More uit ‘n sopnat Melkbos

Nou sous dit! Die Kaapse winter is hierso met al sy streke. Sabiepark, hier kom ons (ek en Tokkie vlieg – vlug! – Donderdag cum Jacob en Thomas). Vra die manne waar sit ons in die vliegtuig, antwoord hulle kordaat: 3c, d, e en f.

Ouma sit natuurlik op 3e met enetjie weerskante. Oupa is oorkant die paadjie, relatief veilig op 3c. Op my bekommerde opmerking dat ons (in die lig van ‘n aktiewe maagvirus) dalk te ver van die toilet sit, stel skoonseun Brent my gerus: “Net een glips, dan ry julle eersteklas tot in Mpumalanga!”

Nietemin, oor daardie reis sal ek eers later, baie later kan rapporteer. Op Sabiepark is nie kommunikasiegeriewe waarmee ‘n blog in stand gehou kan word nie. Kerskrag help nie vir internet-prosedures nie.

Ek wil ook nog later vertel oor die matriek-plus-50-jaar-re-unie wat vir ons Volkieklas van ’57 (dis nou Potch-Volkies) voorle. Danksy die hardnekkigheid van ‘n Koot Bosman van Pretoria vorder ons mooi met die opsporing van verlore kalwers.

Met Koot se hupstote vorder ons ook mooi met ‘n boekie van sowat 60 bladsye oor ons klompie se lief en leed. Dit maak wonderlike leesstof, met vele verrassings.

Koot praat van ‘n boekie met baie sentimentbelading – dis ‘n mooi beskrywende woord.

Die foto’s hierbo is ‘n lusmaker vir ons boekie wat in September verskyn. Op die collage is vier klasmaats wat lukraak gekies is.

Bo is:

Willie Hartzenberg, ons Dux-leerling. nou regter Willem Hartzenberg; en

Wiekie Moolman, my kamermaat, afgetree op Krugersdorp na ‘n lang loopbaan in die mynbedryf.

Onder is:

Eveleen du Plessis (nou Nel), een van ons mooies. Sy bedryf nou ‘n eksklusiewe gastehuis, Buttercup, op Stilbaai; en

Ina van der Westhuizen (nou van Niekerk), getroud met haar skoolkys Koos van Niekerk wat hoofseun was. Die twee woon in Pretoria – as hulle nie op reis is iewers heen nie.

Ek sal later nog baie gesels oor hierdie klas. Nou moet ek eers spook om die boekie in die bed te kry voordat die Van D’s Donderdag op Nationwide se Boeing-kie klim.

Die boekie is ‘n heerlike oefening wat die herinneringe op ver, ver paaie laat loop!

Groete

HvD

More uit Melkbos

Van 14 Junie tot 14 Augustus is die Van Deventers in Sabiepark. Vir daardie tyd gaan hierdie webjoernaal in ‘n winterslaap. Vir vakansieleesstof publiseer ek vandag ‘n toeprakie hier wat ek op 28 Maart voor die NG gemeente Blouberg se 60-PLUSSERS gelewer het. Die onderwerp was: Is oud noodwendig koud – of kan oud ook stout wees? Hoop dit lok ‘n glimlag uit, al is dit ook bra wrewelrig! As dit te lank is, blaai maar aan.

Die rolprent The Sound of Music was in 2005 40 jaar oud. In die immergroen musikale treffer speel Julie Andrews (wat toe 30 was) die rol van die bekoorlike, huppelende, lewenslustige Maria. Een van Maria se gewilde deuntjies in die prent was My Favorite Things:

Raindrops on roses and whiskers on kittens

Bright copper kettles and warm woolen mittens

Brown paper packages tied up with strings

These are a few of my favorite things

Cream colored ponies and crisp apple streudels

Doorbells and sleigh bells and schnitzel with noodles

Wild geese that fly with the moon on their wings

These are a few of my favorite things

Girls in white dresses with blue satin sashes

Snowflakes that stay on my nose and eyelashes

Silver white winters that melt into springs

These are a few of my favorite things

When the dog bites

When the bee stings

When I’m feeling sad

I simply remember my favorite things

And then I don’t feel so bad

Om haar 69ste verjaardag op 1 Oktober 2004 te vier, het Julie, ‘n spesiale konsert in New York se Radio City Music Hall aangebied. Een van haar nommertjies was My Favorite Things. Die woorde is ietwat aangepas om relevant te wees. Hier volg die “verwerkte” weergawe:

Maalox and nose drops and needles for knitting,

Walkers and handrails and new dental fittings,

Bundles of magazines tied up in strings,

These are a few of my favorite things.

Cadillacs and cataracts and hearing aids and glasses,

Polident and Fixodent and false teeth in glasses,

Pacemakers, golf carts and porches with swings

These are a few of my favorite things.

When the pipes leak,

When the bones creak,

When the knees go bad,

I simply remember my favorite things,

And then I don’t feel so bad.

Hot tea and crumpets, and corn pads for bunions.

No spicy hot food or food cooked with onions,

Bathrobes and heat pads and hot meals they bring

These are a few of my favorite things.

Back pains, confused brains, and no fear of sinnin’,

Thin bones and fractures and hair that is thinnin’,

And we won’t mention our short shrunken frames,

When we remember our favorite things.

When the joints ache, when the hips break, when the eys grow dim,

Thein I remember the great life I’ve had,

And then I don’t feel so bad!

Julie is langer as vier minute lank oorverdowend staande toegejuig. Sy is herhaaldelik vir ‘n toegif teruggeroep. Voorwaar ‘n goue oue.

