Goeie more uit Melkbos op die laaste dag van September

Al wat swaar is van Sabiepark is elke keer se tot siens. Hierdie woorde uit die hart het ek in ‘n nawoord tot my bosboek Buurman van die Wildtuin neergepen.

Op Erfenisdag, 24 September, het die tyd vir nog ‘n tot siens aangebreek. Die gewone heimweë het soos ‘n digte mis toegesak terwyl die roosters geskrop, die gaskrane toegedraai en die lanterns gevul is vir die volgende kuier in Maart 2008. Saam met die swarigheid in die gemoed was egter ook ‘n soliede stuk dankbaarheid.

Met hierdie afskeid – die 24ste – is ‘n dekade van groot vreugde afgesluit. Die Van Deventers het in die naweek van 15 en 16 November 1997 Sabiepark toe gekom om te kom kyk na Ukuthula (Vrede van binne), wat na die dood van die eienaar in die mark was. Vier maande later het die nuwe eienaars ingetrek en die plek herdoop tot Tarlehoet – die naam van ‘n Boesmantjie in ‘n Elizabeth Vermeulenverhaal wat in die Van Deventer-idioom overgeset kan word in iets soos Plek waar ons gelukkig is.

Dit is juis ons Tarlehoetbord (‘n sierlike stuk swarthout) wat Tokkie op die foto hierbo na tien jaar se blootstelling aan die elemente ‘n slag deeglik opknap.

Die bos en Tarlehoet het in die tien jaar al dieper in ons bloed gekruip. Ons herinneringe is gebundel in tien foto-albums, vyf dagboeke, een “gedenkboek en geskenkboek” met my 60ste verjaardag, Halfpad hemel toe, die boek Buurman van die Wildtuin wat hierbo genoem word, en twee olifantboekies, Mayafudi (Afrikaans) en Mayafudi – memories of an elephant (Engels). Dit is onmoontlik om deur daardie vrag inligting en foto’s te sif en ‘n sinryke terugblik oor die tien jaar aan te durf. Ek volstaan met enkele flitse – uiters onvolledig en uiters onbevredigend, ongelukkig.

Voorop in enige ode aan Sabiepark moet vanselfsprekend staan die natuur – die intieme kennismaking daarmee en die belewenis daarvan op honderde wandeltogte op hierdie Bosveld-Eden se gruispaadjies – ongewapen, buiten met kameras, verkykers, voëël- of boomgidse en kieries – lang ure van volslae rustigheid op Tarlehoet se ruim kuierstoep onder die hoë grasdak, en meer Wildtuinritte as wat ek kan begin om te probeer bereken.

Die Bosveld se rykdom aan diere, voëls en bome het ons harte stormenderhand verower. Die verowering het ‘n betowering geword wat voortduur.

Nuwe bos-ervarings kom boonop elke dag by. ‘n Paar aande gelede was ek en Tokkie geamuseerde toeskouers van ‘n kostelike kos-konfrontasie tussen ‘n lekkerbek-koedoekoei en Witnek, ons “inwonende” duiker-rammetjie van die begin af, nou ook al krom van ouderdom. Die volgende oggend het ‘n troppie rooibokkies in die helder oggendson nader as ooit tevore aan die voorstoep gewei. ‘n Paar dae tevore was ‘n tienstuks kameelperde amper bo-op die agterstoep – ook die naaste ooit aan Tarlehoet.

In ons gasteboek is al meer as 150 inskrywings deur ou en nuwe vriende. Wat ‘n voorreg was dit nie om oor tien jaar saam met dosyne goeie vriende langbeen om kampvure te kon sit onder sterre wat, in die woorde van wyle Pieter Pieterse, die skrywer, “elke nag nader aan die aarde lyk as wat jy kan onthou” (Boude en blaaie).

Vriendskappe veredel in die ongejaagdheid van ‘n bosvakansie – kan iemand stry?

