More uit Melkbos

Die goeie in mense aanvaar ons dikwels as vanselfsprekend. Dit word die norm waarvolgens almal almal oordeel. Laat iemand net nie aan ons verwagtinge voldoen nie – dan is ons gou om klippe te gooi.

Vir ‘n hele paar vriende – en ook ‘n totaal onbekende – wil ek vandag dankie sê dat hulle my opnuut die goeie in mense laat raaksien het: hoe blymoedig, moedig, gelowig en opofferend mense kan wees; hoe hulle kan vasbyt en hulle in die tergendste omstandighede nie laat onderkry nie.

Piet en Petro Theron, ou vriende van Bloemfontein (boonste foto), was die laaste twee maande in die Kaap met hul jongste seun, Pieta ( 35), wat in die Constantiaberg-kliniek drie breinoperasies ondergaan het. Sy lewe is lank deur epilepsie ernstig ontwrig na ‘n blinderderm-operasie wat skeefgeloop het. Brein-chirurgie in Kaapstad was die enigste hoop.

Spanning, onsekerheid, bekommernis – dié was daar ongetwyfeld in hierdie tyd konstant oorgenoeg. Maar die Theronne was rotsvas, twee onwankelbare ankers vir Pieta en ‘n bron van besieling vir hul vriende.

Hoe hulle hul kind ondersteun het, was ‘n openbaring. Elke dag was hulle van vroeg tot laat langs sy bed, ware voorbeelde van die geloof, hoop en liefde waartoe die Bybel ons oproep. Vanoggend kon hulle in die pad val terug Bloemfontein toe – drie opgewonde en dankbare mense, want dit lyk of die operasies ‘n groot sukses was en of vir Pieta ‘n beter lewe kan voorlê.

Hoe lank en steil die pad nog gaan wees, weet niemand. Die rehabilitasie kan lank vat. Maar die Theronne is goed toegerus – dit weet hul vriende wat in bewondering hul hantering van hierdie groot pyn in hul lewens sien, en bevoorreg was om hul ongelooflike toewyding van die laaste twee maande hier in die verre Kaap van naderby te beleef.

Ander onlangse besoekers aan Melbos wat nie anders kan as om op ‘n mens ‘n diep indruk te maak nie, is ons Sabiepark-vriende uit Pretoria Frik en Martie Nel (foto onder) . Hulle ken ook hartseer. Hul oudste seun, Louis, is weens ‘n besering by geboorte in ‘n inrigting. ‘n Kleinkind, Frederik is sowat ‘n jaar gelede op sy 16de verjaardag oorlede.

Frederik was n dapper seun wat in sy jong lewe deur diep waters is, met meer as 15 operasies aan sy skedel op sy kerfstok. ‘n Toestand soortgelyk aan marmerbeensiekte, wat veroorsaak het dat sy skedelbeen te vinnig groei en dan drukking op sy brein veroorsaak het, het uiteindelik onverwags skielik sy dood veroorsaak.

Die liefde wat Frik en Martie steeds op Louis uitstort, het hulle ook op Frederik uitgestort, en stort hulle eweneens steeds uit op hul ander twee kleinkinders, Clarise, tweelingsuster van Frederik, en Schalk. Die Nels se besoek aan Melkbos het die Van Deventers juis daaraan te danke dat hulle vir Clarise en Schalk die Kaap kom wys het.

In Sabiepark is Frik en Martie se kleinkinders ou bekendes. Hulle bring die Nelletjies gereeld saam. En die kinders is skoon begeesterd oor die plek. Vir Frederik was Sabiepark, in sy eie woorde, baie lief omdat dit hom die geleentheid gegee het om homself uit te leef in sy stokperdjie, skilder, sy gesin en die natuur “wat Jesus vir ons gegee het”. Ek glo hy is dood met wonderlike herinneringe aan Sabiepark – en nog wonderliker herinneringe aan sy oupa en ouma – in sy hart.

