Inhoud

Entry for January 21, 2008

INHOUD

Webjoernale (blogs) het die laaste paar dae kort op mekaar se hakke gevolg.

Hier is die jongste vier:

21 Januarie: Neem Ta’ Hessie se wit perd gerus maar met ‘n blokkie ys. Gesondheid op ‘n stout kleuterliedjie!

20 Januarie: Stampe en stote van ‘n redakteur in die 80’s – HvD se voorlegging aan die WVK.

19 Januarie: Groot ure langs Buffelsbaai se (soms maar sukkelende) vure – ‘n nostalgiese terugblik op ons idilliese vakansieplek vir meer as twee dekades (en die verhaal van die blondine, die Old Brown-sjerrie en ‘n “baaisiekel”.)

20 Januarie: Die Toring van Pisa – of van Pissa? Verknoeide name – ‘n doodsonde!

(Sulke “inhoudsopgawes” sal voortaan van tyd tot tyd verskyn om lesers hul weg deur HvD se blogs te help vind. Welkom hier!)

Sapaverslag

Ek lees vanmiddag weer op die internet ‘n Sapaverslag raak van my persoonlike voorlegging aan die Waarheids- en Versoeningskommissie tien jaar gelede.

Niks in daardie voorlegging is melodrama of ter wille van sensasie of gewoon onwaar nie.

Dit is hoekom ek so driftig raak as kabouters wat niks van daardie tyd weet of wil weet nie hulle teen die redakteursgeslag van die jare 80 wip.

Hier is die skakel na daardie Sapaverslag:

http://www.doj.gov.za/trc/media/1997/9707/s970703a.htm

Wederom

HvD

More uit Melkbos

Iets wat by die koerant van die eerste dag af by my ingedril is, is om respek te hê vir mense se name. Dieselfde geld vir hul adresse. Jy maak dubbel seker. ‘n Fout is onvergeeflik.

‘n Vriendin wat ook joernalis was, Rina Koen van Langebaan, onthou as iemand sê haar naam is Anna, het sy altyd gevra: “Anna met twee n’s of een n?”

Ek dink daaraan toe ek van die oulike Melanie Viljoen van die De Doorns-wynkelder – sy is ‘n doring met die bemarking van De Doorns! – ‘n e-possie kry oor hoe haar nuwe selfoon by haar afgelewer is. Op die registrasievorm het gestaan: De Doorings Wynkelner, Heksrivier Vally

Sy het vooraf verduidelik dat die De Doorns- Wynhuis op die hoek van die N1 en Voortrekkerstraat geleë is. By die De Doorns-afdraai, is ‘n klein Kaaps-Hollandse geboutjie met die Info-teken op die gewel. Dit is waar sy werksaam is; waar sy opgespoor kan word.

Die fisieke adres op die koerier se vorm het gelees:

OPIGEWEL WYNHUIS
OP DIE HOEK N1 EN VOORTRE
DE DOORNS
6875

Gelukkig, skryf sy lakonies, is haar naam ten minste reg gespel. Nie ‘Mylani’ soos sy verwag het nie!

Ek is gewoond om as Van de Venter aangespreek te word, al is ek g’n Venter nie. Die Deventer kom van die stadjie Deventer in die provinsie (provincie) Overijssel in Nederland (sien foto). Ook die Van de Venters is dus eintlik Van Deventers.

Op skool het ‘n matrone altyd (winter of somer) vir my ‘n boodskappie oor die een of ander slordigheid gelos: Van D. Winter.

Op 10 April 2002 het ek ‘n brief van Bybelkor ontvang. Dit was koelbloedig gerig aan “Geagte Mnr. Van Deventer ‘Pens'”. Waarop ek toe aan ds. Hans Linde, Uitvoerende Direkteur, terugskryf: ” U skryf aan my as ….’Pens’. Ek kan kategories stel dat ‘Pens’ (met of sonder aanhalingstekens) nooit deel van my van was nie. Ek is ook onbewus van so ‘n bynaam, hoewel dit uit ‘n fisieke hoek nie misplaas sou wees nie.”

