Bloemfontein die roep my en ek moet gaan!

Hierdie keer was dit die Afrikanerklub wat die Van D’s geroep het – na sy goue jubileum op Donderdagaand 25 Oktober, met die bekendstelling van Sarel Venter se gedugte gedenkboek, ‘n Plek in die son, die spilpunt van die viering.

Ek is genooi as geleentheidspreker en ons het om vier redes met ‘n lied in die hart op Mango se propvol Boeing 737 Bloemfontein toe geklim:

(a) Omdat dit juis kollega Sarel se boek is wat bekend gestel is. Ons het by Die Volksblad ‘n lang pad saamgeloop en ek het vir sy joernalistieke vaardighede en integriteit groot respek.

(b) Omdat elke besoek aan Bloemfontein ‘n heerlike tuiskoms is na my en Tokkie se heimat waar soveel persoonlike goue herinnerings hul ontstaan gehad het.

(c) Omdat ek my so volkome vereenselwig met die Klub se uitgangspunt van Trots Afrikaans en sy veldslae vir Afrikaans, soos oor eentalige munisipale rekenings.

(d) Omdat die okkasie so ideaal was om keel skoon te maak oor die besoedeling van Afrikaans met allerlei Engelse mode- en gebruikswoorde, en die rysmiere wat hom van binne koloniseer. Soos van diegene Afrikaans en Engels sommer goedsmoeds deurmekaar kan klits, is vir hierdie paar ore eenvoudig te erg om te verduur.

P.G. du Plessis het al verklaar: “Dis nie die regering wat ons taal wil dooddruk nie. Ons vermoor hom self! Ons vermoor hom in elke huis en kombuis en hoër skool … as ’n taal se trots gesterf het, dan gaan hy vrek. En dan kan jy nou maar baklei en verenigings stig.” Ek sluit my 100% by P.G. aan.

Hy kon gerus die kerk bygevoeg het by die huis, kombuis en skool. Vir my is onsuiwer taal van die kansel af een van die grootste irritasies. Dis nou mos nie meer net shows/songs wat vir die sogenaamde celebs en cool jongmense amazing, spectacular en/of exciting is nie, dis nou selfs al God en sy wonderwerke – sy miracles! – vir dominees op die kansel.

Daaroor het ek al in Die Kerkbode gekla en ook ‘n paar persoonlike potjies geloop. Een was met ‘n byderwetse jong leraar, voorheen van Melkbos, met die griewende gewoonte om Afrikaans en Engels ewe jollie ( “jollie” kom voor in die HAT) te “mieks” (“mieks kom nie voor in die HAT nie!)

Hy het een Sondag van die kansel verduidelik dat hy in sy preek ‘n Engelse woord gebruik omdat hy nie aan ‘n Afrikaanse ekwivalent kan dink nie. Ek ry toe na kerk huis toe en raadpleeg my HAT. Dié bied ses uitnemende Afrikaanse alternatiewe. Dieselfde oggend nog gaan gooi ek ‘n briefie in sy posbus.

Hy het hom vervies. Dat ek hom kort tevore voor stok gekry het omdat hy met ‘n T-hemp op die kansel verskyn het, het hom nie liewer vir my gemaak nie. Hy begin toe wyd verkondig, en skryf dit selfs later in Die Kerkbode, dat op Melkbos gryskoppe is wat liewer nou maar op die stoep moet gaan sit en vir die see kyk! Ek het geweet hy het my in die visier. Dit daar gelaat – ek wil nie op die dominees pik nie.

Mag ek darem net twee aanhalinkies uit my Bloemfontein-toespraak hier herhaal vir wat dit werd is:

Nommer een: “Om ‘n kampvuur het ek die idee gehoor dat ons ophou om please en thank you te sê. Ons kap daardie woorde uit ons woordeskat. Ons sê net asseblief en dankie, soos die France silvous plaiz en merci se – diegene wat nie weet wat dit beteken nie, sal gou agterkom.”

