Nuwejaarswens

Die son sak oor die ou jaar…

Ons Nuwejaarswens vir al ons vriende is tyd: tyd vir God, tyd vir geliefdes en vriende, tyd vir liefde, vir lag en vir lewe. Tyd is so kosbaar. Laat ons leuse vir 2008 wees: Carpe diem – pluk die dag. Geniet elke oomblik van die tyd wat ons in genade ontvang – voluit, dankbaar, met vreugde en entoesiasme.

Mag die nuwe jaar vele mooi dinge op jul pad bring.

HENNIE EN TOKKIE VAN DEVENTER

More uit Melkbos, seker die laaste keer in 2007

Op 3 Januarie verjaar die uwe – sal liewer verswyg hoe al hoe nader aan 70 die jare begin aanstoot. Wel, dit kon nogal ‘n fees gewees het ingevolge ‘n “eksklusiewe” aanbod wat in die pos opgedaag het.

Hoe klink dit: ek word met ‘n limousine gehaal by my huis in Kernkrag (sic), word ‘n reuse-bos blomme in die hand gestop, word dan na ‘n restaurant gebring, nog al die tyd in Kernkrag (sic), en dan, om alles te kroon, ‘n tjek van R100 000 gegee om te doen daarmee wat ek wil?

Een klein “formaliteitjie” moet net eers afgehandel word. Ek moet net die een en ander katoeter uit die ingeslote katalogus bestel en ‘n lysie met vriende se name en adresse insluit dat hulle ook op die “spesiale” manier vir hul goeie ou vriend geskenkies kan bestel!

Heel vernuftig, so met die verjaardag-invalshoek!

Maar wat is R100 000 nou? Enkele dae tevore was in die posbus ‘n “cash payment notification” wat by my aandring om te roer en vinnig my R130 aan “registrasiegeld” te stuur – anders verbeur ek my aanspraak op ‘n “guaranteed cash award” van R154 350,00.

Wat eintlik ook nog maar kuikenkos is. Want sien, plus-minus dieselfde tyd was in my inmandjie in Outlook Express ‘n nog asemrowender mededeling uit Engeland. In die Britse “Online Games Lottery” het ek ‘n hele 252 000,00 pond sterling losgeslaan. Maal maar met so rondom 11,12. Dis mos ‘n klein fortuin!

Ongelukkig ken ek uit ervaring die verloop van die “due processing” wat na so ‘n mededeling moet plaasvind. Die een of ander tyd sal die eis op die tafel kom: hoes net gou soveel en soveel vir “administrasiekoste” of wat ook al.

Almal van ons kry deesdae hierdie klas pos en e-pos by die armsvol.

Die eerste keer het ek nogal gesluk-sluk oor die groot geluk wat my getref het. ‘n Groter geluk is dat ek twee verstandige vriende, Eric Wiese van die Kaap en Piet Henning van Chiredzi in Zimbabwe, se advies ingewin het. Eric se reaksie was ‘n meesterskuif van ‘n hoofbestuurder (finansies) wat sy storie geken het. Bied aan jy betaal jou verskuldigde bedrag by ‘n Londense prokureur in. Hulle doen dieselfde. Op ‘n bepaalde moment vind ‘n ruiltransaksie dan plaas: jy kry jou (baie) en hulle kry hul (min). Dit was die laaste woord – wat nie vreemd was nie in die lig van die gebrekkige Engels wat Piet se St. Johns-oog (hy was daar tot matriek) in die amptelike brief raakgelees het – klein jakkalsies wat nooit by ‘n rasegte Engelsman sou verbyglip nie.

Al hierdie dinge noem ek net om by nog een van my vele versugtinge oor die goeie ou dae uit te kom. Die dae toe ek nog jonk en mooi was (nou’s ek net mooi!), toe die ou lyf dit nog kon vat, toe fatsoenlikheid nog in die mode was, toe ek nog Afrikaans kon praat en skryf soos ek wil, toe wen nog wen beteken het….

So van die middel 60’s af tot die middel 70’s was op HvD se wenlys die volgende: ‘n vakansie vir twee by die Victoria-watervalle (met komplimente van Tanganda Tea), ‘n skottelgoedwasser (met komplimente van General Electric), ‘n ’73 Dodge SE (‘n deftige maroene met ‘n bruin vinieldak, met komplimente van die Vrystaatse NP – wat toe nog wel ‘n GROOT party was!), ‘n ’74 Valiant Charger (tweedeur en seksie, met komplimente van die Vrystaatse Universiteit) en ‘n erf in Helderkruin, Roodepoort (met komplimente van die Roodepoortse stadsraad).

