Waar’s Zulu?

Waar’s ZOELOE ?

Waar is Lance Klusener nou dat ons hom so broodnodig het? Ek weet ek praat met die mure, maar na eergisteraand se foltering in Georgetown. Guyana, moet ek regtig die kritieke vraag van die hart kry.

Dis ook ‘n uiters relevante vraag, want so kan dit waaragtig nie aangaan nie. Die skande in Guyana was net te erg. Ek – en seker tienduisende ander Suid-Afrikaners – is bitter oor die kapitulasie van Graeme Smith se verlepte Proteatjies.

Wat ‘n pynlike gesukkel was dit nie nie: Vier paaltjies in vier verwoestende balle vir “Spook” Malinga! Die soveelste Justin Kemp-mislukking! Pollock wat die veld vol getimmer word! Die laer orde wat verkrummel…

So amper-amper het ons ou spannetjie nederlaag uit die kake van oorwinning gepluk – en sou ons nie verdien het om te verloor nie!

‘n Lance Klusener kon die verskil gemaak het. Daaroor twyfel ek nie. Kyk maar hoeveel keer het hy in sy gloriedae nie wel die verskil gemaak nie. Dan is ook maar voorlangs erg geploeter. Maar dan stap Zoeloe in en moker (nie krap nie!) hy die kastaiings uit die vuur.

Wil die een of ander slim statistikus nie Lance Klusener se Wereldbeker-bydraes in diepte gaan ontleed en in perspektief plaas nie? Ek glo dit sal bevestig hy was in Engeland omtrent in elke wedstryd ons ankerman, telkens die wenfaktor, en nie sonder rede nie Man van die Toernooi.

Maar toe smyt ons ons beste eendagspeler weg. Terwyl die Kemps en diesulkes spartel, is Lance ‘n uitgeworpene in die woestyn. Waarom? Blykbaar omdat hy en ‘n onvolwasse Graeme Smith kort na die begin van die Smith-era nie om een vuur kon sit nie. Nou sit Suid-Afrika in tamatiestraat!

Verskeie van Klusener se middelmatiger tydgenote is nog sleutelspelers vir hul onderskeie spanne. Ons lopiemasjien se kolf le egter en stof vergaar. Sy venynige boulwerk is vir die Proteas verlore.

Onthou Suid-Afrika se krieket-ghoeroes nog die gedreun as hy uitstap om te kolf: “Zoeloe, Zoeloe, Zoeloe?” Was daar na Lance Klusener se tyd ooit naastenby weer so ‘n heldeverering vir ‘n SA krieketspeler?

Onthou hulle die uitbundige vreugde van die skare as die balle so klokslag van sy kanonkolf oor die grenstoue seil?

Dink hulle ooit daaraan dat die Wereldbekler in 2007 binne die Proteas se bereik kon gewees het – as Lance Klusener maar net daar was?

Nou lyk die vooruitsigte maar droef. Hoe hierdie spannetjie van Graeme Smith die Black Caps van Nieu-Seeland gaan klop, of selfs die bleek rose van Engeland, weet ek regtig nie.

Miskien as Smith, A.B. de Villiers, Kallis, Gibbs en Boucher almal met die kolf gaan afkom, en Pollock sy ou ritme en boul-ekonomie terugvind. Anders sien ek net rampspoed en ellende.

Lance, ek huil lang trane oor jou.

HvD

(Naskrif: die foto hierbo is presies 50 jaar oud. Die drie musketiers is Wiekie Moolman, dienswillig die uwe en Willem Hartzenberg, deesdae regter Willem Hartzenberg. Nie een van ons was ‘n Lance Klusener nie. Maar ons was 50 jaar gelede in Potch Volkies se eerste krieketspan. Hopelik sien ons mekaar weer by ons 1957-matriekklas se reunie in September.)

Kuier is koning!

Die gewese Superman Christopher Reeve het sy vrou Emma die lof gegee dat sy ‘n hoender kan gaarmaak dat dit ‘n eer vir die hoender is.

Op Melkbos het ons Sakkie Bruwer(onderste foto). Hy kan ‘n tjoppie braai dat dit ‘n eer vir die betrokke skaap is. Sakkie is ‘n baasbraaier, ook van enige ander vleis, en al jare lank onbestrede die sosiale kommandant van die Probusklub van Blouberg. Hy is, trouens, onvervangbaar in daardie sleutelpos.

