NAWEEK -LEESSTOF

Die “kroeg” is toe vir die volgende 48 uur of wat. Geen nuwe joernale sal oor die naweek gelaai word nie. Lesers word egter steeds met ope arms verwelkom, soos ook op my en Tokkie se webwerf www.hennievandeventer,com

Die varsste naweek-leesstof hier op HvD se Blog bestaan uit die volgende:

* Twee bydraes oor “senior oomblikke” volgens my eie positiewe definisie – dat ‘n “senior oomblik” eintlik ‘n helder, slim, raakvat- oomblik is;

* M vir Meyer – Deon Meyer: ‘n Blik op die knap, enigmatiese spanningskrywer van Melkbos wat, in die woorde van Marita van der Vyver, al ‘n internasionale verskynsel geword het;

* Wat maak ‘n man met sy armsvol ou dasse? As jy HvD is, is jy te sentimenteel om hulle prys te gee;

* Tien goue jare – ‘n “re-unie” van dieselfde kollegas wat 10 jaar gelede op my afskeid die aand van 18 Februarie 1998 in die Mount Nelson saam aan die tafel was ;

* Met pistole by ons kole – ouens wat braai met ‘n braaitang in die een hand en ‘n skietding in die ander.

Blog-lesers met baie tyd en die inklinasie daarvoor kan met plesier aanhou terugblaai en terugblaai so ver hulle wil. Kliek net telkens op die Next-skakel om die volgende gerf joernale oop te maak. Die joernale op HvD se Blog trek nou by nommer 110.

Lekker naweek – ook vir die Bulls, Cheetahs, Lions en Stormers! (HvD)

OU HOND SE SENIOR OOMBLIK

Hoekom juis ‘n Jack Russelltjie? So is ek telkens gevra toe my hondeboekie (hierbo) in 2000 by Human & Rousseau verskyn. Billike vraag.

Die boek handel immer nie oor ‘n JR of JR’s in die algemeen nie. Dit handel oor hondestories. Soveel stories, soveel soorte honde. In my eie lewe speel ‘n JR geen rol nie, buiten dat die bure se laspos gedurig blaf en met sy skerp tandjies hondeterreur in die buurt saai.

Die rede was eenvoudig dat Cora Coetzee wat getaak was om die omslag te ontwerp, ‘n lastige rugprobleem ontwikkel het. ‘n Alternatief moes haastig gesoek word. Daardie manhaftige JR’tjie is in ‘n fototeek raakgeloop en het dadelik die hart van die boek se redakteur gesteel. Ek het nie beswaar gehad nie en … siedaar!

Vanoggend het ek per e-pos ‘n JR-storie ontvang wat my met grote deernis vervul oor daardie hondjies. Ek is trots op die ou oor hoe hy ‘n luiperd uitoorle.

Wat my nog trotser op die JR maak, is dat hy al ‘n ou hond is wat oor ‘n jong luiperd koning kraai. Hy laat netjies reg aan HvD se definisie van ‘n “senior oomblik” geskied.

Die tradisionele definisie is mos negatief: dis wanneer jou kop joiu in die steek laat, ‘n naam vertgeet word, ‘n eenvoudige woord op jou tong vashaak, ens.

Ek verkies om dit positief om te keer; om ‘n senior oomblik te definieer in terme van ‘n oomblik van briljantheid, ‘n oomblik van flinkdink. Wanneer ‘n gryse ‘n troefwoord spreek, met ‘n dodelike kwinkslag vorendag kom en/of ‘n geleentheid raaksien en daarop toeslaan.

Lees gerus die storie oor die ou hond en die jong luiperd – dit pas my definisie soos ‘n handskoen!

Die storie is in Engels, en ek was te lui om te vertaal:

An old gentleman decides to go on a hunting safari in Africa , taking his faithful, elderly Jack Russell named Killer, along for the company.

One day the old Jack Russell starts chasing rabbits and before long, discovers that he’s lost. Wandering about, he notices a leopard heading rapidly in his direction with the intention of having lunch.

The old Jack Russell thinks, “Oh, oh! I’m in deep doo-doo now!” Noticing some bones on the ground close by, he immediately settles down to chew on the bones with his back to the approaching cat. Just as the leopard is about to leap, the old Jack Russell exclaims loudly, “Boy, that was one delicious leopard! I wonder if there are any more around here?”