Die liewe ds. Linde skryf toe in alle erns terug: Die vlaggie ‘Pens’ verskyn agter meer as een naam op ‘n adreslys wat van ‘n ander instansie ontvang is. Hy vermoed dat dit ‘n aanduiding is dat die betrokke persoon ‘n pensioentrekker is.

Inderdaad, ds. Linde, inderdaad! So was dit op Huisgenoot se adreslys wat daardie vabonde blykbaar aan die kerk staan en verkoop het. En dis reg: Die vlaggie ‘Pens’ beteken pensioentrekker. Maar ek was darem nie regtig omgekrap nie.

Tokkie se naam skep ook soms probleme. Een dag bel sy ‘n vriend in Durban om te verneem na die welstand van sy vrou, ernstig siek aan kanker. Toe sy se Tokkie, roep hy ontsteld uit: “Dokkie, dokkie, my vrou is nou net oorlede.” Sy was wit in die gesig.

Ek het al briewe ontvang gerig aan dr. Van Deventer. Dan was dit die naam Tokkie oor die telefoon wat vir die misverstand oor my status verantwoordelik was. Tokkie van Deventer het geklink soos doktor (of dokter) Van Deventer.

‘n Joernalis by The Friend in Bloemfontein, Roland Solomon, kon om die dood nie onthou haar naam is Tokkie nie. Hy het haar altyd Klokkie genoem. Klokkie – dit was vir my nogal oulik.

Ons dogter is Marisa met ‘n s. Dit word Mariesa uitgespreek. Ons skoondogter is Mariza met ‘n z. Sy is bekend as Marissa. Fyntrap, hoor, fyntrap!

Tot al op hoerskool het die onderwysers vir Marisa ge-Marissa. Sy was raadop. Toe raai ek haar aan: Se vir hulle dis die Toring van Pisa nie die Toring van Pissa nie. Pisa, Pissa …. daarna het hulle onthou! (HvD)

More uit Melkbos

Soms kom uit onverwagte oord ‘n prikkel wat die sluise van herinneringe volstoom ooptrek. Vanoggend se Eiendomme-bylae tot Die Burger was so ‘n prikkel uit die bloute.

Heerlike herinneringe is aangewakker. Ek het boonop na ou foto-albums gegryp, ‘n versie opgediep wat ek jare gelede geskryf het, en my in my bosboek Buurman van die Wildtuin rondgeblaai – spesifiek die hoofstuk op bl. 84 met die opskrif Vuurplesier.

Buffelsbaai praat al sedert sesuur vanoggend kliphard met my – alles weens die foto (hierbo) uit ‘n ongewone hoek van daardie seer geliefde stukkie Suid-Kaap waar die Van Deventers van 1972 tot met hul koms Kaap toe 20 jaar later, en daarna nog ‘n paar keer, onvergeetlik vakansie gehou het.

Die foto van die seekant af – d.w.s. seker van ‘n bootjie af geneem – versier die bylae se buiteblad. Heel links onder steek ‘n piepklein stukkie uit van Kop-bo-Water – prof. Bethel Muller van Stellenbosch se wit huis met die blou dak, wat die wondere van Buffelsbaai vir ons ontsluit het. Net regs van hom, die donkergeel huis, is Kammarus. Dit het behoort aan prof. Vaatjie du Toit, in lewe ginekoloog van Bloemfontein en later dekaan van Matiese se mediese fakulteit, en sy vrou, Lida. Weens logistieke redes het ons in ‘n stadium Kop-bo-Water vir Kammarus verruil.

Marisa was nog nie gebore nie toe ons die eerste jare Kop-bo-Water toe is. Johan was ‘n baba. Ons pak albums van daardie jare vertel ‘n storie van die kinders se grootword. Op letterlike honderde foto’s van luilekker uurtjies op die strand, vuurtjies, sonsondergange, wandelinge, stormsee en wat nog kan jy die babatjies sien uitrank tot jong mense … en die paartjie, Hennie en Tokkie, eers bloedjonk, stelselmatig sien ouer en ouer word.

