Ouderdom is nie vir sussies nie

Dat die ouderdom nie vir sissies is nie, is ‘n holrug-geryde uitdrukking, maar die ou wat dit uitgedink het, het geweet waarvan hy praat.

Gewoonlik word daarmee verwys na die onvermydelike ophoping van skete, kwale en mankemente wat by die meeste van ons voorkom soos die jare nader of verby die Bybelse kerf van 70 kruip (as kruip hier die regte woord is). Hierdie 66-jarige (67-jarige op 3 Januarie 2008 ) voel egter die las van die ouderdom nie net in die pyne aan die lyf waarmee hy soggens opstaan nie. Soms is die pyne van sukkel om aan te pas by allerlei “nuwighede” amper nog erger.

Een van daardie klas pyne is hoe ons deesdae ons taal self afskeep. Ons blameer maklik ander vir Afrikaans-onvriendelike houdings, maar dan sien ons die balk van taalverwaarlosing in ons eie oog nie raak nie.

Ek verwys onder meer na die spontane slapheid wat ingetree het in die informele kommunikasiesfeer. Dit is iets waaraan ons almal in ‘n mindere of meerdere mate skuldig is. Ons struikel oor modewoorde soos cool, stunning, awesome, amazing en daardie ou vabond commitment.

Ons wend ons tot gebruikswoorde soos township, struggle, blind date, nerd, venue, comic en laptop wat almal al amptelik of half-amptelik hul staan gekry het.

Afrikaans drink ook op ‘n ander wyse gereeld aan die agterspeen. Hier verwys ek na die strewe tot politieke korrektheid wat sommige van ons in so ‘n stewige greep beet het. Nadat Afrikaans tot een van 11 ampstale gereduseer is, swaai Engels mos die septer. Ons eie mense buig al hoe meer voor Koning Engels.

Daardie kniebuigings kom in diverse verskyningsvorme. Mense glo skynbaar dat politieke korrektheid van hulle vereis om met ‘n vreemdeling altyd eerste Engels te praat en om ter wille van een Engelsman in ‘n geselskap net Engels te praat.

Nou die aand in Bloemfontein in ‘n toespraak met die goue jubileum van daardie stad se Afrikanerklub het ek ‘n voorbeeld daarvan genoem: die prestige-byeenkomste van maatskappye wat pilare van Afrikaans was, maar waar Afrikaanssprekendes deesdae verkies om hul toesprake – en selfs hul tafelgeselse – tot hul tweedetaal-Engels te beperk.

Toe ek Sondagaand 25 November by die NG gemeente Melkbosstrand (hierbo geskilder deur Mare Bruwer) se Kerssangdiens uitstap, het daardie toespraak by my bly spook. Wat ‘n mooi, sielsverheffende diens was dit nie – maar hoekom al die Engels?

Ek soek nie baklei nie – “ moenie skiet nie, dis ons mense!”. Dat ek, soos ou Genis doerietyd, beswaard is, kan ek egter nie wegsteek nie. Beleefdheid en bedagsaamheid is immers een ding, maar die behoefte om in ‘n Afrikaanse gemeente van ‘n Afrikaanse kerkverband darem so oor te hel Engels toe begryp ek nie. Was 90% of meer van die vol gepakte kerk nie Afrikaanse mense nie?

Sal in ‘n Vlaamse kerk soveel Frans opklink, in ‘n Franse kerk soveel Engels, in ‘n Duitse kerk soveel Italiaans of in ‘n Zoeloekerk soveel Xhosa?

Hoekom teken ons dan petisies oor die inkrimping van Radiokansel (uit en uit Afrikaans) se uitsaaityd?

Miskien is dit die ouderdom wat my onsensitief maak vir nuwe eise en omstandighede. Maar dan vra ek mooi: wil iemand dit nie tog vir my die saak so probeer verduidelik dat vir my ook lig opgaan nie? (HvD)

Motorstories

HvD se webjoernaal vertoef nog ‘n keer by die fassinerende onderwerp van karre. Op die foto sit die uwe met die “wettige” en “onwettige” nommerplate van sy Honda CR-V. Lees in die tweede bydrae hieronder van die potjie wat hy hieroor met die gereg geloop het.