Uit bogenoemde leer ons DRIE LESSE:

a. As jy bedruk, bedremmeld, neerslagtig is: dink aan jou “favourite things” (lekker herinneringe aan wonderlike jare).

b. Sien HUMOR raak. Jy hou nie op lag omdat jy oud word nie, jy word oud omdat jy ophou lag.

c. Die derde les bêre ek vir later – as ek nie vergeet nie!

In my boekie hekelversies, Polisie, Polisie, ONS REëNBOOG IS GEROOF, is ‘n afdeling getitel “Ouderdom, benouderdom” waarin ek ook die humor in oud word probeer raaksien. Hier is drie HvD-versies:

Verstopte kanale

Elke denkbare kanaal –
van nasaal tot urinaal –
is verstop of skeef of krom,
dis die kruis van ouderdom!

Oud en dom
Ouderdom, benouderdom;
Die oud buig die lyf al krommer,
Die dom word, helaas, al dommer!

Oor die muur
As ek die dag finaal dis-nis is,
my assies in ‘n nis gekis is,
kan jy maar oral vonkpos stuur:
die ou is oor – en in – die muur!

Die verstopte kanale in my versie laat ‘n mens nogal baie dink aan Julie se “when the pipes leak, when the bones creak…”

Met my bereiking van senior-status, ook al ‘n jaar of ses gelede (dis wanneer jy kwalifiseer vir o.m. gratis toegang tot Hermanus se hawe en 20% afslag op Boland-kelders se wyne op die eerste Woensdag van elke maand – wat dalk die gewildste oumens-byvoordeel is!) , stuur oud-kollega Fred Schnetler uit die Swartland waar hy afgetree het, vir my die volgende Oostenrykse volksliedjie:

Fein, fein schmeckt uns der Wein
Wenn man zwanzig ist – und die Liebe.
Fein, fein schmeckt uns der Wein
Wenn man dreissig ist – und auch die Liebe.
Wenn man vierzig ist, man nog gerne kuesst
Sonders wenn man ein sparsam gewesen ist.
Doch wenn man aelter wird, und langsam kaelter wird,
Bleibt allein nur der Wein.

Die vernuftige Fred het dit so “overgeset”:

Fyn, fyn smaak ons die wyn – as ‘n mens twintig is – en die liefde.
Fyn, fyn smaak ons die wyn – as ons dertig is, en ook die liefde.
As ons veertig is, soen ons nog graag – mits ons ‘n bietjie spaarsaam was.
Maar as ons ouer word, en stadigaan kouer word,
Bly alleen net die wyn.

Dis ‘n sjarmante liedjie, pikant vertaal, nê. Ek laat weet toe vir Fred: “Oulik, oulik.” Ek pleeg ook skaamteloos plagiaat. Ek stuur “Fred se liedjie” rond en bont vir vriende wat ‘n baken-ouderdom bereik. Eendag tref dit my skielik: die liedjie maak jou darem vrek vinnig oud. Een oomblik is jy nog veertig en kliphard aan die soen. Die volgende is al wat oorbly, die wyn.

Dis bietjie dik vir ‘n daalder! Al sou daardie liedjie oor hierdie aspek net 50 persent waar wees, is dit in elk geval niks om oor te sing nie. Dan is dit n droewige verhaal uit die Weense woude. Ween dan liewer, Weners, ween!

Maar dink net na hoeveel “oumensgrappies” juis hierdie tema het: jy word oud; daarom word jy koud. Uit en gedaan. Aan party van die grappies – grappies? – wurg ‘n mens maar soos aan wurgpatat, maar natuurlik: ons moenie ons humor verloor nie!

Laat ons die tema krities ontleed. Dit bring ons by ‘n netelige, selfs sensitiewe onderwerp – in die idioom die KKNK ietwat “hardeaard”. Ek stel u egter graag dadelik gerus: ek kom uit ‘n era by die koerante toe ons hoegenaamd nie so vrymoedig en eksplisiet soos vandag oor intieme dinge verslag gedoen het nie. Ons het nie eens van verkragting gepraat nie – net van kriminele aanranding – asof alle aanranding nie krimineel is nie. Seksuele vergrype is met die begrip “klere versteur” gesuggereeer – selfs as klere woes afgeruk is. Onder jou naeltjie was jou onderlyf – geen stuk anatomie is ooit nader omskryf nie.

Een van die karnallies van daardie tyd was die 80-jarige rubriekskrywer Dr. Goedhart. Op ‘n bekommerde nuwe bruidegom se navraag hoe hy sy liefdeslewe weer kan regruk, was Dr. Goedhart se advies kort en kragtig: “Troos jou daaraan, al wat op 78 regop sal staan, is jou grafsteen” . Hierdie brutale diagnose is nie gepubliseer nie – nooit! Ons het net in die gange daaroor gelag. Maar ek dwaal af.

Van ‘n sensitiewe onderwerp gepraat, moet ek darem eers die storie vertel van Oom At Badenhorst – ‘n legendariese LV van hier voor, tydens en net na die Tweede Wêreldoorlog.

Hy en n paar ander Volksraadslede het ‘n mooi staanhorlosie present gekry. Hulle besluit die een wat die beste storie kan vertel oor wat die lekkerste ding op aarde is, kan die horlosie vir hom vat.

Een sê ‘n dag langs die viswaters is die lekkerste, ‘n ander besing die heerlikheid van ‘n topwyntjie, ‘n derde vertel niks gee hom groter plesier nie as die gebrul van ‘n gehoor wanneer ‘n politikus ‘n treffer-kwinkslag los.