Nommer twee: “Een van die uitdagings is om, in die idioom van die dag, die persepsie te swaai dat dit die bad guys is wat besorg is oor Afrikaans. Tong in die kies: dalk moet ons die regte bad guys aan die kaak stel soos die modekenners jaarliks die tien swaksgekledes vroue aan die kaak stel en die besgekledes ‘n pluimpie gee.

“Moet iemand met aansien nie die voortou neem om die tien vrotste Afrikaanspraters in Afrikaanse geledere en die tien beste jaarliks by die naam te noem nie? Dalk is die idee nie so tong in die kies nie!”

Nommer een is Tokkie proefondervindelik aan’t toepas in die praktyk, bv. by motorwagte. Sy rapporteer gunstige resultate.

Van nommer twee sal natuurlik niks kom nie. Maar dis nogal pret om so ‘n lysie in jou eie gedagtes te begin opstel!

Wat ek nie geweet het nie, is dat die Afrikanerklub se grondwet inderdaad in ‘n stadium voorsiening gemaak het vir die toekenning van ‘n sogenaamde Galbitter-prys vir “die instansie en/of individu wat Afrikaans die afgelope jaar met minagting behandel het en sodoende Afrikaans die grootste skade berokken het.”

Sarel Venter het laat weet: die deel oor die Galbitterprys is ‘n jaar of wat gelede op ‘n jaarvergadering geskrap. “Dalk moet die Klub dit maar weer instel.” Puik idee, Sarel. Ek sekondeer!

Sarel is nie net die outeur van die boek nie. Hy en sy vrou, Liesbeth, was ook my en Tokkie se wellewende gasheer- en vrou in hul gastehuis Komweer in De Jagerstraat, Fichardtpark. ‘n Meer vanpaste naam kon hulle nie vir daardie gastehuis uitgedink het nie. ‘n Kenmerk van die Venters se gaste is dat hulle weer kom en weer, en weer…

My eie Vrystaatse wortels is al in 1992 uitgetrek en Tokkie s’ n twee jaar later. Mense wat toe flinke 70-jariges was, is nou 85-jariges in wisselende grade van broosheid. Een, Oom Danie Pienaar, vertel hy het al 20 keer geval.

Diegene wat “jeugdige” 55-jariges was, is nou die 70-jariges. Een van hulle is ‘n ander gewaardeerde oud-kollega, Jan Scholtz. Sy 70 is onlangs gevier, en hy glip die aand vinnig uit die saal om ‘n pypie op te steek. ‘n Vierjarige kleindogter van sy vrou, Marlene, se suster loer toe by die deur uit, kyk na hom en se: “Jy lyk soos die duiwel.”

Uit die mond van die suigeling…

Jan se kommentaar: “Self het ek natuurlik nog nie die duiwel gesien nie, maar ek wonder op 70 of die kindjie nie iets beet het nie!”

Ja, hoe ouer jy word, des te ruimer humorsin het jy nodig. (HvD)

FOTO: Volksblad se foto van die okkasie. Van links is Gert Terblanche, Sarel Venter, Francois Retief en HvD.

Vyf juwele in die Wildtuin

Onontdekte juwele kan ‘n mens, hulle nie werklik noem nie. Geheime ook nie. Vandag deel ek egter graag met joernaal-vriende vyf juwele in die sentrale Kruger-wildtuin wat hoog op my lys van MOETE is. Dit is plekke waarheen ek en Tokkie graag besoekers bring, en waarop van hulle so versot geraak het dat hulle telkens terugkeer.

Onder die vyf is twee piekniekpekke, Nhlanguleni in die weste en N’wanetsi in die ooste (hoekom die een “n” n afkap-komma kry en die ander nie, weet ek nie). Die ander drie is ‘n voëlskuiling, Lake Panic, naby Skukuza, die Skukuza-gholfbaan (heerlike ontbytplek) en die NG gemeente Krugerpark. Drie van die vyf is ‘n klipgooi van Skukuza – dan is daar mense wat nie by Skukuza dood gesien wil wees nie! Een is nader aan Satara, maar die pad van die suide af (d.w.s van Skukuza) is sterk aan te beveel. Die vyfde moet jy van Satara af nader – die pad is amper ‘n groter genot as die bestemming.