In die eerste bydrae is twee Fred Schnetlerstories – albei oor sy beroemde 41 Packard. In die eerste vertel die ontslape kollega in sy eie woorde hoe daardie kar ‘n jeugdroom verwesenlik het. Dis ‘n mooi storie, wat deur Fred se suster, Esther Townsend van die Paarl, aan Leo Kritzinger beskikbaar gestel is. Via Leo het dit op Melkbos uitgekom. Ek gaps dit graag vir HvD se blog.

In die tweede vertel ons oud-kollega Ruti van der Merwe uit Nieu-Seeland oor die eerste epiese tog met daardie lank begeerde spogwa en sy “kokende dors”.

Vir Fred Schnetler was die verkryging van sy eie Packard ‘n droom wat hy van jongs af gehad het. Hier is sy Packard-storie in sy eie woorde.

1944: My droommotor – Fred Schnetler

In die Oorlogsjare (dis nou Wêreldoorlog Twee) kon ‘n mens geen nuwe motors koop nie. Altans nie van ’42 af nie, want gewone passasierskarre is toe net eenvoudig nie gemaak nie.

En as jy ‘n plattelander was soos ek, en van karre gehou het, het jy maar min geleentheid gehad om iets te sien wat werklikwaar anders was. Ons karre was Chevs en Fords en Plymouths – af en toe ‘n Dodge, ‘n Mercury of ‘n Buick, effe duurder variasies op die Chev-Ford-Plymouth-tema.

My pa het ‘n ’36-Chev gery. Die enigste twee ander karre op Coetzeestroom was twee van die onderwysers s’n: mnr. Breyl se ’39-Chev en mnr. Du Toit se ’34-Dodge. Georg Lutz, die winkelier van Kaapse Hoop, het ‘n ’41-Chev gery en mnr. Nöffke, die bosbouer op Berlin, ‘n ’39-Ford. Mnr. Dieterle, skoolhoof op Berlin, se kar was ‘n ’39-Buick en een van sy onderwysers het ‘n DKW verkies. Oubaas Hull, ‘n eksentrieke ou wewenaar wie se koeie op die oorblywende oop veld op Coetzeestroom en Berlin gewei het, het ‘n 1928-Buick gehad wat hy omgebou het om in te slaap. Hy en sy Buick het saam met die koeie van weiveld na weiveld getrek en hy het net van sop en brood geleef, totdat sy seun, wat iewers in die Noorde gekwes was, teruggekom en ‘n huis op Kaapse Hoop gekoop het waar hulle twee toe gebly het. Niemand anders het motors besit nie – en as jy een gehad het, het jy maar min gery, want petrol was gerantsoeneer en nuwe bande so skaars soos ‘n houtperd se mis.

Een keer per maand het die distriksbeampte, mnr. De Souza van Barberton, inspeksie op Coetzeestroom en Berlin gedoen en sy kar, ‘n 1942-Studebaker, was die nuutste en weelderigste motor wat ‘n mens in daardie deel van die wêreld kon sien. Ek het meer prentjies van daardie Studebaker geteken as enige ander kar wat ek kleintyd gesien het. Dit was ‘n Commander Skyline, met merkwaardig min chroombeslag vir ‘n Amerikaanse motor. Net die buffers an deurhandvatsels was verchroom, die naafdoppe en die verkoelerrooster was donkerblou geverf, het soos die kar se dak. Die onderkant van die bak was liggrys. Baie jare later het ek gelees dat die Amerikaanse regering die motorvervaardigers ná Pearl Harbor belet het om chroomsmuk te gebruik omdat elke krieseltjie chroom vir wapentuig gebruik moes word. En op 8 Februarie ’42 is die vervaardiging van passasiersmotors opgeskort tot ná die Oorlog.