Moet my nou nie staan en kwaad maak met opmerkings soos: “Og. maar jy’s gelukkig nie.” Geluk het hier g’n rol gespeel nie, liewe vriend. Elkeen is met inspanning verdien. Ek moes werk: met slagspreuke, limerieke, versies en wat nog.

Dit daar gelaat. My punt is dit: as jy gewen het, het jy gewen, kort en klaar. Nie dan nog hier soveel in hierdie bankrekening inbetaal of daar ‘n klomp van jou vriende brutaal staan en verraai nie.

Met die karre kon ek wegry. Vir die erf moes ek bloot ‘n dokument by die stadsklerk gaan teken. Die vliegtuigkaartjies vir die Victoria-waterval is huis toe gepos. Die skottelgoedwasser is in Maroelastraat, Randburg, afgelewer.

Wonderlike, goeie ou dae, waarna ‘n mens verlang – en waarna die verlange al hoe brandender word hoe nader daardie magiese 70 vir jou naderkom! (HvD)

Naskrif: Kernkrag is nie die naam van ‘n buurt nie, maar slegs van ‘n poskantoor. Die manne (dalk, as ek gelukkig was, mooi vroue) van Lifestyle Home Shopping sou werklik moes soek na my huis — en nog meer na daardie spogrestaurant waarheen hulle my met die limousine wou neem. Kernkrag, hier kom ons!

Arrie-nee, Charlize!

Vanoggend se droewige aflewering met sy onvermydelike element van selfverguising begin by gister se blog oor Kersfees-kraters n.a.v. die sakeblad Finweek se weeklike bekroning van die een of ander mamparra of mamparras vir die Wanklank vannie Week.

Die mooie Charlize Theron, hierbo uitgevat in ‘n swart Dior-nommertjie (dankie Huisgenoot!), was op my kortlys oor haar uitspraak in dieselfde tydskrif van ‘n week of wat gelede dat ons in Suid-Afrika nie juis Kersfees vier nie, nie juis Kersbome opsit nie en ook nie geskenkies uitdeel nie. Dis darem ‘n rowwe veralgemening wat dalk dit waaraan sy gewoond was op Benoni se plotte verkeerdelik tot die patroon in die ganse Suid-Afrika verhef. Arrie-nee, Charlize!

Daardie wanklankie uit die Glinsterstad (Hollywood) was egter nie nommer een op my swartlys nie. Nee, die “krimiskoek vir onwelwillendheid” – hoe wurg hierdie arme drommel nou daaraan! – is, volgens my, deur Mpumalanga se provinsiale verkeersafdeling gevat. Dit was op grond van ‘n e-possie wat ek ontvang het (foto en al) oor ‘n “padblokkade” op Kersoggend buite die Krugerhek van die Wildtuin wat “die verkeer tot wie-weet-waar laat opdam het.”

Nou-ja, die verkeer was inderdaad tot wie-weet-waar opgedam, en, ja. dit sou inderdaad sterk teen die gees van Kersfees ingedruis het as die padvalke van Mpumalanga wel daar voor die hek sou toegeslaan het. Die waarheid is egter dat dit geen blokkade was nie en dat die provinsiale verkeersafdeling doodonskuldig is. Die verontwaardigde skrobbering uit Melkbos was dus totaal onverdiend.

Wat wel aan die gang was, was dat Sanparke se eie mense vroeg al begin ingryp het om die getal dagbesoekers te beheer ten einde oorstroming van die geriewe en chaos in die Park te voorkom. Dit gebeur die afgelope paar jaar gereeld in die Kerstyd, in die Paasnaweek en oor elke langnaweek in die winter.

My bron – wat amper laat was vir die Kersdiens in Skukuza weens die opeenhoping van voertuie voor die hek – het egter wat sy gesien en beleef het, sonder kwaadwilligheid as ‘n padblokkade vertolk en Van D. laat weet. Hy het nie op hom laat wag nie!

Vandag sluk hierdie mamparra sy woorde een vir een met die nodige ekskuse, ook aan misleide lesers.