In die Probusgeledere is hy nie die enigste voorslag by die kospotte nie. Daar is potjiemeesters, visbraaiers, broodbakkers, afvalbereiders, pasteimakers en wat nog wat almal hul kosmaak ken. Party ouens is behendiger agter die kroegtoonbank. Hulle skink ‘n glasie dop dat dit soos die spreekwoordelike engeltjie-piepie proe.

Saam kuier die klomp ‘n hond uit die bos – soos Hennie Jonker, Danie Grundlingh, Henri van Biljon en die uwe op die boonste foto.

Wat is Probus? Die naam verklap dat dit ‘n samestelling moet wees van “professional” en “business”. Maar dit is “ex-pro” en “ex-bus”. Dit is ‘n klub vir afgetredenes – die manne wat kwalifiseer om verniet by Hermanus se hawe in te gaan en 15% afslag op die eerste Woensdag van die maand by Boland-Kelders te kry. (Laasgenoemde is dalk die lekkerste byvoordeel van senior-burger-status!)

Probus is die skepping van die Rotarier-diensorganisasie. Sy lede is egter ‘n diverse klomp. Party kom wel via Rotarie. Ander uit allerlei uiteenlopende oorde. Party is of was – verrassing, verrassing! – eerbiedwaardige lede van die Afrikaner-Broederbond (nou Afrikanerbond).

Probus is nasionaal – wel, eintlik internasionaal. Melkbos se Probusmense is lede van die Blouberg-klub. Onlangs is gestem dat Blouberg die naam bly – al woon 80% of meer hier in onse Strand van Melk (bos) en Heuning. Wat is in elk geval in ‘n naam?

Maar een ding is nie twee nie: Blouberg- Probus is ‘n Probusklub met ‘n verskil – so dink die lede van die klub graag. Die grootste verskil van die gewone Probusklub is waarskynlik in die Bloubergers (Melkbossers) se buitengewone, informele, onortodokse – soms selfs avontuurlike – uitstappies.

Blouberg Probus laat hom nie geografies vaspen nie en afstande skrik hom nie af nie. Bestemmings soos Swakopmund aan die soom van die Namib-woestyn, die Kgalagadi- oorgrenspark in die Kalahari (Tweerivieren), Sabiepark en die Nasionale Kruger-wildtuin (Olifants, Letaba en Tambotie-tentkamp) is met groot welslae besoek.

Die manne is versot op braai. ‘n Kenmerk van ons uitstappies is dat minstens op een aand – soms meer – die braaivleisvure aangesteek en die roosters te voorskyn gehaal word. Sakkie vat natuurlik voor. Gewillige hande ontbreek egter nie om te help met die slaaimakery, skinkery en dies meer nie. Ons is ‘n groep wat in ‘n lekker gees soos ‘n span saamwerk. Kamerade. Vriende.

Die gebruik om vleis grootmaat te koop en self te braai, het natuurlik die voordeel dat dit uitstappies bekostigbaar maak vir selfs vir diegene wat nie van hou om hand in die sak te steek nie

Ons reis per vliegtuig, per trein, per bus, per motor — watter vervoermiddel in die omstandighede die aangewese is. Na die Krugerwildtuin is byvoorbeeld met ‘n hele konvooi motors opgeruk. Die eerste aand is by die Gariepdam laer getrek vir die tradisionele braai. Die tweede aand was die groep in Sabiepark waar my bostuiste gelee is. Op ‘n keer is met die Trans-Karoo-sneltrein Johannesburg toe gery vir ‘n kuiertjie van 3 nagte by Carnival City.

Van ons uitstappies is uit-en-tuis-geleenthede wat net een dag of ‘n dag en ‘n aand duur. Soms is ons vier of vyf dae uithuisig, soos met Swakopmund (waar die casino groot aftrek gekry het!), Kgalagadi en die Kruger-wildtuin, asook ‘n uitgebreide Oos-Kaaplandse toer wat ons o.m. na die Addo-olifantpark die Nasionale Tsitsikamma-park geneem het.

Ons blyplekke verskil soos ons vervoermiddels. Ons is baie lief vir selfsorg-huisies, -chalets en -rondawels. Soms is dit heel nederig. Ander kere val die keuse egter op deftige hotels (Die casino in Swakopmund, Carnival City, ens).