Enkele maande nadat ons op Coetzeestroom aangekom het, het die destydse minister van landbou en bosbou, adv. Kosie Strauss, al die plantasies in die land kom besoek. My pa het gesê hy wou nie net kom kyk hoe die bosbou bedryf word nie – hy het dit ook gedoen omdat so baie van die nedersetters op die plantasies tradisioneel Sap gestem het. Die minister en sy gevolg sou die middag by ons eet en my ma, wat baie lekker kon kook, het alles van die heel beste aan die vername gaste voorgesit.

En toe kom die minister in sy manjifieke kar.

So ‘n lang kar het ek in my lewe nie gesien nie, en dit was in der waarheid die grootse motor wat in die beginjare veertig vervaardig is: ‘n majestueuse Packard 180 Super Eight. Die enjin kon jy nie hoor nie, net ‘n diep gebrom agter van die uitlaat se kant af. Hy was pikswart, met ryk chroombeslag en witwandbande en die twee noodwiele was weerskante van die enjinkap in die modderskerms gemonteer. Tussen die bestuurder se sitplek en die agterste deel van die bak was ‘n afskorting van glas. Die agterste (vername) passasiers het op liggrys wolkussings gesit en die vloer was met ‘n dik liggrys Wilton-pluispoolmat bedek.

Dit was deftigheid op sy heel beste.

Ná ete moes my ouers vir my en my sussie aan die hoë gaste voorstel. Die minister se private sekretaris vra my toe die standaardvraag: “Boet, wat wil jy word as jy groot is?”

“Meneer,” was my antwoord, “Ek weet nie wat nie, maar ek wil ‘n Packard hê soos die een waarmee u gekom het.”

Ja, ek hét uiteindelik ‘n Packard gekry, ‘n volle 35 jaar later. Dit was nie ‘n 1942-Super Eight nie, maar ‘n 1941-Packard 110-sedan, ‘n heelwat goedkoper weergawe van daardie motor des motors.

Dit was in elk geval net so deftig soos die minister se kar. En ek het hom ‘n volle 25 jaar lank geniet.

Ruti van der Merwe, oud-Volksbladjoernalis wat deesdae in Nieu-Seeland woon, het saam gery die dag toe Fred se Packard op Kroonstad gaan haal is. Langs die pad moes hulle ‘n emmer koop. Die Packard moes by elke plaasdam stilhou. Ruti vertel.

Packard se kokende dors – Ruti van der Merwe

Ek en Fred het baie lang paaie saam gestap. Daar was dae van beproewinge maar die lied in die hart het altyd gesing. Een van daardie “beproefde dae” was toe hy een dag voor my sportkantoor lessenaar opdaag en sê: “Vêntjie, ek het my begeerde Packard gekoop. Dit is 41 en hy is in Kroonstad. Ons moet hom Vrydag loop haal”.

So sit ek en Freddo Vrydagmiddag nadat die laaste sportblad gesak het, af Kroonstad toe. Packard is maar in ‘n so-so toestand maar Fred besluit hy koop hom, kom hel of hoë water. Nou terug Bloem toe. Fred agter die Packard se wiel en ek in die “toetskar” agterna. Maar Packard besluit hy kook elke 20 km.

So sukkel ons tot in Ventersburg waar ons ‘n plêstiek emmer by die kooperasie koop. Nou aan na Bloem. By elke plaasdam langs die pad stop ons. En ek loop skep water om die Packard se kokende dors te les.

TY 24

Ek sit op my stoep in Sabiepark en lees Beeld toe ek op die vreemde storie afkom van die vurige Blou Bul-ondersteuner wat deur ‘n genaakbare metropolisieman oorgesien is toe hy oor ‘n rooi lig ry. Sy verskoning was vrees om gekaap te word. Wat die geregsdienaar se genaakbaarheid vinnig laat verdamp het, was ‘n plakker op die ou se nommerplaat.

Die plakker was blou met twee onmiskenbare wit bulhorings – die kenteken van die Blou Bulle. Vir dié oortreding was geen genade nie. Die bedremmelde man moes maar ewe gedweë sy linsensieskyfie ingee, sy nuwerige Raider-bakkie vir ‘n (onnodige) padwaardigheidstoets neem wat hom R227 gekos het, en met groot moeite en persoonlike ongerief ‘n nuwe lisensieskyfie bekom. Hy was boonop sy Blou Bul-plakker kwyt, wat hom die hartseerste gestem het.