Toe Oom At se beurt kom, praat hy inniglik oor hoe onoortreflik lekker dit vir hom is wanneer hy in die winter so luierig onder die komberse wakker word, en hy trek sy ou vrou so styf teen hom aan…

Hy word eenparig as die wenner aangewys.

By die huis gekom met die horlosie, reken hy dit sal raadsaam wees om vir sy vrou ‘n aangepaste weergawe van sy wenstorie te vertel. Hy sê die manne het hom bekroon vir sy vertelling hoe lekker dit is om sy vrou kerk toe te vat en dan so styf teen haar te sit en luister na die predikant.

Op ‘n dag eet hy en sy vrou in die Volksraad se eetkamer. Sy maats kom nader en sê vir haar Oom At het darem met ‘n pragtige storie die horlosie losgepraat. “Ja,” antwoord sy, “die At darem. Hy kom so min daar en as hy die slag daar kom, raak hy aan die slaap!”

Om my punt te maak oor hoe ons 60-plussers willens en wetens oor ons slaapkamersake in die gesig gevat word – en party mense gaan verder as net die gesig – wil ek nou vir julle vier stories vertel wat – in ‘n

Mindere of meerdere mate – in daardie klas val. Hul tema is: oud is koud, kort en klaar. Moenie vir hulle lag of selfs net glimlag nie, asseblief. Die mense sê die humor van Duitsers is “no laughing matter”. Hierdie stories ook nie.

Storie een:

‘n Toegewyde student van dié sake loop ‘n boekie met die titel Seks bo sestig op die rak vir taboe-onderwerpe in ‘n muwwe ou boekwinkel raak. Die ou loer eers skuldig rond of geen loerbroer hom dophou nie, pluk vinnig die boek uit die rak uit en begin daarin blaai.

Die eerste blad is skoon. Ook die tweede en die derde. Hy kom by die vierde. Niks. En die vyfde. Niks, niks, niks. Eers onderaan die laaste blad is ‘n paragraaf in fyn druk: This book is also available in English.

Storie twee:

‘n Omie met iets in die 80 jaar onder die belt, besoek sy huisdokter vir ‘n roetine-ondersoek. Dit gaan uitstekend met hom, lig hy die dokter in. Hy het nog nooit hupser gevoel nie. Sy 21-jarige bruid is juis swanger met sy kind. Wil gedoen wees, nê!

Die dokter gaan maar rustig voort met sy stetoskoop en goeters. Toe hy klaar is, sê hy hy wil vir die omie ‘n storie uit die jagveld vertel. Sy een vriend is ‘n kranige jagter. Op ‘n dag is hy baie haastig. Hy gryp toe sy sambreel pleks van sy geweer, In die veld gewaar hy skielik ‘n duiker agter ‘n bos. Hy lig sy sambreel. Kaboem! Daar lê die duiker.

“Met die sambreel, dokter?”

“Met die sambreel.”

“Onmoontlik,” sê die omie. “Iemand anders moes daai duiker geskiet het.”

“Presies,” sê die dokter.

Storie drie:

‘n Vrystaatse niggie spot soos volg oor die een of ander denkbeeldige man:

Op 33 het hy rook gelos ….…………wilskrag.

Op 43 het hy drank gelos ………….wilskrag

Op 53 het hy dobbel gelos ………wilskrag

Op 63 (hoor nou, 63) het hy seks gelos .. g’n krag!

Storie vier:

‘n Wewenaar loop in die gratis koerant, die knock ‘n drop, ‘n advertensie raak wat hom met die verloop van tyd al hoe meer laat wonder het of hy nie maar die stoute skoene moet aantrek vir ‘n ondersoek ter plaatse nie.

Die advertensie is vir “Little girls in little negligees”. Hy val in die pad, kom by ‘n toringgebou en sien op die bord in die portaal “Little girls” is op die 17de verdieping. O wee, op die hysbak se deur hang ‘n kaartjie “out of order”. Hy is egter ene wat glo: waar ‘n wil is is ‘n weg. Hy begin klim. Sukkel-sukkel. Halfpad is hy stokflou. Maar waar ‘n wil is, is ‘n weg….

Uiteindelik is hy op die 17de. Hy strompel in deur ‘n groot glasdeur en syg uitgeput teen die grond neer.

€˜n Meisie kom na hom en sê: “Oom, jy’s klaar.”

€œDankie,” prewel hy, “waar betaal ek?”

Genoeg hiervan. Ek is nou ook klaar met hierdie faset van my toesprakie. Laat ons liewer die positiewe beklemtoon en die teenpoolprobeer bewys. Kom ons konsentreer op stories wat hoop gee – eerder as stories wat mens neerslagtig stem. Sonder om vreeslik diep te gaan delf, kan mens verskeie voorbeelde aanhaal wat bewys oud is nie noodwendig koud nie. Oud kan ook stout wees. Hier is vyf voorbeelde.

Voorbeeld een: Abraham en Sara van die Bybel:

Ons begin hierdie afdeling op ‘n stigtelike noot. Ons oordenk ‘n stukkie uit Genesis 18:10 e.v. In hierdie Skrifgedeelte is opgeteken die verhaal van Abraham se drie besoekers wat die ongelooflike nuus bring dat sy ou vrou, Sara, ‘n seun gaan hê. Toe dink Sara by haarself: “Sal ek nog genot kan hê noudat ek afgeleef is? En dit met my man wat oud is?” En sy lag te lekker.