Nhlanguleni het ons ontdek na die sterk aanbeveling van ‘n amptenaar van die gewese ou Parkeraad se vrou. “Dit is waarheen ons Parkeraadmense altyd gaan. Dis nie juis op ‘n toeristeroete nie,” het sy verklap. Die eerste besoek was ver van die laaste!

Buiten dat Nhlanguleni so afgesonder, stil, aards en ongerep is –

“unspoilt by human hands!” – het ons al op pad daarheen van die beste leeu-, buffel- en olifanttonele gesien. Die leeufoto hierbo is op pad na Nhlanguleni geneem.

Die skilderagtige Lugmagdam net voor jy Nhlanguleni bereik, is uit ‘n wildoogpunt ‘n Wildtuindam sonder weerga. Groot samedrommings sebras, waterbokke, blouwildebeeste, rooibokkies en seekoeie kom voor. As jy gelukkig is, kry jy kameelperde, koedoes en buffels op die koop toe. Verskeie ander damme op die roete lewer ook verrassings.

Hoe kom jy daar? Ry noordwaarts Tshokwane toe. Draai links af na die Mantimahledam. Bly dan op die grondpad verby N’watindlopfu, Jones se dam en die Manzimhlophedam noordwaarts. Dit is die S36, die Nhlangulenipad. Na so 30 km sien jy die piekniekplek (aan die linkerkant) se watertenk. Die natuur in daardie geweste is nie waffers nie en as jy ‘n goeie selfoonsein soek, bly weg. Maar kanse is dat net een of twee ander motors – of geen – die bosatmosfeer daar met jou deel. En jy kan braai met ‘n uitsig op ‘n pannetjie waar enigiets kan kom drink.

N’wanetsi trek hope besoekers. Sy netheid, knusheid, eersteklas-geriewe en lieflike ligging aan die Swenirivier en die N’wanetsidam maak dit egter die moeite werd om die gegons maar filosofies te trotseer terwyl jy jou wors en eiers gaarmaak. Vat daarheen die S100 wat 2 km suid van Satara oos swenk. Dit is bekend as die N’wanetserivierpad. Op daardie pad het die Van Deventers al groot troppe wild gesien – ook heelparty leeus. Om die Vyf Grotes op een rit raak te loop, is nie onmoontlik nie.

Moenie by die Gudzanidam verby ry nie. Daarvoor draai jy noord aan die einde van die rivierpad. Die kilometer of twee wat jy ekstra ry, beloon jou met een van die mooiste water-uitsigte in die Wildtuin.

Die voëlskuiling Lake Panic is digby Skukuza. Jy kry die afdraaipaadjie na links so 10 km van die Krugerhek af. Herman en Rina le Roux wat Lake Panic deur ons ontdek het, maak nou soveel reklame vir die plek onder hul aansienlike vriendekring dat die toeloop eenvoudig moet groter word! Op die oomblik is die kanse egter nog goed dat daar vir jou ‘n stilhouplek (net agt motors word toegelaat) en ‘n paar sitplekke in die skuiling self sal wees. Moet net nie jou kamera en verkyker vergeet nie. Watervoëls is gek na die plek. Jy sien ook gereeld pragtige bosbokkies, hope seekoeie, krokodille en skilpadjies. Ons het al buffels daar gekry. Ons kinders het olifante afgeneem wat deur die water ploeg.