Soos ek gister al in my onmiddellike aplologie geskryf het, was in my dae by die koerante ‘n skertsende gesegde in omloop: Why kill a good story simply because it’s not true? ‘n Ander weergawe was: Don’t let the facts interfere with a good story. Ek het tot die slotsom gekom dat van my bloglesers kon dink hierdie koerantman het op sy oudag vergeet dat daardie woorde humoristies bedoel is.

Kersfees-krater nommer een, hier’s hy op Melkbos! Charlizie behou haar tweede plek, en dis nie omdat ek partydig is vir haar op grond van haar gesig en lyfie nie. Dis uit pure verdienste, hoor!

Een erge Kersfees-krater het gister onvermeld gebly. Op grond van die duisende mense wat getref en ontwrig is, hoort daardie krater (of kraters) egter loshande onder die top-drie, saam met Van Deventer en me. Theron. Ja, ek verwys na die Nationwide-gemors.

Wie die meeste skuld dra – Nationwide self of Burgerlike Lugvaart – weet ek nie. Dat die hele gedoente vrot gehanteer is, en bitter vrot aan die publiek gekommunikeer is, is egter ‘n onomstootlike feit. Iewers sit iemand (of ‘n paar iemande) wie se stert (of sterte) vuurwarm geskop behoort te word

Moet ook nie die media vryspreek nie. Lanklaas het ek ‘n storie gesien wat so roep vir ‘n bietjie dieper grawe om by die regte antwoorde te kom. Maar wat doen ons media? Peusel-peusel so ‘n bietjie lusteloos daaraan en los dit gou-gou soos ‘n warm patat. Gaan ons nooit hoor wat WERKLIK gebeur het dat elke liewe Nationwide-vliegtuig terstond moes ophou vlieg nie?

‘n Laaste klippertjie in hierdie man se Kerskouse was in die oorspronklike blokkade-blog wat vinnig onttrek en gerepudieer is. Vir diegene wat dit nie daarin raakgelees het nie, herhaal ek dit graag hier. Bygese: dit val nie in die Krater-kategorie nie en word nie hier opgehaal met die implikasie dat dit vir die een of ander aweregse bekroning aspireer nie.

Waaroor ek beswaard is, is die skynbare gebrek aan ‘n Kinderbybel wat aan die ou heel kleintjies op ‘n bevatlike manier kernelemente van die Bybel, soos die Kersverhaal, vertel.

By ons Kersboom op Melkbos het ons dogter, Marisa, vir haar tweeling, Jacob en Thomas (hulle word in April 4), uit Struik sy “My heel eerste Bybel” met woorde deur Lois Rock en tekeninge deur Alex Ayliffe gelees.

Hoekom so ‘n broodnodige Afrikaane kinderboek vertaal moet wees, is ‘n ander vraag. Ons los dit maar daar. Maar om darem in die hoofstuk oor Baba Jesus (mooi opskrif!) so oor Maria se ongetroude status en Josef se bekommernis daaroor aan te gaan, laat hierdie oupa sy hande saamslaan. Die kleingoed begryp dit mos hoegenaamd nie. Daarom is dit eintlik in hierdie stadium vir hulle irrelevant en verwarrend.

Ek verwys hierbo na die “skynbare” gebrek aan ‘n baie basiese Kinderbybel wat nie bo snuiters se vuurmaakplek is nie en in hul eie idioom van vroeg af die Bybelgeskiedenis in hartjies en verstandjies kan vas-anker.

Die woordjie “skynbaar” is met ‘n doel daar. Dalk bestaan sulke Kinderbybels wel en weet ek maar net nie van hulle nie. Maar as daar nie is nie, lyk dit of ons hier ‘n yslike behoefte het – ‘n uitdaging wat ‘n Christenskrywer van kleinkinderboeke gerus kan aanpak. Die Kerk behoort so ‘n loflike projek ruim en met vreugde te subsidieer. (HvD)

“Mayafudi’s” vir Kersfees

Van waar, Gehasi? Hoe kry HvD vandag met die olifantjies hierbo die slurpie by die stertjie?

Laat ek julle nie aan ‘n lyntjie hou nie – dis “Mayafudi’s” wat in my Kerspos opgedaag het met Kerswense vir my en Tokkie.

Herman en Rina le Roux van Randburg vra by die boonste ou: “Dis nie dalk Mayafudi nie?” Die onderste twee, uit die bekende Lisa Halstead-versameling, dra weer Thys en Marieta Slabber van Melkbos se goeie wense aan die Van Deventers oor.

