Mayafudi e.a.

Vir wat dit werd is, kan ek meedeel dat Buurman van die Wildtuin nou in Engels op die internet sy buiging gemaak het. ‘n PDF-weergawe van Next door to the Kruger word op Tony Roocroft’s Book Store for Wildlife & Related Books aangebied (teen $15,00 nogal).

Op die kuber-rakke van daardie boekwinkel is nou die volgende uit die Tarlehoet-stal:

Next door to the Kruger (net pdf)

Buurman van die Wildtuin ( boek en pdf)

Mayafudi – memories of an elephant (boek en pdf)

Die pad boekwinkel toe loop deur een van die volgende vier webwerwe:

www.krugerview.co.za

www.mayafudi.com

www.sabiestories.com

www.greathunters.com

Klik net op ene en dan op die regte “click here” en… siedaar!

Dis natuurlik Next door se pdf-“buiteblad” op die foto. Orin Scott se oulike ontwerp vir Buurman is net so ietwat aangepas.

George Holloway, 82-jarige mede-Melkbosser, is vir die vertalings verantwoordelik. Rina Koen, ex-Mweb en in die jare sewentig vroueredaktrise van Die Volksblad, het met die finale taalversorging reusewerk gedoen.

Tony Roocroft (bekend as die pond professor) en Priscilla (zuluprincess) is verantwoordelik vir die pdf”s en die webwerwe hierbo genoem.

Hiermee graag ‘n buiging in daardie vier se rigting.

Hoop maar die mense koop nou die “blerrie boeke” – om Nataniel se woorde te leen. – al is dit net ter wille van al die medewerkers vir wie ek vrug op hul arbeid gun.

Groetnis

HvD

Naskrif: Doen julleself die guns en besoek Tony se webwerf www.thekruger.com – dis ‘n fees vir Wildtuinliefhebbers.

H.

Byl in ons bos

Het iemand iets gese van die byl in ons bos?

Tokkie se ek raak morbied om telkaart te hou, maar dit skud nogal as 20-stuks van jou nabye vriende gelyktydig onder mediese sorg is. Die laaste week of wat was nie minder nie as ses in die hospitaal. Vier het oorvleuel.

Dis hart, kanker (prostaat, o prostaat – maar ook nie net prostaat nie), longkwale, beroertes, mantelvliesbreuke – selfs ‘n blinderderm wat op die rype ouderdom van 67 bars. Nie eens geweet die ou dermpie is op daardie ouderdom nog operasioneel nie!

Kan maar net vir al hierdie ongestelde vriende en vriendinne aanspoor: byt vas! Hopelik skyn die son gou weer helder.

Op die foto hierbo is kollega Alf Ries saam met my by ‘n kampvuurtjie in Sabiepark. Dit was Alf se laaste besoek – maar ons het dit in daardie stadium nie eens vermoed nie. Tot 1 Januarie 2006 was hy perdris. Op 1 Januarie 2007 was sy kersie gedoof – nog ‘n slagoffer van die groot K.

Met Alf het ek ‘n lang pad saamgeloop, van 1963 toe ek my as groentjie by die Persgalery in die Parlement aangemeld het. Alf het my rondgewys en my touwys gemaak. Wat ‘n eersteklas-joernalis was die klein kereltjie nie! Toe kom maak jong bulletjies politieke omstredenheid rondom sy dood. Dit was bedenklik. Kom ons los dit maar daar.

Nog ‘n oorledene van 2006 was Ganga Pillai, die eerste van ons klas Nieman Fellows van 1976/77 wat groet. Ganga was ‘n Maleisier. In die jare dat ‘n Afrikaner in die liberale akademiese kringe van Harvard nie altyd populer was nie, was die ou kalm grote uit Koeala-Loempoer ‘n steunpilaar.

Jare later het ons twee ons eie klein reunie-tjie gehad in Hong Kong. Hy het spesiaal oorgevlieg toe hy hoor ek gaan daar wees. Hy het ‘n pewter-vaas as afskeidsgeskenk aangebied. In ‘n briefie daarby het hy in sy kunstige handskrif geskryf: “The presence of this vase in a South African home should at least symbolise a common thread of humanity that transcends political barriers.”

Hier op Melkbos treur ek oor ou Ganga – soos ek oor Alf Ries treur. Ek sal albei onthou as lewende voorbeelde van daardie “common thread of humanity” waarna Ganga verwys het.

Van reunies gepraat: in September vanjaar trek ons Volkie-matriekklas van 1957 op Potchefstroom (Tolwe/Tokwe?) saam vir ons “goue bruilof” – 50 jaar later. Daaroor gaan ek weer skryf. Dit was nogal ‘n klas om iets oor te skryf, hoor!