Ek dink ook Louis is lief vir die plek, want ‘n mens kan nie anders as om die gelukkige trek op sy gesig waar te neem die kere as hy saam met sy sorgsame ouers daar kom nie.

Frik en Martie, ook julle is vir jul vriende ‘n toonbeeld van toewyding. Ons kan maar net daarna streef om soos julle te wees – al skiet ons telkens te kort weens ongeduld, eie gerief, of wat ook al. Dankie, hoor.

Vir Piet en Moraig Henning van Chiredzi, Zimbabwe, het ons ‘n jaar gelede laas gesien op ‘nprivate reünietjie in Satara in die Wildtuin. Maar ons hoor darem gereeld van hulle per e-pos, en ons lees tussen die lyne hoe swaar hulle daar kry, want kla sal hulle nie.

Dit gaan goed met die Hennings, laat weet my ou Tukkiemaat juis weer gister. “Dankie vir die besorgdheid. Ons leef al weer van dag tot dag. Sit dikwels op die punt van die stoel, soos nou. Die buurplaas se werf, waar Greig (hul seun) tien dae gelede moes trek,is onder militêre bewaking (een indringer teen die ander!). Nog ‘nbuurman (SA burger) se opstal en stukkie plaas wat oorbly,is onder gewapende polisiebewaking. Sulke behandeling van die oorblywende wit boere is tans alledaags dwarsdeurZim.”

Piet-hulle was ook al die slagoffers van gewelddadige beslagleggings van hul duur boerdery-toerusting, en die verliese wat hulle ly, moet enorme afmetings aanneem – ondanks meer as ‘n dosyn hofuitsprake in sy guns.

Maar Piet Henning laat hom nie deur die rampokker-regering in sy aangenome land onderstebo loop nie. “Ons self wordgedryf deur ons verset teen die onreg en ons verontwaardiging teen die owerheid wat dit meegebring het. Daarom hou ons uitso lank as wat dit moontlik is, en ons is vasberade dat ons vergoeding sal wen.”

Dis nou vir jou onverskrokkenheid en onwrikbaarheid wat jou trots maak op die murg wat vriende van jou in hul pype het – terwyl jy stilletjies wonder of jy self nie al hoe lank gelede die aftog sou geblaas het nie.

My laaste storie kom uit die Klein-Karoo. Op pad Karoopark toe na die KKNK stop ons by die Rust-en-Vrede-piekniekterrein aan die soom van die Swartberge om na die waterval te gaan kyk. Die man by die hek – tot my skande ken ek nie eens sy naam nie – laat val toe dat dit vir hom ‘n sware dag is. Sy moeder is die nag deur ‘n boosdoener om die lewe gebring.

Sy moeder die vorige nag vermoor, maar hy is getrou op sy pos! Watter getuigskrif is dit nie vir doodgewone durf en ‘n soort werksetiek wat ongelukkig aan die uitsterf is.

Meneer, ek haal my hoed af vir jou, soos ek my hoed afhaal vir my vriende hierbo. Julle is waarlik die sout van die aarde. HvD

More uit Melkbos

Vraag een vir die dag: watter pad is die besigste in Suid-Afrika? Ben Schoeman tussen Johannesburg en Pretoria, sou ek raai, hoewel die N1 tussen die noordelike stadsgebiede en Kaapstad ook maar ‘n nagmerrie kan wees.

Vraag twee: en watter pad is die stilste? Vir die antwoord ploeg ek met anderman – my vriend Herman le Roux wat op die foto hierbo saam met my en Tokkie op Sedgefield se strand staan – se kalwers.

Hy het laat weet van ‘n ongelooflike rit van 120 kilometer en, met sy toestemming, gaps ek sy storie vandag vir my blog.

Herman is aan die woord:

“Niemand sal my glo nie, maar ek en Rina (sy vrou – hvd) het Woensdag met ons terugreis ná ‘n vakansie in Suid-Kaapland oor ‘n afstand van 110 km nie ‘n enkele voertuig van voor gekry nie. En ons het op dié pad nie nodig gehad om ‘n voertuig verby te steek nie en geen voertuig het ons verbygesteek nie!

