Bos-avonture

Aan die een kant van die skokdraad ons, net aan die ander kant – drie, vier meter ver – ‘n olifantbul met tamaaie Mafunyane-agtige tande – so naby dat jy die slaap in sy oë kon sien; amper ook sy mangels wanneer hy die vars afgestroopte blare in sy oop mond prop. Jaco van Wyk van Pretoria het foto’s geneem wat hiervan die onweerlegbare getuienis lewer. Bo is twee daarvan – kyk net daai tande.

Ja, nader aan ‘n Grootvoet was die Van Deventers en/of hul gaste in Sabiepark nog nie as hierdie vakansie in onse piekniekplek nie – ons en die Van Wyks (Jaco en Lientjie) as’t ware in die voorste ry met ons opvoustoele en plastiek-wynglase vir ‘n skemerdrankie. Gelukkig was “Mafunyane” die rustigheid vanself, want die skaretjie kinders wat sommer plat op die grond daar teenaan hom kom sit het, het klaarblyklik nog nie gehoor net ‘n nat kol bly oor as so ‘n knewel op jou trap nie.

Langtand hou skynbaar van Sabieparkers se geselskap. Die vorige aand, Nasionale Vrouedag, was dit amper ‘n geval van selle storie, selle tyd. “Ons olifant” – die nimlike – het in die dalende skemer doelgerig aangeslenter gekom. Teenaan die plankieheining wes van die piekniekplek, het hy eindelik stelling ingeneem, ook bitter naby aan die opgewonde groepie gelukkige toeskouers.

Wat ‘n super-kwartiertjie was dit nie wat ingelui is met Tokkie (“Valkoog”) se uitroep tydens ‘n vrolike wyndrink-sessie: “Daar’s drie olifante”. Ons het net kameras gegryp en laat spaander, maar net een van die drie ou grotes het dit darem so naby gewaag.

Min het ons toe besef 24 uur later lê ‘n nog groter olifant-avontuur voor – by ‘n heininkie wat nog broseriger lyk (en inderdaad laer en broseriger is!) as die eerste!

Die twee olifant-episodes het die kroon gespan op die vrugbaarste Sabiepark-vakansie aan die olifantfront sedert 1998 – in die Van Deventer-annale as die “Jaar van die Olifant” gedoop. Nou, nege jaar later, was Langtand gereeld in die prentjie. Ek het ook ‘n foto van my en Pierre le Roux van Mosselbaai by die piekniekplek met hom in die agtergrond. Hy boer daar in die Krugerhek-kontrei en die Sabierivier voor die piekniekplek is klaarblyklik sy persoonlike drinkgat.

Een Sondag na kerk was ons en Dawie en Annatjie Strydom met die CR-V op pad huis toe. Op die S3-rivierpad draf twee olifante vinnig voor ons verby. Langtand se handelsmerk het dadelik sy identiteit verraaai. Omdat dit ‘n stillerige rit was, het ek stilgehou. Gelukkig. Die volgende oomblik begin die twee mekaar stampstamp. Hulle kry mekaar in ‘n kopklem beet en die slurpe knoop soos koesisters.

By my was min twyfel dat dit ‘n uitbarsting van olifant-aggressie is. Huismoles dalk? Ander teorieë is ook geopper. “Hulle speel net.” “Hulle gesels sommer”. “Is daar nie dalk romanse in die lug nie?” Wie sal ooit weet?

Wat is mooier as ‘n troppie olifante wat in die laat namiddag by ‘n skilderagtige watergat ontspan? Op die Salitjepad tussen Onder-Sabie en Skukuza het ons so ‘n pragtoneel gesien.

Oor daardie einste watergat het ek in Halfpad Hemel toe die volgende geskryf: “Eendag, eendag, glo ek, gaan daardie watergat langs die Salitjepad ons weer beloon.” Dit was oor ons ervaring in 1973 toe leeus en ‘n luiperd uit twee rigtings op bokkies by die water toegesak, maar ‘n krokodil uiteindelik die enigste geslaagde vangs uitgevoer het.

Dis ‘n Wildtuinstorie soos min waaroor ‘n ongelowige Chris van Rensburg van Bloemfontein nie ophou om Tokkie te terg nie. Gaan lees gerus HHT, bladsy 18.

In elk geval, die vakansie swaai ek weer by daardie watergat in om vir Ben van Rensburg en Rina Koen van Langebaan “Tokkie se plek” te gaan wys. Toe – 33 jaar later – beloon die gat ons ‘n tweede keer op ‘n besonderse wyse. Van die mooiste olifanttonele waarvan ‘n mens kan droom, het hulle daar voor ons oë afgespeel. T. het 20-stuks getel, groot en klein. Die getal is egter nie belangrik nie. Die hele prentjie was eenvoudig onvergeetlik.

