LUIPERD OP MY STOEP!

Lig daardie luiperd se stert en kielie hom saggies met ‘n takkie gwarriebos of huilboom. Jy sal vinnig agterkom dat hy nie uit ‘n soliede stuk rooiboswilg gekerf is deur die een of ander soeweniersmous op die pad tussen Hazyiew en die Krugerhek van die Wildtuin nie.

Nee, daardie kalant is die Ware Jakob. Vlees. bloed en naels. Hy is enkele dae gelede deur Gait-Jan Sterk van Sabiepark afgeneem voor Fickie Visagie van Bloemfontein se boshuis, nommer 97 in Maroelalaan. Helderoordag. Omstreeks 15:00.

Natuurlik is Fickie opgewonde soos ‘n kind. ‘n Luiperd op jou stoep! Dis ‘n Sabiepark-vreugde soos min, en jy kan maar weet daardie foto gaan prominent in die Visagies se voorkamer ‘n ereplek kry. Daarvoor sal Andre sorg. Sy is die ene in die Visagie-huis vir die rame, foto’s en ander muurversierings eie aan die bos.

Ek is ook opgewonde. Het gister vir Fickie laat weet: “Dis die hele Sabieparkstorie op een foto.” Daar woon ons mos sonder heinings. Die wild loop soos hulle wil tussen ons huise en kom soek gereeld iets vir die dors in die watergate by ons voordeure. Soms ook ‘n verdwaalde lid van die Vyf Grotes.

In ons huis, Tarlehoet, hang byvoorbeeld twee foto’s van ‘n olifant met ons swembadjie en watergat op die voorgrond. Dit was ‘n keer toe die skokdraad deur vloedwater meegesleur is.

Oor Sabiepark se luiperds hang iets mistieks. Hulle hou van die plek, want die volop wild is ideaal vir jag; vars water is maklik bekombaar en die veld is lekker ruig. Bedags is daar oorgenoeg skuilplek.

Jy weet hulle is daar. Jy sien hul spore in die los sand of rondom karkasse as een die lastige hienas voorspring. In Augustus het ‘n honger luiperd ‘n dragtige koedoekoei platgetrek in die Amazinispruit. Maar die meeste Sabieparkers het nog nooit een op hul werf gehad (gesien) nie. En luiperdfoto’s is skaars.

Ek kan vinnig dink aan ‘n stuk of ses ander Sabiepark-luiperdfoto’s. Een is presies om 17:45 op 19 Julie 2000 gekiek. Met my Canon EOS 500 wat toe nog my numero uno was (voor die digitale era). Ek en Tokkie was in die Honda CR-V op pad huis toe van die piekniekplek af. In die driffie in Wildevylaan stap ta toe ewe doodluiters voor die Honda se kopligte in. Boeta, jy’t net sien kameras flits, want langs my was Tokkie ewe bedrywig met haar mik-en-drukkie. Ons het pragfoto’s gekry.

Skoondogter Mariza het een aand na n “nagrit” ‘n luiperd afgeneem wat van ons lapa af wegblits toe hy die motor hoor aankom. Jy kan darem sien dis ‘n luiperd, maar sowel dier as fotograaf was klaarblyklik haastig!

‘n Keer het ‘n bouer ‘n ou gekry wat klaarblyklik op ons stoep geslaap het toe hy met sy span opdaag vir ‘n werkie. Maar met troffels kan jy nie foto’s neem nie!

Twee, drie ander kere dat Tarlehoet bevoorreg was om luiperd-besoek te ontvang, was die betrokke fotograaf – een keer die uwe , een keer Tokkie – te stadig. Die eerste keer was toe ons tien jaar gelede besig was om in te trek. Ek het my boeglam geskrik. ‘n Gevaarlike roofdier op my werf, verbeel jou! En daar sit ons sonder enige beskerming!