Aan dieselfde meer lê die Skukuza-gholfbaan. Die is al geruime tyd oop vir die publiek – jy moet net n vrywaringsvorm teken, want jy kan jou enige tyd in

‘n leeu, ‘n wildehond of ‘n ander gevaarlike ding vasloop. ‘n Bruidegom het sy naam krater gemaak toe hy net voor sy swaai vir ‘n trop wildehonde skrik, sy bruid omtrent onderstebo spring om in ‘n boom te kom. Van sy veilige tak raai hy haar toe luidkeels aan sy as wapen moet gebruik: “Vat die nine iron! Vat die nine iron!”

Jy hoef egter nie gholf te speel nie om die gholfbaan, sy ruim grasdak-klubhuis en die prentjiemooi uitsig oor die negende setperk aan die oewer van Lake Panic te geniet. Die klubhuis is bekend vir sy ontbyte (en die kroeg is altyd oop). Groot porsies, smaaklik en niks duur nie. Trouens, vra my wat is die beste kopie in die Wildtuin. Daardie ontbyt, sal ek dadelik antwoord.

As jy op ‘n Sondag in die Wildtuin is, doen jouself ‘n guns en gaan kerk toe. Dit is in Skukuza se personeeldorp aan die N’waswitshaka. Dienste is om 08:30 en jy kan maar met ‘n oopnekhemp gaan. Ek het al in die hoogsomer ‘n ouderling met kortbroek en tekkies uit die konsistorie sien kom! Die rustige atmosfeer in die intieme kerkie spoel behaaglik deur ‘n mens se gemoed. Die leraar, ds. Carl Louwrens, het altyd n boodskap wat tref, en die klein Skukuzagemeenskappie is buitengewoon gasvry.

Iets baie spesiaal is die gemeente se stilte-nagmale waarheen jy jou by geleentheid op ‘n weekmiddag vir ‘n uur of wat kan onttrek vir ongejaagde meditasie en bepeinsing terwyl die vlakvarke die grasperk omdolwe en die voëls in die reuse-koorsboom voor die kerk ‘n eie koor vorm.

Ek sou vir Renosterkoppies graag ‘n plek in my eie Vyf Grotes wou vind. Of vir die Sunsetdam by Onder-Sabie in die laat middag. Of vir een baie spesiale suipplek langs die Salitjepad – ene wat na my wete nie ‘n naam het nie, maar waar die Van Deventers al gesien het hoe leeus van die een kant en ‘n luiperd van die ander kant rooibokkies bestorm. Uiteindelik misluk die roofdiere, maar gryp ‘n opportunistiese krokodil wat uit die Sabie verrys, enetjie aan die nek en sleur hom blêrend die dieptes in. Maar dis ‘n ander storie vir ‘n ander tyd en plek. Genoeg vir een dag. (HvD)

Vir ‘n 20-stuks relevante foto’s klik op die volgende skakel: www.picasaweb.google.com/hennievandeventer Klik dan op die omslagfoto van die tydelike album HvD se blogfoto’s (die sebras).

Die Volksblad ini Bos

Is die bleddie kar nog nie verkoop nie? Jou advertensiebreek raak darem nou ellendig lank. So kapittel ‘n vriend my.

Moet toegee, die intermezzo op die HvD-blog is ietwat uitgerek. Ek wou al lankal uitkom by die Volksblad-okkasie in Sabiepark. Op my skedule is ook joernale oor, soos dit in die Bybel gestel word, my plek wat my nie meer ken nie, ‘n paar geheimpies oor die Kruger-wildtuin, begrafnisse wat ontaard, die verknoeiing van Afrikaans deur ons eie mense en ‘n paar ander dinge.

Maar ek wou darem graag ‘n goeie kar (teen ‘n goeie prys) aan ‘n goeie eienaar verkoop. Blykbaar gaan die HvD-blog nie daardie ambisie verwesenlik nie.

Ewenwel, vier lede van die hoofredaksie van Die Volksblad in die jare tagtig het toe in Augustus in Sabiepark saamgetrek vir die sogenaamde “Tarlehoet-bosberaad”. Ek en Tokkie was vanselfsprekend daar. Paul en Cora Marais het van Hartenbos gekom, Herman en Rina le Roux van die Rand en Sarel en Liesbeth Venter asook Piet en Petro Theron van Bloemfontein. (Kyk die spanfoto hierbo.)