By daardie twee strandhuise, wat ons soos ons eie gekoester het, het ons heerlik saam met vriende gekuier – en, gelukkig, ook dikwels saam met ons ouers. Toe Pa Malan sterwende was aan kanker, was Buffelsbaai die bestemming van sy heel laaste vakansie. Hy was broos en Ma het om hom gekloek. Die laaste dag het hy haar ontglip. die skuifdeur stilletjies soos ‘n stout kind oopgestoot, op die dek gaan staan en behaaglik die vars, sout seelug ingeadem. Sy oe het geblink – vir oulaas.

Ek onthou hoe teleurgesteld ons was toe wyle Walter Muller, prof. Bethel se wewenaar-oom. ons in Februarie 1972 die eerste keer Kop-bo-Water toe bring. So eenkant!

Ons was jonk en naief, en het geglo jy moet op die swemstrand wees om behoorlik vakansie te hou. Later het ons ontdek daardie eenkant strandjie – destyds politiek inkorrek (en onnodig onvriendelik) bekend as Meidebaai – is ‘n plek vir engele. Dis soos ‘n eie private strandjie. Eksklusief joune. Dis naby aan die hemel.

(Die M-woord kom van die huishulpe, kinder-oppassers en dies meer wat saam uit die binneland kom vakansie hou het. Dis waarheen hulle in los tydjies ontsnap het om geselskap op te soek.)

Van engele gepraat. Dit bring my by die versie waarna ek hierbo verwys. Verskillende weergawes bestaan, met onder meer ook ons eie huidige twee plekke van melk en heuning, Melkbosstrand en Sabiepark, daarin verewig. Die oorspronklike was egter oor Buffelsbaai. Die muse het my een oggend gepak na ‘n wandeling Brenton-on-Sea se kant toe.

Die titel is Hemel en dit lui soos volg:

Die trein stoom in
by die stasie Hemel:
dis berg, see en sand,
’n bonte mensegewemel;
‘n engel knik goedig –
“Oom’t reg geraai,
die hemel is nes Buffelsbaai.”

Vir Buurman van die Wildtuin het ek van die rak gaan afhaal om met ‘n wrang glimlag die volgende paragrafie te soek: ” Sy (dis nou my vrou, Tokkie) weet hoe rou haar man se ego is oor die dae (gelukkig ver-ver in die verre verlede) toe skoonma Marietjie van Wyk meer as een aand op Buffelsbaai ‘n papierbord moes staan en waai en waai om ‘n trae Van Deventervuurtjie ‘n bietjie aan te wakker!” (bl. 90)

Ja, die onhandige gesukkel om soms in die seebriesie ‘n vleisie gebraai te kry, is deel van ons skat van Buffelsbaai- herinneringe. (Tokkie beweer dit was nie onhandigheid nie, maar eenhandigheid. In die een hand was konstant ‘n glasie!)

Na die braai is in die donker straatjies gestap en daarna by lamplig Monopoly of kaart gespeel. Ek was ‘n kranige versamelaar van Monopoly-eiendom. Dit was voor TV. Dit was trouens voor enige vorm van elektrisiteit op daardie idilliese kusdorpie. Die enigste liggies op Buffelsbaai was lampe (gas of lampolie) en flikkerende kerse.

Ons herinneringe is oorheersend welaangenaam. Een lei egter die gedagtes terug na die middag van die Groot Skrik toe ‘n reuse-fratsbrander skielik bo -oor die hoe preekstoelrots voor Kop-bo-Water breek en opdrifsels tot teenaan ons voordeur aanspoel.

Tokkie sien ‘n swart plastieksak in die skuimende water dobber en dink dis Johan se baadjie. Sy storm onstuitbaar die see in…. Gelukkig kon die bure vinnig gerus stel: die kinders is veilig. Hulle is skaars ‘n minuut voor die fratsbrander in ‘n ander rigting.

Om Buffelsbaai binne te ry, was net een keer sonder ‘n lied in die hart. Ons is die Sondagmiddag weg Bloemfontein toe na ‘n laaste braai en ‘n vinnige ogies toemaak. Op pad van Knysna Uniondale toe – ek was lief vir daardie ongelooflike mooi roete deur die bos en oor die berg – ry ek by Diepwalle met my sjampanjekleurige Audi 200 van die pad af. Skoonma Marietjie se voorkop bloei kwaai. Tokkie, die bloeiende ouma en die twee kinders kry ‘n geleentheid op ‘n oop klein bakkie terug Buffelsbaai toe. Ek sit eensaam en alleen vir die noodvoertuig en wag, en kom laataand eers tuis – stukkend oor my mooi kar (wat afgeskryf is).