Lang storie – maar nou weet julle: so ‘n luiperdfoto soos die Visagies nou mee kan spog, is werklik besonders. Dit het trofeewaarde,boeta. Dit gee elkeen met ‘n kamera ook weer ‘n nuwe uitdaging. Julle sal sien hoe waaksaam en oorgehaal stap Van Deventer deur Sabiepark wanneer ons in Maart ons verbintenis van tien jaar gaan vier. Maar daaroor vertel ek later.

Dat die ou juis by die Visagiehuis afgeneem is, is vir my ‘n ekstra lekkerte. Vir daardie huis het ek ‘n warm gevoel in die hart, want dit is die huis waar ons op 1 Julie 1988 – amper 20 jaar gelede – die eerste keer in Sabiepark oornag het. Die lig in die voorhuis is direk aan die kombi se battery gekoppel – ‘n operasie waarmee Ouma (nou 94) haar onhandige skoonseun moes bystaan.

Die Visagies was so gasvry om hul boshuis aan te bied. Wat ‘n ervaring was dit nie om die eerste keer met so ‘n private natuurreservaat kennis te maak waar die wild so naby jou kom dat jy amper daaraan kan vat. By die tennisbaan was buffels. Ek onthou hoe’t hul koppe met die swaar horings links en regs geswaai soos hulle die vlug van die bal oor die net volg. Nes die skare by Wimbledon of Roland Garosse.

Ai, ek het daardie eerste keer al gedink Sabiepark is wonderlik. Maar ek het nooit besef dat ek tien jaar later self die trotse besitter van ‘n eiendom daar sou word nie. Nou is ek in die bevoorregte posisie om die wonderlikheid twee, drie keer per jaar te gaan geniet.

Die wonderlikheid hou net nie op nie – soos nou weer die luiperd op jou vriende se stoep. (HvD)

LEES OOK OP HIERDIE BLOG:

• Eskom en die drie beertjies
• HvD en Bles – onwaarskynlik tweemanskap
• Hessie se wit perd – met ys, asseblief!

PAP VERSKONING

Hoe meer jy ons hamer, des te meer kom ons humor na vore. Dis nou maar wors van ons ouens hier in Zumaland.

Vat nou weer die kragkrisis. Dis geen grap nie. Spitsvondighede en kwinkslae reen nietemin op ons uit alle oorde: in die koerante, per sms, per e-pos…

Een van my gunstelinge is die volgende:

DIE STORIE VAN DIE 3 BEERTJIES

Bababeer sit in sy klein stoeltjie by die tafel, en kyk na sy klein papbordjie. . . . .

“Wie’t my pappies geëet?” vra hy. . .

Pappabeer kyk na sy groot papbord. . . .

“Wie de duiwel het my pap geëeet?” vra hy . . . .

Mammabeer se kop verskyn om die kombuisdeur. . . . . . .

“EK HET NOG NIE DIE PAP GEMAAK NIE WANT …….DIE BLERRIE KRAG IS WEER AF!

Die kerskrag-embleem hierbo is met komplimente van Finweek. Punte vir die vindingryke ontwerper! Geniet ook Fred Mouton se spotprent vanoggend in Die Burger.

Terloops, ek lees juis in Die Burger vanoggend twee botsende beskouings oor 2010. Op die Brieweblad skryf Adelbert Scholtz: “Hoewel ons nou swaarkry, baie verliese ly en selfs 2010 se sokkerfees aan ‘n ander land sal moet afgee….”

Op ‘n nuusblad is ‘n ANC-LP egter vol moed dat 2010 sal voortgaan. Hy het, trouens,’n lekker plan hoe om nog ‘n groter sukses daavan te maak: Wettig prostitusie.

Dalk steek iets in daardie meneer se idee.

As ‘n mens nie omgee om jou tale te meng nie, sou jy kon se: dis dalk Bafana Bafana se enigste manier om te “score”…

Verkies jy suiwerder Afrikaans, soos die uwe, sou jy dit so kon stel” Dan het Bafana Bafana darem ook ‘n kans om die verdediging te penetreer!