Aan die Therons se koms hang n stertjie. Hul Renault Megane het in Pretoria gelol. Toe koop Piet sommer vir hom ‘n Renault Espace. Mensig, is dit nie nou ‘n lekker ruim Wildtuinmotor nie. Hy is daardie paar dae deeglik ingewy.

Oor die saamtrek self het Cora haar soos volg uitgelaat: “Ons is veilig tuis en dink met groot lekkerte terug aan ons saamwees in die bos. Ons ken mekaar al soveel jare maar ek ontdek nog steeds eienskappe wat elkeen van julle se unieke andersheid beklemtoon. Jare van geluk en trane het elkeen van ons laat groei, oordele versag en begrip, deernis en liefde vir mekaar geleer.”

Dis nou mooi gestel, want daardie “unieke andersheid” sluit natuurlik ook ‘n paar geite in, wat nie met die jare minder geword het nie. Trouens, dit raak nogal mededingend as verskillende mense presies dieselfde gebeurtenis taamlik verskillend onthou!

Gelukkig bly ingebore talente ongeskonde. Piet Theron is steeds n braaier van formaat. Ons het hom ingespan.

Soos van joernaliste verwag kon word, is skrywery hoog op die meeste se agenda. Sarel Venter het pas ‘n boek oor die Afrikanerklub van Bloemfontein se 50 jaar voltooi – ‘n gedugte stuk werk. Herman le Roux het weer sy memoires in ‘n private bundel op skrif gestel. Sonder dat die twee van mekaar bewus was, is hul titels presies eenders: ‘n Plek in die son. Vir die twee kollegas met die boeke met die eenderse titels het die kameras geflits.

Herman het ook vir ‘n ander besonderse foto gesorg. Wetend dat bobbejane lastig kan raak en hiënas in die winter taamlike skade aan motors se syspieëltjies aangerig het , het hy opgedaag met sakkies wat Rina spesiaal uit oorskietlap gemaak het om die spieëls veilig in toe te wikkel en ‘n enorme plastiekslang wat hy op die voorruit van sy Mercedes opgekrul het. Nie ‘n man wat kanse waag nie.

Paul het ‘n splinternuwe stokperdjie wat ver van die joernalistiek verwyder is. Hy doen klipwerk. Ons het nou ‘n sitkamerlamp wat van Hartenbos kom –

deftig en kleurryk. Dis net ‘n studie om agter te kom watter klip watter klip is!

Ongelukkig had ons ‘n ongenooide gas wat ons spoed ietwat gebreek het: ‘n bose maagvirus. Die Marais’s het dit glo heel moontlik op die vlug Johannesburg toe opgetel. Die virus het Paul eerste beetgekry en hom liters vog laat verloor in Sabiepark. Dit het gelei tot lae bloeddruk. Hy sê dat hy gevoel het soos ‘n marionet waarvan sy toutjies alles losgeknip is. Geen ledemaat wou met die ander saamwerk nie

Terug in Johannesburg, beland Paul en Cora toe albei in die daghospitaal. Soos sy dit stel: haar koors was deur die dak en Paul se bloeddruk deur die vloer (95/ 65). Hulle is vir ‘n paar agtereenvolgende dae gespuit met kortisoon en antibiotika en is ge-”nebulise”.

Maar omtrent die hele boel was die een of ander tyd onwel. Die Saterdagaand was die uwe so wankelrig dat hy gaan inkruip het toe die Springbokke Engeland so met 36 – 0 opgedons het. (Hoop hulle kry dit Saterdagaand weer reg!)