Hearing this, the young leopard halts his attack in mid-strike, a look of terror comes over him and he slinks away into the trees. “Whew!”, says the leopard, “That was close! That old Jack Russell nearly had me!”

Meanwhile, a monkey who had been watching the whole scene from a nearby tree, figures he can put this knowledge to good use and trade it for protection from the leopard. So off he goes, but the old Jack Russell sees him heading after the leopard with great speed, and figures that something must be up.

The monkey soon catches up with the leopard, spills the beans and strikes a deal for himself with the leopard.

The young leopard is furious at being made a fool of and says, “Here, monkey, hop on my back and see what’s going to happen to that conniving canine!”

Now, the old Jack Russell sees the leopard coming with the monkey on his back and thinks, “What am I going to do now?”, but instead of running, the dog sits down with his back to his attackers, pretending he hasn’t seen them yet, and just when they get close enough to hear, the old Jack Russell says…

“Where’s that damn monkey? I sent him off an hour ago to bring me another leopard!”

Moral of this story…..

Don’t mess with the old dogs…age and skill will always overcome youth and treachery! BS and brilliance only come with age and experience. Hoor-hoor! (HvD)

SKITTERENDE SENIOR OOMBLIKKE

Hier is nog vyf heerlike voorbeelde van “senior oomblikke” n.a.v. die Jack Russell-blog wat ‘n rukkie gelede hieronder opgesit is. Glimlag saam, almal wat al deur die grysheid bekruip word:

Een: BIELIE VAN ‘n KIELIE

Doer in die Dorsland tussen Broekafval en Gorragas staan ‘n ou boer met sy steeks perd. Die perd se baas probeer alles. Hy raas en skel. Hy trek ‘n paar skote af met sy .22. Die perd roer nie. Die son vat dooierus op die twee. Dit voel of net ‘n sifdraad daardie plek en die hel skei – boonop ‘n stukkende een vol gate.

‘n Daglank duur die staking. Toe kom ‘n meisie verby in ‘n spoggerige nuwe 4 x 4. Mooi, soos ‘n voorbladnooi. Uitgevat vir goeie ventilasie op so ‘n snikhete dag.

“Wat skort?”

Die boer verduidelik sy droewe lot.

“Toemaar,” se die meisie. Sy klim met ‘n swaailyfie uit die 4 x 4, fluister in die perd se oor, stap na sy agterkant en kielie hom waar ‘n steeks perd waarskynlik nie verwag om deur ‘n mooi meisie gekielie te word nie. Hy trek weg of hy ge-turbo is.

“Hoe op dees aarde?” vra die boer.

“My geheim,” glimlag sy liefies. “Ek weet net waar en hoe om te kielie.”

Die oom trek sy skouers reguit, en maak keel skoon. “Juffrou,” se hy, “dan moet ek jou nou vra om my ook dadelik so te kielie, want ek moet daardie verdekselse perd gaan vang!”

Twee: GELUKHOU

‘n Jong fisioterapeut speel ‘n potjie gholf en tref die balletjie skrams. Dit trek windskeef. Sy hoor ‘n man gil en storm nader. Dis ‘n ouerige gryskop heer. Hy lê met sy hande tussen sy bene en krul van die pyn.

Besorgd buk sy by hom en sê sag in sy oor: “Oom, ek is verskriklik jammer. Maar ek is ‘n fisioterapeut. As ek jou masseer, sal die pyn bedaar. Wil jy dat ek dit doen?”

“Asseblief,” knik hy.

Sy laat hom op sy rug lê, maak los wat losgemaak moet word, en begin masseer, terwyl hy doerie kant toe kyk.

“Voel jy al beter?” vra sy na ‘n rukkie.

“O, dis wonderlik,” sê hy. “Maar my duim is nog net so seer waar die bal dit getref het!”

Drie: KROKODILWATERS

Op n familiefees gaan swem die jong meisies kaalbas in die swemdam by die perskeboord. Die eienaar, redelik bejaard, stap af boord toe om te gaan perskes pluk vir sy gaste.

Die meisietjies gil, hou toe en drom in n hoekie van die dam saam. Die water raak koud. Enetjie waag dit later: “Oom, gaan jy lank bly?” Die oom: “Nee, ek voer net gou die krokodil, dan gaan ek huis toe.”

Toe sien jy net kaal lyfies soos hulle uit die water spring!