Wanneer Dawie Strydom van Outeniekwastrand sy mondfluitjie uithaal en God sy met u tot ons weer ontmoet in die flikkerende skaduwees van die laaste hardekool-vlammetjies strelend opklink, soos nou weer by die afskeidsbraai vir hom en Annetjie, kry so ‘n uurtjie om ‘n vuurtjie sowaar ‘n ewigheidsdimensie. Dit is in sulke oomblikke dat die gedagtes bly dwaal na name in die gasteboek wat intussen ook op grafstene uitgekerf is: Alf Ries, Magriet Jonker, Frik Dreyer, Piet Möhr, Evert Smith, Tant Sina Roux, Cilia Roux ….

Herinneringe borrel op aan lentes, droogtes, donderstorms (skouspelagtig en intimiderend!) en vloede – soos in Februarie 2000 toe die Sabierivier in ‘n paar donker ure minagtend oor vorige vloedlyne gebars en ‘n streep van Sabiepark se imposantste huise amper dakhoogte onder ‘n watermassa begrawe het. Die pragtige piekniekplek met sy wandelpad, manjifieke bome, grasperke, bankies en braaiplekke is deur die honger rivier ingesluk.

Ons was kort na daardie rampspoedige dag daar, verbyster, verslae en terneergedruk. Maar ons kon dankbaar ook die herrysenis van ons plek beleef – al is ons weergalose wandelpad al langs die rivier af Krugerhek se kant toe klaarblyklik permanent verlede tyd.

Aan die tuisfront was memorabele okkasies soos die tweeling, Jacob en Thomas Claassens, se alleenkuier in Junie en hul entoesiastiese braaihulp elke aand – “brandhout vir oudag se herinneringe”, soos my vriend Manie Steyn van Krugersdorp dit digterlik stel. Nog sulke “brandhout” was die Groot Braai met die Probusspan wat in ‘n konvooi uit Melkbosstrand opgeruk het – met vure by die voor- en agterlapa’s, yslike ysterpotte vol pap en sheba en tjops en wors vir Afrika – pas, ‘n Volksblad-reünie van my eerste hoofredaksie in 1980 asook kuiers saam met kinders (ongelukkig nog nooit almal saam nie) en Ouma (93) wat nie meer die krag het om ooit weer op Tarlehoet se stoep te kom nie.

As daardie swembadjie maar kon praat, sou hy ook nogal wat kon vertel van hoe in die bakkende Laeveldse somers elke laataand ‘n koele lafenissie opgesoek word!

Met die Wildtuin op jou drumpel, skaars twee kilometer van Sabiepark se hek, is in die tien jaar hoeveel kere vinnig ingezits agter leeus, ‘n luiperd, olifante, buffels of renosters aan. Waar elders kan dit gebeur dat ‘n vriend jou by jou huis bel met die nuus dat sewe leeus op die teerpad Skukuza toe lê en minute later is jy dan op die toneel om gedenkwaardige foto’s te neem? Of om so vinnig oorkant die rivier te kom agter ‘n trop olifante aan dat Sabieparkers by die piekniekplek hul oë nie kan glo nie? Die bewyse hang teen Tarlehoet se soewenier-muur.

Waar anders ter wêreld, inderdaad, kan jy, soos in Sabiepark, in die woorde van my vriend Cas Jacobs van Centurion “afgeneem word saam met alles wat jy sien”? Ook talle bewyse daarvan hang teen die mure of is sorgvuldig agter sellofaan in ons albums. Of dit nou die piepklein nagapies is wat elke aand die toeskouers boei met hul ratse “valskermspronge” agter die repies piesang aan wat spesiaal vir hulle voorberei word, ‘n koedoekoei wat die voëls se pitjies kom gaps, ‘n olifant wat onverwags langs die swembad opduik, ‘n luiperd by jou voorstoep, twee hiënas wat in die watergat afkoel, of ‘n vlakvark wat op die stoep jou werksaamhede kom inspekteer – Sabiepark het in die tien jaar wat verby is, deeglik gesorg vir onvervangbare foto’s.

Wat die gevleueldes betref, het die koninklike bloukuifloeries (die voëls met die rooi vlerke, noem die tweeling hulle) ‘n ereplek op die Van Deventers se lys van gunstelingbesoekers verwerf. Dis ook baie spesiaal as ‘n indrukwekkende berghaan sierlik oor jou dak draai of ‘n visarend oor jou werf sy kenmerkende kenwysie van die bos bly roep en roep. En sal ons ooit die Sondagoggend vergeet toe ‘n jagarend ‘n boskorhaan hier by ons in die lug pak? Ons was skoon oorhoeks toe die arme slagoffer met sy spikkel-vere en trotse lang nek spartelend voor ons voete neerstort.