Van die ander uitstappies wat al deur Blouberg Probus onderneem is, is die volgende:

* ‘n Besoek aan Witsand vir 3/4 dae waar ons self gebraai en een aand gaan uiteet het by ‘n restaurant;

* ‘n Twee-dae-uitstappie na Swartriet. Ons het die Vlakvarkgat, Patermoster en Mykonos besoek en tweemaal lekker gebraai;

* ‘n Hele paar uitstappies na Montagu waar ons op spesiale aanbiedings drie dae bly en net vir twee dae betaal. Ons koop elke keer ‘n halwe skaap, braai een dag en maak potjiekos die volgende dag. Die uitstappies sluit gewoonlik ‘n wynproe by die Weltevredewynplaas by Roberston in.

* ‘n Besoek aan Plettenbergbaai (Keurbooms- chalets) waar ons gebraai het en ook gekuier het by Robberg en by die Knysna-waterfront waar ons middagete geniet het.

* ‘n Twee-dae- uitstappie na Tulbagh se woonwapark plus uiteet by ‘n wynhuis, een na Hermanus en Stanford, een na Citrusdal een na Saldanha , asook een na Matjiesfontein en Sutherland. (Oral lekker gebraai!)

‘n Gewilde daguitstappie is ‘n jaarlikse besoek aan die Kenilworth-perdewedrenbaan waar ‘n geldjie op ‘n perdjie of wat gewaag word en waar die tafels kreun van kos. Ander kuierplekke vir etes saam met ons vroue sluit in die KWV in die Paarl, Jan se Gat (Koeberg), Gansekraal, die Ou Meul, Philadelphia, die Durbanville Hills-wynlandgoed, asook die Koeberg-rolbalklub (waar ons gereelde vergaderings plaasvind) en die Ou Skip-kampterrein (waar ons gereelde vergaderings voorheen gehou is).

Ons glo die gereelde saamkuier met ons vroue – ons “vennote” en almal vriendinne van mekaar – dra grootliks by tot die sukses van die klub.

Die klub het selde sprekers by sy vergaderings. Twee sprekers wat egter met vrymoedigheid aanbeveel kan word, is dr. Frans Hugo, hoof van die geheuekliniek van die Panorama Medi-Clinic, oor alle aspekte rakende geheue (021-930-2177) en dr. Leopold Scholtz, historikus en adjunk-redakteur van Die Burger, oor enige aktuele onderwerp (021-406-2222).

Maar wag, ek moet groet. Dis tyd om die vuurtjie te begin pak….

Hennie van Deventer

Ingehok

Ja, Tafelberg staan nog waar hy staan. Vandag is die fokus egter nie op die berg nie. Dit is op daardie muur en tralies (die duskantste) wat my eiendom omring om fisieke indringing van my persoonlike domein te probeer verhinder. Oral (veral in Gauteng, liewe Gauteng, maar dan verreweg ook nie net in Gauteng nie) leef mense mos maar toenemend agter tralies om gevaarlike elemente uit te hou.

“Ingehok soos watse gekke
agter tralies en hoe hekke
met pistole by ons kole,
hou ons dikbek
ons blink bekke.

(Uit Polisie, Polisie …..)

Geestelike inbrekers raak deesdae ewe onuitstaanbare peste as die ouens wat oor jou mure klim, vensters uitbreek en jou goeters wegdra. Die rekenaar, die selfoon en ander nuwerwetser kommunikasiedinge waarvan hierdie ou gryse weinig kennis dra, het ‘n skare weerlose slagoffers geskep wat nie weet hoe om teen hierdie “oorlog” doeltreffend wal te gooi nie.

Ek onthou nog hoe blootgestel en veronreg ek gevoel het toe ‘n inbreker op ‘n Sondag tydens die erediens meer as tien jaar gelede daarin slaag om O’Kulisstraat se huis in Welgemoed binne te dring en onder my beste drank (plus twee paar ou tekkies) te oes.

So voel ek nou oor die misbruik van my rekenaarskerm en selfoon deur allerlei smouse, kwaksalwers, werwers en agente wat hul aanbiedinge aan jou opdring en/of hul produkte aan jou probeer afsmeer – van politiek tot pornografie.

