SWART KOM DIE BUFFELS …..

Net die tyd wat dit neem om ‘n eiertoebroodjie te eet – dit kan in die Kruger-Wildtuin die verskil wees tussen ‘n onvergeetlike oomblik en ‘n nul op die kontrak.

Ervare Wildtuingangers sal saamstem dat dit geen nuwe insig is wat ek verkondig nie. Ek en Tokkie het die waarheid hiervan egter opnuut beleef toe ons Donderdag 27 Maart op pad Mpumalanga-lughawe toe vir die terugtog na Kaapstad by die Nyamundwa-dam naby die Phabenihek aandoen.

Dit is ‘n skilderagtige dam waar ons al ‘n wonderlike luiperd-ervaring gehad het. Die kerel het stadig halfpad om die water gestap soos ‘n 200m-atleet wat in vertraagde aksie op pad wenpaal toe is. Die meeste kere sien ons egter daar weinig – slegs ‘n seekoei of twee, dalk ‘n krokodil en ‘n paar watervoels as ons dit gelukkig tref.

Donderdagoggend was daar benewens die gewone ook ‘n enkele buffel in die water, met op sy rug een of twee wit bosluisvoels.

Ons was nie haastig nie en ek het die reputasie dat ek padkos nie kan weerstaan nie – veral as dit eierbroodjies is. Tokkie spot altyd dat ek net ‘n blok van die huis af begin honger raak. Terwyl ons die enkele buffel betrag, doen ek toe navraag oor die beskikbaarheid van ‘n broodjie en. soos gewoonlik, stel my vrou my nie teleur nie.

Ek eet tydsaam om die lekker uit te rek. Met die laaste hap bemerk ek ‘n stofwolkie in die veld oorkant die dam. ‘n Tweede kyk tel swart spikkels tussen die gras op.

Dis buffels en dis baie! Uiteindelik kom ‘n trop van ‘n duisend of meer streep-streep by die water aan – ‘n onvergeetlike gesig.

Geen foto kan reg laat geskied aan die toneel wat ons aan die eierbroodjie te danke het nie. Daarvoor was die trop te ongekonsentreerd. Boonop was dit bewolk en donkerig. Die wyehoeklens het oor die afstand tussen ons en die buffels aan die oorkant van die dam maar broekskeur gehad.

Soveel buffels saam het ons egter nog nooit gesien nie. Die wereld was swart. Die kollektiewe gebulk in die gryse oggend was iets om te hoor. ‘n Swerm bosluisvoels het soos ‘n wit wolk bo die buffeltrop gehang. ‘n Wildtuin-ervaring uit die hoogste rak voorwaar.

Net voor die eerste stoffies sigbaar begin raak het, het ‘n ou met ‘n kragtige bakkie langs ons stilgehou, een vinnige kyk gegee en weggery. Watter belewenis het daardie arme drommel nie gemis nie!

Maar uit sy verlies het ons weer geleer. In die toekoms gaan ons regtig minder ry, ry en nogmaals ry en langer by ‘n dam sit en wag. Die beloning kan aardig wees.

En vir petrol betaal ‘n mens deesdae buitendien jou ore van jou kop. (HvD)

MORSJORSE IN DIE DRINKWATER

BO: ‘n Morsjors in Tarlehoet se drinkgat.
ONDER: Wat is vir aandete?

Hiënas moenie in die water mors nie, die ander diere wil dit drink. Aan hierdie vermaning het vier van hierdie onwelriekende skuinslyf-gediertes hulle min geskeel toe hulle Maandagnag om 02:00 gelyktydig in Tarlehoet se watergat plons. So luidrugtig was die middernagpartytjie hier neffens ons slaapkamer dat ek en Tokkie dadelik wawyd wakker was en soos op militêre bevel uit die bed gevlieg het.

