Loer gerus.

“Ek het onder meer vir 4 jaar staptoere in Kruger gedoen met wat toe die eerste konsessie was.

“Ek het al van u artikels en ‘goeters’ langs die pad raakgeloop en gister bogenoemde boek by Orpen gekoop.”

Ek het geantwoord:

“Lekker om ‘n brief van ‘n man met so ‘n soliede naam te kry, nogal uit die Bosveld wat ook in my bloed is. My tweede tuiste is nie verniet Sabiepark daar langs die Krugerhek nie, wat ek juis van 5 Maart af weer besoek. My voete jeuk om weer Bosveldgrond onder hulle te voel.

“Ek weet van jou, o.m. uit die Kruger Times. Het egter nie geweet jy en dr. Hennie is verwant nie. Ek het hom al ontmoet. Hy het jare gelede een oggend met ontbyt in die Dorpshuis-hotel in die Kaap oorgestap om blad te skud.

“Ek is ‘n Jakob Hendrik – ‘n ou familienaam wat alterneer met Johannes Cornelius. Jy hoef nie Oom te se nie, maar ek is darem al 67. Die tyd drafstap vinnig.”

Hennie Hoedspruit laat weet vervolgens hy is besig met sy eie boek oor sy wedervarings in die bos die afgelope 20 jaar. Dit is in Engels en hy sal vir my ‘n uittreksel of wat aanstuur. Dit gaan ‘n “anderse” boek wees met ware ervaringe, fiksie en lewenswaarhede wat deur ‘n grysaard en wysheer, die Sjangaan Winston Ndlopvu, rondom ‘n kampvuur vertel word.

My antwoord:

“Ek sal brand om van jou (of Winston se) stories te lees. Stuur gerus. Voorspoed met die boek. Dit klink opwindend.

“Hoop jy geniet Buurman. Hy’s al ‘n paar jaar uit, maar het pas eers in die Wildtuin op die rak gekom.

“Ek sal beslis op jou webblad ‘n draai gooi. As jy hierdie Van D’s van nader wil leer ken, kan jy my webwerf besoek by www.hennievandeventer.com . Dit bied hope skakels, o.m. na my albums, wat spesiale Sabiepark- en Wildtuin-albums insluit. Ek skryf ook ‘n blog. Dit is by www.hennievandeventer/blog.html .

“Op Beeld se webblad, www.beeld.com, in die rubriek My Storie is verskeie HvD-bydraes met ‘n Bosveld-hoek, o.m. een met die titel Vyf Wildtuin-juwele.”

Nogal vreemd ne dat lede van die bosbroederskap – en dit twee genante – mekaar, van alle plekke, so op die internet moet raakloop, As ander Hennie sy oe uitvee, staan ek dalk nog in die volgende drie weke voor hom by Nyala Safari Lodge!

As dit gebeur,, sal ek hier rapporteer. Hou intussen duim vas dat Nationwide voorspoedig vlieg! (HvD)

LEKKER GELD VERLOOR!

Van al die maniere om geld te verloor, is perde die vinnigste, boerdery die sekerste en meisies die lekkerste. Dit is een van die wyshede wat my oud-kollega die rubriekskrywer Johan van Wyk kwytgeraak het.

Wel, van perde en boerdery weet ek nul. Die laaste Julywenner wat ek onthou. is Milesia Pride. Ek dink dit was in die 50’s dat sy (dit was mos ‘n merrie?) haar neus eerste by die wenpaal verby gestoot het. Op ‘n plaas het ek nog net vakansie hou – nooit langer as drie of vier dae nie. Die diere, die implemente en die boere se kragtige voertuie het my altyd plesier gegee, maar van die welstand van hul balansstate was ek onbewus.

Van meisies het ek effens (ook maar effens!) meer ervaring. En party van hulle kan jou kos, boeta! Daarvan het ek pas weer ervaring gehad met twee dames met die vanne Piaf en Alberghetti – enetjie Frans, die ander so Italiaans soos spaghetti.

Piaf is natuurlik Edith Piaf, die beroemde “Mossie van Parys” van die 30’s en 40’s wat in haar sang die Franse taal so betowerend laat klink het dat jou tone krul. Van haar en my liefde vir haar musiek nadat Jan-Jakob de Jager vir my en Tokkie haar langspeelplaat Homage A Piaf as ‘n troupresent gegee het, het ek al geskryf.