Die ou links, met die tande wat amper op die grond sleep, kan dalk selfs Mafunyane wees – die befoeterde oupa van Mayafudi in my olifantstorie.

Hoe dit ook al sy, ek knoop graag by die twee olifantkaartjies aan vir ‘n vinnige handelsflits. Dit is om dankbaar mee te deel dat my olifantboekies, Mayafudi en sy Engelse maat, Mayafudi – memories of an elephant, asook hul ouboet, Buurman van die Wildtuin, oplaas hul staan in die rakke van Tiger’s Eye se Parkwinkels in die Wildtuin en elders gekry het.

Die nuus wat uit daardie geweste kom (dankie, Philip van Rensburg), is dat my bosboekie-trio mooi staan daar in o.m. Skukuza.

Nou’t ek ‘n Kerswens wat ek met julle wil deel. Dis dat daardie boekies nie alger in hierdie dae op die rak gaan bly nie. Ja-nee, niks sal hierdie bosskrywer – met ‘n hart wat klop op die maat van die visarend se roep – groter plesier gee as dat enetjie hier en enetjie daar hul weg tot in Wildtuinbesoekers se Kerskouse vind nie – al is dit nou ook op nommer 99 as ‘n noodshulp-geskenkie.

Sal Sinterklaas nie Melkbos toe laat weet hoeveel boekies hy afgelewer het as hy sy rondes daar in die bos afgehandel het nie?

Iets totaal anders, in ligte luim na die erns van die ope brief aan die arme Thabo in die vorige joernaal, is hierdie e-possie van Esbe Krynauw van Melkbos:

From: Danie Krynauw

To: hvandeventer@mweb.co.za

Sent: Sunday, December 23, 2007 12:16 PM

Subject: Kalenders

“Gister staan ek in die ontvangsportaal van Seapark” (dis nou die plaaslike tehuis vir oues van dae waar Ouma van Wyk haar ook bevind.) ” ‘n Pragtige ruiker staan op die tafel, en daar langs le ‘n groot hoop kalenders. Baie bedagsaam van iemand. Toe kyk ek wie die skenker is en skielik hoor ek die lied : O die blye tyding. Sien , die skenker is ‘n begrafnisondernemer… Esbe.”

Steeds met ‘n glimlag op my bakkies, antwoord ek haar toe soos volg:

“Die blye tyding … ja, dis mos ook wat die gemeente gesing het nadat die dominee aangekondig het hy aanvaar die beroep!

“Of was dit: Vader, dank vir U genade, dis onverdiende guns alleen?

“Van begrafnisondernemers gepraat: Ek ken die storie van die ondernemers wat so inniglik bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood.

“En ook die een van die die tronkvoels wat agter die tralies so lustig sing: Liewe Here, sien ons saam hier op U bevel vergader..!”

Op daardie ligsinnige noot, groetnis vir eers. (HvD)

Uit Melkbos – ‘n ope brief aan Thabo Mbeki

Liewe Thabo

In die jare negentig het jy in ‘n stadium via ‘n swart Naspers-kollega laat weet dat ek in jou oë nie ‘n “slegte Boertjie” is nie.Ek het nie juis spitsvondig nie, maar sonder enige kwaadwilligheid. gereageer dat jy volgens my “nogal ‘n oulike kaffertjie” is. Ek glo ons het in daardie stadium iets vir mekaar gevoel. Kort daarna het ons paaie, soos dinge maar gebeur, uiteengeloop. Later het ek afgetree en op Melkbos kom skoene uitskop.

Toe ek jou gisteraand op die TV-skerm op die verhoog in Polokwane so hangskouers sien – broos, eensaam, verslae en verlate, verslaan deur ‘n verterende monster wat jy self help skep het – het my hart na jou uitgegaan. My gedagtes het ver-ver teruggedwaal….

Thabo Mbeki. Die naam het vir my min beteken toe ek jou, die aanstaande president van Suid-Afrika, 18 jaar gelede, in Maart 1988, die eerste keer in Londen ontmoet het. Dit was my eerste proe aan die lank verbode vrugte van kontak met die ANC. Die geleentheid was ‘n seminaar met die tema South Africa: Controlling the News, wat natuurlik die tafel behoorlik gedek het vir harde woorde oor die Regering van die dag.