Ek onthou (met ‘n meewarige glimlag) hoe ontstel ek was oor die aanbreek van die faks-era in die jare tagtig – die finale groot deurbraak, het ek in my naiwiteit geglo – vir geestelike geweldenaars wat skaamteloos, verby alle normale maniere van beskaafde kommunikasie, direk en onmiddellik tot hul teiken wil deurdring.

Ja, ek het ook in die onstuimige dekade tagtig met sy politieke woelinge via die Poskantoor se telefoondiens hope dreigoproepe ontvang, en ‘n man soos regter Albie Sachs is die lewende bewys van hoe ‘n briefbom jou liggaam kan stukkend ruk. Maar in die algemeen was die brief en die telefoonoproep beskaafde, beheerbare kommunikasiemiddels wat jy redelik doeltreffend kon laat filter.

Gebruikskodes en -kulture het die gebruikers beskerm. ‘n Sekretaresse besluit byvoorbeeld watter oproepe om deur te skakel. ‘n Postafel sorteer watter briewe by wie beland, ens. Maar die faks met sy skyn van dringendheid en belangrikheid kom toe en bars summier by die gewone filters verby. Woeps land hy in jou in-mandjie voordat iemand ‘n vinger kan lig. En jy’s magteloos, want jy is ook maar nuuskierig…

Toe kom die e-pos en die sms, tegnologiese ligjare verwyder van die “primitiewe” faks en met ‘n des te meer diaboliese vermoe om persoonlike skanse plat te loop – en mense se privaatheid binne te dring. Enige e-pos-gebruiker kan sekerlik ‘n ellelange lys van sogenaamde “spams” opstel.

Aankondigings van groot pryse wat in allerlei eksotiese loterye “gewen” is en uitnodigings tot ander “maklike geldmaakskemas” laat ‘n oningewyde dikwels huiwer. Se nou net dis eg! Onsubtiele aanmoedigings om die kwaliteite van Viagra op die proef te stel, het ongetwyfeld ook al daardie produkkie se verkope aansienlik opgestoot (as dit ‘n goeie woord is).

Ons bou natuurlik op rekenaargebied ook ons “firewalls”; ons laat ook kwaai waghonde in die vorm van ‘n grote verskeidenheid virusjagters op ons werwe los, ons kodeer ‘n fyn stel siwwe met streng keuringsmaatstawwe…maar tog. As jy jou oe uitvee, is die goggas daar op jou skerm – lewensgroot.

Waarheen ek mik, is na wat (vir my altans) na ‘n bose nuwe aanslag van gewetenlose uitbuiters lyk: die los van geheimsinnige kodeboodskappe op die gasteboek van jou webwerf.

So twee weke gelede het die eerste ene by my opgeduik. Al wat ek kon uitmaak, was “lalala” en “I hope you will like it.” Soos ‘n aap het hierdie drommel voor die versoeking geswig en op die “lalala” geklik. Toe ek my weer kom kry, huppel ‘n “daily sample” van ‘n “virtual stripper” elke dag op my skerm rond in verskillende stadiums van ontboeseming. Verbeel jou die verleentheid as die dominee langs jou sou staan wanneer Mej. Daily Sample haar ware begin wikkel!

Gister was daar ‘n nuwe boodskappie tussen die vriendelike woorde van bona-fide besoekers. My eerste embarrasserende ervaring en die feit dat ek hierdie keer duidelik die woord “porn” tussen al die vreemde kodes kon ontsyfer, het waarskuwingsligte helder laat flikker.

‘n SOS uit Melkbos het ‘n bedrewe vriendin (‘n ware engel) tot my redding laat kom. Sy het vinnig sommer van haar huis af daarvan korte mette gemaak. Maar ‘n mens ys maar; weet nie wanneer glip iets weer verby wat vir jou skade, skande of ander droefheid kan beteken nie.

Wie het raad?

Hennie van Deventer

More uit Welgemoed

Gaste dam op voor jou hek. Jy druk dan hierdie knoppie, dan daardie een. Die hek bly bot-toe. Jou vrou raas al hoe harder oor jou onbeholpenheid. Verward druk jy later die “remoutjie” in haar hand. Dan ontdek sy genadiglik die regte knoppie….