Die vier het, soos vriend Manie Steyn van Krugersdorp, dit sou gestel het, “slordig gedrink”. Maar het hulle gedrink? Het hulle gebad? Of was die morsjorse dalk op ‘n herwinnings-missie? Aan hul energieke neus-onder-die-water gevroetel, het dit vir ons meer na laasgenoemde lyk. Hiënas bêre mos aas onder water om dit “vars” te hou, en met Sabiepark propvol vir die Paasnaweek was oorskietvleisies vir honger rondloper-hiënas seker nie ‘n skaars artikel nie. Party mense het eenvoudig nie ore nie!

Pogings om die vier se waterkaskenades op film vas te lê, is gekortwiek deur die donkerte en die feit dat H se Canon op daardie kritieke moment nie op sy plek was nie. Nadat genoemde instrument eers in die motor gesoek en later in die klerekas opgespoor is, het ‘n sekere ongerustheid die viertal gepak. Hulle is een-een die bosse in. In daardie opsig was die fotonemery amper ‘n herhaling van die luiperd-fiasko. Twee trefferfoto’s in ‘n week daarmee heen – swak Piketberg!

Presies ‘n halfuur later was dit die “Nag van die hiënas” hoofstuk twee toe drie terugkeer om hul werk af te handel. Die vierde het op ‘n afstand staan en hoonlag. Een van die drie was in ‘n stadium half teen die trappies by die slaapkamer op – ongemaklik naby aan die fotograaf op die swembad se kant.

Net ‘n dag vroeër het ek die mening geopper dat die hiëna-belhamels van vorige vakansies uitgevat is. ‘n Mens hoor en sien hulle minder, het ek gewaag. Ha-ha!

Rapporte van aanvalle op motors se syspieëltjies, buffers of nommerplate het ons wel nie in hierdie drie weke bereik nie, en self het ons ook nie weer verliese gely nie (onthou die tuinslang, sandaal en kussings van vorige kere!). Maar by Sabiepark se rommelhoop is verlede nag verwoesting gesaai. En by nadenke was hiëna-aktiwiteit en nagtelike kommunikasie in Sabiepark allermins buitengewoon seldsaam.

Een kalant het een oggend net voor 07: 00 by die voorstoep aangestap gekom – die vroegste nog. ‘n Ander was op ons eerste aand al hier om te kom rondsnuffel. Dan wonder ons oor ‘n konfrontasie in die donker by die voëlbad, terwyl Herman en Rina le Roux hier was. Daar was ‘n katte-gegrom van die eerste water. Later kon ons in die lig van T se sterk flits sien hoe ‘n hiëna met iets in sy bek wegdraf. Ek het weer na die CD met dieregeluide geluister. Daarna is ek redelik oortuig ‘n muskeljaatkatjie het in daardie insident gesneuwel.

Vier hiënas op Tarlehoet se werf is nie uniek nie. Ek herinner my ‘n brekfis op die agterstoep waar vier in ‘n uitgespreide sirkel die uwe se Weetbix-sessie kop op die pote lê en bespied het soos getroue waghonde.

Twee was voorheen al saam in die watergat. Ek meen dit was Mariza wat hulle afgeneem het. Een moes al deur Thys Slabber (van Melkbos ) van die stoep geweer word met ‘n graaf terwyl die Probus-mense aan hul wors en tjops en potte vol pap en sjeba gesmul het.
Dan is daar my eie “beroemde” hiënafoto (dit was in die tydskrif Weg) wat laatmiddag voor die huis geneem is waar ‘n nuuskierige ou aan die rooster kom ruik om te bepaal wat op die Van Deventers se spyskaart is. Dit was voor die tyd van die heininkie en nogal aardig om totaal onbeskut so ‘n besoek te ontvang.

Daar was ook – moet ek daaraan herinner? – die voorval van die hiëna wat doodluiters in die Sabie-Sand hier oorkant die pad ‘n huis binnegestap, verby twee, drie ander slaapkamers is en vir hom ‘n ouerige vroulike prooi uitgekies het om haar in haar bed aan die gesig te gaan byt.

Maar vier hiënas in die Van D’s se watergat? Dit is werklik hoogs uitsonderlik – ‘n eerste wat ander Sabieparkeienaars groen van jaloesie laat, en wat finaal hierdie kort vakansietjie ver bo die gemiddelde kom uitlig het.