Tien olifante op die laagwaterbrug tussen die personeeldorp en Skukuza was ‘n Van Deventer-eerste – en ons steek daardie brug seker vier, vyf keer ‘n week oor. By die Olifantdrinkgat het vier dors bulle ook die kameras laat oortyd werk. Die olifante het omtrent op hul tone moes staan om uit die hoë sementdam te drink.

By die Silolwenidam het ons twee olifante in die water raakgeloop wat met mag en mening met hul slurpe toutrek. Skynbaar was daar ook onenigheid oor iets. Die volgende oomblik ontbondel die twee en laat vat uit die dam dat jy net sien water spat. Dit was nie tien sekondes nie toe’s die olifante weg agter ‘n bos en die lui seekoeie in die water die enigste teken dat jy jou in die Wildtuin bevind. Die mense in die motor wat net na ons stilgehou het, het waarskynlik net die verdwynende agterlywe van die twee bulle gesien. ‘n Klassieke Wildtuin-situasie.

Die groot vraag is of ons die beroemde Duke op die H4-2 gesien het of nie. Mense het ons vertel van ‘n enorme olifant langs die pad met enorme tande wat tot teenaan die grond reik. Toe ons op die toneel kom, was die reusedier al dieper die bos in. Sy lyf was massief – dit kon jy sien.

Maar die Wildtuin bestaan nie net uit olifante nie. Van die hoogwaterbrug oor die Sabierivier op die Onder-Sabiepad het ons ‘n spannende leeujag dopgehou. Dit was onsuksesvol. Maar om die hele operasie van die brug af te sien ontplooi, was nogal iets om te onthou. Die naaste amper-vangs was by die Nyamundwadam op die Doispanepad waar ‘n luiperd oop en bloot halfpad om die dam geloop het (‘n halfmaan van ‘n goeie 200 meter) agter ‘n troppie rooibokkies neffens die parkeerplek aan. Sy teikens het hom net betyds gewaar en blasende gevlug.

By Lake Panic het twee seekoeie stomend en proesend vlakvoor ons gepaar – vet pret! Op die Phabenipad was vier cheetahs onder ‘n boom. Ons het twee keer swartwitpense en drie keer njalas raakgeloop – wat ook besonders is. Renosters was volop, met twee wat by die Delaporte-watergat naby Skukuza drink en twee in die middel van die Doispanepad die prima-renosterwaarnemings.

Op pad na Nhlanguleni het ons en Pierre en Esther le Roux twee groot troppe buffels raakgeloop. Die tweede, by die Lugmagdam, was ‘n fotograaf se droom. By die skilderagtige dam was ook sebras, waterbokke, seekoeie en wat nog – ‘n idilliese Wildtuintoneel so uit die boek.

Soos daardie olifant by Sabiepark se piekniekplek ‘n “naaste tot dusver” was, is ook op ons werf by Tarlehoet ‘n paar “naastes tot dusver” aangeteken. Kameelperde het een oggend so na aan die huis gestaan dat jy feitlik uit die kombuisvensters aan hulle kon vat. ‘n Stewige trop rooibokkies het tot teenaan die heining van die voorste lapa kom wei. Ander het uit die watergat gedrink. Vier loeries saam in die rooiboswilg by die watergat was ook ‘n baie spesiale eerste.

Die eerste Saterdag in Julie het ons jaarvergadering gehou met vier leeus wat op en af marsjeer oorkant die rivier – heel opwindend. Later moes ‘n trop sebras ‘n ent hoër op teen die rivier voor die vier laat spaander.

Hiënas het in Sabiepark met n nuwe laai vorendag gekom. Hulle peusel nou aan motors se syspieëltjies. Mercedesse, BMW’s, Camrys en ander sedanmotors het deurgeloop. Nie almal wat skade gely het, was juis geamuseer nie!

By Tarlehoet het ons en ons gaste gelukkig skade vrygespring. Groot opwinding vir die Malans van Pretoria (Cules, Dalene, Macus en Anel) was toe twee hiënas gelyk in die voëlbad kom drink. Cules en Marcus is met flitse die donkerte in.

Koedoes het opwinding besorg met periodieke besoeke aan die voëls se pitjies. Een middag was daar nie minder nie as 10 koedoes op die werf en by ons watergat. Die bosnagaap het weer sy verskyning gemaak, gelukkig betyds vir die tweeling Jacob en Thomas om ook met die gulsige meneer met die spoggerige stert kennis te maak.