“Ná ‘n paar wonderlike dae in die Addo-olifantpark het ons oor Paterson, Kookhuis (is dit werklik nodig om dié plek ‘n Afrikaanse naam te gee?), Cradock, Hofmeyr en Steynsburg gery. Toe besluit ek om die grondpad van ‘n rapsie meer as 60 km na Venterstad aan te durf en oor Bethulie (waar my pa grootgeword het) na Springfontein te ry.

“Dit was ‘n goeie grondpad, maar ek was tog lugtig vir ‘n klip(pie) wat deur ‘n aankomende motor of bakkie op my voorruit gegooi kan word. Behalwe ‘n boer wat buite sy plaashek by ‘n lorrie gestaan het en ‘n korhaan wat oor die pad gehardloop het, het ons niks, maar niks teengekom nie.

“Toe ry ons op ‘n netjiese teerpad van Venterstad (30 km) na die pragtige Bethulie-brug – en steeds geen verkeer nie. By die brug is ons wel deur ‘n polisieman gestop wat wou weet of ons enige varkvleis vervoer. Eers ná 20 km op die minder goeie grondpad tussen Bethulie en Springfontein het ons verby ‘n bakkie gery en ‘n paar km verder ‘n tweede een. Oor ‘n afstand van 120 km het ons dus net twee bewegende voertuie teengekom.

“Dui dit op die ontvolking van die platteland, of was ons maar net gelukkig?”

Nee, Herman, ek weet werklik nie. Waarom daardie pad so spookagtig stil was, kan ek nie raai nie. Ek dink egter jou storie hoort in Weg. Stem julle nie saam nie, liewe lesers van HvD se webjoernaal (blog)?

HvD

Bloemfontein

Dit was ‘n kuieraand soos min met hope “onthou-jy-nogs” en politieke staaltjies toe tagtig of wat oud-politici van die destydse NP/NNP twee weke gelede in Bloemfontein vir ‘n reunie saamtrek.

Loshande die onvergeetlikste staaltjie van die aand was – seker nie onverwags nie – ‘n Hendrik Schoemanstorie. Wel onverwags, was die oord waaruit dit gekom het – die mond van ‘n onberispelike dame, die tagtig-en-iets-jarige Christa van Rensburg, weduwee van Basie, wat in die jare sewentig Vrystaatse NP-leier was.

Mev. Van R se storie was oor die keer toe daardie platjie-minister uitgevra is oor sy indrukke van Orania na ‘n eerste besoek. “Lyk of daar maar bokkerol aangaan,” antwoord hy toe. “Daar’s seker net een prostituut, en sy is nog ‘n ‘virgin’!”

Die tagtig of wat oud-kollegas wat van dwarsoor die land Bloemfontein toe opgeruk het, het geskud soos hulle lag.

Nou-ja, oor die stand van prostitusie in Bloemfontein moet ek onkunde bely. Een ding weet ek egter na daardie kuiertjie: Bloemfontein is beslis nie ‘n plek waar ‘bokkerol’ aangaan nie.

Ry net met Lucas Steynstraat weswaarts uit die stad. Jy staan verstom. ‘n Deftige “nuwe Bloemfontein” skiet daar op met peperduur herehuise wat in geen rykmansbuurt in Gauteng of die groter Kaapstad ontuis sal lyk nie.

In die gesogte woonbuurt Woodlands Wildlife Estate is dit nie net die argitektuur en die treffende vergesigte oor die Vrystaatse vlaktes wat eksklusiwiteit spel nie. Om alles te kroon, loop die wild (soos in my geliefde Sabiepark) vrylik op uitgestrekte groen areas los tussen die spoghuise rond. Kom nou Sandton, Constantia of Waterkloof, kom troef dit!