Die storie herinner my om klaarblyklike redes aan die grappie van die spietkop en die donderweer. Vraag: wat is die ooreenkoms tussen ‘n spietkop en donderweer? Antwoord: as jy die blik… gesien het, is dit klaar te laat!

Nie baie lank daarna nie onthou ek weer die grappie toe ons net buite Laingsburg op pad noorde toe in ‘n padblokkade voorgekeer word. Die aanvallige inspekteur F. Molligan (Fiona? Fleur? Frederika?) buig laag oor die voorste nommerplaat en kom kopskuddend orent. Ek sien aan die verbete trek om haar mond hier kom moeilikheid. Inderdaad. Ons moeilikheid is dat die nommerplaat (derhalwe ook die nommer) te groot is.

Tokkie wat agter die stuur is, moet van haar ID-nommer tot haar volle name tot haar ouderdom verstrek. Sy kry ‘n boete van R300. As ons nie betyds opdok nie, is die hof op Laingsburg haar voorland. Ek sien my vrou kriewel. Sy het al tevore oor die nommerplaat gal afgegaan. Ek (die wettige eienaar van die voertuig) sit suutjies voor my en uitstaar.

Toe ons ry, bars ek uit. Watter onsin! Hier word ons beboet omdat ons nommer TE groot en TE sigbaar is. Vir baie ander s’n het jy omtrent ‘n vergrootglas nodig. En vanwaar die onheilige drang na absolute eenvormigheid? Sal alle ligte, flikkerligte en wat nog ook nog eendag eenders moet wees (“aan SABS-norme voldoen”)? Waarom nie slegs voorskryf dat die nommer op ‘n afstand van 50 meter leesbaar moet wees nie?

Toe ons Beaufort-Wes binnery, is ek so opgewerk dat ek die provinsiale verkeersafdeling gaan opsoek. Dis in ‘n woonbuurt, goed versteek. Mnr. Van Rooyen, die baas, kom uit vir ‘n inspeksie ter plaatse en gee my gelyk. As dit nou in sy gebied gebeur het, sou hy saamry aanklaer toe om die kaartjie op te skeur. Maar Laingsburg is nie sy gebied nie. Ek sal maar vertoë moet rig.

Tuis word foto’s geneem en die maatband uitgehaal. Dit blyk inspekteur Molligan se wrewel is ontketen deur ‘n plaat wat 105 x 520 mm is teenoor die vereiste van 110 x 515 mm – iets geweldig! Die letters is .052 x .075 teenoor die voorgeskrewe .028 x .075.
Ek skryf vir die aanklaer die plaat is GROTER en die letters DIKKER as die vereiste. Sigbaarheid is dus BETER. Die beweerde oortreding is na my oordeel van onbenullige tegniese aard. Die bedoeling was nie om die wet te omseil nie. Die Honda het egter twee gaatjies op sy kattebak wat ek wou wegsteek. Die rede vir die geringe afwyking is dus kosmeties sowel as funksioneel. “In die lig van bogenoemde word vertoë hiermee gerig dat die boete opgeskort en die saak van die hofrol geskraap word.”

Toe begin die wag, een oog op die almanak, want die boete gaan ek waaragtig nie betaal nie, maar die lus vir ‘n uitstappie na die “haai Karoo” ontbreek eweneens. Ek bel, bel en bel. Elke keer is die antwoord eenders: “Nog niks van die aanklaer gehoor nie.”

Twee dae voordat T. in die hof moet gaan pleit oor haar “onbesonnenheid” breek die lig deur. Die nooi gaan slaan na wat van 5216350/900/033652 geword het en kom kondig aan met ‘n stem wat klink of sy persoonlik daaroor injuria gely het: “Meneer, die saak is teruggetrek”.