Paul sê terloops Cora het vinniger as hy herstel, moontlik omdat sy jonger en dalk taaier as hy is, of dalk omdat sy in Johannesburg ‘n betrer dokter getref het as hy. Hulle het ‘n dr. McAtamney aan haar toegewys, terwyl hy dr Moodley gekry het. Sy het binne-aarse inspuitings en druppe gekry, terwyl hy met pille en wasems tevrede moes wees

Uiteindelik was die “bosberaad” ‘n sukses, meen ek. Sarel en Liesbeth se rustigheid en kalmte, Herman se ondempbare geesdrif vir sy vriende en voëls, Rina se onoortreflike beskuit, die Therons se bakke biltong (en Petro se vrolike laggie ondanks haar eie en hul seun Pieta se gesondheidsprobleme), Paul en Cora se rateltaaie blymoedigheid – roer alles saam, en die resep is reg.

Dankie, Philip (wat doerie tyd nuusredakteur was) en Nance van Rensburg, vir die leen van twee slaapkamers in Innibos. En o, geluk aan Olive Riley van Australie wat vandag haar 108 ste verjaardag vier. Sy is glo die wêreld se oudste blogger. Heidenhert!

HvD

Tooi jou in rooi, Tokkie!

Oor Tokkie het ek op ‘n keer ‘n versie geskryf:

Tooi jou in rooi,
my rooibloed-vrou,
om my vir altyd
aan jou voete te hou.

Haar liefde vir enigiets rooi is wyd bekend. Haar rooi hardebol-hoedjie versier dikwels die ouderlingsbanke van die NG kerk Melkbos.

Nou gaan sy ‘n rooi kar kry. Haar tweede – sy het in 1971 die trotse eienares geword van ‘n rooi Mitsubishi Colt, die goedkoopste karretjie van sy tyd. Dit was haar eerste wiele.

Daarna het gevolg twee Renault 5’s (‘n oulike geel-en-swartetjie en daarna ‘n silwer meneertjie), ‘n geel Opel Monza (polisiekar!) en toe ‘n swart C180 – ‘n totale verrassing wat haar sprakeloos gelaat het (en dit wil gedoen wees!)

Johan (ons seun) het die omstandighede van daardie sleutel-oorhandiging as “vulger romanties” beskryf. Vulger romanties of te nie, Tokkie was dolverlief op daardie kar en het vir hom so lief gebly dat sy trane gestort het toe sy nuwe baas hom kom haal.

“Toemaar, mevrou, jy kan vir hom kom kuier – ons woon gelukkig net hier om die draai,” het die ou verlee getroos.

Nou die nuwe kar: sy kleur heet karneool-rooi. Oor die feit dat dit ‘n rooie moet wees – enige kleur solank dit rooi is! – het die egpaar Van Deventer gou konsensus bereik. Al die goed bedoelde advies dat ‘n wit of ‘n silwer kar die beste is vir herverkoop het ons soos ‘n 60-spoedsone ge-ignoreer.

Ons is woordeboeke toe om die oorsprong van die kleur se naam te bepaal. Blykbaar is die karneool die een of ander gesteente – iets soos ‘n robyn. Op die kar lyk dit so donker maroen dat dit amper swart voorkom vir hierdie ou sukkelaar met sy rooi-groen-kleurswakheid.

Die kar kom eers in Februarie, as die agterstand weens die staking dan al ingehaal is. Sal hom vir die lesers van my webjoernaal wys as hy kom. Maar nou eers iets oor die foto hierbo.

Wat maak hy daar? Is dit omdat Tokkie ‘n rooi baadjie dra? Verkeerd geraai. Die werklike rede is – wag daarvoor – kommersieel. Dis tyd vir ‘n handelsflits – of sommer doodgewoon ‘n advertensie. My webjoernaal is nie verniet op Yahoo se Small Business-platform nie.

Ewenwel, daardie wit kar waarby my vrou in April 2002 so ingenome afgeneem is (jinne, Penguin Place 11 was nog nie eens gepleister en geverf nie, sien ek!) kom in die mark.