Op die foto is Tokkie by ‘n watergat in El Moya Estate in dieselfde kontrei. El Moya lyk soos ‘n wafferse Bosveld “lodge”, met ‘n ruim houtdek aan ‘n watergat wat ‘n voellewe het soos min en waar ‘n verskeidenheid bokke, sebras en kameelperde kom suip. Kyk mooi na die foto, op die horison agter steek van die groot, duur huise van die “nuwe Bloemfontein” uit.

Op daardie dek het ek en Tokkie ‘n heerlike middagetetjie geniet – ver van die stadsgewoel, voel dit – met net een ding wat pla: die lot van die arme kameelperde waarvoor daar nie bome is nie. Hulle loop maar potsierlik en wei op die kort grasvlakte, met gestrekte voorpote asof hulle wil drink. Tokkie wou opsluit die DBV op El Moya se mense sit.

Die stadskern self verskuif al hoe meer UV se kant toe, met Boet Troskie se topklas-winkelsentrum Mimosa Mall in die middelpunt. In die Kaap is my gunsteling-winkelkompleks Tygervallei en Tokkie s’n Canal Walk. Geeneen stof Mimosa Mall in enige opsig uit nie – en in die Mall het jy nog die bonus van ou vriende wat jy na jare onverwags weer in sy gange raak loop. (Theresa Troskie beman steeds haar biltongstalletjie in ontwepersdrag!)

‘n Aftreeplek soos Noorderbloem is waarlik ‘n pensioentrekkerhemel, met ‘n aantreklike uitleg, mooi huise en netjiese tuine. Daar sou hierdie ou ook – soos ‘n verskeidenheid ou vriende – sy laaste skof kon kom deurbring – as daar maar net ‘n see was!

Ongelukkig is nie alles aan die “nuwe Bloemfontein” net blink nie. Die middestad spel Afrika. Vriende waarsku waar jy daar durf parkeer en waar liewer nie. Selfs die rustige, boomryke Kmdt. Senekalstraat in Dan Pienaar lyk soggens, volgens ‘n ou inwoner, na ‘n voorstad van Maseru soos die besige Albrechtstraat ‘n drukke voetgangerverkeer al hoe meer daardie kant toe dwing.

Die Volksblad (nou Volksblad) is al geruime tyd nie meer in Voortrekkerstraat nie, wel in Nelson Mandelarylaan. Die Glaspaleis heet die Bram Fischer-gebou. Nou vind kollega Sarel Venter dit al nodig om in ‘n brief in Volksblad te waarsku: Haai, onthou tog, dis net die munisipaliteit wat Mangaung is, nie die Rosestad self nie.” Ohopoho , sou Johan van Wyk seker uitroep.

Ek het reeds na die saamtrek van vergange se Nasionaliste verwys. Wil darem net byvoeg watter vreugde dit was om iemand soos Oom Danie Pienaar daar raak te loop. Hy’s nou 86 en broos, maar hy bly ‘n ware heer – wellewend en opreg. Hy was my hoofwag in my Ruiterwagjare in die sestigs, en een van die sterkste invloede in my jonkmanslewe. Ek eer hom daarvoor.

Ook om weer saam met vriende soos Flip Nel, Inus Aucamp, Johan Swanepoel en hul gades aan tafel te sit, was net ‘n louter plesier. Ek bly maar ‘n man vir reunies…

Nog ‘n spesiale vreugde is die gedenkboek van ons ou gemeente, Berg-en-Dal, wat nou 50 jaar oud is. Vandat ons dit by die kerkkantoor gaan haal het, maak ek en Tokkie beurte om te lees. Dis fassinerend om so op die ou paaie terug te loop en op bladsy na bladsy die verbintenis van soveel gebeurtenisvolle jare te herleef. Dis ‘n allemintige boek, soos ek in Volksblad die opstellers ‘n pluimpie gegee het; ‘n stylvolle boek met ‘n trefwydte, diepte en omvang wat min ander gemeentes Berg-en-Dal sou kon nadoen. Dalk nie eens die gedugte Moreletapark van Pretoria nie, glo ek.