Vier: NAAKTE WAARHEID

Die bejaarderige buurman van ‘n bloedjong kat druk die voordeurklokkie pas nadat sy uit en haar man in die stort geklim het. ‘n Stryery ontstaan oor wie die deur moet gaan oopmaak. Uiteindelik gee sy bes. Sy gryp die handdoek en draf voordeur toe.

Sy maak die deur oop en daar staan hul gryse buurman, oom Arend de Waal. Voordat sy ‘n woord kan rep, sê die buurman: “Ek gee jou R500 as jy daardie handdoek laat val.”

Die jong vroutjie huiwer ‘n oomblik. Maar R500 is R500. Toe laat val sy die handdoek. Sy staan daar voor hom in haar volle jeugdige glorie. Hy versit sy bril om beter te kan sien. Toe oorhandig hy die R500 en loop weg.

Uit die veld geslaan maar baie in haar skik met die geldelike gelukkie, bedek die vrou weer haar bates met die handdoek en sit af badkamer toe.

“Wie was by die voordeur?” vra haar man uit die stort

“Dit was die oom hier langsaan.”

“Bly om te hoor,” sê haar man. “Het hy iets gesê van die R500 wat hy my skuld?”

Vyf: WINDLAWAAI

‘n Selfingenome eerstejaar-student verduidelik aan n sestig-plusser waarom die die ouer generasie nie in staat is om sy generasie te verstaan nie.

“Julle het in ‘n ander wereld grootgeword, eintlik ‘n baie primitiewe een,” deklameer hy hard genoeg sodat almal kan hoor. “Die jong mense van vandag het grootgeword met televisie, spuitvliegtuie, ruimtereise, ‘n maanlanding, kernenergie, rekenaars, selfone, en …..” Hy bly n oomblikkie stil om aan sy bier te teug.

“Jy’s reg, ou seun. Ons het nie daardie dinge gehad toe ons jonk was nie,” antwoord die 60-plusser. “Daarom het ons dit uitgevind Nou, jou arrogante klein windlawaai, wat doen julle vir die volgende generasie?”

Die applous was oorverdowend. HvD roep weer: Hoor-hoor!” (HvD)

M VIR MEYER – DEON MEYER

Hoe dieper ik poog te delven, hoe meer verderf ik ontmoet. So sprak de Hollanders mos. Oor Deon Meyer – MEESTER van die aksie- en spanningsliteratuur in Afrikaans – het ek diep gaan delf. Nie verderf het ek daar ontmoet nie, maar fassinrende feite.

Ek het o.m. ontdek watter enorme rol die letter M in sy lewe speel. Dis MERKWAARDIG.

Deon Meyer praat vanaand by ons Probusklub. Ek was een keer werklik spyt oor die uitnodiging – toe ek met die hoop stof oor die man voor my sit en besef Van Deventer dis nou jou joppie om dit tot ‘n sinryke en bondige bekendstelling te sif, maar tog een wat reg aan hom laat geskied.

‘n Mens kom te staan voor verbluffende statistieke. Ek wonder of Deon self weet in hoeveel tale sy boeke al vertaal is, hoeveel al verkoop is en watter pryse hy alles gewen het.

Ek was nie lank spyt nie. Wat ‘n boeiende oefening was dit nie!

M nommer een is vir Meyer – Deon Meyer. Ontmoet die vaal seun van Klerksdorp (gebore in die Paarl) wat ‘n Puk en ‘n Kovsie geword het, toe in die MEDIA sy loopbaan begin het as joernalis by Die Volksblad, toe skakelman was (o.m. by SANLAM), hom daarna in die NUWE MEDIA begewe het (as internet-ghoeroe), daarna sy eie onderneming NEW MEDIA DIGITAL bedryf het, daarna strategiekonsultant was en sedert 1 Januarie as heeltydse skrywer sy brood verdien.

In 2003 behaal hy ‘n M-GRAAD in Skeppende Skryfwerk by MATIES onder… wag daarvooor… MARLENE VAN NIEKERK.

Een storie uit sy jeug lui dat hy op 14 jaar sy eerste boek geskryf het en sy twee broers omgekoop het om dit te lees. Klaarblyklik was hulle nie hoogs beïndruk nie. Wie lag laaste?

‘n Tweede storie kom uit sy Volksblad-dae. Hy is gestuur vir ‘n onderhoud met De Wet Ras pas nadat Ras ten gunste van Errol Tobias oor die hoof gesien is vir die Springbokspan. Ras was woedend en het tydens die onderhoud telkens ‘n duif met ‘n windbuks omgeklits. Deon het in kleur en geur daaroor berig. Elke dooie duif was in sy storie – tot die ontsteltenis van die sportskrywers. Hulle het gevrees Ras se loopbaan is daarmee begrawe.