Laduma! (HvD)

‘N BLES VAN ‘N ANDER KLEUR

‘n Assosiasie met Bles Bridges is in my eie gemoed, om dit sag te stel, wel….onwaarskynlik. Ek sing nie, ek speel nie kitaar nie, ek deel nie bosse rooi rose uit om vroue se harte te verower nie. Tog loop ek vanoggend in ‘n los uurtjie op die internet op Google presies so ‘n vreemde verbintenis raak. Hierbo is die bewys.

Soek Bles, dan kry jy Hennie!

Die raaiselagtige rede is klaarblyklik ‘n versie wat ek in September 2007 vir ons matriekklas (Volkies, Potchefstroom, 1957) se re-unieblaadjie geskryf het. Daarin kom die strofe voor:

Al is ons grys of bles of doof of krom,
party selfs dom van ouderdom;
in ons harte brand ‘n vuur:
‘n brokkie van ons harte bly hier.”

Bles (in die sin van ‘n kop met n kaal kol) is gelyk aan Bles (die verongelukte Afrikaanse minnesanger) – QED. So werk rekenaartaal mos nou maar!

Dit is nogal amusanterig.

Minder amusant is om die volgende geradbraakte Engels – erger as sms-taal! – onder jou naam op die net raak te loop:

“Die kinders come from Sabiepark back with photos soos hierdie. Maandagamiddag braai Johan vir hulle ‘n last worsie by which piekniekplek. Toe’s olifante skielik soos’ n tampans ‘n hoender necessarily back.”

‘Bles’ my soul! Dis een van daardie gruwelike “outomatiese” vertalings, maar dis veel erger as wat ek ooit vermoed het moontlik kan wees. Hoop maar van harte nie een van my Engelse vriende lees dit raak nie. Ek is juis in van hul oe ietwat oordrewe in my besorgdheid oor korrekte Afrikaans. En dan is ek om alles te kroon klaarblyklik wat hul taal betref, ‘n absolute ignoramus!

Onskuldig, vriende, onskuldig! Moenie skiet nie, dis ons mense!

‘n Derde verrassende/ontnugterende ontdekking van ‘n HvD-teenwoordigheid op die internet kon ook gerus maar gebly het. Ek loop dit raak in ‘n proto-weergawe van die ongepubliseerde “Dagboek van ‘n wit terroris” van Andries Kriel – die ver-regse wat my lewe in die jare 80 by Die Volksblad so vergal het met doodsdreigemente en nog wat.

Hy skryf (onder die naam Jopie Fourie nogal) oor die “drang” wat hom gepak het om Die Volksblad se gebou af te brand, en hoe hy destyds ‘n woonstel regoor die koerant se gebou gehuur het om die “ou spul penkonkelaars” van daar af te teister. Toe hy op ‘n keer in die koerant skryf dat hy so naby woon dat hy “op sy dak kan spoeg as hy kwaad”, was die vet in die vuur en is hy deur die Veiligheidspolisie ingetrek.

Hy vervolg op die webblad van die Boerevryheid Forum (sic):

”Bogemelde gebeure word breedvoerig deur Van Deventer beskryf in sy boek “Kroniek van ‘n Koerantman” wat hy na sy aftrede geskryf het. Sy boek is nog steeds net so arrogant as wat sy joernalistieke styl was. Wat my verbaas is dat hy in die boek spog oor sy gekonkel teen sy volk en nie skroom om dit te openbaar nie. Daar is ‘n ou spreekwoord in Afrikaans wat lui dat indien ‘n mens ‘n leuen lank genoeg sou verkondig die leuens later deur die leuenaar geglo word. Dit is die enigste verduideliking wat ek in my gemoed kon vind vir die feit dat Van Deventer nie geskroom het om sy gekonkel in sy boek te openbaar nie. Ek moet in alle eerlikheid erken dat ek vandag nie spyt is oor die feit dat ek hierdie persoon oor ‘n lang tydperk geteister en baie slapelose nagte besorg het, soos hy dan ook in sy boek rapporteer. Hennie van Deventer het vandag afgetree en voer ‘n luukse bestaan uit die Judasloon wat hy oor die jare vergader het. Hy moet egter weet dat hy eendag voor die Groot Regter verantwoording sal doen vir sy aandeel in die tragedie waarin hy en sy trawante hierdie land wat God aan ons toevertrou het gedompel het. As hy egter weer my pad moet kruis en in my volk se pad na vryheid staan, sal ek hom aanvat sonder om ‘n oog te knip.”