Die goeie nuus is dat T. nie ‘n misdaadrekord kry nie. Dit beteken blydskap omdat ek nie graag langs ‘n misdadiger sou wou slaap nie. Die slegte nuus is dat sy sterk druk uitoefen dat ek die nommerpas-nommerplate met die normpas-nommerplate moet vervang. Dit sal beteken daardie twee gaatjies steek uit. Ek skop dus vas. Maar ek ry nou die “wettige” plate oral saam. As ek weer voorgekeer word, sal ek wel ‘n storie hê hoekom hulle binne die voertuig is en nie op die bestemde plekke aan die voertuig nie.

Intussen verval ek maar in residivisme (as ek reg onthou uit Krim 1 in 1958) en oortree keer op keer die wet sonder om te blik of te bloos. (HvD)

Naskrif: Op die foto sit die uwe by die onbehoorlike nommerplaat wat inspekteur Molligan van Laingsburg so aanstoot gegee het, en met die wettige plaat in sy hand.

Maaskaas?

Grappenderwys is al gesê redakteurs se taak is om die korrels van die kaf te skei – dan publiseer hulle die kaf! Namate die Maas-fenomeen in die Suid-Afrikaanse media bly spoed optel het, het ek begin wonder oor die element van waarheid wat die ou grappie dalk bevat.

Nou het die bom gebars. Ons sit met ‘n mediadebakel van – soos Oubaas sou sê – “epidermiese proporsies” . Die heer Maas se tjank is wel afgetrap, wat hy al lankal verdien. Maar ongelukkig is hy nie al wat gewond is nie. Rapport se gesig is bespat met roereier. Die arme redakteur, Tim du Plessis, spring rond om vure te blus – nie altyd ewe oortuigend nie. Die Kerk en kerkmense word uit allerlei onvriendelike oorde bygedam oor hul sogenaamde “onverdraagsaamheid”. Aktiviste wat sulke selfoon-kampanjes op tou sit, het bloed geruik; hulle kan nou makliker veldbrande stig.

In hierdie onheuglike omstandighede vra ‘n vriend in alle opregtheid hoe ek as oud-redakteur so ‘n gemors sou hanteer het. Miskien het my antwoord hom verbaas: ek weet nie, want in my wildste drome kan ek nie voorsien dat so iets ooit oor my pad kon gekom het nie. Dit raak ek nie kwyt uit verwaandheid nie. Soos ek egter my mandaat as redakteur verstaan en my verantwoordelikheid jeens my koerant, my maatskappy en my lesers vertolk het, het die ruimte vir ‘n replika van die Maas-insident werklik nie bestaan nie.

Vir so ‘n een-dimensionele rubriekskrywer wat net op kontroversie teer –

kontroversie ter wille van die kontroversie – wat skok net om te skok en wat kwaad maak ter wille van sy eie sardoniese plesier, sou in my span werklik nie plek gewees het nie. Noem my outyds, maar ek verkies ‘n rubriekskrywer met joernalistieke integriteit, een wat wel omstrede kan wees as dit moet, maar wat lesers ook kan ontroer, laat lag en laat dink. Iemand met geloofwaardigheid. Iemand wat lesers se vertroue geniet, en wat daarom verskoon word as hy dalk ‘n keertjie ietwat te geniepsig of gewaagd sou raak. Nie ‘n studentikose warkop nie.

Maas het immers al in die bylae By en elders sy kleure al oor en oor gewys; ook sy ongelukkige nuk om daardie soort mense wat die bestendige ruggraat van ‘n blad se lesers vorm, te koggel, uit te daag, die harnas in te jaag en te vervreem. As rubriekskrywer was hy ‘n ongeluk wat ‘n plek en tyd gesoek het om te gebeur. Toe gebeur dit baie vinnig by sy nuwe krip, Rapport. By slaak seker ‘n dawerende sug van verligting oor die tydige verlies van hierdie “media-ster”!