‘n Bobbejaan het by ons kamerdeur ingestap (dit fluister ek maar saggies!) en by die eetkamerdeur uit, met (genadiglik!) min skade en/of gemors. Blykbaar het hy die deur net oopgeskuif en ingestap. Die skoonmaakvrou Lucy se advies was kort en kragtig: “Lock, lock, lock!” Beter advies ken ek nie.

Die eerste aand toe Esther le Roux in die kamer kom, roep sy verskrik uit: “Slang”. Waarlik daar lê so ‘n swartetjie opgekrul teen die skuifdeur. Pierre het hom met die opgevoude koerant uitgehelp.

‘n Tarlehoetrekord wat sekerlik lank sal staan, is die 249 foto’s wat Ben van Rensburg in twee dae op sy gedugte digitale Canon ingeryg het! (HvD)

FOTO’S: Vir foto’s van ons bosvakansie, klik eers op www.picasaweb.google.com/hennievandeventer

Klik vervolgens op die album van u keuse.

AANBEVEEL: Album 11, By die piekniekplek, Album 14: Sabiepark (2), Album 15: Wildtuin (2) en album 19: Jacob en Thomas (2).

HvD

Potsberg toe

Op ‘n mooi dag mik Postberg toe. Die blommetapyt is skilderagtig, en die Maleise hoenderkerrie by Geelbek vingerlek-lekker.

Goeie advies: gaan vroeg voor die verkeer te druk raak en kruie dan laatoggend Plankiesbaai toe en terug. Die pad is nie oral vyf-ster nie, maar die tonele langs die pad is oor en oor die moeite werd.

Vir ‘n beter beloning kan ‘n mens nie vra nie. Moenie die kamera by die huis vergeet nie!

Ons het Dinsdag selfs ‘n elandtrop van minstens 100 bo die blomme sien uittoring. Wat ‘n gesig!

HvD

Die klas van ’57

Vyftig jaar gelede, 1957, was die jaar van die Russiese Spoetnik, Gert Potgieter se eerste wêreldrekord in die 440-hekkies,karre soos die elegante Chev Bel Air en die Plymouth met sy enorme haaivinne, en Elvis Presley se treffers Jailhouse rock en I’m all shook up. Fliek van die jaar was The Bridge on the river Kwai. Die blyspel West side story het pas in New York geopen. Huisgenoot het ‘n sjieling gekos en ‘n pakkie Westminister 85-sigarette 1/3.

Op Potchefstroom se Hoër Volkskool was ‘n matriekklas van 81 wat uitgeblom het tot soliede pilare en pilaresse van die gemeenskap. Uit die klas get o.a. gekom twee regters (Willie Hartzenberg – wat duxleerling was – en Ferdie Preller van Pretoria), twee ouens met hul eie vliegtuie (dr. Anton Lombard, vlieënde dokter van Calvinia, en maj. David Malan, vlieënde boer van Fochville), twee spesialiste (Leon Engela en Mornay du Plessis van Pretoria), ‘n hand vol prokureurs, dokters, akademici, ingenieurs, boere en sakemense, BAIE onderwysers en onderwyseresse …. selfs een wêreldburger en een koerantman, naamlik die uwe.

Hierdie klas vier op 7 en 8 September sy “goue” herdenking 50 jaar nadat die 81 matrieks Volkies se skoolstof van hul voete geskud het en die wye wêreld in is met sterre in hul oe.

Die Klas van ’57 het destyds al gedink hy is nogal oulik. Nou bewys hy sy oulikheid op ‘n uitsonderlike manier. Hy gee naamlik vir die geleentheid ‘n baie spesiale boekie uit: 64 bladsye propvol nuus en foto’s oor klasmaats toe en nou. Die boekie is professioneel versorg en gedruk. Sy naam is ons boekie . Dis nie sommer ‘n hierjy-boekie nie!

ons boekie bevat o.m. boeiende grepe uit elkeen se lewe. Van die lief en leed wat in ‘n halfeeu beleef is, is plek-plek aangrypend, want nie almal se pad was altyd sonder dorings nie. Beproewings soos dood van lewernsmaats, kinders en kleinkinders en verrassend baie egskeidings word geboekstaaf.

Wat tog wel treffend is, is in hoeveel bydraes van buitengewone seën getuig word. Ondanks stampe en stote is die oorheersende indruk dat, in Bybelwoorde, ‘n pragtige deel vir ons klas afgemeet is – ja, wat ons ontvang het, is vir ons mooi.

Een van die mooiste stories is die van Piet Otto en Hettie du Toit. Hulle is in 1961 getroud en is – 18 jaar later – in 1979 geskei. In 1997 – ná nog 18 jaar – kruis hul paaie weer en vlam die ou liefde opnuut op. Hulle is weer getroud – en wat ‘n voorreg was dit nie, sê Hettie uit die hart.