Sabiepark se tien jaar is dubbel en dwars gevier. Maak gerus nog vir ons ‘n vonkelwyntjie oop! Maar die ander diere se drinkery is darem vir hierdie diereliefhebber ‘n bekommernis. Hoe sou drinkwater smaak waarin hiënas gemors het? (HvD)

RAAISEL VAN DIE WATERLELIE

Tokkie wonder oor haar waterlelie wat laas so mooi begin blom het in ons boshuis, Tarlehoet, se watergat. Die blom is skoonveld. Haar lysie verdagtes trek na oorweging van verskillende scenarios en moontlike motiewe taamlik lank.

Gister, eergister sit ons by Lake Panic. Daar betrap ons die bosbokram op die foto hierbo op heterdaad. Hy stap kniediep die water in en vreet die waterlelieblare dat die sop spat. Kyk mooi, dis ‘n stuk blaar wat by sy mond uithang.

Skielig gaan ‘n lig op. Dan is dit die rede vir die buitengewone bosbok-aktiwiteit om Tarlehoet. Die bokkers kom soek ‘n lekkernytjie!

Op ons boekrak in die bos staan ‘n mooi klompie James Hadley Chase-misdaadstories. Wel, meneer Chase, hier is vir jou nog ene.

Ons kan ook as tema aanbied: Die raaisel van die voels se pitjies. Die vinnige verbruik daarvan het ons geruime tyd dronkgeslaan. Toe ontdek ons wie die pitjiediewe is. Niemand minder nie as die koedoes (en veral een koei sonder wilskrag) wat net nie die versoeking kan weerstaan om ‘n tong uit te steek en vir ‘n vale die pitjies op te lek nie.

Nog ‘n tema: Die raaisel van Kapous se bril. Die bril het voete gekry van hul boshuis, Vreklekker, se stoep. Geruime tyd later blink iets in die maanskyn. Voetjie-vir-voetjie is hulle in die donker flits in die hand nader om ondersoek in te stel. Dis Kapous Mouton se bril – weggedra deur ‘n stout bobbejaan.

Maar oor bobbejane het baie mense baie stories. Mev. Van Deventer kners nou nog op haar tande oor die pak met dertig hoendereiers wat ene vreesloos uit die kombuis kom gryp en voor haar oe uitgesuig het.

Die raaisel van HvD se sandaal het weer ‘n hiena in die ontknoping. Daardie sandaal is nooit teruggevind nie. Die kussings wat ook deur ‘n hiena weggedra is, is darem wel in die veld opgetel – maar in stukkies gekou, nes TvD se tuinslang.

En wie sou die nagapies se piesang so gaps? As die bosnagaap jou verdagte nommer een is in Die raaisel van die vermiste piesang, is jy in die kol!

Wederom uit Sabiepark. Volgende keer gesels ons uit Melkbos.

Groete. (HvD)

TWEE LUIPERD-AVONTURE

Hoe voor op die wa kan ‘n luiperd raak? Sommer voor in die koor, hoor! Sabiepark se meneer was Maandagoggend op huisbesoek aan die Van Deventers – en dit was vir jou omtrent ‘n avontuur. Die ou grote is skuur-skuur teenaan die swembad en die voorste lapa’tjie verby. Skielik gewaar hy toe ‘n troppie sebras agter die huis en laat waai oor ons motorpad.

Woensdagmiddag was hy by die groot swembad op inspeksie. Hy spring toe oor die muur en soek onderdak in die dames-kleedkamer. Ongelukkig vir hom het sy kolle hom verklap. Toe die pragdier oor die muur gly, sien ‘n seun in die swembad hom raak en maak alarm. Dit was die begin van Avontuur Nommer Twee.

Oor Avontuur Nommer Een moet Tokkie verslag doen. Sy was stoksielalleeen by die huis. Die huisbaas was in die TV-kamer aan’t webjoernale pleeg (lees die twee hieronder) toe ‘n ontstelde T bel om te rapporteer: die luiperd is by die swembad!