(Volgens Die Boodskap, die Bybel in hedendaagse Afrikaans, het sy gelag toe sy vir haarself sê: “ My lyf is al veels te oud en te verrimpeld vir die genot van die liefde. En boonop is Abraham ook hopeloos te oud.”)

Sê wie – soos Niekie van den Bergh sou sê!

Vandag sing ons kleinkindertjies:

“Vader A-bra-ham het baie seuns ….
baie seuns het Va-der A-bra-ham,
ek is een van hul en so ook jy,
kom sing saam en wees bly.”

Voorbeeld twee: Anthony Quinn, veteraan-akteur, ook bekend as ZORBA THE GREEK

Nee kyk, met die Anthony Quinn het Dr. Goedhart hom misreken. Daardie oupagrootjie van akteurs het in 1993 juis op ‘n rype 78 – hoor, dr. G! – ‘n kind by ‘n “ander vrou” verwek.

Quin het die geboorte soos volg bekend gemaak: “Kathy, my sekretaresse vir die afgelope nege jaar, het gesê sy wil ‘n kind by my hê. Ek het gesê ek weet nie of ek kan nie. Wel, ek kon!”

Voorbeeld drie: Chris Barnard

Onse se eie prof. Chris Barnard, die beroemde hartdokter met die huppel in sy knuppel, het natuurlik ook nie laat slaplê nie. Na sy dood het ek vir hom die volgende grafskriffie neergepen:

Ook maar mens; ook maar lus;
Met die kort grafskrif
Sê ons tot siens, dokter Chris.

Voorbeeld vier: ‘n Ouma vier haar 95ste verjaardag.

Haar kleindogter, ook al diep in die dertig, vra of sy haar maar iets kan vra waaroor sy baie wonder.

“Alte seker, my kind.”

“Ouma, op watter ouderdom verloor ‘n mens jou seksdrang?”

“Nee my kind, jy sal dit vir iemand moet vra wat ouer is as ek.”

Voorbeeld vyf : Oom Gawerjal en Tant Jacomina van die Pofadder-kontrei.

Die twee oues se kroos het in reëlmaat gegroei. Elke jaar kom ‘n nuwe enetjie by. Die patroon van bevalling, swangerskap, volgende bevalling, volgende swangerskap het later sy tol geëis. Die tante se gesondheid het heelwat te wense begin oorlaat.

Toe praat die dokter ernstig met die oom. Hy stel nou sy vrou se lewe in gevaar. “Oom sal die tante werklik langer kans moet gee om asem te skep; sy dra haar morsdood.”

Bedparlement is gehou, en die twee besluit toe na lang wik en weeg al oplossing is om die katelkooi vir twee enkelbedjies te verruil. Die aanpassing was nie maklik nie. Een aand in die flikkerende liggie van ‘n kersvlam kom Tant Jacomina agter Oom Gawerjal se oë rus swaar op haar.

Sy: “Jy keek vir my.”

Hy: “Ja, ek keek vir jou.”

Sy: “Nou-ja, ek denk jy moet maar oorkom en vir my die dôdskôt kom gee!”

Laat ons eerlik wees. Nie almal is in staat om Abraham en Sara, Anthony Quinn, Chris Barnard, Ta’ Jacomina of daardie naamlose ouma van 95 dit na te doen nie. Maar die meeste mense van ons portuur, mans en vroue, is darem nog soos Naas Botha. Al kan ons nie self meer rugby speel nie, stel ons nog intens belang in die spel!

Nou die DERDE LES uit Julie Andrews se nuwe weergawe van My favorite things – keer die negatiewe om; kyk deur ‘n POSITIEWE BRIL.

Die tradisionele definisie van ’n “Senior oomblik” is negatief: dis wanneer jou kop jou in die steek laat; ‘n woord haak vas op die punt van jou tong, ens.

Ek verkies om dit positief te sien: Om ‘n senior oomblik te definieer in terme van ‘n oomblik van briljantheid/ oomblik van flinkdink/ troefwoord spreek/ dodelike kwinkslag/ geleentheid raaksien en daarop toeslaan.

Julie Andrews is op 69 vier miniute lank oorverdowend toegejuig. New York se se Music Radio Hall was op sy voete. Is daardie oomblik van glorie nie eerder ‘n “senior oomblik” as wat ‘n ongemaklike of ‘n embarrasserende oomblik nou juis as ‘ n “senior oomblik” getipeer moet word nie?

Hier is nog ses voorbeelde van “senior oomblikke”:

Een: BIELIE VAN ‘n KIELIE

Doer in die Dorsland tussen Broekafval en Gorragas staan ‘n ou boer met sy steeks perd. Die perd se baas probeer alles. Hy raas en skel. Hy trek ‘n paar skote af met sy .22. Die perd roer nie. Die son vat dooierus op die twee. Dit voel of net ‘n sifdraad daardie plek en die hel skei – boonop ‘n stukkende een vol gate.

‘n Daglank duur die staking. Toe kom ‘n meisie verby in ‘n spoggerige nuwe 4 x 4. Mooi, soos ‘n voorbladnooi. Uitgevat vir goeie ventilasie op so ‘n snikhete dag.

“Wat skort?”

Die boer verduidelik sy droewe lot.

“Toemaar,” se die meisie. Sy klim met ‘n swaailyfie uit die 4 x 4, fluister in die perd se oor, stap na sy agterkant en kielie hom waar ‘n steeks perd waarskynlik nie verwag om deur ‘n mooi meisie gekielie te word nie. Hy trek weg of hy ge-turbo is.

“Hoe op dees aarde?” vra die boer.

“My geheim,” glimlag sy liefies. “Ek weet net waar en hoe om te kielie.”