Van Bosbeldbome het ek tien jaar gelede niks geweet nie. Nou weet ek darem knoppiesdoring (een van ons erf se “nasionale bome”, soos die maroela) is kameelperde se gunsteling ondanks hul geniepsige dorings, kan ek onderskei tussen al die combretums – van die rooiboswilg tot kierieklapper (wel, amper!) — kan ek die verskil tussen ‘n reuserosyntjie, wit rosyntjie en vaal rosyntjie verduidelik, ken ek die reuke van die aartappelbos en sekelbos, en verlustig ek my aan die blomme van die goudgeel sambokpeul en die bloedrooi huilboerboon.

Spanning en rusies was daar in die tien jaar wel. Oor die “kokery” van diere-sensussyfers in ‘n vorige era en die geheimsinnige verdwyning van 12 kameelperde wat tot wye ontsteltenis deur my ontdek is, het harde woorde geval en is verhoudinge erg versteur. Die stryd in die begin van die nuwe millennium oor ‘n heining of nie tussen Sabiepark en die Wildtuin was plek-plek bitter en onverkwiklik. Gelukkig het verstandigheid geseëvier – al was dit ook maar net! Hopelik seëvier wyser insigte oor die gevare wat Sabiepark se te groot hiënabevolking – tot gevaarlike bedelaars gereduseer deur onnadenkende eienaars – uiteindelik ook nog.

Oor die periodieke strooptogte van roofdiere oor die Wildtuin se grens heen is die hart ook maar seer. Toe ‘n trop leeus in 1999 vyf weke vertoef het, was die slagting onder ons wild iets geweldigs – onder meer ‘n klein knopknie-kameelperdjie wat Tokkie pas afgeneem het met sy naelstring nog onder sy buik. In die laaste jaar is vier sulke klein kameelperdjies daarmee heen: slagoffers van leeu, luiperd, hiëna en natuurlike siekte. hierdie vakansietjie is ‘n dragtige koedoe deur ‘n luiperd uitgehaal. Haar klein fetussie vind ‘n tuiste in ‘n bottel formalien.

Ook aan die debietkant: die gesukkel met halsstarrige vrieskaste en yskaste, gas wat op die onbehoorlikste tye opraak en om die primitiewe swembadjie sonder filter kraakskoon te hou – alles ‘n bron van grys hare vir die oningewyde stadsjapie wat op die harde manier moes kom leer. Maar algaande leert men. Danksy ‘n “invertertjie” en my selfoon sit ek nou hoog en droog op die stoep en e-posse wissel!

Daarmee terug na die kredietkant. Laat’n mens jou liefs aan die mooi dinge verlustig. By al die ander plusse, en sommer hoog op die lys ook, kom die kennismaking en meelewing in vreugde en verdriet met die klein NG gemeente Krugerpark en sy herderpaar, Carl en Sarah Louwrens; Sondae se gesellige kerkuitstappies cum wildritte met die “Bosbus” (die getroue blou kombi wat nou aan ene Dennis Mkhabela van Barberton behoort), die gesonde verhoudings met Sjangaan-edelmanne soos Willem “Baardman” Shabangu, en respek vir eerlike arbeiders soos die immer blymoedige Patson Ndlovu.

In die tien jaar van 1997 tot 2007 staan twee name in die Van Deventers se verslagboeke uit. In die (mense-)gasteboek is dit dié van die Le Roux’s van Randburg (Herman en Rina) wat al nege keer oor Tarlehoet se drumpel gestap het en juis weer in Maart 2007 saam kom reünie hou. In ons diverse dagboeke en foto-albums is dit die Loxodonta africa of te wel die Afrika-olifant wat hier aan die soom van die Sabierivier oorvloedig voorkom.