‘n Middagmaal vir die deelnemers — Suid-Afrikaners, Amerikaners en Britte in die media — is aangebied deur die Britse redakteurs. Die plek: die London Room van die Royal Commonwealth Society in Northumberland Avenue. Jy – toe net 44, die bloedjong “Director of Information and Publicity van die ANC” – was die spreker.

Wat jy daardie middag te sê gehad het, het hierdie Afrikaanse koerantredakteur uit die Vrystaat plek-plek laat wurg, onthou ek. Agterna gesien, was jou toespraak (en meer bepaald die voordrag) egter verbasend onmilitant. In ‘n stadium het jy uitgewei oor P.W. Botha se berugte humeur. Jou oë het oor die etegaste gespeel. “Where is Mr. Dievender? He knows how P.W. Botha is.” Ek het hand opgesteek, en lughartig geantwoord: “Yes, he gets very angry.”

Die aand was ‘n deftige skemerparty en dinee in die beroemde Lancaster House, die plek waar die ou Rhodesië (nou Mugabe se Zimbabwe) se toekoms uitgetimmer is. Die gasheer: Sonny Ramphall, destydse direkteur-generaal van die Statebond. Die Afrikaanse redakteur en die uitgeweke ANC-propagandis het bymekaar uitgespoel asof dit in ‘n draaiboek ingeskryf was. “Sien mekaar môre,” het ons na die eerste kennismaking gegroet.

Daar beland ons toe die Sondaggoggend op jou voorstel in die ruim voorportaal van die Hotel St. James Court, Buckingham Gate — ‘n hanetree van die paleis af. ‘n Kan koffie tussen ons. Later ‘n tweede. Twee kanne koffie pleks van twee sakke sout! Jy (“noem my Thabo”) was nuuskierig oor politieke ontwikkelinge in Suid-Afrika en het my veral gepols oor die nuwe generasie Nasionaliste wat aan jou onbekend was, die Leon Wesselse, Stoffel van der Merwes, Roelf Meyers. ‘n Mens kan met hulle praat, was my advies.

Ons het ook gepraat oor Nelson Mandela. Oor verskeie klandestiene boodskappe oor sy moontlike vrylating wat op niks uitgeloop het nie. Vanselfsprekend is oor meer verskil as saamgestem. Veral oor die ANC se verbintenis tot geweld was ons myle van mekaar verwyder. Maar tog — dit moes ek so half onwillig aan myself erken — was dit ‘n stimulerende intellektuele avontuur. Ons is op goeie voet uiteen.

Vir vriende het ek kom vertel van die buitengewone kennismaking met die rustige, pyprokende Mbeki — ‘n man wat maklik is om van te hou. So het ek jou beskryf: Eersteklas geselskap. Fyn humorsin. Aansteeklike laggie. Goeie luisteraar. Gepoleerde diplomaat. Nie ‘n valk nie, hoewel ‘n oortuigde Afrikanis met vaste beskouinge oor hoe ingrypend Suid-Afrika uiteindelik verander sal moet word. In geheel: ‘n sjarmante man wat vinnig warmte met ‘n gespreksgenoot bewerkstellig. So heeltemal “anders” as die Suid-Afrikaanse stereotipe van ‘n ANC-leier wat ook op sy persoonlike kerfstok ‘n kwota geweldsdade het.

Einde November 1989 was ek en jy saam in Parys, by ‘n konferensie wat deur mev. Danielle Mitterand, Franse presidentsvrou, gereël is. Vir my was dit ‘n aangename weersiens. Van waar ons laas opgehou het, het ons soos ou kennisse verder gesels en gekorswel. Op persoonlike vlak het ek my besorgd verklaar oor jou chroniese kuggie. Jy het belowe om minder te probeer rook, en terstond vir my sy sigaretaansteker present gegee: ‘n groene met die logo van Umkhonto we Sizwe. Max du Preez, destyds Vrye Weekblad-man, het die plegtige oorhandiging opgemerk, en het geskerts hy gaan my by Doeane verklap. Ek bring ‘n ontstekingsmeganisme van die ANC die land binne!

Met die groetslag, die oggend van 2 Desember, het ek en jy lank intens gesels, onder meer oor hoe jy brand om weer voet op Suid-Afrikaanse bodem te sit. Die ontslape Kaapse weekblad South (redakteur: Moegsien Williams, later van die Cape Argus en The Star) het selfs berig ons afskeid was “n tranerige en emosionele” een — wat dit darem nie regtig was nie.