Gevorderheid in jare kan die beste waargeneem word in vier dinge: ou hout om te brand, ou wyn om te drink, ou vriende om te vertrou en ou skrywers om te lees. So het Francis Bacon gese. Kom ons los maar die hout, die wyn en die skrywers eenkant. Kosbaar was dit egter inderdaad om soveel ou vriende weer te sien en te kuier en gesels asof tyd en afstand geen versperring gebring het nie.

Jan Scholtz was, soos altyd tevore, aan’t timmer en skawe in sy motorhuis toe ons daar aankom – ‘n toneeltjie wat diep in die geheue ingekerf is.

By Chris en Annette van Rensburg, wonderlike ou bure in Kmdt. Senekalstraat, het ons drie genotvolle aande deurgebring. Annette het ou foto’s gaan uithaal van onvergeetlike vakansies in die Wildtuin aan die begin van die tagtigs. Ons kon nie glo ons was ooit so jonk en ons kinders ooit so klein nie.

In die Van Rensburghuis staan ook herinneringe aan die Tokkiewinkel van destyds amper in elke vertrek: koffiebekers in die kombuis, koper in die eetkamer, voels wat kunstig uit hout gekerf is in die sitkamer, ‘n leer-aktetas in Chris se studeerkamer…

Ai, hoe pak die nostalgie ‘n mens nie opnuut beet nie …

HvD

Waar le die grense van die Karoo?

Waar le die grense van die Karoo? Waar trek jy die streep noord, suid, oos en wes? Iewers sal ek in ‘n goeie atlas seker die antwoord kry. Maar dis mos makliker vir ‘n lui mens om te vra – en te hoop iemand wat hier lees, laat weet.

Hoe manjifiek is die Karoo tog nie! Die skynbare eindeloosheid van die uitgetrekte bossie-aarde het my en Tokkie nog altyd bekoor. Op twee onlangse reise het die unieke en aangrypende stuk aarde hom egter nog dieper in ons harte ingewurm.

Ons is KKNK toe met die bekende Roete 62 – die kortste en maklikste feesroete van Melkbos af, via Worcester, Robertson, Montagu, Barrydale, Ladismith en Calitzdorp, verby padborde met musiek in hul name soos Poortjieskloof, Modderasfontein, Bobbejaankrans, Meuplaas en Skelmdraai.

Dis ‘n skilderagtige, vrolike roete met oral verloklike uitnodigings om stil te hou, ietsie besonders aan te skaf of aan ‘n plaaslike heerlikheid te kom smul – dalk ‘n teugie Calitzdorp-port (die dorp het nie minder nie as vyf kelders) wat by die in Portugal kers vashou.

‘n Mens kan op die roete vasval en lank ry as jy nie waaksaam is nie. Maar dis ou nuus!

Na die fees is ons deur Meiringspoort Karoopark toe, met ‘n roete van Oudtshoorn na De Rust wat ek nog nie tevore gery het nie, en graag wil aanbeveel. Dis by Baron van Reedestraat uit op die R328 Kangogrotte toe, oor bulte en deur driwwe, verby ‘n string Klein Karooplase met hope, hope volstruise aan weerskante van die pad.

Net nadat ons deur deur Schoemanspoort is, was die kuierplaas Wilgewandel, aan die voet van die Swartbergpas, vir hierdie jaag-van-punt-a-na-punt-b-mense ‘n ontdekking. Vier dromedariskamele, Abraham, Joshua, Moses en Fossie, oorspronklik uit die Kalahari, was vroeg reeds opgesaal en gereed vir besoekers.

Maar toe was ons al by ons uitdraai verby. By die Kangogrotte hoor ons ons moet terug en dophou vir die bordjie na die Rust-en-Vrede-waterval – dis die begin van die Oude Muragiepad wat ons aan die voet van die Swartberg tot by De Rust sal bring. Die waterval is 2,5 km se ry die berge in. Om by die watervak te kom, moet jy die laaste 400 meter te voet afle. Dis die moeite werd, al is die straaltjie in die droe seisoen bra effentjies.