Die oom trek sy skouers reguit, en maak keel skoon. “Juffrou,” se hy, “dan moet ek jou nou vra om my ook dadelik so te kielie, want ek moet daardie verdekselse perd gaan vang!”

Twee: GELUKHOU

‘n Jong fisioterapeut speel ‘n potjie gholf en tref die balletjie skrams. Dit trek windskeef. Sy hoor ‘n man gil en storm nader. Dis ‘n ouerige gryskop heer. Hy lê met sy hande tussen sy bene en krul van die pyn.

Besorgd buk sy by hom en sê sag in sy oor: “Oom, ek is verskriklik jammer. Maar ek is ‘n fisioterapeut. As ek jou masseer, sal die pyn bedaar. Wil jy dat ek dit doen?”

“Asseblief,” knik hy.

Sy laat hom op sy rug lê, maak los wat losgemaak moet word, en begin masseer, terwyl hy doerie kant toe kyk.

“Voel jy al beter?” vra sy na ‘n rukkie.

“O, dis wonderlik,” sê hy. “Maar my duim is nog net so seer waar die bal dit getref het!”

Drie: KROKODILWATE RS

Op n familiefees gaan swem die jong meisies kaalbas in die swemdam by die perskeboord. Die eienaar, redelik bejaard, stap af boord toe om te gaan perskes pluk vir sy gaste. Die meisietjies gil, hou toe en drom in n hoekie van die dam saam. Die water raak koud. Enetjie waag dit later: “Oom, gaan jy lank bly?” Die oom: “Nee, ek voer net gou die krokodil, dan gaan ek huis toe.”

Vier: NAAKTE WAARHEID

Die bejaarderige buurman van ‘n bloedjong kat druk die voordeurklokkie pas nadat sy uit en haar man in die stort geklim het. ‘n Stryery ontstaan oor wie die deur moet gaan oopmaak. Uiteindelik gee sy bes. Sy gryp die handdoek en draf voordeur toe.

Sy maak die deur oop en daar staan hul gryse buurman, oom Arend de Waal. Voordat sy ‘n woord kan rep, sê die buurman: “Ek gee jou R500 as jy daardie handdoek laat val.”

Die jong vroutjie huiwer ‘n oomblik. Maar R500 is R500. Toe laat val sy die handdoek. Sy staan daar voor hom in haar volle jeugdige glorie. Hy versit sy bril om beter te kan sien. Toe oorhandig hy die R500 en loop weg.

Uit die veld geslaan maar baie in haar skik met die geldelike gelukkie, bedek die vrou weer haar bates met die handdoek en sit af badkamer toe.

“Wie was by die voordeur?” vra haar man uit die stort

“Dit was die oom hier langsaan.”

“Bly om te hoor,” sê haar man. “Het hy iets gesê van die R500 wat hy my skuld?”

Vyf: Skitterende “senior oomblik”

‘n Selfingenome eerstejaar-student verduidelik aan n sestig-plusser waarom die die ouer generasie nie in staat is om sy generasie te verstaan nie. “Julle het in ‘n ander wereld grootgeword, eintlik ‘n baie primitiewe een,” deklameer hy hard genoeg sodat almal kan hoor. ‘Die jong mense van vandag het grootgeword met televisie, spuitvliegtuie, ruimtereise, ‘n maanlanding, kernenergie, rekenaars, selfone, en …..” Hy bly n oomblikkie stil om aan sy bier te teug. “Jy’s reg, ou seun. Ons het nie daardie dinge gehad toe ons jonk was nie,” antwoord die 60-plusser. “Daarom het ons dit uitgevind Nou, jou arrogante klein strooi, wat doen julle vir die volgende generasie?” Die applous was oorverdowend.

Ses: HET DIT!

‘n Gryse wil met sy groot Mercedes parkeer toe n jong mannetjie in n byderwetse cabriolet sjoef by hom verbyglip die parkeerplek in. “That’s’ what you do when you’re young and you’re with-it,” sê hy vermakerig. Die gryskop sit sy Merc in trurat en ry die cabriolet se voorkant flenters. “That’s what you do when you’re old and you’ve got it,” antwoord hy rustig.

SLOT:

˜n Ou ‘n gelukkie oorgekom het, storm eendag die biegstoel van ‘n Katolieke kerk binne.

“Vader, ek moet bieg. Ek is 82 jaar oud en so iets het nog nooit met my gebeur nie. Ek stap nog rustig in die hoofstraat (Voortrekkerweg in Kaapstad se noordelike stadsgebiede) toe ‘n pragtige meisie van so 20 stop om pad te vra. Ons begin gesels en toe ek my kom kry, is ons in haar woonstel. Watter wonderlike lang middag was dit nie.”

“So?” reageer die priester versigtig. “Wanneer het jy laas gebieg?”

“Nog nooit nie,” erken die omie.

“Hoekom nie?” vra die priester.

“Ek is Joods. My van is Cohen,” antwoord die omie.

“Maar hoekom vertel jy jou storie dan aan my?”

“Omdat ek my storie vertel aan almal wat wil luister!”

Dankie dat ek my storie kon kom vertel, en dat julle so geduldig geluister het. Ek is ook maar soos daardie ou – ek vertel my storie vir almal wat wil luister!

Naand uit Melkbos

Oom Koos se storie oor die glasoog, soos deur Alida Fourie oorvertel (HvD se vorige blog) noop die groepie waarderende Melkbossers die aand om die kampvuur om op meer vertellings uit dieselfde oord aan te dring.