Nou in hierdie stadium, met HvD in ‘n morbiede bui en die tema van vandag se bloggie wat dit is, is een feit egter relevant: dis dat minstens 13 uit die 80 nie meer met ons is nie. Dis oor die 16 persent. Ons sal ‘n heildronkie moet drink op die afwesige vriende.

Die boodskap van alles is duidelik. Ons bos kom toenemend aan die beurt. So van 65 af kom die kwesbaarheid – vir sommige gouer, vir ander later, selfs baie later. Laat ons nie onverwags betrap word nie. Laat ons ook nie tyd verspil met allerlei sorge en swaarmoedighede nie.

Laat ons voluit leef, en die tyd wat ons nog beskore is, ten volle geniet. Dis ‘n grenslose voorreg en genadegawe.

HvD

Hienas?

Drie klein kameelperdjies in ses maande deur roofdiere opgevreet! Hierdie slegte nuus uit Sabiepark het vanoggend loodswaar op die hart kom le.

Slagoffer nommer drie verlede nag was die outjie wat in die voorlaaste nag van ons somerkuiertjie gebore is. Nog onvas op die bene en met sy/haar dun titteltjie van ‘n naelstring wat nog onder hom/haar hang, is die skatlike langnek-kapokhaantjie deur hienas verskeur.

Die vorige twee kleintjies wat daarmee heen is, Spike en Lulu, is onderskeidelik deur leeus en ‘n luiperd platgetrek. Die geldelike verlies is enorm. Vir ‘n klein kameelperdjie kan ‘n mens tot R25 000 kry. Wat nog slegter is, is dat Sabiepark se kameelperdbevolking nou al hoe lank op 12 bly vassteek – te min, te min vir daardie geliefde plek.

Die heel slegste is dat ‘n mens as’ t ware aandadig voel, of jy hulle op ‘n manier in die steek gelaat het, as daardie mensvriendelike hemelbesems in ‘n relatief veilige hawe van tyd tot tyd so wreed ontnugter word. Trouens, Sabiepark is ‘n plek waar ‘n kameelperd so onbedreig voel (gevoel het?) dat dit enige tyd van die dag of nag sy lang stelte onder hom invou en gaan sit – ‘n moeisame prosedure wat ek hier die eerste keer gesien en gefotografeer het.

Op die foto hierbo is ‘n kordate knapie wat enkele jare gelede die dag nadat Tokkie hom afgeneem het. leeukos geword het. Hy was die tweede enetjie in ‘n maand wat so aan sy einde gekom het. ‘n Hartseer-verlies.

‘n Toneeltjie na die eerste vangs van daardie leeu-inval bly in my geheue ingebrand. Ek vertel daarvan in my Sabieparkboek Buurman van die Wildtuin, maar roep dit graag weer hier in herinnering.

Kameelperdjie nommer een is die Saterdag nie ver van ons huis nie aan die rivierkant van Wildevy gevang. Die Sondagmiddag sien ons toe hoe twee volwasse diere stadig, doelgerig na die toneel van die vangs stap. Hulle het ‘n rukkie in doodse stilte vertoef by die hartverskeurende hopie beendere en vel wat oorgebly het nadat die leeufees verby was. Toe was dit of hulle hulle van die plek losskeur.

Daarna het hulle afgemete die bos begin instap. Verder en verder weg. Nekke orent soos altyd. Koppe omhoog. Hulle het nie weer omgekyk nie.

Was dit die pa en die ma van die knopknie-slagoffertjie in ‘n finale vaarwel? Dalk was dit. Dalk was dit nie. Dalk was die twee onverwant aan die slagoffer, en het ek die toneeltjie wat hom voor my afgespeel het, net geromantiseer. So het ek myself probeer troos. Maar tog, hul skynbare pyn het my aan die hart geruk.

Dat ‘n mens vir die kameelperd met sy indrukwekkende gestalte soveel deernis koester, kan vir ‘n oningewyde dalk vreemd opval. Waarom dan? Die oorheersende rede moet wees dat ‘n kameelperd so mensvriendelik is. Waar en wanneer jy een in Sabiepark raakloop, straal dit altyd ‘n warme welwillendheid uit. Die gesindheid is duidelik: “Ek stel in jou, vreemde tweebeen-wese. en in jou doen en late belang.”

Kameelperde is ook ware aristokrate van die veld. Kom jy skielik op een af, bly dit kalm staan en kyk as’ t ware eers die kat uit die boom. Dit betrag jou nuuskierig; kies nie sommer holderstebolder koers soos die deursnee-bosbewoner nie.

