Frank Smuts

Nou is Frank Smuts ook oorlede. Nog ‘n Vrystaatse seder het geval. Aan die jintelman van die regbank het ek aangename herinneringe, en ook aan sy aristokratiese vrou, Mudie, wat hom vooruit gegaan het. Regter Frank het sy vrou lank in hul elegante huis in Rhynlaan, Bloemfontein, met groot sorg verpleeg.

My positiewe gevoel jeens die man – en my respek vir sy onkreukbaarheid – kan ten beste verstaan word deur aan te knoop by ons eerste ontmoeting, vroeg in Mei 1981, enkele maande nadat ek as redakteur van Die Volksblad in Bart Zaaiman se skoene kom klim het.

˜n Verkiesing het nadergekom en die verhouding tussen koerant en die HNP – wat in daardie verkiesing vir oulaas die regse vaandeldraer was – was ver van hartlik. Die jong redakteur se uitgesproke verligtheid het hom ‘n baie spesifieke teiken van regse hoon gemaak.

In daardie verhitte klimaat gryp die polisie vier blankes in verband met regse terreur deur die sogenaamde “ Wit kommando” en Die Volksblad plaas toe ‘n prominente berig op die voorblad met die opskrif: Wit terreur – raaisel om HNP-man. Dit was ook die bewoording op die plakkaat.

Die streklking van die berig was dat n gewese HNP-kandidaat, ene B.M.A. Fotheringham van Witbank, gelyktydig met die inhegtenisnemings spoorloos verdwyn het. Vrae word gestel of daar nie dalk ‘n verband is nie…

Die HNP, erg onstuimig en opgeruk, vra dadelik ‘n dringende middernagtelike interdik aan, waarin hy beweer die berig is “uit hoorse-bronne” saamgeflans. Sy advokaat, Piet Geldenhuys, roep teatraal uit: “Fotheringham se naam word genoem omdat hy per toeval nie by die huis is nie. “Daar is honderde plekke waar hy hom kan bevind!”

Regter Frank was nie ge-imponeer nie. Skuins voor 01:00 het hy die HNP se saak uitgegooi, met koste.

Die HNP was bitter. Onder die gelukwensings was een van Johannes Grosskopf, vorige redakteur van Beeld: “En jy wen toe wragtig; as n man wat al twee interdikte teen hom gekry het, my uiterste felisitasies!”

Wat die arme HNP en die arme Piet Geldenhuys nie geweet het nie, was dat Die Volksblad nie geraai het oor die feit dat Fotheringham hom nie “op een van honderde plekke” bevind nie, maar wel in die tjoekie.

Die Minister van Polisie, Louis le Grange, was self die “betroubare bron”. En net ‘n dag later raak dit toe bekend: Fotheringham is wel een van die vier. Toe kraai ons behoorlik!

Ek glo regter Frank, ‘n knap en verstandige juris, het snuf in die neus gehad dat Die Volksblad nie sommer die heer Fotheringham by regse terreur sou insleep as hy net om die een of ander onskuldige rede absent geraak het nie.

Enkele jare later moet die Vrystaat ‘n nuwe regter-president kry. Kobie Coetsee, Minister van Justisie en Vrystaatse leier van die NP, vra my in die jagveld wie my kandidaat is. Ek het geweet die protokol is dat die senior regter outomaties opskuif, en die was regter Gannie de Wet. Sonder om ‘n oomblik te huiwer, se ek egter: Frank Smuts. En daar laat val Kobie toe dat hy in dieselfde rigting dink.

Gannie de Wet was verslae en tot met sy dood ongelukkig. Gelukkig het hy nooit geweet dat HvD op ‘n ander perd gewed het nie, want ons persoonlike verhouding het gesond gebly.

Met regter Frank en Mudie (op die foto hierbo) het mettertyd ‘n spesiale vriendskapsband ontwikkel. Al was ek en Tokkie heelwat jonger, is ons in hul kring verwelkom, is sosiaal saam gekuier en is prikkelende gesprekke gevoer.

Die Smutse se dogter is Dene, die politikus wat as redakteur van Fair Lady ‘n kollega by Naspers was. As iemand wat haar ken, hierdie stukkie lees en dit onder Dene se aandag sal bring, sal ek dankbaar wees. Dit is my huldeblyk aan ‘n besonderse man met groot gawes van hart en verstand.

Groete

HvD

Silwer Bruilof

Raai wie? Hulle is Melkbos-vriende en die foto is op hul silwerbruilof geneem, meer as 25 jaar gelede. Hul identiteit word verklap in die webjoernaal hieronder.