Genoeg om te se dat die heerlike fliek oor haar lewe, La Vie En Rose – gaan kyk! – my op ‘n missie laat beland het om ‘n CD van haar te bekom. By CD-winkels oral het ek een bloutjie op ‘n ander geloop. Kom toe darem by Kalahari reg. Die laat kom toe vir my ‘n Franse kompilasie, Edith Piaf – 30e Anniversaire.

Daarop sing sy treffers soos La Vie En Rose, Les Trois Chloches, Milord en Hymne A La’Mour wat ook op die plaat is. ‘n Bonus op die CD is Non, Je Ne Regrette Rien, wat al genoem is Frankryk se antwoord op Frank Sinatra se My Way. Dis aangrypend.

Koste van die CD by die huis afgelewer, was iets soos R160 – wat dit een van die minder goedkoop soort CD’s maak soos oud-kollega Cas Vorster sou gese het. Maar ek kan oor en oor luister. Veral Milord – ‘n liedjie oor ‘n prostituut! – is hoog op my persoonlike lys van gunstelinge.

Me. Piaf is na ‘n hartstogtelike lewe in die vinnige baan in Oktober 1963 op maar net 48 jaar oud oorlede – ook al 45 jaar gelede. Me. Albergetti – Anna Maria Alberghetti, nou 72 – is steeds op die verhoog. Sy is deesdae lid van ‘n senior vermnaaklikheidsgroep Senior Class wat gehore oor die lengte en breedte van Amerika bekoor.

Me. Alberghetti was van sy 12 was ‘n ster op Europese verhoe. Haar loopbaan strek dus oor ‘n allemintige 60 jaar.

Wat my skielik aan hierdie petite Italiaanse koloratuur-sopraan laat dink en die drang in my binneste geplant het om ‘n CD van haar te besit, kan ek nie verklaar nie. Dit het net een aand oor ‘n glasie wyn gebeur.

Ek onthou haar wel uit die dae toe ek vir Tokkie op Bultfontein gaan kuier het. Op die tafel in hul eetkamer was ‘n ouerige grammofoon. Daarop het haar broer, Fanie, nou swaer Fanie van Klaradyn in Brackenfell, graag vir Dean Martin (Memories Are Made of This) en Anna Maria Alberghetti (Estrellita – Klein Sterretjie) gespeel.

Nietemin, as ek gedink het met Piaf soek ek ‘n naald in ‘n hooimied, was die soektog na musiek van daardie swartkoppie met die skitterende oe en verleidelike rooi lippies omtrent ‘n sage,

Met die hulp van Andrew Murray van Bloemfontein en ‘n bietjie huiswerk op die internet het ek besluit die CD wat ek moet he, is Anna Maria Alberghetti Sings For You. Daarop is die onoortreflike Giannina Mia, die Blonde Meisie in die Gondel, Musetta se Walslied, Estrellita self en nog ‘n hele paar ander mooi goed.

Daarmee kon selfs Kalahari egter nie help nie. Uiteindelik kom ek by Global Disccs van High Street Shopping Village in die Tygerberg reg. Maar die eienaar sal vir my ene uit Duitsland moet saambring. Ek het hom die naweek gaan haal.

Piaf en Alberghetti – moet nou nie laf wees en dink dat ek nie CD’s van hierdie twee hetti!

Maar Alberghetti is vir jou nou eers ‘n duur meisie. Vir daardie onverklaarbarte begeerte om haar soet stem in my woonkamer te laat opklink, moet ek toe ‘n koele R220 hoes. Ek troos my darem daaraan dat dit is wat ek nou die dag vir ‘n tweegangmaal en ‘n bottel sauvignon blanc by die peperduur nuwe Nitida-restaurant op die Durbanvillese wynroete moes opdok. En Anna Mariatjie se sang is darem onvergeetliker as die Springbokrepies wat daardie dag (saam met ‘n haas-voorgereg) op die spyskaart was.

Of “Sings For You” inderdaad al die tyd, moeite, energie en geld werd is? Wel, dit sou mos ietwat onridderlik wees om sulke geheimpies uit te lap. Ek sou voel of ek oor ‘n ou liefde skinder, en dit word tog eenvoudig net nie in goeie geselskap gedoen nie! (HvD