Nee waarlik, ‘n kameelperd is ‘n dier met persoonlikheid en “teenwoordigheid” – een van die gunstelingbesoekers aan jou werf.

Maar hienas? Die is maar ‘n nare nasie. Onaansienlik en met ‘n slegte reuk wat hulle vooruitgaan. Sluipers en snuffelaars. Wrede jagters. In Sabiepark is ‘n reuse-luislang van seker dertig, veertig jaar oud onlangs deur hienas vol happe gebyt – seker om sy prooi te roof. ‘n Ruk gelede is ‘n bosbokkie in Jakkalsebsssie deur ‘n pak hienas verskeur. Die jammerlike gebler was soos ‘n kind wat huil. Vlakvarke word by die dosyne verorber.

Ja, Sabiepark se hienas is bra kaatjie van die baan – vir eers omdat hul natuurlike vyande, leeus en wildehonde, uit die pad is. Ten tweede is daar ook geen jagters wat hulle bedreig nie. En toe ek ‘n keer my stem verhef het oor die skade wat hulle aanrig en die gevaar wat hulle inhou, het ek by mede-Sabieparkers sleg bloedneus gekry. Los die hienas uit. Dit was die ferme boodskap.

Geen wonder nie dat hulle loop waar hulle wil net wanneer hulle wil. Ek en Tokkie het al versteend by ons lapa gesit terwyl ene om 17:15, helder oordag, by ons verbyskuur. Toe hy uitdagend by my vuurtjie gaan staan en snuif, het ek darem my teenwoordigheid van gees so herwin dat ek ‘n foto kon neem. ‘n Ander keer het vier van hulle soos honde op hul voorpote kom le en my dopgehou waar ek – gelukkig veilig afgesper deur ‘n sparretjieheining – my ontbytpap sit en eet.

Ander Sabieparkers rapporteer soortgelyke onplesierige ondervindings: van hienas wat onheilspellend tuis op hul stoepe kom snuffel; soos “groot bere” met hul pote op die vensterbank nuuskierig deur kamervensters loer, of selfs ‘n aangebrande pot op ‘n braaiblad se deksel om die water met sy lekker vleissmakie so staan-staan luidrugtig op te slurp.

Van ons stoep af het al kussings en skoene verdwyn. Hienas se werk. ‘n Gieter is vermink en die rubber om my motor se sleephaak is afgekou. Die buffers van die motor van vriende se vriende het sleg deurgeloop.

Een egpaar het hulle boeglam geskrik toe hul kleinkind vroegoggend by ‘n oop skuifdeur uitwaggel om die “hond” op die stoep te gaan streel. ‘n Ander is een aand,doodverskrik, lank in hul lapa vasgekeer toe ‘n hiena doodluiters in die deur kom stelling inneem.

Lank gelede was die beleid in Sabiepark dat summier ontslae geraak moet word van enige ongedierte wat die reservaat se mense of diere bedreig. Talle leeus en selfs ‘n luiperd is om daardie rede doodgeskiet. Nou is die beleid anders. Die hienas moet maar vang onder die kosbare wild. Dis hul geboortereg. So word geglo.

Hoe moreel dit is om diere – kameelperde en ander sagte teikens – in ‘n toegekampte reservaat van minder as 400 hektaar aan die genade van bedorwe roofdiere oor te laat, is egter ‘n vraag. Nogal ‘n ongemaklike een vir hierdie dalk te sentimentele Sabieparker, met sy vooroordeel teen hienas en sy voorliefde vir die minsame kameelperde. Maar dis nou eenmaal soos ek is.

HvD

Sabieparkstories

Perry Como sing van Magic Moments. M-Net verklaar breed: “We won’t stop the magic.” In vriend Hennie Jonker van Melkbos se woordeskat is “magic” ‘n ankerwoord. Maar hoe vertaal ‘n mens “magic” in hierdie sin? Dis nogal moeilik. “Magic moments”? Oomblikke van betowering? Oomblikke van soete betowering dalk?

Soos elke keer, het die Van D’s se somerbesoek aan Sabiepark ook sy kwota goue oomblikke opgelewer.

Die subliemste ervaring van die kuiertjie was waarskynlik die middag toe ‘n olifant kom maroelas soek het waar Solly, die opsigter, dit by die piekniekplek op ‘n hoop hark. Ons en die Louwrense van Skukuza (ds. Carel en Sarah) was op die uitkykdek met twee bottels Tall Horse sauvignon blanc. Die jongerige bul waad toe eers rustig oor die rivier in die namiddagson – ‘n treffende foto. Toe stap hy doelgerig die stegie in tot vlak teen die bruggie waarop ons in vervoering staan – Sarah met skoene in die hand, gereed om te hardloop.