Goed, willig Alida in – daar’s ook die storie van die eenvoudige outjie van doer in die ou Duitswes wat maar so ongeskool by sy pa en ma op die familieplaas grootgeword het. Later is die oumense dood, en hul enigste erfgenaam loop toe tog iewers in die distrik ‘n meisiekind op die lyf by wie hy kan gaan vlerksleep.

Die twee trou. Nie baie langer as nege maande later nie, is die swangerskap ver gevorder. Die aanstaande moeder roep haar eggenoot en se hy sal maar sy fiets moet vat en begin inry dorp toe, sy kan voel dinge is aan’t gebeur.

Hy trap dat die wiele gons in die gruis en die stof so staan. Uitasem kom hy by die vroedvrou aan en verwittig haar dat haar dienste op die plaas broodnodig begin raak.

“Jong, my ou karretjie is maar klein,” antwoord dié. “Ek het nou nie plek vir jou en jou fiets nie. Ek ry maar vooruit, dan kom jy so vinnig soos jy kan agterna.”

Die verwagtende vader durf weer die lang pad aan plaas toe. Hy is net betyds om die vroedvrou by die voordeur te sien uitstap. Sy beduie hy moet naderstaan, en lig hom in dat komplikasies aan’t ontstaan is wat ‘n dokter noodsaaklik maak.

Die ou is half moedeloos, maar hoe nou gemaak? Hy spring weer op die saal en dwing sy bene om te trap en te trap.

Goed, hy kom dadelik sê die dokter. Hy moet net gou by die apteek stop en ‘n dingetjie of twee afhandel. “Ry jy maar solank. Ek kom.”

Tyd vir rus is daar nie. Die mannetjie byt maar op sy tande en laat die speke weer sing. Halfpad plaas toe kom die dokter in n stofwolk verby, wat bruin op sy klere neersif. Maar hy bly trap of sy eie lewe daarvan afhang.

Vir die tweede keer daardie dag toe hy die opstal bereik, bemerk hy ‘n figuur in die voordeur. Hierdie keer is dit die dokter. “Jou vrou se water het nou net gebreek,” rapporteer hy die jongste nuus.

Die natgeswete fietstrapper deins verbouereerd terug. “Laat ek tog net ‘n bietjie asem skep,” pleit hy. “Seblief, dokter, keer net daai water so ‘n rukkie. Sodra my longe ophou fluit, sal ek jaag om die ‘plumber’ te gaan roep!”

Groete uit Melkbos

HvD

More uit Melkbos

Die manjifieke Du Toitsklooftonnel het nou wel die pad na Worcester heelwat korter gemaak, maar ‘n onlangse uitstappie Montagu toe viadie ou pas was verfrissend – o.m. weens die panoramiese uitsigte, die afwesigheid van voortsnellende swaar vragmotors en, les bes, ‘n mooi storie.

Die storie kom uit die mond van ons vriendin Alida Fourie van Durbanville. Sy en haar man, Pieter, was saam Montagu toe. Een van die lede van die “klein groepie” van die NG gemeente Kenridge waartoe hulle behoort, ene Oom Koos, is klaarblyklik ‘n baas-storieverteller met die slag om sy gegewens so in te klee, met selfs die name van al die dramatis personae, dat dit voel jy lees dit in die koerant. Dit is sy storie wat, weliswaar ietwat afgewater, hier weergegee word.

‘n Beter plek en tyd om die verhaal aan te hoor, bestaan nie as juis wanneer jy tussen die ontsagwekkende berghange van die ou pas deur koers kies. Dit is die plek waar Oom Koos se storie hom afspeel.

Die begin lê ‘n taamlik ent terug, toe ‘n oulike seuntjie in ‘n jagongeluk saam met sy pa sy oog verloor. Sy ouers laat dadelik vir hul kind ‘n glasoog insit, en besluit om vir niemand daarvan te vertel nie. Hy word ‘n hubare jong man sonder dat iemand ooit snuf in die neus kry oor die egtheid van daardie oog.

Hy begin later trouplanne maak. Toe dit sulke tyd word, maan sy moeder dat hy sy bruid tog maar in sy vertroue sal moet neem. Anders is die ontdekking dalk ‘n skok. Hy stem in, maar bly uitstel en uitstel. Op sy troudag belowe hy opnuut aan sy besorgde moeder dat hy wel ‘n geleentheid sal maak om sy jarelange geheim in die skulpoortjie van sy lieftallige bruidjie te fluister.

Op pad oor die pas om die huweliksnag op Worcester te gaan deurbring, besluit hy: nou en hier moet dit uit. Hy sit sy hand vertroulik op haar knie en maak keel skoon.

Op daardie oomblik snork n motorfiets verby. Die motorfietsryer lê plat op sy ysterperd soos hy die draaie vat. Skielik tref sy voorwiel ‘n klip. Reg voor die wittebroodspaar. Die slag weergalm deur die klowe. Motorfiets en ryer tuimel teen ‘n afgrond af.
“Bly net hier”, sê die bruidegom vir sy bruid. “Ek sal gaan kyk.”

Hy is seil-seil teen die hang af, maar toe hy op die toneel kom waar die kragtige fiets se wiele nog tol, sien hy die man wat so manhaftig deur die pas se draaie geseil het, is morsdood. Net ‘n oomblik weifel hy. Toe pluk hy die linkeroog van die kêrel uit sy oogkas en ruil dit vir sy eie kyker van glas.