Regtig met my gebeur. Verlede Donderdag in Welgemoed by Brent en Marisa se huis. Terwyl hulle in Sabiepark kuier, pas ons weer tweeling op – verlede week daar by Kommandeur 3 en van gister af terug in die bekende omgewing van Penguin Place 11 (dankie tog).

Vir ‘n ou met die minimum knoppies van sy eie en met ‘n diepe angs oor vele aspekte van die moderne tegnologie was Kommandeur omtrent ‘n vagevuur. Ten minste vir die eerste dag of twee. Ook nie net oor die balhorige veiligheidshek nie, al het die vir die donkerste oomblik gesorg en het ons en ons gaste (Piet en Petro Theron van Bloemfontein en ‘n paar ander oud-kollegas uit die goeie ou Volksblad-dae) so amper-amper op die sypaadjie moes piekniek maak!

Watter knoppie werk watter motorhuisdeur? Hoe keer jy die hek as hy onheilspellend op jou begin afpyl voordat jou motor nog veiligheid bereik het? Klink na simpel vrae met eenvoudige antwoorde. Maar heeltemal SO simpel is dit allermins.

Dan moes DSTV met sy spul kanale – wat ek van g’n adamskant ken nie -boonop onder die knie gekry word. Nogal ‘n fris uitdaging vir ‘n volslae oningewyde wat maar met sy SABC2 en M-Net nog doodtevrede is.

Marisa het ewe bedagsaam drie lewensgroot afbeeldings van die “remoute” gemaak met eenvoudige aanwysings – netjies genommer. So skakel jy die spulletjie aan, so skakel jy dit af. So rits jy deur die die kanale om by rugby, Sewende Laan of National Geographic te kom. Maar. boeta, al staan dit als op papier sorg die praktyk ook maar vir ongemaklike oomblikke. Soos wanneer jy 47 druk, druk en weer druk en elke keer net 4 op die plasmaskerm (nog ‘n nuwigheid) kry – of wanneer die kinders se dierekanaal skielik waarsku: nou word “viewer’s discretion” aanbeveel.

Om dan vinnig genoeg na die tweeling se sin ‘n alternatief te vind, verg vernuftige knoppiewerk en hare op die tande.

In my 66 jaar op die ondermaanse was hierdie die eerste keer alleen saam met kleinkinders in Pa en Ma se huis. Om gewoond te raak, het werklik ‘n tydjie gevat – en dis wat die Engelse noem ‘n “understatement”.

By die eerste ete is sout, peper en ‘n bliksnyer nodig. Eersgenoemde twee kan Jacob en Thomas dadelik op die speseryrakkie gaan uitwys. Laasgenoemde slaan hulle ‘n rukkie dronk. ‘n Vingerbeweging oor die blikkie se rant laat egter ‘n lig opgaan. Die regte laai word oopgepluk en daar le ta.

So leer jy afhanklikheid, en dit van twee kindertjies wat nog nie drie jaar oud is nie!

Jy leer ook nuwe kulture, soos ‘n radiowekker wat in die stikdonkerte skielik vrolike musiek begin uitdawer. Vervaard druk jy dit dood. Vyf minute later is dit dieselle storie. Al raad is om die bed weg te skuif en die muurprop uit te trek.

Met jou drarekenaar loop jy van vertrek tot vertrek. Later kom jy in die woonkamer geholpe met ‘n muurprop en ‘n telefoonboksie wat na genoeg aan mekaar is. Maar dan moet jy plat op die vloer sit en werk, wat liefs nie oordoen moet word nie as jy hoop om sonder hulp orent te kom.

Jy leer om vroeg te roer vir die Sondagkoerant. As Sasha, die yslike labrador, hom voor jou in die hande (pote!) kry, is dit klaar met kees, en kan jy maar vergeet van lees.

Jy leer ook om oordeelkundige roetes vir jou oggendwandelinge uit te soek. Want Welgemoed is nie Melkbosstrand nie; dis heuwel op heuwel en die stremming op jou kuitspiere kan erg raak as jy te oorambisieus raak.

Terloops, die bome is darem baie groter en die mure baie hoer as tien jaar gelede toe die Van D’s nog in O’Kulisstraat gewoon het. En sak die vliegtuie nie deesdae laer nie as hulle met oorverdowende gedruis oor die huise se dakke heen skeer? Voel so, klink so.