Dan Meiringspoort. Kan enige pad ‘n groter natuurervaring en toeriste-vriendeliker wees as die N12 deur die verruklike poort? Selfs die haastige HvD moes eenvoudig net stilhou en die koffie en toebroodjies by ‘n netjiese gemesselde tafeltjie geniet – net om later by steeds mooier en mooier stilhouplekkies verby te ry. Hoeveel keer steek jy op hierdie roete die Grootrivier oor? Iemand beweer 12 keer. Ek glo hom.

Maar ek wil eintlik kom by die Karoopark, waar ek en Tokkie al meermale geslaap en ‘n ietsie gebraai het. Elke keer was die skouspelagtige panorama en die talmende laatmiddae vir ons wonderlik. Maar hierdie keer het ons hierdie asemrowende plek die eerste keer werklik verken. Ons is twee keer met die Klipspringerpas op Rooivalle (op die foto) toe, met ‘n stadige, Kaapse draai intensief deur Lammertjiesleegte, het die indrukwekkende fossiele deeglik bekyk, die Karooveld geniet…

Vriende raai altyd aan dat ons vir huisie nommer 25 vra. Die was telkens reeds beset. Die laaste keer was ons in nommer 9 , net regs van die hoofgebou (foto). Die uitsig van sy stoep af is self treffend.

Toe vat ons die Kimberleypad oor Victoria-Wes en Hopetown Jacobsdal toe – wat ‘n mens nog net dieper onder die indruk bring van die wydsheid en verbysterende omvang van die Karoo.

Vroeer vanjaar het ons op pad Karoopark toe op die ingewing van die oomblik anderkant Ceres Sutherland toe geswaai – en toe met beangste harte die petrolmeter moes bly dophou terwyl dit by leeg bly bewe en die pad berg-op en berg-af eindeloos voor ons bly oopvou. Ek dag al ons slaap die nag in daardie groot stuk verlatenheid, wat ek later – tot my verrassing – moes hoor nie regtig die Moordenaarskaroo is nie, net deel van die Ceres-Karoo. Maar uiteindelik haal ons darem net-net Sutherland.

Ons was sonder ‘n reis-atlas of padkaart in die motor, en het eers besef hoe ver ons afgedwaal het, toe ons borde kry wat beduie dat ons ons ons nou in Noord-Kaapland bevind!

Maar toemaar. ver paaie ofte nie, so via Fraserburg en Teekloof Beaufort-Wes toe (boonop met genoeg brandstof in die tenk) het ons nog net vaster aan die Karoo geknoop.

Ons staan steeds meer verwonderd en bewonderend. Help iemand tog net met waar die grense loop, asseblief.

HvD

KKNK ’07

Die Van D’s het heel ingenome van die KKNK af weggery.

Die keuse van produksies is altyd maar ‘n dobbelspel. Hierdie keer het ek en Tokkie goed gekies. Ons pakkie was solied, met ‘n lekker verskeidenheid. Stewige drama soos Festen (maar, ai, wat ‘n ongelukkige naam – dalk die groot rede vir al die onverkoopte kaartjies!) en Die Twaalfuurwals; Zorada Temmingh en Elna van der Merwe se dinamiese Blondines, Bach en Beatles op twee klaviere; die energieke (en getransformeerde) Libertaskoor met sy unieke repertoire; onopgesmukte humor soos in Die Vals Snor (met die Sewendelaners Ryno, Oubaas en Paula), ‘n baldadige klug soos Lawwe Geluide; die rasperige Dana Snymanhumor in Die uwe, Pottie Potgieter ….. ‘n Mens kan die genietinge bly opnoem.

Ons groot teleurstelling was om Die Storm (‘n Afrikaanse weergawe van William Shakespeare se Tempest) met sy gedugte rolverdeling mis te loop, omdat ons eers op 4 April op O’hoorn opgedaag het. Vir vele was dit die drama-hoogtepunt. Die vraag is of so ‘n spesiale aanbieding werklik net die eerste vier dae op die planke moet wees. Dis mos diskriminasie!