Ek is darem bly Dries (Jopie) woon nie nou meer hier reg oorkant my waar ek – darem meer beskeie as wat hy beskryf – my “Judasloon” geniet nie. Ek sou ietwat ongemaklik voel met so ‘n vyandige ou “naby genoeg om op my dak te spoeg as hy kwaad word”! (HvD )

VORIGE BLOG: ‘N VUIL STREEP DEUR ‘N SKOONDOGTER

Lees ook hier:

Buffelsbaai, die blondine en die baaisiekel.

Nie die Toring van Pissa nie.

‘N VUIL STREEP DEUR ‘N SKOONDOGTER!

Skoonmagrappe is in die Van Deventer-huis skaars. Tokkie is sensitief oor die onderwerp omdat sy self ‘n skoonma is. In my graparsenaal is skoonmagrappe dun gesaai, vir die eenvoudige waarheid dat my skoonma geen stereotipe draak is nie.

Ouma Marietjie laat my dink aan die dae her toe die pater familias baas en almal aan hom onderhorig was – van vrou en slaaf tot bees en skaap. Sy sou gemaklik in so ‘n leefstyl inglip.

In die boek Esther lees ek juis gisteraand weer van die Persiese koning Ahasveros en die hele moles toe koningin Vasti teen hom gerebelleer het. Die vrees het deur sy koninkryk versprei soos ‘n Laevelde veldbrand: nou gaan alle vrou die juk afwerp. Dis nie Ouma se styl nie, dag ek toe by myselwers.

Haar groot sonde is dat sy TE nederig en onderdanig is.

Boonop kon sy op haar dag kook, hoor! Haar pampoen (waarvan ek as jong man niks gehou het nie) het vir my gesmaak soos patats (waarna ek gek was). En dan miskien haar grootste bate: sy het dadelik in die nuwe vryer van haar jongste kind, Tokkie, iets positiefs raakgesien, al was hy koerantman – ‘n verdagte spesie onder Bultfontein se goeie Christenmense. ‘n Vrou met insig en ‘n gesonde oordeel derhalwe!

Nietemin, ander ouens kan ‘n aand lank skoonmagrappe aframmel en hulle oorhoeks daaroor lag. Soos ek hierbo gemeld het, staan ek dan met ‘n bek vol tande. Net twee skoonmastories duik vinnig by my op.

Die een behels die vraag: wat beteken gemengde gevoelens. Die antwoord: dis as jou skoonma in jou nuwe Mercedes oor die afgrond stort.

Die ander is van die seuntjie wat vir Ouma aan moederskant vertroulik in die oor fluister hoe bly hy is sy’t kom kuier. Nou gaan Pappie ‘n toertjie doen wat hy nog nooit gesien het nie. “Wat is dit, my kind?” “Ouma, Pappa het vir Mamma gese as Ouma weer kom kuier, klim hy teen die mure uit!”

Eintlik is my tema vandag egter nie skoonmoeders nie – dis skoondogters. En Mariza kan maar lees – dis nie vir haar wat ek onder skoot het nie!