Op die foto hierbo ontvang sy op ons swembad se muurtjie ‘n verjaardagboodskap op haar selfoon verlede Saterdag. Dis omtrent die presiese plek waar sy twee dae later die bewegende kolle die eerste keer gesien het.

Sy vertel: “Ek het uit die badkamer gekom en, soos altyd, by die slaapkamerdeur uitgekyk wat by die voelbad aangaan, toe ek die kolle teen die swembadmuur opmerk. Ek knip-knip my oe en sien dat die kolle beweeg. Dis die luiperd! Stadig drentel hy om die swembad en gaan rus-rus langs die paaltjieheining af. Hy gaan staan selfs ‘n keer of wat doodstil.

“Met ‘n verstand wat ek glo op daardie oomblik gevries het, tas ek na ‘n kamera. My digitale outjie is in die Honda en die Pentaxie aan die haak teen die muur het nie ‘n film in nie – of so het ek geglo.

” Die luiperd staan steeds teen die heining – perfek vir ‘n trefferfoto. Toe begin hy stadig aanstap. Op die motorpad kom hy weer tot stilstand.

” Skielik kry die luiperd se stert ‘n nuwe swaai. Dis die sebras agter die huis wat nou in sy visier gekom het. Voetjie-vir-voetjie (letterlik) sluip hy nader. Ek hardloop in sirkels in die huis. My hart gaan uit die die klein sebra’tjie saam met die grotes.

“Die sebras besef eensklaps die gevaar en hardloop gillend (hulle het vergeet om te balk!) in alle rigtings. Die luiperd draai druipstert om. Ek sien toe hy wegstap deur die grasse die kolle en sy stert wat krul.

” Dat ek nie ‘n foto het om te wys nie, maak my baie skaam. Ek het nie koelkop gebly en gekontroleer of daar ‘n film in die kamera is nie. Ek dink dis hoe die bokkies ook kop verloor as hulle die luiperd sien.”

My vrou noem haarself in ons eie joernaalboek waarin ons ons boswedervaringe opteken, ‘n “aap”, maar dalk is sy darem ‘n bietjie hard op haarself. Ek het ook maar kop verloor. Eintlik was die hele insident uit ons hoek ‘n komedie van “ligte mistykies”.

Toe sy my bel en die woorde “luiperd” en “swembad” noem, gryp ek my Canon en storm uit die TV-kamer. ‘n Swartman skep egter rustig blare uit die water van die groot swembad. Toe besef ek eers sy is by die huis en dis ons swembadjie waarvan sy praat.

Ek bel dadelik met bewende vingers terug om haar in te lig oor die film in die Pentax, maar iewers in die eter bots ons oproepe wat heen en weer vlieg. Toe ek eindelik deurkom – of sy – was ta klaar weg.

Dit was die tweede keer in agt jaar dat sy by die huis ‘n luiperd-avontuur beleef terwyl die uwe met die rekenaar elders doenig was. Ek kan myself skop. Dalk moet ek ‘n ander stokperdjie begin be-oefen! En ek moet erken dat ek ook maar sielsongelukkig is oor daardie trofeefoto wat ons ontglip het. Dalk het T tog rede om haarself te blameer….

Avontuur Nommer Twee het vir onse luiperd maar treurig ge-eindig. Hy is Donderdagaand deur die parkbestuur met ‘n rooibok-karkas in ‘n lokval gelei en met ‘n gifpyl verdoof om na Skukuza gedeporteer te word. Daar ondergaan hy nou allerlei toetse.

‘n Mens voel jammer vir die trotse dier, en jy’s half trots op hom dat hy tot die einde nie sommer wou besgee nie. Die boompie waaraan die rooibak-karkas vasgeketting was, het hy met een pluk van sy magtige kop laat knak. Hy het die bokkie met ketting en al ‘n goeie ses tree ver gesleep voordat die slaap hom oorval het.

Maar met Paasnaweek se mense wat Sabiepark instroom, is ‘n luiperd wat dan op hierdie stoep opduik, dan op daardie, en op die koop toe nog helder oordag by saamdromplekke soos die swembad opdaag, eenvoudig ‘n opwinding met te veel risiko’s. Hy kon nie hier gebly het nie.