Wel dit was nie, en die jong Deon het hom met sy storie onderskei as begaafde joernalis. (Hy is terloops vandag nog ‘n Cheetah in murg en been.)

Die foto bo kom uit sy koerantdae. Kyk net hoe ‘n mooi oopgesig-seun was hy. Hier is hy saam met my, Tokkie en kollega Tom Ferreira by ‘n braaikompetisie in Bloemfontein seker so in 1981 rond.

Deon woon (amper incognito) hier tussen ons saam met sy vrou Anita, asook die Meyerspan Lida, Liam, Johan en Konstanz van wie drie tieners is. Oor sy vrou lap hy ‘n geheimpie uit: “Anita is die enigste wat my werk hoofstuk vir hoofstuk lees. Om te skryf, is om deel van ’n fiktiewe wêreld te wees vir ’n paar uur ’n dag. Anita is die enigste een met wie ek albei hierdie wêrelde deel. Sy is die een wat die proses minder eensaam maak.”

Melkbos figureer darem ook sy skryfwerk. In een boek (Feniks?) word ‘n man vermoor by die Kleine Zout oorkant die Ou Skip terwyl sy vrou, as ek reg onthou, vir ‘n Golden Arrowbus wag voor Ou Skip.

Die vernaamste M is misdaad. Dis sy brood en botter. Hy’t bewys “crime does pay”! Deon is nie net die meester van speur- en aksieverhale in die Afrikaanse letterkunde nie. Hy’s ook ‘n gerekende skrywer oorsee. Marita van der Vyver het hom al genoem ‘n “internasionale verskynsel”.

Feniks is bv. in Frans, Spaans, Roemeens, Duits, Nederlands, Italiaans, Tsjeggies en Bulgaars vertaal; met Orion het hy onlangs in Noorwee gedebuteer; in Duitsland en Frankryk trek sy verkope met sommige titels al oor die 50 000; in Frankryk het hy twee van die gesogste pryse vir misdaadfiksie gewen; hy is ook in Duitsland bekroon; in die VSA reel hulle vir hom outeurstoere saam met sterre soos Michael Connoly. Dan het jy in daardie groot land werklik ge-arriveer!

In SA het treffers soos Infanta, Feniks, Proteus en Orion huishoudelike name geword (ook karakters soos Bennie Griessel en al die Zatopeks). Drie ATKV-prosapryse en ‘n ATKV-draaiboekprys is deur hom ingepalm.

Die jongste uit die Meyerstal is Onsigbaar wat op die oomblik met ‘n kraglopie besig is.

Die TV-reeks Transito is van April op Kyknet te sien. Met as wegspringpunt ‘n transito-rooftog wat skeefloop, kan kykers ‘n goeie dosis aksie en spanning verwag. “Die lekkerste van hierdie reeks is dat almal, met die uitsondering van die polisieman, ‘n klomp skelms is – maar meesal is hulle dierbare skelms,” se Meyer self.

Sy vorige reeks was verlede jaar se Orion, wat geskep is van sy bekroonde boek. Daarmee het hy juis die ATKV-prys vir die beste draaiboek gewen.

Die volgende M is ‘n broem-broem-een – MOTORFIETSE!

Deon het ‘n passie vir BMW-motorfietse. Hy besit drie yslike ysters. Hy’t lank vir BMW motorfietstoere in onherbergsame kontreie gereel. Een van sy drome is om met ’n motorfiets deur Amerika en Suid-Amerika te reis.

Dan is daar MOZART. “Ek dink daar is baie meer mense wat motorfiets ry én klassieke musiek luister as wat daar oor die algemeen gedink word. Dis gekultiveerde mense wat nie drink en hulle vroue slaan, soos dikwels van motorfietsryers geglo word nie,” sê hy.

Hy voeg by: “Ek is seker as Mozart in die tyd van motorfietse geleef het, sou hy ook motorfiets gery het. En hy sou ’n BMW gery het – daarvoor kan ek jou ’n brief gee!”

Vanselfsprekend is nog een van sy drome om die Mozartfees in Salzburg by te woon – seker op ‘n BMW! (HvD)

POEF! … VAN DIE AARDBOL AF!