En dis nuus wat ek met vrymoedigheid in hierdie hopelik geloofwaardige, betroubare en vertroude ruimte versprei. Rede nommer een: daardie wittetjie met die swart leerbekleedsels het maar nog net 53 000 kilometers gedraf. Die gemiddelde vir ‘n 2002-model is 117 000. Die kar is dus spik-splinternuut.

Rede nommer twee is dat hy opgepas is soos net Tokkie ‘n kar oppas, met baie liefde en streng reels oor wat in hom mag gebeur en wat nie. Eet is byvoorbeeld uit. Alle ander aktiwiteite wat die sindelikheid van haar ryding selfs net tydelik ietwat bedreig, bejeen sy met vyandigheid.

Hoeveel passasiers het al agter in haar motor gesit? Buiten die tweeling Jacob en Thomas weet ek van min. En daardie twee woelwaters weet ook al as hulle in Ouma se kar klim, moet hulle hul rooimiere in bedwang hou. Ouma praat net een keer!

Van gister af ry ons met ‘n A4-Te Koop-advertensie teen die agterruit – iets waarvan Tokkie niks hou nie, maar waarvan sy die onvermydelikheid aanvaar. Die feit van die 53 000 kilometers word daar vermeld. En die prys. Dis R143 000.

Vertel maar vir vriende of kennisse wat ‘n goeie kar soek van hierdie ene. Niks verskuilde gebreke in hom nie.

Vir die rekord: dis ‘n Elegance. Buiten vir die swart leer binne, beteken dit die ander binne-afwerking is ook effens deftiger as die gewone. Die ratkas is outomaties. Die wiele onderskei hom van buite van die gewone Classic.

Die prys is bepaal na ‘n deeglike studie van die Auto Trader, ander motoradvertensies in koerante en op die internet, en in oorleg met diverse vriende, kennisse en vriende van vriende wat by Mercedes-handelaars (van Century City tot Witbank) die kitaar slaan. Dis markverwant. Ietwat te laag geteiken met die oog op ‘n maklike, vinnige transaksie. En dis nou nie ydel verkoopspraatjies nie! (HvD)

Re-unie-ouens

Kyk, jy kry re-unie-ouens en jy kry nie-re-unie-ouens. Ek is ongekwalifiseerd een van eersgenoemde. Tokkie beweer ek sal 1 000 kilometer ry om ‘n re-unie van my speelgroepie by te woon. Sy maak ‘n groot fout: daar was nie sulke goeters soos speelgroepies in my tyd nie!

Nietemin vir my matriek-re-unie 50 jaar nadat ons klas van 81 Volkies op Potchefstroom einde 1957 vaarwel gese het, het ek meer as as 1 000 kilometer gery – amper 1 400 (x 2 natuurlik). Op die koop toe het ek by Laingsburg ‘n boete van R300 opgetel vir ‘n nommerplaat wat TE GROOT en TE SIGBAAR is! By Warrenton is ek twee keer in twee minute (09:15 en 09:17) deur ‘n kamera betrap (njannies). Saam kos dit R950. Op Bloemhof is nog R150 vir my bygevoeg …

‘n Peperduur maar heerlike uitstappie. Tog wonderlik hoe maats mekaar na lang afwesighede die hand kan reik en kan voortgaan of geen water intussen onder die brug deur is nie. Sommmige kom op hul oudag inderdaad beter klaar as toe hulle kraak-jonk in matriek was!

Die foto bo van Willie Hartzenberg (nou regter Hartzenberg) en Wena de Kock (nee Louw) demonstreer hoe lekker daar gekuier en gelag is. Hulle was in 1957 saam by die matriekafskeid: twee skoongesig-kinders. Hy was duxleerling en sy hoofmeisie. Die fotonemery 50 jaar later het vanselfsprekend met allerlei kommentare gepaard gegaan, ook van die betrokke gades.