My teksvers is ‘n lesersbrief in Huisgenoot – nogal die wenbrief, grote genade! – waarin ‘n anonieme skoondogter van Limpopo kla haar skoonfamilie is seker die swartgalligste mense wat sy ken. Hulle kla oor absoluut alles. Die invloed op hul tienjarige kind (wat soos ‘n spons is) is iets ysliks. Hy se al: “Mamma, ek bly eerder by die huis. Oupa moan net.”

Tokkie bring die briefie onder my aandag met ‘n onrein motief. Sy vind my op daardie oomblik buitengewoon swartgallig oor die ou mensdom in die algemeen – die media en Eskom in die besonder.

Ek reageer egter of ‘n slag my gepik het. ‘n Blerrie skoondogter wat Skoonpa en Skooma in Huisgenoot gaan aankla – dan wen sy nog R100 vir daardie stukkie onderduimsheid, omdat haar bedenklike skindery onverklaarbaar tot wenbrief bekroon is!

Tokkie stem uiteindelik in: ja, om Huisgenoot toe te hardloop, was nou nou so mooi nie, maar die skoondogter maak tog ‘n goeie punt. ‘n Mens (lees HvD) moenie so negatief wees nie.

Ek hou vol: die merrie kort ‘n skop op haar stert wat sy nie gou sal vergeet nie. Haar optrede is laakbaar. Dink net wat daardie “verwerplike” Oupa en Ouma dalk nie alles vir haar, haar man en hul gesinnetjie beteken het nie. Maar dan steek sy goedsmoeds ‘n dolk in hul rug.

‘n Amerikaanse vriend vertel sy pa het hom gewaarsku: ek kan jou nie dwing om te doen wat ek se nie, maar ek kan jou baie spyt maak dat jy dit nie gedoen het nie!”

So voel ek oor daardie dislojale skoondogter van Limpopo. As sy myne was sou ek haar baie spyt gemaak het dat sy so voortvarend was om vir Huisgenoot te skryf.

Miskien is die finale slotsom is dat ek my sterre moet dank oor skoonfamilie – skoonma, skoonseun, skoondogter – wat my nie sulke vuil strepe trek nie. (HvD)

VORIGE BLOG (HIERONDER): TA’ HESSIE SE WITPERD MAAK DIE HELE WERELD REG!

More uit Melkbos

En hierdie stuitigheid nou? So kan lesers van hierdie webjoernaal wel wonder na aanleiding van die bottel White Horse langs ‘n CD met die onskuldige naam Strykers vir Snuiters.

Die bietjie pret het sy oorsprong op Die Burger se boekeblad vanoggend; in die rubriek Flapteks waarin Hennie Aucamp onderhoudend oor volksryme skryf: Tant Grietjie Donderbos se dinge, Jan Koekepan wat gaan trou met die “stompstertvrou”, Tant Hessie se wit perd, en dies meer.

Dis juis by laasgenoemde dat die aanknoping gevind word. Aucamp skryf dat “wit perd” vir hom die sleutel tot hierdie bekende volksliedjie is, en dat Koos Human (oud-kollega) sy teorie in onlangse tye in ‘n artikel oor whisky onderskryf het.

Luister maar net weer na die bekende woorde:

Julle maak verniet
ou Hessie se wit perd sleg,
ou Hessie se wit perd maak
die hele wereld reg.

“Vir die vromes en geheelonthouers,” skryf Aucamp dan, “is White Horse-whisky ‘n euwel; vir ander weer, die drinkebroers, is White Horse ‘n beproefde “regmakertjie” en ou Hessie se kroeg of sjebien ‘n ware toeverlaat.”

Nou bid jou dit aan! Net gisteraand sit die tweeling-kleinkinders, Jacob en Thomas, Oupa se skoot vol terwyl hulle oortjies gespits luister na Christa Steyn se oulike Strykers-vir-Snuiters-CD. Hessie se wit perd is een van hul gunstelinge. Vanoggend moet ek ontdek dis ter verheerliking van ‘n Skotse watertjie!