Die opskrif van Die Burger se hoofartikel vanoggend (Saterdag 23/2) is: ‘n Taal sterf. Ons lees in die artikel van die die taal Ejak wat op 21 Januarie gesterf het toe sy laaste moedertaalspreker, Marjorie Smith op 89 na die graf is.

Nog nooit van Ejak gehoor nie? Wel, die uwe ook nie. Nou weet ons egter dis ‘n taal wat in die suidoostelike Alaska gepraat is deur ‘n stam in ‘n gebied wat aan weerskante deur Eskimo’s en Tlingits bewoon is.

Hierdie blog handel nie oor Ejak nie – en ook nie oor die taal Catawba wat deur ‘n soortgelyke lot getref is toe sy laaste spreker, Red Thunder Cloud, ‘n Indiaanse sanger en storieverteller van Massachusetts, Amerika, ter ruste is nie.

Vir meneer Thunder Cloud se hond, Blazing Arrow, arme ding, was sy baas se heengaan, terloops, ‘n verwoestende slag. Skielik was sy lewe in ‘n Babelse chaos, want al wat hy verstaan het was opdragte in Catawba!

Maar dis ook nie oor die Blazing Arrow se droewe lot wat ek dit hier het nie. My tema is Henwi (dalk Henvi) – ‘n “taal” wat volgens oorlewering net twee sprekers gehad het (die twee jong manne op die foto). Nou in hul grysheid kan nie een ‘n snars daarvan onthou nie.

Die “taal” Henwi (Henvi) het inderdaad net …poef ..van die aardbol verdwyn!

Miskien is dit vermetel (en/of ligsinnig) om ‘n diepsinnige tema soos die heerngaan van ‘n regte, egte moedertaal as kapstok te gebruik vir my storie oor Henwi (Henvi) – en die ontsteltenis in sekere kringe oor sy spoorlose verdwyning.

Vergewe dan tog maar die vermetelheid (en/of ligsinnigheid). Na die lees van Die Burger se hoofartikel was die versoeking vir so ‘n koppeling eenvoudig net te groot.

Die Henwi(Henvi)-sage begin toe ‘n matriekmaat van 50 jaar gelede, Ferdinand Gustav Preller – nou sy edele regter G.F. Preller van Pretoria – my uit die bloute per e-pos meedeel: “Ek wonner annerdag of jy nog Henvi kan praat?”

Ek antwoord kort en kragtig: “Dit frustreer my uitermate om te moet vra, maar wat de d…. is Henvi?”

Dit is toe dat die e-posse begin vlieg.

Preller: “Ek is nie seker van die spelling nie, want dis nooit aan ons geopenbaar nie. Kan wees Henwi of Henvi, ek dag jy sou weet. Oukei, dis die geheime taal wat jy en Wiekie Moolman (my kamermaat, regs op die foto) destyds geskep het. Een van die frases wat ek nog kan onthou, was ‘onicum faco’ (aanvarende soos destyds dat die taal onder jou aanvoering losweg op Latyn gebaseer sou wees, maar die spelling kon anders gewees het.) Ek het julle dit gehoor praat, maar het nooit iets in skrif gesien nie. Onthou jy nou?”

Van Deventer: “Moet bely, as ek iets onthou, is dit bitter, bitter vaag. Deur ‘n newel.”

Preller: ” Kan jy dit regtig nie onthou nie? Ek het by die laaste re-unie die indruk gekry dat ek meer dinge as meeste van die ander ouens kan onthou, veral van wat lank gelede gebeur het. Koot (Bosman) onthou weer beter as ek wat by vorige re-unies ‘n paar jaar gelede gebeur het. Ek weet nou nie of dit goed of sleg is nie, maar ons almal se geheues werk seker maar verskillend.”

Van Deventer: “Blikskottel. Jy’t my nou skoon op hol. Ek het met persoonlike opoffering en moeite vir Wiekie Moolman aan die Suidkus opgespoor waar hy vakansie hou. Onthou hy ….? Wa..a..a.t? Hy lag. Nee hy onthou nie. Treurige verhaal: ‘n Spesiale taal wat net twee mense geken het. Nou’t albei vergeet.”

So maklik gee Preller nie bes nie. Nadat hy ook by sy kollega regter Willie Hartzenberg ‘n bloutjie geloop het, stuur hy ‘n boodskap aan die nimlike Koot Bosman en nog ‘n matriekmaat, Giel de Swardt:

” Hallo julle twee bejaardes,

“Ek skryf nou maar uit desperaatheid aan julle twee in die hoop dat die verkalking van julle breine nog nie so ver gevorder het as in die geval van Hartzenberg, Van Deventer en Moolman nie.