Op die foto onder is die Latynklas – die enigste wat met 100% bywoning kon spog. Van hulle bestaan ‘n storie wat hulle nie tot eer strek nie. In standerd nege het hulle ‘n nuwe Latyn-juffou gekry, Oumatjie van Schouwenburg. Sy was seker diep in die 70 en het soms maar met die woelige seuns gesukkel. In haar gebed aan die einde van ‘n skooldag vra sy toe op ‘n keer dat die seuns tog nie weer so met haar moet maak nie. Dit het ons geruk. Willie H. het mooi gevra: “Boys, gedra julle nou.” Ons het.

Ek dink Oumatjie sou in 2007 trots gewees het op haar klas: twee regters, allemintig! Die ander het nie een te vrot uitgedraai nie – as dit nie ‘n te onbeskeie aanspraak is nie!

Maar ingebore woeligheid skud ‘n mens nie af nie, nie eens in 50 jaar nie. Een van daardie vyf was dit wat ‘n taamlike waaghalsige klouter-beweging uitgevoer het vir die soveelste klasfoto van die Latiniste – twee verdiepings hoog op ‘n muur met ‘n boog aan die bokant. Hy het die vier ander uitgedaag om te volg. Ek was eerste om die gevaar van ‘n gebreekte been, pols of bekken uit te wys. Die ander wou ook nie byt nie. Sal liewer nie die naam (en hoge posisie) van die waaghals verklap nie.

Buiten die gemaklikheid waarmee ou bande opgetel is, tref die element van broosheid wat al ingesluip het, ‘n mens soos ‘n vuishou. Nie almal sou meer oor die tralies van die eerste verdieping kon klim vir ‘n foto nie! Trouens, party is al krom van ouderdom en loop maar sukkel-sukkel.

Uiteindelik het 37 van die 51 wat opgespoor kon word, opgedaag. Minstens 15 is al lang boompies toe. Daardie 37 sou meer gewees het. Maar toe gaan staan die hoofseun, Koos van Niekerk, dubbele longontsteking en kry. Hy bel uit die hospitaal met ‘n gans-stem. En hy is met sy matriekkys, Ina, getroud. Minus twee dus. Nog twee meisies laat weet hulle kan nie meer kom nie: een is pas gediagnoseer met longkanker en begin met chemo, ‘n ander se man het beroerte. Hartseersake.

My kamermaat in Jack Pauw met wie ek lank gespook het om seblief tog te kom – ek verlang na die bokker wat ‘n keer my meisie afgevry en haar toe in ‘n ridderlike oomblik vir my terugegee het – moes ook met ‘n grafstem telefoniese verskoning aanbied. Erge griep. Sal ek ou Wiekie nou ooit weer sien?

Na al die uitruil van adresse, e-pos-adresse, telefoonnommers en re-uniefoto’s – na al die briefies en oproepe om oor en weer dankie te se – is almal nou weer terug in hul ou patrone by hul blyplekke oor die land versprei. Die ene pas kleinkinders op; daardie ene is ‘n wereldreisiger, nog ene is midde-in ‘n egskeiding. Party swoeg nog om den brode. Ander stap met hul kieries langs die see. So is die lewe maar.

Maar ek het ‘n vermoede. Dit is dat die spontane warmte in die hart wat daardie September-naweek op Potchefstroom gegenereer het, by elkeen wat daar was, lewendig gaan voortleef as ‘n stuk brandhout vir die oudag se herinneringe (my studentemaat Manie Steyn se mooi uitdrukking).

To ons weer ontmoet! (HvD)

Naskrif: Ons skool bied die laaste jare elke tweede jaar ‘n sogenaamde “musical” aan wat vriend en vyand aan die juig en jubel het. Ons re-uniegangers was vanjaar bevoorreg om die Vrydagaand na die Puk op te ruk vir die 2007-opvoering. Wat ‘n skouspel! Maar hoekom het die skoolmeisies in die jare 50 nie so gelyk, so gedans en so aangetrek nie? Ai, my maat!