Tot siens, kollevriend! (HvD)

VERJAARDAG-PARADES EN BOS-SALUUT

Twee witrenosters het by die piekniekplek kom paradeer of hulle opgekommandeer is. ‘n Tienstuks kameelperde het om ons boshuis, Tarlehoet, ‘n erewag gevorm. ‘n Mooi troppie sebras het by die TV-kamer binne vatafstand gewei en gesoog.

Ja, die bos het behoorlik op aandag gestaan toe ons die naweek ons tien-jaar-verbintenis met Sabiepark en vroulief, Tokkie, se 62ste hier op die geliefde grond in ons eie stukkie ongerepte Afrika kom vier het.

Herman en Rina le Roux van Randburg wat 10 jaar gelede, op 15 Maart 1998, die eerste Tarlehoet-bakens kom help het, het spesiaal weer gekom – toevallig ook op hul 10de besoek.

Saam was ons weer in Tarlehoet se swembadjie met die blou enemmel-koffiebekers en wynglasies, alles presies net soos dit ‘n dekade gelede was – buiten vir die toename in grys hare en allerlei tekens van die tye aan die onderskeie lywe.

Die renosters het die verjaardagfees ingewy deur ewe onverwags uit die bosse te kom terwyl ons en die Le Roux’s Vrydagmiddag langs die Sabierivier aan ons Nuy-Brut teug. Ons kon ons vonkelwynglase neersit en na hartelus foto’s neem (foto hierbo).

Saterdagoggend het ons by die TV-kamer ‘n worsie gebraai. Die sebras het nadergestap of op spesiale versoek. Hulle het seker ‘n uur of langer vertoef en die kameras het weer vir ‘n vale geklik.

Sondagmiddag het die langnekke gekom. Al hoe nader en al hoe nader aan die huis – kompleet soos ‘n afgerigte erewag wat vir Tokkie en Tarlehoet kom salueer.

Saterdagaand was ‘n varknek in die Weber – presies twee uur lank met 20 brikette aan weerskante. Dit was vingerlek-lekker, meen die kosmaker in alle onbeskeidenheid. Die Moutons, Nels en Strydoms – wonderlike vriende wat Sabiepark tot die Van Deventers se lewens toegevoeg het – het op ‘n soel aand saam op die stoep aangesit.

Die nagapies was eers wantrouig, maar toe het ‘n paar dapperes die gegons van mensestemme getrotseer. Dawie Strydom het sy geleerde mondfluitjie uitgehaal vir “Geluk, liewe maatjie” en “Amazing Grace”. Feestelik!

Jammer, Witnek, het darem nie ook net kom gesig wys nie. Hierdie ou gryse duikertjie, so na aan ons harte, bly weg. Sou hy nog leef? Gait-Jan Sterk antwoord bevestigend. Ons begin egter wonder…

Tien jaar gelede het Herman in ons gasteboek geskryf: Tokkie het in die volmaan verjaar en die bobbejane het in die sitkamer baljaar. Wel, vanjaar is volmaan ‘n week later. n die bobbejane het weggebly, soos Witnek en die reen wat nou broodnodig raak.

Donderdag was daar egter allerlei agterdogwekkende tekens van ‘n bobbejaanbesoek op die stoep, wat my en Tokkie vinnig laat besluit het: die swembad se water moet uit; skoon water moet in. Of die derduiwels inderdaad in ons afwesigheid kom “afkoel” het, sal ons nooit bo alle twyfel weet nie.

Wat ek wel weet, is dat om op die naat van jou rug in daardie swembadjie te le en deur die blare van die Maroelaboom na die Melkweg te kyk, van die glorierykste oomblikke in Sabiepark was in die 10 jaar wat verby is.

As dit nie voorheen so opgeteken is nie, haas ek my om hierdie stukkie”regstellende aksie” nou hier te doen.

Salute, Sabiepark; salute, Tokkie. Die Engelse se dit so mooi: “many happy returns.” Dit is ook my wens uit die hart. (HvD)