By die bruid gekom, vertel hy nie die hele storie nie. Oor daardie stukkie van die oogruilery trek hy ‘n sluier. Nooit, ooit rep hy daaroor ‘n woord nie. Maar dit bly hom kwel. Kom 1994, die “demokrasie” en Desmond Tutu se Waarheids- en Versoeningskomissie, begin ‘n biegseisoen deur die land swiep. Ons held voel die tyd vir ‘n eie belydenis het ook nou aangebreek.

Hy ry Worcester toe om die waarheid aan die polisie te verklap. Die nuwe sersant het egter nie juis erg daaraan om geduldig end-uit te luister nie. Hy’t hope ander hooi op die vurk. “Wag, wag,” keer hy. “Die ou sersant het daar oorkant die pad afgetree. Hy het baie oor daardie ongeluk gepraat en oor iets wat hy daarvan nooit kon ontrafel nie. Gaan vertel vir hom.”

So gesê, so gedaan.Die kerelmet die gewig op sy gemoed kom by die ou sersant en begin vertel. Halfpad stop die oubaas hom. “Man, “ sê hy, “ek wil eintlik net een ding weet. Klink my mos jy sal vir my die raaisel kan oplos wat my nog al die jare kwel. Sê my tog: hoe de duiwel het daardie ou op sy motorfiets daar bo gekom met twee glasoë!”

Groete

HvD

Naand uit Melkbos

Die maak van ‘n geleentheidsboekie kan nogal ‘n uitdaging wees. So kom ek agter terwyl ek spook om net so 60 A4-bladsye met die doen en late van ons matriekklas in die 50 jaar sedert 1957 sinryk te vul.

‘n Reünieboekie is natuurlik maar n ou vulletjie teenoor regte, egte groot gedenkboeke. Dit kan hoegenaamd nie in dieselfde asem genoem word as die menere van vername instellings en organisasies nie. Tog gee die poging om kreatief te wees en ‘n produk uit te bring wat aantreklik en informatief is – die moeite werd ten minste vir diegene met direkte bande – die samesteller ‘n effense insig in die probleme van dié soort literatuur.

Een probleem is dat jy konstruktiewe samewerking kry van sommige en eenvoudig skouerophalende afsydigheid van ander. Laasgenoemde noem ek die non-flocci-facio’s n.a.v. die Latynse uitdrukking “non flocci facio” – “ek gee geen duit om nie”. Jou ervarings met diesulkes kan nogal ontnugterend wees.

Maar ek wil nie ‘n klakous wees nie; wil eintlik maar net bely dat ek gaandeweg begrip opdoen. Dit sal help dat ek my tong in die vervolg nie so maklik met kritiek sal laat klap nie. Terselfdertyd groei my bewondering vir mense wat werklike voortreflike gedenkboeke die lig laat sien, soos die NG gemeente Berg-en-Dal van Bloemfontein se “’n halfeeu voor God se aangesig”. Dit is ‘n formidabele werk, soos ek voorheen opgemerk het.

Die Vrystaatse Universiteit het met sy eeufees ook (weliswaar laat) ‘n boek uitgebring wat hom waardig is – ondanks kritiek uit ‘n kundige oord (prof. Hennie van Coller) oor die oorheersende fokus op die hede.

Op my boekrakke en in kaste is ‘n verskeidenheid gedenkboeke oor die hele spektrum van my skool-, studente- en grootmenslewe. Party is aantreklik en boeiend, ander dof en vervelig. Elkeen beteken egter vir my iets spesiaals – ek bekommer my nou al oor hul lot as die dag vir “afskaling” aanbreek.

Oor een van hulle het ek amper drie jaar na sy verskyning iets meer op die hart. Dit is die “biografie” van Die Volksblad (nou net Volksblad) met sy eeufees in 2004 onder die titel “ ‘n Lewe van sy eie”. Die skrywers is twee Vrystaatse historici, Leo Barnard en die veel jonger Jan-Ad Stemmet.

Daardie twee het in opsigte knap werk gelewer. Die boek het ‘n vars aanslag, getuig van kreatiwiteit en maak ‘n mooi indruk. Ek het elke woord ingedrink en elke foto deeglik bekyk. Dit handel immers oor die dinamiese lewe van ‘n koerant waarvan ek 12 jaar lank redakteur was – vir my ‘n hoogs vervullende era – en is daarom des te meer vir my spesiaal.

Hoekom staan “n Lewe van sy eie” dan op my boekrak so ietwat eenkant? Hoekom spog ek liewer met Berg-en-Dal se bundel by besoekers? Dit is ‘n ingewikkelde vraag met ‘n omvattende antwoord – en myne staan opgeteken in ‘n memorandum van agt bladsye wat by die Argief vir Eietydse Aangeleenthede by die Vrystaatse Universiteit in my dokumenteversameling opgeneem is. Hopelik is dit eendag vir die een of ander navorser van waarde.

Dat ek beswaard was oor daardie boek, en dat die beswaardheid nie met die jare minder geword het nie, staan egter soos ‘n paal bo water. Ek moes dit eenvoudig van die hart kry – al is dit dan meer as twee jaar laat! ‘n Gerekende koerant het immers ten minste ‘n ewewigtiger – en ‘n flatervrye – eeufeesboek verdien.

‘n Ferm, rigtinggewende en moniterende hand was vanuit die Volksbladgebou nodig. Dit het ontbreek weens ‘n ongelukkige oordeelsfout om by ‘n belangrike baken soos die eeufees van die koerant op die kantlyn te bly. Te veel verantwoordelikheid is na buitestaanders gedelegeer.