En jy was beautiful in Beaufort-Wes … En laas winter you tried to cut both of your wrists en nou skryf jy vir my.”

By die jonger garde sal hierdie lirieke dadelik twee asosiasies oproep: die digter Gert Vlok Nel (boorling van B-W) wat die woorde geskryf het (net so met die Afrikaans en Engels so deurmekaar geklits), en die growwestem-sanger Theuns Jordaan wat daarvan ‘n treffer gemaak het – ook in Nederland, Duitsland en elders in Europa.

My eie assosiasie is meer met die dorp as met die liedjie. Aan B-W het ek nogal ’n paar herinneringe. Kom ons begin met die goeies:

(i) Die Karoopark – waar is die Karoolandskap mooier? ‘n Juweel van ‘n oornagplek met springbokkies wat as ‘n bonus skemer voor jou stoep kom wei.

(ii) Die vriendelikheid van sy mense – hulle het ‘n ingebore iets wat hulle onderskei. Die ontvangs by die Karoopark se hek is altyd buitengewoon warm en hartlik. Die personeel gaan uit hul pad om jou tuis te laat voel. By die Chris Barnard-museum is dit ditto. Die houding is nie een van: “Og, maar jy’s lastig” nie. Dis veel eerder een van: “ Ai, maar ons is dankbaar dat jy ons kom vereer het met ‘n besoek.”

(iii) B-W is die plek waar ons goeie vriende Danie en Esbé op skool al verlief geraak het, en waarheen hulle later teruggekeer het om op 9 Junie ‘56 te trou. (Esbé onthou hoe ontsteld haar ma was oor die “hompe basaarkoek” by die oggend-onthaal. Mammie het uitdruklik fyn “fairy cakes” bestel. Danie skryf met groot deernis oor B-W in sy private bundeltjie ‘n Swaeltjie sonder vlerke…?)

˜n Lag-met-‘n-traan-herinnering gryp terug tot einde ’64 toe ek na my eerste sitting as parlementêre verslaggewer die aand dadelik in die Kaap in die pad geval het, en gery het dat dit bars om op B-W te kom vir ‘n oornagstop. Ek het met my blou Cortina ‘n ryloper opgelaai naby die Paarl en hy was vervoering oor die snelheid wat ons handhaaf – ons was net voor middernag daar. Maar o wee, die volgende dag toe ek in Bloemfontein aankom, brandend van verlange om my geliefde Tokkie weer te sien, is sy nie in die koshuis nie, en daag sy daardie aand glad nie op nie. O, die bitterheid en agterdog! Eers baie later sou ek hoor dis haar neef wat nie woord gehou het om haar betyds by die koshuis terug te besorg nie. In elk geval, my nagtelike jaagtog en vinnige slapie in ‘n hotel in die hoofstraat was toe pure verniet. Maar op 31 Desember ’66 het ons darem bruidegom en bruid op Bultfontein voor die kansel gestaan.

Wat sommer ‘n slegte smaak in die mond oor B-W laat, is veral twee dinge:

(i) Die Truman Prince-kirpatse. Kon nooit glo dat so ‘n nar Die Burger se voorblad so dag na dag kon oorheers soos die heer Prince in ‘n stadium met die mal perde wat hy opsaal nie. Koerante se nuusstandaarde is ook nie meer wat dit was nie.

(ii) B-W se verkeersafdeling. Na ‘n vier- of vyfstuks spoedboetes in ‘n ry (vinniger as 60 k/ph in ‘n 60-sone!) het ek begin wonder of jy deur die dorp kan ry sonder om ‘n boete op die hals te haal. Nou weet ek: jy kan nie! Wat my tot die besef gebring het, is die jongste koevertjie met die dreigende aanmaning: dok R200 op of …. Ek was so kwaad dat ek dit opgefrommel en weggesmyt het; weet dus nie eens of my oortreding weer daar aan die suidekant van die dorp was nie waar nie minder nie as vier kameras die pad bespied … Tokkie het hulle self getel. Al wat ek weet, is dat ek doelbewus daar gekruie het. Net iewers, waar weet ek nie, moes die voet geglip het en het die naald tot 75 opgeskuif. Toe het hulle my. Bliksems!

Ons het Chris en Annette van Rensburg van Bloemfontein oor ons nare ervarings met B-W-boetes ingelig. Vandag is hulle op pad terug Vrystaat toe van Kleinmond af. Flussies kom van Annette ‘n SMS: “Hou duim vas dat ons nie uit Beauf-W pos kry nie. Bespied die omgewing en beperkings met arendsoë.”