Maar die indrukwekkende Bolandse berge – die het darem nie verander nie. Gelukkig nie. Elke oggend is jy opnuut verruk as die sonnetjie die lug bokant die donker pieke begin kleur. En Welgemoed se kerk, bra onaansienlik van buite, maar binne vol gewyde atmosfeer, is darem ook nog ‘n vaste baken. Dis nog presies soos jy dit onthou – ‘n ware Godshuis. As jy instap, voel jy dadelik weer tuis.

Toe kom sit langs my in die kerkbank Bernhard Louw, wie se naam ek na ‘n rukkie eers uit ‘n stotterende geheue kan opdiep. Hy was in 1960 Matie-redakteur toe die uwe Perdeby-redakteur was. Ons het op ‘n ASB-kongres op Stellenbosch ontmoet, waarheen die Tukkies met ‘n trein opgeruk het. Maar net vier en ‘n halwe dekades gelede!

Op die foto is ek en Thomas bo in die dammetjie aan die einde van ‘n l-a-a-a-ang glybaan wat Johan vir die kinders gehuur het om hulle te bederf. Onder spuit Jacob sy oupa nat, en kraai natuurlik van die plesier. Die foto’s is nie in Welgemoed geneem nie, maar op Melkbos – lekker ou plek – se gras.

Lekker ou Melkbos, ja. Ook lekker ou eie bed en lekker ou eie stoel. En lekker ou PC waar ‘n mens gerieflik ‘n blog-gie kan komponeer.

HvD

Olifantstories

‘n Olifantstorie met ‘n stertjie het my hierdie resente foto van Tokkie en Ou Grootvoete by Sabiepark se piekniekplek laat opdiep.

Voordat ek by my olifantstorie kom, egter eers ‘n paar tersaaklike opmerkings oor goeie maniere – of die gebrek daaraan.

My grief is dat mense jou deesdae so laat wag, wag en nog ‘n bietjie wag om op boodskappe te reageer – AS hulle reageer. Male sonder tal ignoreer hulle jou eenvoudig soos ‘n stopstraat.

Jy kan maar bel en bel totdat jy blou in die gesig is. Hulle bel nie terug nie. Of jy kan die een e-pos na die ander in ‘n bodemlose put werp. Die sfinks aan die ander kant van die co.za maak of jy nie bestaan nie.

Waarom mense so ongepoets geraak het, weet nugter. Dat die e-pos-kultuur ‘n rol speel, vermoed ek egter sterk. E-pos is by uitstek die medium wat allerlei ongure elemente misbruik om ‘n mens se private lewensruimte binne te dring. Dalk word party daardeur so afgestomp dat hulle later nie kan onderskei tussen ongewenste pos wat summier uitgewis kan word en bona fide-boodskappe wat ‘n antwoord verdien nie.

Ek het gepraat van goeie maniere. Jy kan dit ook ordentlikheid noem. Of etiket. Een ding staan egter soos ‘n paal bo water. Dit is dat op die terrein van amptelike kommunikasie (selfs by sogenaamde diensorganisasies) ‘n skokkende ongeergdheid jeens die publiek ingetree het. Mense sal werklik hul, maniere, hul ordentlikheid en hul etiket moet afstof.

Met die Kaapse draai kom ek dan by my olifantstorie uit. En uiteindelik by ‘n les oor beskaafdheid uit (vir sommige) dalk ‘n ietwat onverwagte oord.

Alles begin toe Pierre le Roux vir my uit Mosselbaai ‘n rekenaaruitdruk aanstuur van ‘n boeiende stuk oor olifant-gedrag wat in die New York Times se uitstekende Sunday Magazine verskyn het. Dit is ‘n lang stuk met die titel “An elephant crackup”. Die kern is dat dit die mens se skuld is dat olifante se aggressie toenemend uitbars. Olifant-kultuur word veronagsaam en vertrap. Gevestigde ordes stort in duie. Olifante reageer met ‘n blinde woede.

In die konteks van die grootvoete se gereelde besoeke by Sabiepark se piekniekplek en my eie Mayafudi se konflikte, wens ek toe ek kan met die skrywer van die artikel, Charles Siebert, kontak maak. Ek soek die naam op die internet en kom af op ‘n TV-regisseur in Hollywood. Klink nie of dit die regte man is nie, maar nietemin. Ek stuur boodskappies vir die “webmaster”, ene Steff, en vir ‘n vroulike joernalis wat ‘n onderhoud met die mnr. Siebert gevoer het, ene Mary Cummings.