Van hierdie wêreld se grootvoete het ons so goed leer ken dat hulle name gekry het, soos Stompstert en Langtand. Eersgenoemde is totaal sonder stert en is die lewende bewys daarvan dat, soos Andries Brewis, vriend van Melkbosstrand, op 1 Augustus 2002 lakoniek in die gasteboek opgeteken het: “Olifante se sterte groei nie weer!” Langtand se tande is inderdaad tamaai. Oor hom het Jaco van Wyk, ons peetkind van Pretoria, hom op 12 Augustus in dieselfde boek bewonderend soos volg uitgelaat: “Wat ‘n naweek – met ‘n honderdponder bul wat ons twee keer by die piekniekplek verras het.”

Terugskouend was geen Sabiepark-ervarings van die Van Deventers en hul mense in die laaste dekade so konstant opwindend, onvergeetlik en oorvertelbaar as ons hope kennismakings met olifante nie – soms maar met bonsende harte!

Die Sabierivier daar van die Krugerbrug se kant af by die piekniekplek verby tot waar die S4 uit die S3-rivierpad wegvurk Doispanepad toe is inderdaad (volgens ‘n vertaling van my vriend Willem Shabangu) Ndzawu ya Tindlopfu – die Plek van die Olifante.

Dis die Sabie se olifante wat my geïnspireer het om twee Mayafudi-boeke die lig te laat sien. Nou het die nuwe inspirasie gekom om, aan die hand van die Van D’s se kollektiewe gedokumenteerde olifant-ervarings en foto’s, ‘n derde olifantboekie te waag – nie weer fiksie nie, maar hierdie keer ‘n rapport van wat werklik gebeur het. Sal maar volgende week die rug begin buig.

Wat het Johan van Wyk altyd gesê as die trekkers so begin brul die oggend nadat dit gereën het ? “Die blerrie fools ploeg al weer!” Nou-ja, hier brul hierdie “blerrie fool” se trekker (rekenaar) ook weer, Maar tien jaar is darem tien jaar. Dit moet op die een of ander tasbare wyse met meer as net ‘n glasie vonkelwyn feestelik gedenk word. (HvD)

Alle paaie lei na Potchefstroom

Vir Volkies se matriekklas van 1957 lei alle paaie die naweek na Potchefstroom. “Ons kom weer lag, ons kom weer droom.!” Ons sal seker darem ook ‘n wyntjie of wat geniet op die goeie ou dae saam met lekker maats en mooi meisies.

Die Van D’s val more vroeg-vroeg in die pad. Die eerste stop is by my Kollegemaat Johan Bekker en sy vlytige vrou, Antoinette, by Jacobsdal. Hoop die skaap en die ganse is so mooi soos laas. Vrydag stoot ons aan Potchefstroom (Tlokwe!) toe.

As die Kaap soos vandag lyk, sien ‘n mens sommer dubbel uit na die reis, want vandag is dit hier winter. Dis grys, nat, koud en in die algemeen mistroostig en onplesierig – hoewel ‘n strepie sonskyn op hierdie oomblik deurbreek..

Maandag vat ons die pad via my Kollegemaat Manie Steyn en Sannie aan die Wes-Rand Sabiepark toe – hoop net nie die Wildtuin is nog so ‘n pikswart stuk verbrande aarde soos op die twee foto’s hierbo nie. Hulle is begin Augustus geneem op die Doispanepad op pad na die Phabenihek nadat ‘n mal Britse toeris glo in ‘n woedebui jeens sy vrou met ‘n vlammende kardoes die veld aan die brand gesteek het. Wonder wat het van die vent geword.

In Sabiepark wag ‘n tweede re-unie: die van ‘n hand vol lede van my eerste hoofredaksie by Die Volksblad in 1980: Herman le Roux, Sarel Venter, Piet Theron en Paul Marais en hul gades, Rina, Liesbeth, Petro en Cora.

Ook daar gaan die byle huil so tussen die sebras, koedoes, nagapies en wat nog.

Ons is eers op 1 Oktober terug op Melkbos, want Jan Scholtz se 70ste le ook nog in Bloemfontein voor.

‘n Lang storie – net om besoekers mee te deel hierdie webjoernaaltjie (blog) se gordyn sak hiermee tot so die 2de, 3de Oktober. Hopelik het ek dan ‘n storie of twee om oor te vertel!

Mooi loop.

HvD