Chris en Annette, julle kan traai , maar die wind waai wes. Hou maar julle posbus dop. Glo vir ou Hennie.

Leo Kritzinger

Die jaar ’57 was die jaar van die Russe se Spoetniek, Jailhouse Rock (die fliek en die trefferliedjie) van Elvis, die gewilde Chev Bel Air en die blyspel West Side Story. Die Huisgenoot het ‘n sjieling gekos en ‘n pakkie 20 Westminster 85 sigarette was 1/3.

In my soektog na wetenswaardighede oor 1957, my matriekjaar, het ek by Leo Kritzinger bogenoemde juweeltjies te wete gekom. Dit was nie vir hom nodig om lank daarvoor rond te krap tussen wat hy sy “goeters” noem nie.

Met daardie “goeters” het ek kennis gemaak toe ek so 18 maande gelede, op aanbeveling van Ollie Olwagen, ‘n gemeenskaplike vriend en oud-kollega, in Brackenfell by Leo gaan aanklop om tipografiese hulp. Dit was vir die fotoboekie Sabiepark – Our Photo Album/ Ons Foto-album wat ‘n jaar gelede verskyn het. “Gaan vra vir Leo, hy’s die beste,” was Ollie se advies.

Hy het my ‘n reuse-guns bewys. Leo het uiteindelik ‘n leeue-aandeel aan die maak van die boek gehad. Sy stempel van joernalistieke vernuf en kreatiwiteit is op elke blad te sien.

Maar sy “goeters”. Dié staan ‘n groot stoepkamer – Leo se werkkamer – van hoek tot kant vol, en loop oor in verskeie ander kamers van die huis, o.m. die sitkamer. Dit is gestapel in kaste, op rakke, in bokse op die vloer, op vensterbanke – enige plek. Alles het te make met Leo se vele stokperdjies.

Daardié stokperdjies sluit in: spotprent-teken, fotografie, boek- tydskrif- en koerantversameling, die versamel van 78-spoed-plate en grammofone, die Titanic, modelmotorjies, ou motors en verwante memorabilia. Sy kosbare vrye tyd word opgeslurp deur die entoesiastiese beoefening van elkeen daarvan.

Sy spotprente en tekeninge het reeds in ‘n aantal Suid-Afrikaanse boeke en tydskrifte verskyn. Hy het twee bundels Wenke wat Werk die lig laat sien — in Engels en Afrikaans – gegrond op ‘n gewilde tydskrifrubriek wat hy langer as tien jaar behartig het.
Sedert 1982 is hy lid van The Early Ford Car Club of South Africa, en het hy die klubtydskrif, The Early Ford Times, se redakteurskap ongeveer 20 jaar behartig. Hy behoort ook tot The Early Ford V-8 Club of America en is ‘n stigterslid van The Cape Town Gramophone & Record Society.

In 2002 het hy die restourasie van ‘n 1932 Ford V-8 sedan voltooi — ‘n taak wat twee en ‘n half jaar geduur het. Die foto hierbo is van hom en sy Fordjie. Dit is geneem op die stel van die Hollywood-fliek Ask The Dust wat grotendeels in die Kaap verfilm is. Die motor is ‘n pronkstuk, en getuig – soos alles waaraan Leo sy hand sit – van voortreflike vakmanskap en liefde vir wat hy doen.

Leo is ‘n kalwer van 1948, gebore in die motorstad Port Elizabeth. Hy was in matriek op Philippolis in die Vrystaat. Daarna het hy by die UPE B.A.-Tale begin studeer, maar ná drie maande het hy besluit dat hy nie vir die akademie uitgeknip was nie. Hy word ‘n etaleur (vensteruitstaller) by die Edgars-groep. Na ‘n jaar aanvaar hy ‘n pos as advertensie-ontwerper by Die Oosterlig, gewese Baaise dagblad.

Daar, soos hy dit self stel, het sy passie vir die gedrukte media ontwikkel. Ihoe seer daardie passie wel ontwikkel het, bly uit sy loopbaan. Hy het in verskeie tydskrifte se redaksies gedien as ontwerper en hoof-ontwerper, o.a. Scope, MAN/Magnum, Huisgenoot, YOU en TV Plus. Hy was ateljeehoof van Huisgenoot en YOU se bladuitleg-afdeling vir bykans 15 jaar. Sy monumente staan daar vir altyd.

In 1999 is hierdie talentvolle man met Parkinsonisme gediagnoseer. In Maart 2003 het hy afgetree op grond van sy gesondheid. Sedertdien bestee hy sy tyd — binne die beperkings wat die siekte aan hom oplê — aan sy motorklub en verwante stokperdjies, grafiese ontwerp, skryfwerk en die aanmekaar-timmer van boekies , soos die Sabieparkboekie, vir lastige mense soos die uwe.