Ek wil in elk geval graag glo dat die samestellers – as hulle ‘n tweede kans sou kon kry – uiters bedag daarop sou wees om hulle nie te laat misbruik deur mense wat byltjies wil slyp nie, boonop naamloos; dat hulle sensitiewer sou wees in hul hantering van sleutelmense, en dat hulle feite sorgvuldiger sou kontroleer en herkontroleer.

Hopelik sou hulle ook op my wenk reageer om hulp te vra by ‘n senior joernalis soos Sarel Venter, wat juis nou die laaste afronding doen aan sy gedenkboek oor Bloemfontein se Afrikanerklub onder die titel

“ ‘n Plek in die son”. Hy sou vele goggas in “ ‘n Lewe van sy eie” kon uitvang – soos dat Alf Ries redakteur van Beeld was (hy was nooit eens in Beeld se redaksie nie) en dat Frank Budd fotograaf van Die Volksblad was in 1947 met die koninklike gesin se besoek (dit was sy pa).

Genoeg gesê.

Groete

HvD

Oom Jim

‘n Staatspresident wat in sy ampswoning se studeerkamer met ‘n knipmes aan ‘n skaapkop wegle, moet ‘n kleurryke karakter wees. Wel, Oom Jim Fouche was een. Kleurryker kom staatspresidente nie.

Wilhelm Jordaan se storie in Van Alle Kante (knipsel hierbo) – wat vir my verrassend en in ‘n mate ontnugterend was, omdat ek altyd geglo het met my oud-redakteur Oom Bart Zaaiman se nuussin het niks geskort nie – het my eie herinneringe aan daardie joviale boer van Rouxville met die bont onderbaadjies en die tamaaie dasknope geprikkel.

My Jim Fouche-storie is nie een wat nooit geskryf of gepubliseer is nie. Trouens, dit was op die voorblad. Ongelukkig. Dit moes liewer nie in die koerant gewees het nie – vir die eenvoudige rede dat dit ver van die kol was.

Oom Jim was nog minister van verdediging toe hy ‘n senior verjaardag – kon dit 70 gewees het? – in Rouxville se stadsaal vier. ‘n Menigte gelukwensers het vir die watertand-midagete opgedaag – ook Hennie van Deventer, spesiale verteenwoordiger van Die Volksblad.

In sy toespraak vertel die Vrystaatse edelman (maar ons het die “edeles” mos darem nie in berigte “edeles” genoem nie, Jorrie!) – van die skipbreukeling wat op ‘n eiland uitgespoel het. Die ou het lank gelukkig op die eiland gewoon. Toe kom ‘n skip waarmee hy kon huis toe gaan. Vir die eilandbewoners se hy toe: “Dit was lekker hier en ek was gelukkig onder julle, maar ek moet nou huis toe gaan, na my vaderland toe.”

In daardie stadium was Oom Jim se stem al krakerig en kon ‘n nattigheid op die wang bespeur word. Toe kom hy met sy toepassing. Die politiek, se hy, is vir hom so ‘n eiland. Dit is lekker en hy is gelukkig. Maar dit word tyd om huis toe te gaan, terug na sy “vaderland”, na Babel toe. Toe juig die Rouxvillers en stroom die trane.

Babel was die naam van sy plaas in die distrik, en die jong Van Deventer dag hy het ‘n goeie storie: Jim Fouche wil uit die politiek; sy kop staan plaas toe. As ek reg onthou, was dit nog op die plakkaat ook – maar toe kom niks van die uittree-planne nie en word hy selfs later staatspresident. Wys jou net weer: ‘n mens moenie elke ding wat ‘n politikus kwytraak vir soetkoek opeet nie. Dan word jy die skaapkop!

‘n Ander mooi Oom Jim-storie is van ‘n vername kunsgeleentheid wat hy moes open. Die toespraak word vir hom geskryf deur ‘n taamlik aweregse kunsdosent. Oom Jim hou hom streng by die notas in sy hand, maar kyk skielik op: “Nou stem ek glad nie saam met wat ek hier se nie!”

Oor Wilhelm Jordaan (die latere sielkunde-professor) het ek ook ‘n woordjie op die hart: hy was een van die beste. Die akademie se wins was die joernalistiek se enorme verlies. En dis op ‘n manier my skuld dat hy een middag onwrikbaar besluit het om so radikaal van loopbaankoers te verander.

Daar was ‘n vliegtuigongeluk by Brandfort, en een van die oorledenes was ‘n bekende Bloemfonteinse sakeman, Rowley Roderick. Ek (nuusredakteur) stuur my beste verslaggewer na die toneel.

Toe Jorrie terugkom by die kantoor, was hy bleek om die kiewe. Die mensevernietiging wat hy op daardie ongelukstoneel moes aanskou, het hom diep ontstel. Dit is iets wat hy nooit weer wou sien nie, dankie.

Die ironie was dat Jorrie maar ‘n joernalis kon gebly het. Hy sou so ‘n toneel waarskynlik nooit weer gesien het nie, want hy was vir groter dinge uitgeknip as om oor die neerstorting van klein vliegtuie verslag te doen.

In elk geval, dis ‘n mooi storie wat hy met kleur en geur in Van Alle Kante van 29 Mei vertel – soos net ‘n eersteklas-joernalis dit kan doen.

Ek kan dit nie kleinkry nie dat Oom Bart nie sy skaapkop-storie wou publiseer nie – omdat dit nie pas by die “statuur van die amp” nie en oor wat “die mense” dan sou dink van ‘n staatspresident wat skaapkop eet, met ‘n knipmes nogal.

Nee, Jorrie, in daardie opsig was jou joernalistieke instinkte reg – jou skaapkopstorie was skitterende stof vir ‘n voorbladstoep.

Groete

HvD