My film was op. Gelukkig was Tokkie se Pentaxie in haar drasak. Want nader was Tarlehoet se mense nog nie aan ‘n olifant nie; nie eens destyds op die wandelpad nie. Die harte het gebons. Ook vir ons eie “Mayafudi” was die teenwoordigheid van mense hier vlakvoor hom klaarblyklik ongemaklik. Sy gesteurdheid is met afkeuring te kenne gegee.

Aanspraakmaker nommer twee op die titel Groot Oomblik was gewis ons eerste middagbraai in die verruimde”braaihok” by ons voorstoep. ‘n Ekstral paneel latwerk is bygesit. Nou staan “Manie se braaier” (sien Buurman van die Wildtuin) in die koelte van die maroela-jakkalsbessie-kombinasie, met ‘n onbelemmerde uitsig op die watergat. Die “veld-gevoel” is terug. Die middagbraai was op die ingewing van die oomblik, maar lank en lekker. Laatmiddag-koffie in die swembad het die okkasie afgesluit.

Nog ‘n kandidaat vir die titel is ‘n tipiese Bosveldse donderstorm Sondagaand 4 Februarie, met vooraf ‘n lang blitsespel en die geruis van ‘n sterk wind. Toe begin die water uit die donker hemel giet. Vir die veld was die 40 mm ‘n verkwikking. Oornag was die groen en die sprankel terug.

Januarie wou-wou vir ‘n droogterekord sorg. Op die nippertjie, Woensdagnag 31 Desember, het uitkoms gekom. Die maandsyfer is met 19 mm tot 46 mm opgeskuif – nog ver agter ‘n nat Januarie soos 2006 (222 mm!), maar darem nie meer in die geselskap van die heel droogstes nie. Die gemiddelde vir Januarie is so 120 mm.

Ons kon die bos Woensdag groet so lowergroen soos ons hom ‘n maand gelede gekry het. Dit sit vreugde in die hart. Lees gerus Psalm 65: 10 en 11.

Die naguitljies se roep van alle kante was hierdie keer werklik treffend – onoortreflike “surround sound” uit die bos. Die nagapies wat lank, lank voor donker hul nekkies begin rek in hul grasneste doer hoog teen die muur van die voorstoep was ook (weer) ‘n hoogtepunt. Volmaan (Vrydagaand 2 Februarie) was verruklik – soos altyd. Die rooi kleed van die sterkbos en die vlaktevlam was vir T. ‘n fees. My rooi-groen-kleurswakheid was egter ‘n persoonlike struikelblok.

Slegte nuus was dat nie net een kameelperdjie in ons afwesigheid roofdier-kos geword het nie. Spikes en Lulu is albei platgetrek – een deur leeus, die ander deur ‘n luiperd. Bedink dus ons vreugde toe ‘n nuwe langnekkie sy verskyning maak – in die voorlaaste nag van ons vakansie. Die hans-outjie (Careltjie) wat nog in Cheryl Sterk se pleegsorg is, het darem weer ‘n maatjie. Sabiepark het nou 12 kameelperde. Wens hulle wil vinnig meer word.

Witnek die duiker het nie opgeduik nie. Die opvolger is nog wild. Hy kry omtrent ‘n vaartrukking as hy jou net gewaar, en Tokkie se pitjie-presentasie breek nie deur sy skans nie. Nou die middag was daar ‘n vinnige duiker-kommosie by Tarlehoet – seker die opvolger wat ‘n nuwe kroonprins moes verdryf.

‘n Jong bosbokrammetjie het telkens doekvoet om die huis beweeg. ‘n Koedoekoei wat haar kalfie ( twee bakstene hoog!) in ons geweste versteek het, het die kleintjie gereeld gebring vir ‘n paar slukkies water uit die voelbadjie.

Vier vlakvarke, waaronder ‘n tweeling, het vir konstante plesier gesorg – en vir fotogeleenthede, soos wanneer die japsnoetjies van weerskante inval om te drink. Hulle het ons na die (heelwat mooier) tweeling in Welgemoed laat verlang!

Helena die hiena het helder oordag die voelbad besoek. Ook twee dwergmuishondjies. By die watergat was ‘n enkele waterskilpadjie. ‘n Gewone bergskilpadjie het oor ons motorpad geskarrel.

Bobbejane het geboggom vir ‘n vale, maar Tarlehoet het die keer ‘n volskaalse bobejaanbesoek gespaar gebly. Dankie tog!