Rapport ontken nie dat Maas om net een rede gehuur is nie. Dit is om die pot behoorlik te roer. Pleks van voel-voel daardie gevaarlike waters instap, gee die koerant die nuweling toe onverstaanbaar sommer ‘n hele kosbare blad se ruimte om te maak en te breek soos hy wil. Maas is baas! Sulke onmiddellike redaksionele gasvryheid aan ‘n wildvreemdeling wat nog nie begin het om sy spore op die nuwe werf te verdien nie, vind ek ongehoord.

“Maar sê nou ….,” bly my vriend por. Dié hardnekkigheid bring my by ‘n redakteursbeskouing wat nie almal van die huidige generasie seker deel nie. Noem dit maar, om nie aanstoot te gee aan gevoelige siele nie, ‘n ferme hand aan die stuur. Daarmee bedoel ek dat ‘n redakteur ongenaakbaar moet kan wees en genadeloos moet kan optree. Potensiaal plofbare kopie, veral van iemand met Maas se reputasie, sou ek persoonlik met ‘n fynkam sorgvuldig deurgewerk het. Sinnetjie vir sinnetjie. Woord vir woord. As ek sou twyfel, sou ek die hulp van senior kollegas inroep. As ek steeds twyfel, sou ek eenvoudig ‘n streep daardeur trek of sy skryfsel in die snippermandjie skiet. Vra maar my kollegas van destyds. Hulle sal dit beaam.

Niemand se skryfwerk is immers onaantasbaar of is te vernaam om prulwerk te gaan oorskryf nie – en die snippermandjie is in elk geval waar baie van Maas se produkte eerder tuisgehoort het as in die kolomme van ‘n ordentlike koerant.

Kommersiële belange het in die Maas-geval sterk ter sprake gekom. Ek verkies om te konsentreer op die lesers se waardes, norme en sensitiwiteite. ‘n Redakteur ken sy lesers – of behoort hulle te ken. Hy weet van watter stoffasie die kernkorps gemaak is en wat hulle sal sluk of nie sal sluk nie. As hy verstandig is, sal hy nie willens en wetens grense probeer oorsteek of bakens verskuif nie. Dan lok jy die soort verset uit wat Rapport nou uitgelok het en wat tot groot skade vir hom, sy uitgewers, dié se aandeelhouers en ‘n boel ander belanghebbendes kon gewees het

My vriend se moedswilligheid duur voort. Wat van Rapport se aanspraak dat die noue band tussen hom en sy lesers deur die hele moles opnuut herbevestig is, wil hy weet. Daarop is net een antwoord. Soos ek dit sien, raak die band tussen ‘n blad en sy lesers mos nie eers sigbaar na so ‘n konflagrasie nie. Die bestaan van daardie band vermy juis so ‘n konflagrasie omdat dit dan nie vir die koerant as ‘n skielike verrassing kom wat sy lesers sal aanvaar of nie sal aanvaar nie – hul waardes is deel van die kollektiewe weefsel van die onsigbare vertrouensband wat vir die aanklank tussen hulle sorg.

Dalk klink ek onsimpatiek. Laat ek dus byvoeg: ‘n mens moet jou hoed afhaal vir Tim du Plessis dat hy sy voet so dwars gesit het. En ek glo hom dat dit nie ‘n besluit is wat van bo af aan hom opgedwing is nie. In daardie opsig is die lof vir sy moed en vir Rapport se daadwerklike optrede onderskryfbaar.

Aan die ou einde van die dag – om ‘n gevierde losskakel aan te haal – is die een feit wat uitstaan, egter nie hoe verdienstelik of onverdienstelik Rapport die Maas-virus uit sy gestel geskud het nie. Dit is dat hy die virus uit die staanspoor so ‘n houvas op hom gegee het dat hy gedwing was om te doen wat hy gedoen het.