Hy het so pas twee eie boeke voltooi: Daar’s ‘n Ford in Jou Verlede! (‘n versameling outydse Ford-advertensies) en Our Family Car – ‘n versameling ou foto’s van mense met hul motors uit toeka se dae – absoluut sjarmant. Daarbenewens publiseer hy ook outydse groetekaartjies en prente onder die vaandel van Grandma’s Greeting Cards, wat by verskeie oudehede- en geskenkwinkels in die Wes-Kaap verkoop word.

Die afgelope 27 jaar woon hy met sy vrou, Kate, in Brackenfell, naby Kaapstad. Sy gee onderwys by die Alta du Toit-skool vir Verstandelik Gestremdes in Kuilsrivier. Gelukkig vir hom is sy ook – nes hy –‘n versamelverslaafde!

Ondanks alles wat hy bereik het, en alles waarmee hy steeds presteer, is Leo die beskeidenheid vanself. Toe ek hom meedeel dat ek graag op my webjoernaal oor hom ietsie wil skryf, was hy opreg verbaas. “Wie de joos stel belang in my doen en late?!” wou hy by my weet.

Wel, Leo, ek dink jy sal verbaas wees. Vir my is jou doen en late uiters interessant – en ek glo talle lesers van hierdie “bloggie” gaan hierna met my daaroor 1 000 persent saamstem.

Groete

HvD

Oor die Bulle en die Haaie

Op my draaitafel vandag vir die Bulle: Rhapsody in blue. En vir die Haaie: Singing the blues.

Habana se drie was die rapsodie. Die Haai se verlore glorie in die laaste oomblik was genoeg om ‘n haaitenk met trane te vul.

Een tikkie briljantheid bring ‘n drie uit die bloute in die laaste sekondes en swaai die wedstryd. Soos Pierre Spies se drie destyds in die Vrystaatstadion toe hy die wippende bal hoog bokant sy kop met sy vingerpunte raakgevat het om die Curriebeker Pretoria toe te bring.

Daardie was Pierre Spies se eindstryd. Gister was Bryan Habana s’n.

Ek weet nie hoe kies die slim ouens die Speler van die Wedstryd nie. Vir my is dit die ou wie se naam onuitwisbaar aan ‘n wedstryd gekoppel sal bly – tot in die verre verskiet.

Wie anders as Bryan Habana kan dit na gister se oomblik van glorie wees? Maar ek wil nie hare kloof nie. Wil net soos ‘n eerbare Bul erken dat dit ‘n taai stryd was. Die Haaie kon wel gewen het. Trouens, op die dag se spel was die Haaie die beste span.

Hulle moes net daai bal uitgesool het – dan was hulle vandag die kampioene. Nou is al wat hulle het om te sool, hul eie agterente.

Maar dankie, Bulle, en dankie, Habana, vir die rapsodie in blou. Dis mooi musiek….

HvD

Vriend Herman

Die foto hierbo vertel ‘n storie van Herman le Roux.

(i) In sy hande het hy ‘n PLAKBOEK. (ii) By hom is ‘n bekende sportmens wat ‘n VRIEND geword het (Sandra Reynolds, die mooi joolmeisie wat ‘n raket so kon swaai). (iii) Hy het spesiaal UIT SY PAD GEGAAN om die boek in die Baai aan haar te gaan oorhandig.

Dis reg, ja: as ek aan Herman le Roux dink, dink ek dadelik aan sy plakboeke, sy wye vriendekring en die toewyding waarmee hy vriendskappe versorg.

Sy plaboeke staan rakke vol in sy studderkamer in Randburg. Baie is oor sport. Oor rugby, gholf, tennis (soos die ene oor Sandra Reynolds wat hy nou vir haar gaan present gee het) en ander sportsoorte. Maar nie net oor sport nie. Oor enigiets onder die son. Vra hom hoeveel burgemeesters van Bloemfontein is al dood. Hy pluk ‘n plakboek uit. Vra hom oor die bewegings van ‘n oud-kollega. Hy het iewers in ‘n plakboek ‘n beriggie en dalk ‘n vars foto. Ongelooflik.

Herman is een van die vier mense wat ek gevra het wat die groot sport van 1957, my matriekjaar, was. Hy het (soos Frikkie van Rensburg) ook dadelik aan Gert Potgieter (n vriend van hom!) se wereldrekord gedink. Maar hy onthou in dieselfde asem ook dat dit die jaar was waarin Bobby Locke die Britse Ope-gholftitel die vierde keer gewen het.