“Ek onthou dat Hennie en Wiekie gewerk het aan ‘n geheime taal wat net hulle twee kon praat en wat hulle Henwi (of Henvi) genoem het. Julle sal begryp dat dit tyd vat om ‘n hele taal te skep, en hulle het eintlik nooit verder gekom as enkele frases wat hulle by elke moontlike geleentheid rondgegooi het met sulke ‘knowing smiles’ as niemand anders dit verstaan nie.

“Een van die frases was ‘onicum faco’. Ek spel dit maar op zyn Latyns omdat ek aanvaar dat Die Taal onder Van D. se aanvoering min of meer op Latyn geskoei sou gewees het. Sover ek weet, was daar geen publikasies in Die Taal nie. Probleem is nou dat Van D. nou niks daarvan kan onthou nie (weens die jare se drank?) en beweer dat my navraag aan hom hoogstens ‘n paar vae rimpels veroorsaak het op die oewerlose moeras van vertwyfeling wat in die plek gekom het van sy destydse geheue.

“Hartzenberg kan niks onthou nie en Van D. het vir Moolman opgespoor waar hy aan die Suidkus vakansie hou, maar laasgenoemde lag net en onthou ook niks. Ek weet dat jy, JPB (Koot Bosman), ‘n beter herinnering het as ek van allerlei dinge wat op ons re-unies in die verlede gebeur het, maar dis waarskynlik omdat die goed wat jy onthou hoofsaaklik iets met vroue te doen het, wat baie dinge verduidelik.

“Gieljam, ek kan nie onthou hoe jy by die re-unie gevaar het in die geheue-stakes nie, maar ‘n ou wat so skoon geleef het soos jy en wat deur die jare minder liters alkohol deur jou brein laat spoel het as party van die ander onthou dalk iets.

“Laat gaan bietjie julle gedagtes wanneer julle weer ‘n nugter oomblik beleef en laat weet asb. as julle iets kan onthou. Ek stuur ook ‘n afskrif hiervan aan Jakob H. (dis nou ekke) om hom op hoogte te hou.”

Na ‘n paar dae se bars van nuuskierigheid, doen ek by Preller navraag: “Nog niks van Koot en/of Giel gehoor nie?”

Preller: “Koot ontken dat die spoeg spat. Het nog niks van Giel verneem nie en neem aan hy is besig om voltyds te peins en sy geheue te ondersoek.”

Twee dae later rapporteer hy: ” Ek het pas van Giel verneem dat hy kan onthou dat julle twee julleself ten koste van die ander vermaak het met ‘ ‘n soort ’emmertaal’ wat kinders vandag nog gebruik.

“Dit lyk ook nie of hy onthou dat dit spesifiek Henwi/Henvi was nie, maar daar is wel stawing vir my herinnering van ‘n geheime taal. Lyk dus of die ware feite (afgesien van my herinnering daarvan) vir ewig weggesink het in die sand van die tyd.

“Dink net, as ek die dag dood is, is waarskynlik niemand meer oor op aarde wat enigiets van die hele petalje onthou nie!”

Gewigtige woorde en stof tot nadenke, voorwaar. Wel, dis hierdie opmerking deur my vriend Ferdinand Gustav wat die aanknoping met Ejak en Catawba verskaf, en my vanoggend op Henwi (Henvi) se spoor gelei het.

Raai, terwyl ek skryf, was dit of iets deur die”grys newels” wou-wou deurbreek. “Onicum faco?” Klink tog bekenderig, of verbeel ek my nou? (HvD)

DANKIE VIR DIE LUISTER

Agter elke man is ‘n vrou. Hier – op spesiale versoek – is die vyf vroue wat Dinsdag by die HvD10-herdenking op Melkbos saam aangesit het.

Van links is Anet Pienaar-Vosloo, Bessie Raubenheimer, Lisa de Swardt (na wie ‘n lekker Akkerdraaise boetiekwyn nou heet). Tokkie van Deventer en Sannie Wiese.

Dankie, dames na wie ons luister, dat julle die geleentheid so opgeluister het!

Die storie van die luisterryke saamkuier en ‘n foto van die eggenote verskyn direk hieronder in die volgende blog (HvD).