Kort daarna, op 28 Februarie 1990, het Die Volksblad op sy middelblad ‘n profielberig uit my pen gepubliseer onder die opskrif Thabo Mbeki, pragmatiese strateeg. Groot foto by van jou met jou pyp. Ek het die lesers o.m. ingelig oor wat ek as jou krag as diplomaat sien: nie net jou vermoë om jou eie saak sonder opgewondenheid te stel nie, maar ook jou gewilligheid om aandagtig te luister, selfs na die skerpste kritiek. (Later sou ek rede hê om hieroor te twyfel!)

Sulke positiewe publisiteit aan ‘n voorste ANC-leier in ‘n Afrikaanse dagblad was ongehoord. Daar was egter vele oproepe van waardering, ook uit die verligte vleuel van die Vrystaatse Universiteit se akademiese gemeenskap, mense soos proff. Frederick Fourie (nou rektor) en Elwill Beukes.

Op 3 Januarie 1991 het ek 50 geword. In ‘n stadium het sprake bestaan dat jy vir die verjaardagparty saam met Kobie Coetsee na Bloemfontein sou vlieg. Die plan het deur die mat geval. Net voordat ons die aand sou wegval aan die hoenderpastei en bobotie lui die telefoon: “Just to wish you well, Hennie, my friend.”

Vier maande later, op Vrydagaand 18 Mei 1991, was wel in Bloemfontein ‘n herontmoeting — in omstandighede wat in ‘n stadium nogal taamlik gespanne geraak het. Die geleentheid was ‘n unieke, private byeenkoms met die redakteur van Die Volksblad as gasheer (Foto: gas en gasheer). Die senaatsaal van die universiteit was gepak met leidsliede van die Rosestad: politici, NG-moderator, rektore, president van die Vrystaatse rugby-unie en andere. Jy het die woord gevoer.

Temas van die aand was onder meer die ANC en die SAKP en die ANC en die boere. Een standpunt wat jy gestel het, was, raar maar waar, dat die ANC en die SAKP se weë sal moet skei; hul ekonomiese beleid verskil heeltemal. ‘n Ander was dat die ANC en die boere moet praat. Die ANC wil nie die landbou afbreek nie.

Kort daarna swaai die deure oop, en ‘n peloton verslonste AWB’s, sommige kousloos en met velskoene, marsjeer die saal binne, so 25, 30. Onthou jy? Die voorbokke het dreigend tot by die verhoog gestap; ander het in die gange stelling ingeneem. Hulle soek nie die “kaffer” op die kampus nie — en dan nog boonop ‘n “Kommunis”!

Daar was uitroepe van ontsteltenis en verbasing. Na ‘n lang onderbreking en uitgerekte onderhandelinge is ‘n ooreenkoms bereik. Die ongenooide gaste moet asseblief buite gaan wag. Jy praat net eers hier klaar, dan kom praat jy met hulle. Die AWB’s het in die voorportaal gaan koukus. Later besluit hulle toe: nee, as hulle na jou luister, sal dit op erkenning van die ANC neerkom. Toe gee hulle maar pad.

Genl. Tom Erasmus van die SAP, een van die gaste, was nie gerus nie. Hy laat kom toe sy manne, wat in geel onlustevoertuie opdaag. Hulle vergesel ons toe ook later na my huis in Dan Pienaar waar jy sou eet. Toe een van die geel gevaartes oorkant my motorpad in die boomryke Kmdt. Senekalstraat op die sypaadjie parkeer, het verskeie bure gaan navraag doen. “Wat gaan dan by die Van Deventers aan?” “Kraai van Niekerk eet daar,” was die antwoord. Hoekom juis hy, weet ek nie.

Net voordat ons om 12:30 hotel toe sou vertrek, weer onder polisiebegeleiding, het jy net gou eers in ons gasteboek geskryf: “ Very happy to have spent this short time in this happy home. Many thanks.”

Daarna het ek jou min gesien; vlugtig hier, vlugtig daar. Nadat jy al adjunk-president was, het ek na ‘n lang gesukkel jou kantoor in Tuynhuys oortuig om vir my ‘n kansie in te ruim vir ‘n persoonlike gelukwensing. Die gesprek — vreemd genoeg, of dalk nie — was gou oor die media en dié se gebreke. ‘n Luitenant is ontbied om te kom vertel hoe sleg die SABC sy baas behandel het met ‘n toespraak in Maputo. Deja-vu. Dit was asof die P.W.-era voor my oe rëinkarneer.