Herman is natuurlik in die eerste plek bekend as rugbyskrywer. Een wat die seldsame reggekry het om die agting van spelers, administrateurs, kollegas en lesers te wen – en te behou. Maar gholf: die is ‘n tweede liefde. Wat Herman nie van gholf weet nie, is nie die moeite werd om te weet nie. Sy bydrae tot die Afrikaanse gholf-terminologie is nie te versmaai nie. En die vriendskappe wat hy met gholfmense oor die spektrum gesluit het, is ‘n storie op sy eie. Vir Die Volksblad was hy in die opsig ‘n ambassadeur oor taal- en kultuurgrense heen.

Maar vriendskappe sluit, is vir Herman soos asem haal. Dis sy lewe. Ek dink hy is die enigste wat dertig dae in Nieu-Seeland kan gaan kuier, en van dorpie tot dorpie by ou rugbyvriende kan inval wat hom met ope arms sal verwelkom.

In Suid-Afrika is sy en Rina se program van “mid-weeks” saam met vriende iets enorms. Hulle is gedurig op pad hierheen of daarheen om saam met vriende te kuier. Mense staan tou om hulle te nooi. Maar hulleself nooi ook graag hul vriende en onthaal hulle rojaal. Hulle ry groot draaie om by vriende te gaan inloer vir ‘n koppie koffie of ‘n kuiertjie.Hulle verras graag vriende op spesiale geleenthede – klim sommer maklik-maklik op Kulula of Mango vir ‘n verjaardag in die Kaap.

Herman en Rina was my en Tokkie se eerste gaste in Sabiepark, amper 10 jaar gelede. In Maart 2008 vier ons juis daardie heuglike verbintenis met ‘n intieme reunie-tjie. Herman sal daar opdaag, soos altyd, met die presiese inligting in sy kop van sy hoeveelste besoek dit in Sabiepark is, hoeveel kilometer hy gery het, hoe die afstand vergelyk met ander roetes van die Rand af. Dis eenvoudig soos sy kop werk. Hy verpak nuttige (en soms minder nuttige!) inligting onder daardie grys kuif met ‘n georganiseerde verbetenheid wat jou telkens opnuut verstom.

Ek en Herman het iets gemeen. Ons is albei uiters onhandig. Ons abortiewe poging om in Maart 1998 Tarlehoet se nuwe swarthout-naambord met ‘n handboortjie staan te maak, is elders gedokumenteer. In hierdie opsig is ons bloedbroers. Maar ons verskil ook hemelsbreed. Hy is die mensliewende ene, ek by geleentheid ietwat brutaal. Iemand het opgemerk dat die sagste deel aan my lyf my tande is!

As ek Herman een ding in ons verbintenis van meer as 40 jaar kwalik geneem het, is dit sy genaakbaarheid en geduld met mense wat na my oordeel ‘n skop op die agterent verdien het. Op sy beurt sal hy my seker kwalik neem dat ek met tye te hard en aggressief was waar ‘n sagte woord die grimmigheid kon afkeer.

Een ding weet ek darem. Dit is dat hy dikwels verlig was nadat hy eers gehoor het hoe ek oor iemand of ‘n onderwerp stoom afblaas en daarna dan ‘n veel rustiger hoofartikel gaan skryf het. Met sy sagte plekkie vir ALLE mense (vratte en al) kon hy ook vir die ou stormvoel ‘n plekkie in sy ruim hart vind. Dankie daarvoor, Herman ou vriend.

Sien jou in Sabiepark – presies hoeveel kilometer van julle huis af nou weer?

Groete

HvD

Moedersdag

Ek is nou nie juis ‘n ou vir Moedersdag, Vadersdag, Valentynsdag en dies meer nie. Ek is kwalik ‘n ou vir verjaardae.

Dit was nietemin lekker gewees om die kinders, kleinkinders, ouma, die lot, vandag saam aan tafel te he.

Hierdie foro van oupa en ouma saam met Jacob en Thomas is voor ete op die stoep geneem. Nou het ons sommer ‘n vars foto vir die matriek-plus-50-boekie vir September se reunie op Potchefstroom.

Die reeks oor die vier kennisfonteine gaan voort. Dit word net vir hierdie Moedersdag-bulletin onderbreek – asook vir ‘n stukkie wat more, oormore geskryf gaan word oor hoe lekker dit is om ‘n Blou Bul te wees.

Diegene wat aanstoot gaan neem, moet maar hierdie webjoernaal vir die volgende paar dae vermy!

Groete

HvD