Die volgende dag is hier drie antwoorde: een van Steff, een van Mary en een van Charles Siebert die TV-regisseur self. Nee, dis ‘n ander Charles Siebert wat ek soek. Die ander mnr. Siebert lig my egter in dat hy van sy naamgenoot weet, en raai my aan om vir die NY Times Magazine te skryf om sy adres in die hande te kry. Hy verskaf die volledige adres van die koerant in New York.

Ek laat weet dadelik vir al drie baie dankie, hul vinnige reaksie is vir ‘n Suid-Afrikaner ‘n nogal aangename afwisseling op die daaglikse gesukkel wat hier jou lot is. Ek neem my voor om wel vir die New York Times te skryf.

Voordat ek nog by ‘n brief uitkom, verskyn egter ‘n vierde boodskap uit Amerika op my skerm. Dit kom van die regte Charles Siebert. Hy laat weet:

“I heard from the west-coast Charles Siebert about your attempt to contact me, the east-coast one. I’m writing to pass along my -e-mail to you.”

Is dit nie merkwaardig nie dat hierdie vier Amerikaners soveel hoflikheid aan die dag le. Hierdie is besige, belangrike mense, maar nie te besig of belangrik om uit hul pad te gaan om ‘n onbekende Suid-Afrikaner ordentlik te behandel nie.

Ek het vir die regte Charles Siebert teruggeskryf: “The whole exercise of trying to get hold of you was an impressive demonstration of civilised American culture.” Daarby staan ek, al se wie ook oor die Amerikaners wat.

Hoe verfrissend anders as die liggewiggies in allerlei Suid-Afrikaanse kantore wat hulle verbeel hulle skuld die publiek niks.

Groete

HvD

(Naskrif: “An elephant crackup” kan gelees word by www.nytimes.com/2006/10/08/magazine)

More uit Melkbos op die eerste dag van Maart 2007

Dat ‘n aardse onderwerp soos lappe om voete ‘n heerlike fonteintjie van herinneringe tussen volslae vreemdelinge kan oopboor, klink bra onwaarskynlik. Lees hier:

Gister gesels Tokkie, my gade vir 40 jaar plus, met ‘n vrou wat deur ‘n vriendin aanbeveel is vir ‘n bepaalde doel. Die gesprek kom uit by kinders wat in kinderhuise grootword.

Tokkie vertel van die kinderhuis-seuntjie wat rondom 1970 naweke en vakansies by ons deurgebring het. Sy onthou hoe lief hy altyd was vir ” ‘n vleisie met ‘n beentjie aan”. Sy onthou ook hoe opgewonde hy was oor hoe hulle by die inrigting vloere skoonmaak. Lappe word om die kinders se voete gedraai, het hy vertel. Dan skaats hulle uitbundig heen en weer. Siedaar, weldra is die vloere skitterblink.

“Klink of jy van Bloemfontein praat,” se die vrou.

“Bloemfontein inderdaad,” antwoord Tokkie. “Maar hoe op aarde het jy geraai?”

Die vrou lig Tokkie in haar man was in die sewentigs ‘n student aan Kovsies. Sy moes die skoorsteen aan die rook hou. Toe kry sy werk by die Kinderhuis. Sy is trouens self ingespan om die gange se vloere te “doen”. Maklik. Gaan sit net op ‘n stewige lap. Dan sleep die groter kinders haar op en af.

“Wat was die naam van die seuntjie?” wil sy weet.

“Donny Montgomery.”

“Ou Donny, wonder wat van hom geword het,” mymer die vrou. “Julle weet seker sy boetie is vlakvoor die skool deur ‘n motor doodgery?”

Ons weet, antwoord Tokkie. Ons het gehoor kort nadat ons in 1974 Johannesburg toe getrek het vir die stigting van die dagblad Beeld, waarvan die uwe die eerste nuusredakteur was. (Terloops, daardie stoere ou Beeldgebou in Millerstraat, Doornfontein, is nou net ‘n hoop rommel. Sic gloria transit!)

Maar Donny – ek sou ook graag wou weet waar hy is en hoe dit met hom gaan.