Elders in Sabiepark het ons gereeld ‘n mooi troppie wildebeeste met drie kalfies gesien. Sebras was skaarser as gewoonlik. Rooibokkies, rooibookkies, rooibokkies was oweral in groot getalle. Vir hulle was dit klaarblyklik ‘n geil jaar.

By die piekniekplek was o.m. buffels, olifante en ‘n keer vyf fiere koedoebulle (drie en twee). Oorkant die rivier op die S3 het ons ‘n luiperd aangetref – ongelooflik gebalanseer op ‘n dun takkie. Ook ‘n stewige trop buffels, seker dertig of meer.

In die Wildtuin het ons in die algemeen nie te vrot gevaar nie, ondanks die somerweligheid. Die Vyf Grotes is almal op ons kerfstok. Die Doispanepad het twee keer vir leeus gesorg. ‘n Witrenoster en haar kalf het ons naby Afsaal raakgeloop en ‘n tweede luiperd naby Malelane. Olifante en buffels was volop.

In T. se voelboek is twee nuwe inskrywings: die swart koekoek (Tarlehoet) en die gewone ruiter (piekniekplek). Die voellewe by die piekniekplek bly ‘n fees. Saalbekooievaars skeer oor die water. Reuse- en ander reiers konsentreer roerloos op ‘n moontlike vangs. ‘n Verskeidenheid visvangers duik hul duike. Visarende roep en roep.

Steven James-hulle van Abu Dabi was op besoek met ‘n span voelkykers. Teen 17:00 was hul totaal vir een dag al 116. Laat ‘n mens skoon minderwaardig voel. Hul rekord vir ‘n dag staan nog op 146 (meen ek). Die Sabiepark-voelgids (sy baba) spog met 311 soorte. Ons sal moet roer!

Die nimlike Steven het hom op ‘n Sondagoggend op sy werf (erf 270), al soekende na voels, in ‘n leeu vasgeloop, vertel parkhoof Gerard van Niekerk. Steven het een kant toe gespring. Die leeu, ewe verskrik, gelukkig anderkant toe. Gerard en sy mense is ontbied. Hulle het skaars die leeu verdryf, toe rig Steven al weer sy allemintige verkyker op die bome!

‘n Hartseer-episodetjie in die reenboognasie van die gevleueldes het hom by die kantoor afgespeel. Paradysvlieevangers het daar ‘n nessie aan ‘n dun takkie gebou (‘n perfekte stukkie konstruksiewerk) en twee kleintjies uitgebroei. Op ‘n buitengewone warm dag het die besorgde moedertjie ure oor die kleintjies gestaan om met haar vlerke koelte te maak. Die volgende oggend was die tweetjies weg. Pa en ma het verslae rondgemaal met die kossies wat hulle gebring het. ‘n Slang (boomslang of takslang) het in die nag besoek afgele.

Dit bring ons by die berugte Laeveldse somerhitte. Almal wil mos ljimmers weet: hoe hou julle dit?

Laat my maar erken. die dag toe die Bosbus se nuwe eienaar, mnr. Dennis Mkhabela, sy ryding kom haal en ek en T. in bloedige hitte (tussen 13:00 en 14:00) onder ‘n sambreel van die hek af Tarlehoet toe moes aanstryk – Oubaas in die lang pad! – het ek self hitte-uitputting begin vrees.

Ja, die kraaie gaap maar in Januarie in die bos. Een middag het sewestuks buffels ure lank by die piekniekplek in die water gele. Omtrent net koppe en horings het uitgesteek. Een Sondagoggend het ouderling Willie Crowther met kortbroek en tekkies uit die konsistorie gekom. Drie bokse Robertson Light het van lank staan in die hitte ondrinkbaar geword, en is die een na die ander op Sabiepark se hetige aarde uitgetap. Hoop die miertjies het dit geniet!

Maar ons ou swembadjie – primitief soos hy is – was weer ‘n lewensredder. In die somer is dit bosgenot soos min! Die dakwaaiers het gewoer. Heelwat bewolkte weer het ook gehelp om die temeperatuur in toom te hou, en elke buitjie was natuurlik ‘n lafenis. Na die 40 mm was dit met die sesuur-koffie op die stoep selfs ietwat koel!

Nietemin, die hitte is ‘n klein prys om te betaal vir al die betowering – soete betowering – wat die Van D’s weer daar “Halfpad hemel toe” beskore was. Ons sal weer in Januarie gaan, en ons gaan NIE Sabiepark toe om ons te straf nie!

Dink net, op 15 November sal dit al tien jaar wees sedert ons die deur van Tarlehoet – toe nog Ukuthula – die eerste keer oopgeskuif het. Tien jaar! Wat ‘n grenslose, onverdiende genade!

HvD