Een skoolkys het gehou, gehou en gehou. Koos van Niekerk, hoofseun, en Ina van der Westhuizen is ou getroudes met drie suksesvolle kinders en vyf kleinkinders – n hegte familie.

‘n Teken van die tyd is hoeveel klasmaats kinders en kleinkinders in die buiteland het. Een se seun is getroud met ‘n Finse meisie. Hy praat met die kinders Afrikaans en sy Fins. Die kinders hoor hulle met mekaar Engels praat. Hulle was in ‘n Hollandse kleuterskool en het ’n Spaanse au pair gehad. ‘n Moderne toring van Babel.

Van die terugblikke op die goeie ou dae op die skoolbanke is nogal humoristies. Een onthou hoe hy in die Latynklas omgedop en uitgeskud is omdat hy nie kon onthou hoe skryf ‘n mens “na Rome toe” in Latyn nie. ‘n Ander roep in herinnering hoe twee maats as steelfotograwe of paparazzi ‘n ekstra geldjie verdien het – en stuur, as bewys, ‘n foto in van hom en ‘n (anonieme) meisie in vurige omhelsing voor die Biologieklas. ‘n Derde onthou ‘n klasuitstappie Pretoria toe, blink van die babelaas, nadat die vorige nag tot laat gekuier is. ‘n Vierde vertel van Volkies se eie “Mielieblaarklub” wat op debatsaande oor allerlei gewigtige skoolaangeleenthede diepsinnige gedagtes gewissel het.

Onder die handgeskrewe boodskappies wat in die boekie opgeneem is, is een van ‘n boer wat die klasmaats inlig oor hoe die skrywer oor sy handskrif pak gekry het – en voeg dan lakoniek by: “Soos julle sien was dit nie genoeg nie.” Niemand sal met hom stry nie! ‘

‘n Herinnering wat ‘n mens wil-wil laat skuldig voel, is hoe ‘n 70-jarige tantetjie, ‘n tydelike onderwyseres, roerend gebid het die seuns in haar klas moet haar tog nie so sleg behandel nie. Dit het hulle geruk. ‘n Mooi verhouding het daarna tot stand gekom.

In die boekie is o.m. ‘n foto-album uit die vyftigs – die mooie meisies uitgevat in hul kort swart skooljurke met lang swart kouse – foto’s van die ou klomp soos hulle nou lyk (en speel) en ‘n “muur van herinnering” waarop reeds 15 name van ontslape klasmaats uitgekerf is. Een was Dirkie Jacobs, grootbaas van Kanhym, wat jare gelede, nog in die ou bedeling voor die huidige vlaag misdaad, in sy huis in Johannesburg deur inbrekers doodgeskiet is.

In ‘n versie vir klas van ’57 dig ‘n DZN (dichter zonder naam) die volgende:

“Al is ons grys of bles of doof of krom,
party selfs dom van ouderdom;
in ons harte brand ‘n vuur:
‘n brokkie van ons hart lê hier.”

Ja, grys, bles, doof of krom – so kom die ou klomp op 7 September weer na Potchefstroom – “ons kom weer lag, ons kom weer droom”. HvD

Naskrif: Hierdie stuk is ‘n verwerking van ‘n bydrae vir die rubriek My storie op www.Beeld.com Foto’s uit my Volkie-album kan besigtig word in my Picasa-albums. ‘n Skakel na die albums is onderlangs op die tuisblad van my webwerf www.hennievandeventer.com

Bosplesier

In Buurman van die Wildtuin skryf die uwe oor bobbejane: “…laat ander mense maar by hulle stilhou om hul manewales te bekyk. Vandat ek die ou nasie op ‘n harde manier beter leer ken het, ry ek dikbek by hulle verby met ‘n permanente wraaklus in my boesem.”

Kanselleer, kanselleer! Sedert die vakansie saam met die kleinkinders in die bos is daardie gevleuelde woorde alles verlede tyd. Was gewees. Tokkie noem dit my “Finale Inbreek”: ek moes stop vir bobbejane. As ek wil ry, kla Jacob: “Aa mooi sien.” Dan sit ek die CRV mooitjies in trurat. Ek mag nie wegtrek voor die blessitse bobbejaan by die boom “uitgeping” het nie. Apies kry dieselfde ere-behandeling. Eers “ping” – dan mag ek verder ry.