Daarna het ek weer en weer probeer. ‘n Uitnodiging na ‘n middagete saam met Naspers se Koerantedireksie is aanvaar, maar op nommer 99 gekanselleer omdat ‘n Kabinetsvergadering te lank aangehou het. Jy het ten minste self gebel om ekskuus te vra. ‘n Voorstel vir ‘n informele vleisbraai om Afrikaanse persmense beter te leer ken, is met geesdrif begroet — en dit was die einde daarvan.

Die aand met die bekendstelling in Kaapstad van Mathews Phosa se eerste Afrikaanse digbundel, Deur die oog van ‘n naald, was jy ook daar. Ons het soos ou vriende gesels. Verder het dit egter nie gekom nie. Wat nogal jammer is, nie net uit ‘n vriendskapshoek nie, maar ook omdat goeie, opbouende kontak met Afrikaanse persmense vir jou vrugbaar kon gewees het.

Nou na al die jare, nadat ons paaie heel geskei het, jy vir twee termyne president was en internasionaal baie roem verwerf, maar ook ‘n bose boel weerstand in eie geledere gegenereer het, het dinge vir jou lelik skeefgeloop. Ek het hierbo geskryf dat jy die slagoffer is van ‘n monster wat jy self geskep het. Jacob Zuma was jou man wat jy teen Nelson Mandela se advies in tot jou ajudant bevorder het. Baie van jou verstandige sienswyses wat jy daardie aand in Bloemfontein verkondig het, het ingrypend verander. Jy het wilde perde opgesaal, Thabo, en nou ontdek jy hoe moeilik dit is om hulle te ry.

Maar ek soek nie baklei nie. Wie is ek in elk geval om jou te kapittel? Ek sou verkies om bande op te tel. Dalk het jy al vergeet wie Hennie van Deventer is. As jy behoefte het vir ‘n broederlike geselsie oor die Polokwane-ramp of wat ook al met ‘n “Boertjie” oor twee kanne koffie – selfs iets sterker – is jy egter welkom. Die sonsondergang op Melkbos is hemels.

Groete.

Hennie van Deventer

Hoe geseend is mens nie

More uit Melkbos

Ek het die sneeufoto hierbo gaan opdiep met ‘n doel.

Hope Kersboodskappe daag in hierdie dae per e-pos op. Veral een het my en Tokkie getref. Ek wou dit graag hier verder versprei en die foto van Johan (5) en Marisa (3) daaraan koppel.

Ongelukkig slaag ek – soos met Toekie se kaartjie in die vorige joernaal – nie om dit hierheen oor te plaas nie.

Die tema is hoe geseend ‘n mens is as jy ‘n dak oor die kop het, relatief gesond is, sonder vrees kan kerk toe gaan, leesvaardig is, ens. Dit is die uitverkorenes met wie dit so goed gaan.

Die boodskappies verskyn op die skerm soos ‘n mens van foto tot foto blaai – tipies Amerikaanse wintertonele. En op die agtergrond sing Elvis Presley (ja die nimlike!) Stille Nag. Laat niemand my probeer wysmaak die man het nie ‘n stem en kan nie sing nie.

As iemand gretig is om die boodskappies te lees, die foto’s te sien en Elvis se Stille Nag te hoor, stuur gerus vir my ‘n e-pos na hvandeventer@mweb.co.za

Ek sal dit graag die nodige distribusiewerk doen.

As ‘n troosprysie ‘n alternatiewe “sneeu-boodskap”. Klik op die webwerf http://www.thecompassgroup.biz/merryxmas.swf

Dit neem jou na ‘n Kersvader en ‘n koor van takbokke wat die ou treffer White Christmas vertolk. Die weergawe is glo die van die Drifters van 1954 rond.

Terloops, daardie foto van Joan en Marisa in die strate van Cambridge is op 26 Desember geneem, want op 25 Desember was daar g’n teken van sneeu nie. Toe ons die 26ste ontwaak, was dit in ‘n wit wonderwereld.

Ek het al voorheen gemeld dat ek nog nooit in Kerstyd so naby aan die Vader gevoel het soos in daardie sneeulandskap in die verre VSA nie. Dis die reine waarheid. (HvD)