Natuurlik moes die uwe (Broer 12951) eenvoudig net na die Gys de Villiers-kabaret Afrikaner 300 gaan kyk. Dis plek-plek ‘n ongewone en bra oneerbiedig blik op die Afrikanergeskiedenis (safaripakke, kam in die kous en Glenda Kemp met haar luislang!) As jy nie vir jouself kan lag nie, bly weg. Maar ek stem darem nie saam met die jong Matie-resensent Dora Scott wat dit in Krit “spookasem” genoem het wat waarskynlik “binne ‘n dag of twee” vergete sal wees. Trouens, ek dink die AB het hier ‘n goeie (boer-)perdjie opgesaal wat nog lank gaan galop. Gehore (ook die jonges) gaan dit wyd geniet.

Buuurvrou Una Beukman het van die 13de KKNK (die Van D’s se tiende!) teruggekom met weemoed, rapporteer sy, vir eers weens die totale oorheersing in die strate van ‘n duisternis bekende en onbekende musiekmakers se plakkate (Juanita, Kurt, Theuns, Robbie, Amore. Dewald, Jaco, Ghapi, Jakkie en so) en ten tweede weens die kuiertent-kultuur wat al oorweldigender raak.

Una beskryf dit so: “Na Die Storm gaan sit ons almal buite in die soel aandlug met ‘n lekker glasie koue wyn. Toe bars die storm eers los. Uit die ooste kom daar golwe musiek uit die Kango-Wynhuis oor die Karoo aangerol. In die weste doem woeste klanke van die Huisgenootverhoog op en, wil jy glo, reg in die middel staan die ABSA-tent en RSG-verhoog waar daar net so gelawaai word. Manies-kakafonies hou dit aan doef-doef tot lank na middernag.”

Una vra hoopvol: “Sou ‘n mens die fees kon opbreek in twee dele? Die eerste 3-4 dae is net verhoog- produksies [drama, woordkuns, dans en kontemporêr] en die laaste 3-4 dae net musiek [mainstream commercial]?”

Una, ek hoor jou, en ek is nie onsimpatiek nie. Die gevaar word inderdaad al hoe groter dat die “kuier” die “kuns” by die KKNK heel insluk. Die kunstekabinet sal daarteen moet rug styfmaak. Anders gaan die (“manies-kakofoniese”) musiek die fees al hoe meer oordonder.

Maar om die KKNK in twee te verdeel? Jy kan “traai, maar die wiend waai wes”, dink ek. Die KKNK is nou maar een maal (vir “botter” of vir “wors”) die KKNK, waar die plesier en die hogere kuns al so ineengevleg is, soos die koesisters wat jy in Baron van Reedestraat kan koop. Wie die ernstiger dinge eerste stel, moet maar op hul tande byt en hul ore toedruk. Hulle sal wel hul weg vind tussen al die baldadige joligheid deur – of Aardklop toe moet gaan. (En dis nie ‘n kwaadwillige opmerking nie.)

Tyd vir ‘n belydenis. T. en ek is selwers ‘n slag Absaplein toe – vir Bra Elvis, wat volgens die program “op ‘n unieke manier” wou hulde bring aan die koning van rock ‘n roll. Meen, Elvis is darem ons sestig-plussers se werklike bra!

Dis die hardste musiek wat sy nog gehoor het, was T. se kommentaar (Harder as Bok van Blerk se De la Rey, De la Rey elke aand?). Ongelukkig is Robbie Wessels maar ‘n liggewig Elvis en sy banalerige Leeuloop in so ‘n produksie heel onvanpas. Kevin Leo het op sy beurt die stem, maar sy lyfie lyk komielik in ‘n blink pak. Ou Elvis-treffers oos Heartbreak Hotel, Blue Suede Shoes en Don’t be Cruel bly egter immergroen. En nou weet ek ook dat It’s now or never regtig by O Sole Mio gekloon is.