Vir al die betrokkenes sou dit onteenseglik beter gewees het as pro-aktief opgetree is, eerder as te skarrel nadat die koeël reeds deur die kerk was. As daardie lessie insink, sal iets goeds darem uit die petalje gebore word. Dan sal selfs hierdie onbegrypende oud-redakteur sy ongemak maar filosofies probeer verduur. (HvD)

Fred Schnetler

Fred Schnetlerwas baie soos sy geliefde 1941 Packard wat hy gerestoureer het, skryf Leo Kritzinger in die huldeblyk hieronder: betroubaar, eerlik, opreg, met net so ‘n sweempie aristokrasie in sy houding. Op die foto is die “twee Packards” saam.Vrydag op Malmesbury groet ons ons ou maat wat op die gebied van die motorjoernalistiek ‘n bakenverskuiwer in Afrikaans was, en ook met sy uitmuntende kennis van alle musiek en hope ander onderwerpe uitgeblink het. My huldeblyk aan ‘n besonderse mens is die plasing van hierdie besonderse – ontroerende – huldeblyk deur Leo, wat self ‘n vurige oumotor-entoesias is. (HvD)

FRED SCHNETLER – ‘n Huldeblyk

Deur Leo Kritzinger

Toe ek Donderdag vroegoggend my ateljee tuis binnestap om my e-posse na te gaan, huil daar ‘n yl, koue wind buite in die vroeë skemerdonker. Dit was asof die wind ‘n droewige tyding met hom saamdra. En dit was ook so: toe ek die eerste boodskap oopmaak, is dit van oud-Volksbladredakteur Hennie van Deventer, met die nuus dat daar besluit is om die toediening van Fred se medikasie – na ‘n maandelange siekbed in intensiewe sorg – te staak. Die hoop op ‘n sinvolle herstel was net nie meer realisties nie. En Vrydagoggend om tien oor vier het daardie groot Suid-Afrikaanse motorgees sy enjin vir oulaas afgeskakel.

Ons was bevoorreg om Fred Schnetler as lid van die Early Ford Car Club vir die laaste klompie jare te kon hê. Toe Fred en sy vrou, Marie, van Bloemfontein na Malmesbury verhuis het, het hy my geskakel en navraag gedoen oor lidmaatskap van ‘n oumotorklub. Vanselfsprekend het ek die EFCC aanbeveel. Fred was toe al nie gesond nie, en moes heeltyd gekoppel bly aan ‘n draagbare suurstofmasjien. Dit het egter nie sy geesdrif vir die oumotor-beweging gedemp nie. Jy kon sweer die man het 40-graad motorolie in sy bloedstroom gehad!

Die kuiertjies in sy klein, maar netjies-ingerigte studeerkamer sal my altyd bybly. Omdat dit vir hom moeillik was om rond te ry, was Fred maar al te bly as ‘n mede-motorgeesdriftige kom inloer het vir ‘n koppie koffie en ‘n soetigheidjie, en daar oor vuurwaens gesels kon word. As hy eers aan die praat geraak het, het sy oë gevonkel en kon jy maar terugsit en luister: die man was ‘n wandelende motorensiklopedie van formaat. Fred se kennis oor oumotors sal sekerlik nie in ons leeftyd oortref word nie. Hy’t nie net oor tegniese kennis beskik nie – maar kon staaltjie ná staaltjie uitryg oor die manne agter die motors: Henry Ford, Ransom E. Olds, Louis Chevrolet, noem maar op.

Een van die laaste gunste wat hy my bewys het (sy siekte ten spyt), was om my boek oor Ford-advertensies (Daar’s ‘n Ford in jou Verlede!) te proeflees en vir historiese korrektheid na te gaan. Fred het my op ‘n paar punte latere verleentheid gespaar. Ek het besluit om die boek aan sy nagedagtenis op te dra.

Fred het sy huiswerk deeglik gedoen. Sy boekrakke het gekreun onder die gewig van honderde boeke oor motors en hul skeppers – van die mees obskure fabrikate tot die mees algemene. Sy versameling het die volledige Automobile Quarterly-reeks ingesluit – vanaf die eerste uitgawe was hy intekenaar. Fred het verlede jaar sy unieke boekery aan die Franschhoek Motormuseum geskenk.

Motors en boeke oor motors was uiteraard Fred se passie. Sy groot voorliefde vir karre het reeds in 1939 begin toe sy ouers hom ‘n stel Amerikaanse Tootsietoy modelmotortjies vir sy vyfde verjaardag gegee het. Van toe af was hy verslaaf aan motorkarre.