My kollega Johan van Wyk van Stop van Mynefaam het oor Buffelsbaai ‘n mooi grappie vertel wat ek nou nog soms met sukses aanhaal. Volgens hom het jy drie dinge nodig gehad vir ‘n wintervakansie op Buffelsbaai. Dis ‘n blondine, ‘n bottel Old Brown-sjerrie en ‘n “baaisiekel”. Vra jy hom: “En die baaisiekel dan?” was sy antwoord: “Om die blondine te stuur om nog Old Brown-sjerrie te gaan haal as dit opraak!”

Deesdae kom ek maar min op Buffelsbaai, maar in 2008 MOET ek weer ‘n slag daar langs ry. Dit sal voedsel wees vir die siel.

Ironies genoeg is die opskrif op Die Burger se Eiendommebylae by die skilderagtige Buffelsbaaifoto: Kuseiendom verloor sy glans. Nooit! Buffelsbaai sal nooit sy glans vir hierdie verslaafde verloor nie. (HvD)

Ongepubliseerde brief

Slaan maar oor, slaan maar oor as die Sage van die Ongepubliseerde Brief jou al ‘n pyn gee op ‘n plek wat in ‘n ordentlike webjoernaal net onder die uiterste provokasie by sy kort naam in plat Afrikaans genoem word.

Moet darem net die volgende ontwikkelinge rapporteer:

(i) Nadat sienswyses oor-en-weer in e-posse uitgeruil is, het ek en Liza Albreht, Redakteur van By, akkoord bereik oor Saterdag se hantering van my repliek in By. Liza is ‘n oulike meisie met ‘n verfrissende benadering van: erken jou foute en stel dit reg.

(ii) Volksblad het vandag my eerste brief gepubliseer – wel taamlik mosterd na die maal nadat die reaksies Saterdag al sy lesers met tsoenamigeweld getref het, maar darem ook met ‘n aanvaarbare verduideliking hoe die vurk in die hef steek. Die brief is as hoofbrief geplaas (foto hierbo) wat natuurlik niks minder as reg is nie. Verligte Afrikaner se frontaanval op die uwe was immers Saterdag in By oor die breedte van die blad bo-aan bladsy twee gepleister met die nogal smalende opskrif: Nee, vriend, Hennie, jy was mos nie Max du Preez nie!

Asof Max se klein blaadjie met sy beperkte sirkulasie van plus-minus 5 000 per week nou waarlik op pad na ‘n nuwe bedeling die brug sou laat bewe het – maar dis ‘n ander storie.

Iets wat in hierdie dae tot my deurgedring het, is dat bloedmin van die koerantgeskiedenis van die jare na 80 in boeke opgeteken is. Dis ‘n leemte, en selfs gerekende geskiedskrywers soos Giliomee en Mbenga het as gevolg daarvan in ‘n slaggat getrap.

My eie Kroniek van ‘n Koerantman is al lank uit druk. Maar hy’s darem in heelparty biblioteke op die rak en staan ook in die Navorsingsentrum van die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument.

Niks wat in daardie boekie staan, is nie die waarheid nie – al se die “Verligte Afrikaners” van die huidige generasie nou ook wat. Glo my maar, daardie kroniek is so juis as kan kom.

Maar wag, ek het my voorgeneem om nie weer onnodig opgewonde te raak nie. Na al die bakleiery van die laaste paar dae gaan ek en Tokkie liewer netnou fliek: Edith Piaf se La Vie en Rose in die Cinema Nouveau by die Waterkant. Die Mossie van Parys – ek is mal oor haar, veral oor Milord en Les Trois Cloches (die drie klokke). Dis op ‘n langspeler wat Jan-Jakob de Jager vir my en Tokkie as trougeskenk gegee het.

Hommage a Piaf – ai, hier sak die nostalgie weer op die ou gryse toe soos digte mis… (HvD)