Die foto van die kerkie hierbo hoort nie direk by die Donnystorie nie. Dit is Babanango se kerkie waar HvD in 1941 gedoop is. Wat maak die ou swart-wit-foto’tjie dan op die ereplek bo-aan die blog? Dit spruit uit ‘n inskrywing gister in die gasteboek op die Van D-webwerf. Anri de Beer het op die foto afgekom op hennievandeventer.com, op die kerkblad.

Ditsem, laat weet sy toe. Dis presies hoe die ou kerkie gelyk het toe sy 40 jaar gelede op Babanango gewerk het. “Dis eintlik ongelooflik.”

Hoop die tema van vandag se blog begin stadigaan duidelik word. Dis herinneringe. Dit gaan oor hoe ‘n klein volkie soos ons eintlik maar een groot familie is wat sommer maklik op raakpunte en gemeenskaplikhede afkom. Daar is hope sulke stories. Elkeen het egter sy/haar eie stories: hoe soms in die onverwagste gesprekke en vreemdste situasies allerlei onthou-jy-nogs opduik. Gemeenskaplike kennisse en ervarings skuil amper om elke draai. Ek haal maar hierdie twee brokkies aan omdat hulle vars is.

Dit bring my by landgenote wat Suid-Afrika se stof van hul voete geskud het. Net Maandag lees ek in Maureen Joubert se Van Alle Kante in Die Burger weer oor die dingetjies wat daardie ouens se monde laat water. Dis Marmite en appelkoosjem, Mrs. Ball se blatjang, Ouma se beskuitjies, Peppermint Crisp, boerewors, biltong, selfs snoek. Londenaars met ‘n SA aksent ry maklik 75 km per trein na die dorpie Milton Keynes vir sulke inkopies, skryf Maureen, wat lank self daar gebly het toe haar man, Fritz, in die sewentigs Nasionale Media in Londen verteenwoordig het.

Dis mooi en goed, natuurlik, dat die “old boys” (en “old girls”) steeds so graag Suid-Afrikaanse smake op die tong proe. Maar in die stilligheid wonder ek tog wat is dit wat daardie mense so aan hierdie goeters vasknoop. Is dit ‘n smagting na ‘n onvervangbare smaak? Is dit dalk iets geheel anders? Nostalgie na wat was? ‘n Soeke na iets wat bind? ‘n Plaasvervanger vir die een of ander gemis? ‘n Gemeenskaplikheid doer ver in die vreemde?

Kom ons los die onderwerp maar daar. Ek soek nie baklei nie. Maar dat dit lekker is om gedurig bande met ou vriende te ontdek en te herontdek, of om nuwe vriende te maak op grond van ervarings wat sinchroniseer, is ly darem geen twyfel nie.

Nou wil ek vertel van twee skakels wat pas op die tuisblad van hennievandeventer.com aangebring is. Die een is na www.dieknoop.co.za ; die ander na www.soek-afrikaans.co.za

Eersgenoemde noem homself die poort na duisende Afrikaanse bestemmings. Kom snuffel rond op die webwerf waar Afrikaanse skakels saamgeknoop word, nooi hy. En elke dag word nuwe skakels bygevoeg. Gister was dit o.m. Spel.co.za (Afrikaanse speltoetser en tesourus) en Skooltake.co.za. Nog ‘n relatiewe nuweling is Bok van Blerk. De la Rey, De la Rey…! ‘n Ou staatmaker is my vriend Ollie Olwagen se Mieliestronk.com, ideaal vir skooltake en propvol hope pret.

Soek-Afrikaans nooi op sy beurt: kry die internet in Afrikaans. Ek meen daar is iets soos 1544 skakels. Is fotografie jou geit of godsdiens jou passie? Is jy op die spoor van skrywers of kunstenaars? Beoefen jy ‘n besonderse stokperdjie? Van alles onder die son kan jy daar raakloop – in jou eie taal. (Terloops, hennievandeventercom is nommer 121.)

Vir baie lesers van hierdie blog verkondig ek seker nou ou nuus. Jammer en askies, mense. Maar vir diegene wat hierdie twee poorte nie ken nie: doen julleself die guns – gaan kyk. Dis nuwe werelde wat voor ‘n mens oopval. Die twee versamelwerwe is boonop propvol dinge wat die groot “familie” van Afrikaanspraters saambind, of hulle nou hier vasskop of elders gaan nesskrop het.

Groetnis

HvD