So lei ‘n mens soms die kleingoed in totale onskuld op die verkeerde wee.

Ek tik toe “White Horse” in en gaan op Google op ‘n eie swerftog om die oorsprong van die naam White Horse-whisky vas te stel. My ontdekking oor Ta’ Hessie se wit perd (met ‘n blokkie eisj, ja) was nie die enigste verrassing van die oggend nie!

Nog ‘n wit-perd-liedjie waarop ek afkom, is klaarblyklik ‘n internasionale meneer met vertalings in seker nie minder nie as ‘n dosyn tale, o.m. Russies en Chinees. Vir die pret plaas ek hier die Nederlandse weergawe:

Als u wilt rijden
Don `t witte paard rijden
Als u wilt rijden
Don `t witte paard rijden

White Horse, White Horse, wit paard, wit paard, wit paard
Als u wilt worden rijke
Je hebt als een bitch
Als u wilt rijden
Don `t witte paard rijden

Als u wilt rijden
Don `t witte paard rijden
White Horse, White Horse, wit paard, wit paard, wit paard….

Al die subtiliteite en subtekste van hierdie liedjie snap dienswillig die uwe klaarblyklik nie, maar een “sleutel” – om Aucamp aan te haal – is gewis die woordjies rijk en bitch. In Engels rym die twee mos mooi: Rich bitch.

Tokkie is jare her deur ‘n gewapende Vrystaatse Goudvelder dusdanig aangespreek in ‘n woordestryd oor ‘n parkeerplek (nogal langs die Tweetoringkerk) in Bloemfontein. My robynrooi Mercedes Sportline met die Kaapse nommer het hom klaarblyklik daardie etiket om my onthutste vrou se nek laat hang.

Maar dis ‘n ander storie. Oor die Hollandse wit paard hierbo kom ek toe op verskeie videos af, met een wat langer as vyf minute voortwoed met flitsbeeldse van daardie rykste ritch bitch van almal, Paris Hilton. Moet se ek het haar nog nooi uit soveel hoeke kon beskou nie!

Op You Tube loop ek, om alles te kroon, toe ‘n video raak van ‘n tuitmond-blondine wat in ‘n bad plas (ewe kaal as Minki van der Westhuizen na bewering destyds op haar 21ste verjaardag in die Mount Nelson) en waarderend ‘n liedjie oor die verdienste van White Horse koer, Van daardie versterkwatertjie het sy ‘n bottel byderhand en elke dan en wan word met ‘n fyn handjie ‘n vingertjie gegooi, soos my vriend Jan Scholtz van Bloemfontein sou gese het, met die klem op gooi.

Nee, ek gaan nie die adress gee nie. Net nou gaan kyk die kinders ook ….

Terloops, die whisky se naam kom van ‘n antieke herberg (inn) in Edinburgh se Canongate. Dis tog wat ek in die eerste plek op die internet gaan soek het.

Gesondheid! (HvD)

Inhoud

Entry for January 21, 2008

INHOUD

Webjoernale (blogs) het die laaste paar dae kort op mekaar se hakke gevolg.

Hier is die jongste vier:

21 Januarie: Neem Ta’ Hessie se wit perd gerus maar met ‘n blokkie ys. Gesondheid op ‘n stout kleuterliedjie!

20 Januarie: Stampe en stote van ‘n redakteur in die 80’s – HvD se voorlegging aan die WVK.

19 Januarie: Groot ure langs Buffelsbaai se (soms maar sukkelende) vure – ‘n nostalgiese terugblik op ons idilliese vakansieplek vir meer as twee dekades (en die verhaal van die blondine, die Old Brown-sjerrie en ‘n “baaisiekel”.)

20 Januarie: Die Toring van Pisa – of van Pissa? Verknoeide name – ‘n doodsonde!

(Sulke “inhoudsopgawes” sal voortaan van tyd tot tyd verskyn om lesers hul weg deur HvD se blogs te help vind. Welkom hier!)