Baie sal egter verbaas staan om te hoor dat Fred nie sy loopbaan in die motorbedryf begin het nie, maar as ‘n interne ouditeur by Phil Morkel in Bloemfontein. Maar droë syferwerk het nie sy verbeelding aangegryp nie. In sy vrye tyd skryf hy ‘n werk oor die motor (Die Motor van Cugno tot Wankel) en lê die manuskrip aan Pieter Spaarwater, destyds motorredakteur van Huisgenoot, voor. Pieter, op sy beurt, het die manuskrip aan ‘n uitgewer gerstuur, maar soos dit maar gaan, is dit van die hand gewys. Pieter het egter Fred se deeglike kennis oor taalgebruik en motorsake raakgesien, en toe Huisgenoot ‘n artikel oor Rolls Royce motors wou doen, is die opdrag aan Fred gegee. Sy loopbaan as motorjoernalis het sy eerste hupstoot gekry.

Later het Die Volksblad van Bloemfontein ‘n redakteur vir hul sake- en motorbylae gesoek. Fred het aansoek gedoen en is in 1974 in die pos aangestel. Volgens Hennie van Deventer was Fred ‘n meester agter die tikmasjien en kon hy sinvolle kopie skryf oor feitlik enige onderwerp. Hy’t nie verniet op Edwill van Aarde se program as Flinkdinker uitgeblink nie. Sy gebruik van Engels was onberispelik, terwyl sy kennis van klassieke en populêre musiek onverbeterlik was. En hy kon blykbaar afval voorsit soos ‘n wafferse cordon bleu sjef.

Afgesien van die legio artikels van hom wat in dagblaaie en tydskrifte verskyn het, was Fred ook outeur van ‘n klompie landmerk-boeke oor die motorbedryf. Van hom het verskyn: Motors en hul Makers (1975), Ford: Gister, Vandag en More (1978), en A Century of Cars, sekerlik sy magnum opus, wat in 1997 verskyn het. Daarna het hy nog vir Mercedes Benz SA ‘n hoë-gehalte spogboek die lig laat sien. Fred se boeke sal voortleef as monumente van sy veelsydige kennis van die Suid-Afrikaanse motorwêreld en motors in die algemeen. Sy aansien in motorkringe het ook oor ons grense heen gestrek toe hy in 1996 deur die gesiene Antique Automobile Club of America gevra is om as Packard-beoordelaar op te tree, en weer toe hy as lid van ‘n paneel aangestel is om die Internasionale Motor van die Jaar in 1999 te kies.

Fred het drie motors in sy leeftyd gerestoureer – ‘n 1958 Lancia Appia, ‘n 1935 Adler Diplomat, en sy geliefde 1941 Packard sesslinder-sedan wat sedert 1979 in sy besit was. Ek onthou nog toe Fred met meer as net ‘n tikkie hartseer vir my laat weet het dat hy ná 25 jaar nie langer die Packard kon behartig nie, en dat ek moes rondkyk vir ‘n koper vir die motor. Onwillig het ek aan sy versoek voldoen, en ek was teenwoordig by die bittersoet geleentheid toe hy die Packard se sleutels aan die nuwe eienaar oorhandig het. Terloops, die motor is tans deel van die Rupert-versameling wat uitgestal word by die motormuseum net buite Franschhoek.

Fred was baie soos ‘n Packard – betroubaar, eerlik en opreg, met net so ‘n sweempie aristokrasie in sy houding. ‘n Mens met goeie, outydse waardes op wie jy kon staatmaak en ‘n ware gentleman. Hy laat ‘n groot leemte in ons oumotor-geledere, maar wees van een ding verseker: die hartklop van Fred se enjin sal nog vir ‘n baie lang tyd gehoor en gevoel word.

Naskrif: Op 5 Mei 2007 het ‘n stuk oor Fred op my webjoernaal (blog) verskyn na ‘n besoek aan Malmesbury. Omdaardie afleweringte lees,kliek telkens op “next” totdat jy by webjoernaal 31 kom (HvD)