Ek wil vandag meer vertel van daardie kuier – wees tog maar geduldig met die entoesiasme van ‘n oupa wie se oupaskap as’t ware nog in sy kinderskoene staan. Maar watter genot was daardie boskuier nie vir ons almal nie, ondanks periodieke klein opskuddinkies, ook onderling – soos die keer toe Jacob besig was om te bid. Sy flitsie het langs hom gereed gestaan vir die nag omdat dit bra “donter” raak in Sabiepark.

Hy begin toe bid: “Ek is n kindjie klein ….” Op daardie kritieke oomblik praat Thomas tussenin. Jacob maak toe sy oe oop, gryp die flitse en gee Thomas drie, vier houe. Daarna maak hy dadelik sy oe toe en vervolg …: “maak my hartjie rein, o Heer.”

Iets wat ons gou moes leer, is hoe absoluut onverbiddelik vasgeskop word dat alle klere eers ge-inspekteer word of dit T of J gemerk is. In die oggendskemer het Thomas selfs daarop aangedring dat Jacob met sy flitsie in ‘n skoen lig om doodseker te maak die allerbelangrike T is wel daar voordat hy dit aan sy voet sou duld!

Veral Jacob kon nogal veeleisend wees. Sy ouma beweer hy is uitgeknip sy oupa! Thomas het ook sy minder maklike oomblikke gehad. Hy was die een wat dit eerste gewaag het om teen streng vermaninge in die swembadseil as ‘n trampolien te benut. Maar stout ? Nee, darem nie regtig nie.

Wat ‘n belewenis was, was om hul ontdekking van dié vreemde wêreld met al sy andersoortige inwoners, nuwe gebruike en etiese kodes mee te maak. Juis die nuuskierigheid oor hoe alles werk en die gretigheid om te verken en eksperimenteer, laat ‘n man soms in die pekel beland. Maar die moets en moenies van die bos het ook byvoordele, soos om BINNE Sabiepark sonder veiligheidsgordel te mag ry en eie malvalekkers op stokkies en broodjies te braai – hoewel Jacob darem erg benoud was dat die broodjies as plaasvervanger vir sy geliefde “vleisie en ‘n worsie” opgedis gaan word!

Teen ons verwagting in, het hulle selfs sonder murmurering twee keer ‘n dag die ent piekniekplek toe gestap, rugsak en al. Jacob wat aanvanklik bra teensinnig die ongewone lang tog aangedurf het, het gou die afstand lag-lag kafgedraf, ente vooruit. Ons moes ons hees roep om te keer dat die gaping tussen voorbok en agterosse te groot word.

Aan die dierefront was genoeg opwinding om die twee sonder ophou te laat gons. Twee renosters het die eerste dag op pad na Phabeni breed en bonkig uit die bos gestap en lank genoeg geparadeer om deeglik bekyk te word. Twee olifante by die piekniekplek het vir n geleentheidsfoto gesorg wat ek op drie kameras verewig het – my Canon met sy lang lens, Tokkie se Pentax en die klein, nuwe digitale HP Photosmart. Dié twee het laatmiddag reg oorkant die uitkykdekke kom drink en in die water “mors”, aldus Thomas. Tokkie moes net ronddraf, ‘n beurende seuntjie op elke heup, om vir die fotograaf in die vinnig verswakkende lig die beste hoeke te bied (foto bo).

Die laaste wildritte het uiteindelik ook ‘n paar “wows” (leeus) opgelewer. Die beste was op die Onder-Sabiepad waar vyf agter ‘n troppie rooibokkies se bloed aan was. Die naaste amper-vangs was egter by die Nyamundwadam op die Doispanepad waar ‘n luiperd halfpad om die dam geloop het (‘n halfmaan van ‘n goeie 200 meter) agter ‘n troppie rooibokkies aan. Sy teikens het hom net betyds gewaar en blasende gevlug.

Helena die hiena het vir die twee se grootste skrik gesorg. Toe sy die eerste keer dreigend van haar laat hoor, wat in die “donter” klaarblyklik bloedstollend was, het hulle rillend na die beskutting van ouma se skoot gestorm.

Die nagapies (“nasapies”) het van die eerste aand in ‘n konstante stroom gekom. Dit was vet pret as dié piepklein diertjies so uit die pendoringboom toesak op die piesangskyfies wat die twee vir ouma help kerf het. (“Onthou, ‘n mens dra ‘n mes altyd met die lem na onder, hoor!”) As die bokkies (“botties”) so lewensbly hul spronge spring, het Jacob geskater van plesier. Witnek (ja, die bejaarde ou Witnek met sy een horing en al) het telkens kom pitjies soek, en Thomas was gou ‘n bedrewe verspieder – “bottie, bottie!”