Ten slotte ‘n paar los pluimpies:

(i) Aan die Burger – vir sy stylvolle “glastent” met gratis internet-toegang, salige lugversorging, gemaklike banke, gawe spyskaart en vriendelike diens. Dit was ‘n oase.

(ii) Aan mnr. Arnie Maree (63) van Ridgeworth, Bellville, wat tot 2 600 pannekoeke ‘n dag (gemiddeld 2 000 per dag) vir honger feesgangers gebak het, elke dag van 09:00 af tot omstreeks 23: 00. Dis nou flukse entrepreneurskap!

(iii) Aan Kusmark-staatmakers uit ons Bloemfontein-dae soos Kobus Kotze en Este Mostert (landskappe van albei hang in ons huis op Melkbos) vir treffende galerye. (Ander Kunsmark-vriende, Jona en Alet Coetzer, bedryf die vooruitstrewende Bottega-galery in Baron van Reedestraat).

(iv) Aan die jong bruin opportuniste wat hulle hees gesing het aan De la Rey, De la Rey, terwyl die muntstukkies dankbaar inrol.

(v) Aan “Ryno”, “Oubaas” en “Paula” wat op die verhoog so deeglik kon ontsnap aan hul simpel sepiebeelde in Sewende Laan (julle sal nie kan raai hoe oulik “Paula” regtig is nie!) – en ook aan Frank Opperman wat in Die uwe, Pottie Potgieter weer gewys het van watter stoffasie hy gemaak is.

Daarmee tot siens, KKNK. Ons tiende KKNK was (voorlopig?) ook die Van D’s se laaste. Nie omdat ons kwaad is nie. ‘n Mens moet egter nie te diep in ‘n groef beland nie.

HvD

(Naskrif: ‘n Koerantman wat ‘n week na die fees eers pen op papier sit? Jammer, hoor. ‘n Geldige rede bestaan darem Ons het na O’hoorn eers ‘n draai in Bloem gaan gooi. H.)

Wat ‘n herfs!

Was ‘n herfs op Melkbos al ooit so idillies? Beslis nie in ons tyd nie. En ons is in ons tiende jaar in Penguin Place.

Elke oggendwandeling is ‘n verfrissing vir gees en liggaam. Elke lang aand (kyk foto) is ‘n uitnodiging tot ‘n uitgerekte kuier op die stoep – terwyl die wyn vloei.

Hoe ‘n mens jouself in toom moet hou as die lewe so nimmereindigend genotvol is, is ‘n goeie vraag.

Vakansiegangers hier het dit in jare nooit so goed getref nie. Hulle boer op ons strande, van vroeg tot laat

Die windswewers kom hoopvol… en gee maar weer pad, Die wind word skaars meer as ‘n koel briesie, ons eie, eie “ingeboude lugversorger” wat ons hier aan die kus beskerm terwyl die binnelanders van Kaapstad sweet.

Maar alles het ‘n prys. Een nadeel van die wonderlike weer is die eindelose stroom mosseltrappers (amper se ek stropers). Van vroeg tot laat dans hulle hul komieklike mosselriele in die vlak waters. Later dra hulle emmersvol van ons waardevolle seekos weg vir hul potjies en wat nog.

Kan mossel-vangste nie beheer word soos met perlemoen nie ? Die bronne is seker tog ook nie onuitputlik nie.

Op hierdie noot, tot siens vir eers. More swaai die Honda se neus Klein-Karoo toe, vir die KKNK op Oudtshoorn. Agterin sit Marisa en (vir die eerste keer) die tweeling – wat seker die een en ander sal oplewer om later oor te rapporteer.

Hoop net Oudtshoorn het klaar gebraai as ons daar aankom – anders gaan ek die manjifieke Melkbosse weer darem dubbel mis.

Na Oudsthoorn maak ons ‘n draai in Bloemfontein vir ‘n reunie van oud-NP-politici. Dalk lewer dit ook iets ongewoons op!

HvD se blog hervat na 16 April – wanneer die Kaapse skole heropen.

HvD