Die bosnagaap het weer sy verskyning gemaak, gelukkig betyds vir die tweeling om ook met die meneer met die spoggerige stert kennis te maak. Koedoes en blou apies het gereeld kom pitjies soek Sebras (“sebas”) het vroegoggnd in die watergat kom suip. Die stoute bobbejane was op die stoep. (“Bobbejaan byt?”)

Ondanks al Ouma se voorspooksels oor hoe stout bobbejane kan wees (hulle is aan die grootoog-gehoor afkeurend geskilder as plegers van nare dinge soos om lekkers by kindertjies te gryp) was dit toe ‘n koedoe wat die prys vir diere-stoutheid gevat het (op ‘n vernuftige manier wat aan ervare inwoners van Tarlehoet nie onbekend is nie).

Die koei staan eers behoedsaam nader, haar opgeskote kalf so ‘n entjie agter haar, skuil ‘n rukkie ragter die Transvaal-katjiepiering, en stap dan doelgerig vorente na die voëls se vars pitjies in die Transvaal-saffraan by die watergat (net die vorige aand uitgesit). Dan begin sy dit oplek totdat die kosbakkie blink van die koedoespoeg.

Eindelose boomplesier is verskaf deur ‘n blinkblaar-wag-‘n-bietjie op die onderste punt van die motorpad. Elke keer, maar elke keer, as ons in Wildevy links draai piekniekplek toe moes Ouma eers toelaat dat die boom se dorings haar klere vasgryp. Ouma reageer dan berispend: “Nee, wag-’n-bietjieboom, ek gaan nie ‘n bietjie wag nie. Ek stap nou saam met Jacob en Thomas.”

Die twee het gou ‘n worsboom leer ken en was baie geïmponeer deur die yslike trosse piesangs aan die piesangbome. Blykbaar het daardie reuse-trosse as aansporing gedien om self soveel moontlik piesangs te “verorber” – soos Ouma Malan so beeldend sou gesê het. Jacob se rekord is 11 piesangs ‘n dag, Thomas het ingeklok op 10. Oupa was hulle dankbaar. Hul piesangverbruik het sy wynverbruik oortref!

Buiten betrokkenheid by die kosmakery (selfs om wortels te help kerf vir ‘n hoenderpotjie), het ouma die manne geleer van spore en mis, voorsorg teen malariamuskiete en ander “goggas” (wat skaars was, dankie tog!), voëls met “ghooi” vlerke (die bloukuifloerie) wat kok-kok-kok roep, volstruise en patryse (wat soms verwarring veroorsaak het) en ‘n boel ander wetenswaardighede wat ‘n driejarige verstandjie seker laat duisel het.

Jacob en Thomas het in hul maand in die bos werklik baie en ‘n groot verskeidenheid wild gesien, met die immergroen Witnek en die nagapies groot gunstelinge. Thomas kon net nie verstaan hoekom die ou duikertjie op die foto in die sitkamer twee horings het en in lewende lywe slegs een nie. Sê iets van sy waarnemingsvermoë!

Vir oupa en ouma was een heerlikheid van die saamkuier om hul kleinkinders se onderlinge kommunikasie intensiewer waar te neem as ooit tevore. Eindelose debatte het voorgekom. In watter omstandighede sal ‘n “nasapie” byvoorbeeld byt? Konsensus was dat ‘n lollery met sy piesang daardie klein diertjie moontlik tot sulke aggressie sal uitlok.

Thomas was net erg ongeduldig toe Oupa die vraag of ons kerk toe gaan verkeerd verstaan het. ‘n Uitstekende manier om dit by die stadig van begrip oupa tuis te bring wat die vraag behels, was om dadelik verduidelikend by te voeg: “Kom mense, kom” (die boodskap van die kerkklok). Geen ruimte vir twyfel daarna nie!

En is Thomas se beeldryke beskrywing van Oupa se verkyker as sy “groot oë” nie ‘n treffer nie!

Na aanleiding van die hoeveelste luidkeelse rendisie van “Twinkle, twinkle little star” (en “Happy birthday to you” ) het ek my geroepe gevoel om my eie geleentheids-kleuterrympie te skep – hoewel “skep” seker ‘n oordrywing is in die geval van ‘n parodie. Hier volg dit:

“Ou Tarlehoet, reuse-plesier,
Die beste plek vir mens en dier,
Want waar het jy al ooit gehoor
van ‘n lapa van agter en ‘n lapa van voor?”

HvD

Gesoek: Van Tonder, die donder, die hel

Gesoek: Van Tonder, die donder, die hel. Dit kan die opskrif van vandag se aflewering wees.

Wie daardie vuige karakter is en waarom hy hier gesoek word, sal hopelik mettertyd duideliker word. Die soektog duur egter sedert ons wintervakansie in Sabiepark na ‘n paar glasies wyn in die geselskap van Gustav (oud-appelregter) en Frances Hoexter, saam met wie ons (cum kleinkinders) hier in Sabiepark se piekniekplek kuier.

Toon van den Heever, oud-joernalis (wat hom in my kamp plaas), en oud-regter (Gustav se kamp), kom om die een of ander rede in die gesprek ter sprake. Vervolgens die feit dat hy vir ‘n bekende Engelse limerick ‘n nogal plesierige Afrikaanse weergawe neergepen het.

Die oorspronklike Engels lui so:

There was an old lady from Pod
Who thought all children were made by God.
But it was’nt the Almighty who lifted her nightie,
It was Roger the lodger the sod.

Ons almal onthou in ‘n koor die treffende slotstrofe van Toon se poging. “Roger the lodger the sod” het verbeeldingryk in “Van Tonder die donder die hel” gemetamorfiseer. Ons krap egter kop oor die res. Ek bied aan om dit op te spoor, “omdat dit in een van my boekies verskyn”.

Maar ek blaai verniet deur Scoops en Skandes en Flaters en Kraters, waar ek vermoed om dit te vind. Tuis gekom in Melkbos visenteer ek my leggers met stories. Ek moet ‘n handgeskrewe weergawe van albei besit wat ek by Willem Wepener afgesmeek het nadat hy by ‘n direksievergadering daarmee vorendag gekom het.

Daardie waardevolle dokument is egter spoorloos. Ek vra Jaap Steyn. Hy beveel Daniel Hugo aan. Daniel se hy het dit een keer by Stephan Bouwer gehoor. Hoop nie dis saam met Stephan graf toe nie. Buurvrou Una Beukman beveel Philip de Vos aan. Nee, hy weet ook nie.

Ek stuur sms’e aan enkele vriende wat ek as waarskynlike bronne van kennis oor sulke sake identifiseer. Maar niks spring uit nie.

Toe gaan sit ek maar voor my rekenaar, kry my geheue in rat en improviseer so ‘n bietjie. Wat hier volg, is nie suiwer Toon van den Heever nie. Soos hulle in musiek sou se, is dit ‘n variasie op ‘n melodie van Toon van den Heever nadat Hennie van Deventer vir hom sekere vryhede daarmee veroorloof het.

Ekskuus, regter Toon, maar dis die beste wat ek kon uitrig:

‘n Onskuldige plaasnooi, Nonnatjie Nel,
Glo babas kom net op Hoer bevel.
Maar dit was nie die Almag
Wat haar laat verwag,
Dit was Van Tonder die donder die hel!

HvD

More uit Melkbos

Die Van D’s is terug in die Kaap. Dis ‘n groen, groener, groenste Kaap, ‘n Kaap wat blink van die dammetjies oral, en ‘n koue Kaap. Na Sabiepark is dit behoorlik bibberweer hier. Dalk moes ons maar langer in die bos gebly het…

Om die nuwe blog-seisoen te open, plaas ek vandag hier my resensie van Inus Aucamp en Johan Swanepoel se boek Einde van ‘n groot party (foto bo) wat Maandag in Beeld verskyn het.

Aan Monitor (in my eerste buiging op RSG in 10 jaar!) het ek gese die boek het my onthuts en my resensie is dalk kras omdat ek die rekenaar bygedam het voor my pap en melk vir ontbyt.

Oordeel maar self of HvD – ‘n lojale Nasionalis tot die bittereinde – te skerp reageer op die tragiese verval van sy eens trotse party.

Hier volg dit:

Wat laat ‘n magtige party kraak en verkrummel totdat hy vernederend en onwaardig ineenstort? Hierdie boeiende tema word deur twee Vrystaatse NP-bittereinders, Inus Aucamp en Johan Swanepoel, aangepak, en die resultaat is ‘n insiggewende boek wat sekere eie indrukke bevestig, maar ook nuwes byvoeg.

Die leierskap-krisis na F.W. de Klerk word omvattend gedokumenteer. Dit is ‘n verdoemende klagstaat en Marthinus van Schalkwyk kom gehawend uit die bladsye van Einde van ‘n groot party. Sy bontpratery. bontspringery en roekelose opportunisme sorg vir ‘n politieke spektakel waaroor ‘n mens nie weet of jy moet lag of huil nie.

‘n Tweede leierskap-kwessie word in die boek van Aucamp en Swanepoel net vlugtig aangespreek. Dit is F.W. de Klerk se bedanking. Waarskynlik uit respek vir die man en sy onbetwisbare kwaliteite, asook bewondering vir sy moed om apartheid in 1990 as’t ware op die ashoop van die geskiedenis te gooi, word ongemak oor sy tydsberekening kwalik meer as gesuggereer. Ook ander kommentators kies tot dusver hul woorde versigtig as hulle die impak van De Klerk se onverwagse abdikasie op die pynlike sterwe van die Nasionale Party in die verbygaan vermeld.

Het dit nie tyd geword om hieroor reguiter te praat nie? Kan De Klerk voortgaan om ‘n harder oordeel vry te spring oor wat hy die Nasionale Party aangedoen het, gelyklopend met sy geskiedkundige bevryding van die land en sy mense?

Die vraag is of hy inderdaad ‘n strategie gehad het om die NP in die stormwaters van die nuwe politiek teen die lot wat hom uiteindelik getref het, te beskerm. Dit lyk nie so nie. As deelname aan die Regering van Nasionale Eenheid daardie strategie was, het dit, helaas, na ‘n paar kopstampe en plettervatte van ANC-kant vinnig in die niet verdwyn.

Ek het vir F.W. de Klerk en wat hy vir die land gedoen het, nie minder agting en lof as diegene wat hom daarvoor die Nobelprys gegee het nie. Maar sy party het hy in die steek gelaat. Die het hy soos ‘n omgekeerde Moses as’ t ware uit die beloofde land die woestyn ingelei! Daarna het hy homself vinnig uit die voete gemaak.

Die bereddering van die boedel is nie makliker gemaak deur die leierdroogte om hom wat De Klerk tog moes raakgesien en verreken het nie. Gaan kyk maar weer na die kandidate wat saam met Van Schalkwyk meegeding het om in die groot skoene van De Klerk te stap. Dit gee nogal ‘n perspektief aan die dramatiese verrysenis van die jong, onervare en onopgewasse Van Schalkwyk. Daar was werklik niemand anders met groter statuur nie.

In aansluiting hierby kom ‘n derde leierskap-faset na vore wat die skrywers by wyse van allerlei brokkies prikkelende inligting op die tafel sit, maar nie by name self identifiseer nie. Ek verwys na die ongelooflike scenario dat ‘n leier keer op keer geweeg en te lig bevind word, sonder dat ‘n sterk nuwe leier in daardie vakuum na vore kom.

‘n Mens sou verwag dat iemand in daardie chaos en ontreddering die stang sou vasbyt, Van Schalkwyk van binne op filosofiese en praktiese gronde gestruktureerd sou opponeer, die vertroue van ewekniee sou verower en uiteindelik met geloofwaardigheid sou opstaan om Van Schalkwyk te stuit met ‘n ferme: “tot hiertoe en nie verder nie.”

Maar nee, die NP bly spartel dronk-dronk van een skynoplossing na die ander, en Van Schalkwyk se leierskader val maar telkens agter hom in as hulle sien “hoe die wind waai”, om Aucamp daaroor aan te haal. ‘n Enkele keer om so ‘n ietwat van ‘n georganiseerde weerstand halfhartig op die been, maar verstommend vinnig verloor dit weer fut. Van Schalkwyk marsjeer voort.

Is dit nie amper die neerddrukkendste van die hele leiersdebakel waarin die eens trotse NP deur F.W. de Klerk gedompel is nie – dat in ideale omstandighede vir ‘n ware leier om sy staal te wys absoluut niemand, maar niemand, na vore gekom het om die stukkies en brokkies op te tel nie?

Aucamp en Swanepoel skryf vanuit ‘n Vrystaatse perspektief. Iemand kan dalk vra uit watter perspektief Van Deventer skryf. Die antwoord is uit die perspektief van ‘n lojale en entoesiastiese Nasionalis uit die ou skool wat langer as dertig jaar die politiek van Suid-Afrika intens meegemaak het: van my kennismaking met die persgalery van die Volksraad in 1964, deur twaalf jaar in die redakteurstoel van ‘n Afrikaanse dagblad in die onstuimige jare tagtig en aan die begin van die nuwe Suid-Afrika as hoof van koerante van die Nasionale Pers.

Uit daardie perspektief is Einde van ‘n groot party vir my om verskeie redes ‘n onthutsende boek. Daarvoor kan Aucamp en Swanepoel nie blameer word nie. Hulle is maar net die boodskappers, en hulle het hul taak met bekwaamheid verrig. Maar, in hemelsnaam, hoe is dit hoegenaamd moontlik dat daar nerens ‘n ridder op ‘n witperd was toe ‘n redder dringend nodig was nie? Of is dit ‘n geval dat geen ridder, geen redder, die NP kon red waar hy saam met apartheid op die ashoop beland het nie?

HvD