TY 24

Temamusiek wat vir vandag se aflewering aanbeveel word: Vila Rides van Jarre, uitgevoer deur Mantovani se orkes. Vila Rides; HvD “rides” ook – en ek ry weer ‘n TY 24.

TY 24 was op die nommerplaat van my eerste ryding, ‘n ligblou 1953- Peugeot 203 waarmee ek, trots soos ‘n pou, begin 1960, my derde jaar aan Tukkies, by Kollegetehuis opgedaag het. Die “Santa Maria.”

Nou, byna 50 jaar later, het ek weer ‘n TY 24: ‘n rooksilwer 2007-Honda CR-V, waarby ek hierbo kniel. TY 24 – my eerste, en my laaste dalk ook.

Die TY 24 verklaar die WP op die plaat. Nee, ek bly ‘n Blou Bul en/of ‘n Cheetah. Moeilikheid is net: sonder daai WP aan die einde kon ek nie TY 24 kry nie. Toe vat ek dit maar – en hoop nie my vriende verdink my van mantelswaaiery nie!

Van die Peugeot (glo uitgespreek Pudjou) tot die Honda CR-V (my tweede uit daardie stal) was daar nou al tussen my en Tokkie 22 motors in ons motorhuise (huidiges ingesluit, natuurlik).

‘n Amper volledige lys is in my boek In Kamera (Protea Boekhuis, 2003) in die hoofstuk Padlangs, wat deur Cecile Celliers in haar resensie in Beeld as ‘n “vervelige” hoofstuk bestempel is. Dalk had sy reg, hoewel ek weet van lesers van In Kamera wat nie met haar saamgestem het nie. Ons laat dit daar – elkeen het sy/haar mening.

Wil net se, in In Kamera word die een en ander oor die Pudjou meegedeel, wat ook vriende van daardie jare dalk so ietwat nostalgies kan stem. Gaan koop die bleddie boek, soos Nataniel sou se.

Nietemin, as iemand gehoop het dat ek in Padlangs sou onthul waar die naam Santa Maria vandaan gekom het, kan ek net se: jammer, ou vriend. Ek weet dit self nie. Iemand het eenvoudig om onverklaarbare redes besluit Santa Maria is wat daardie kar moet heet – ‘n Spaanse skip wat daardie tyd in die nuus was.

‘n Komplikasie was dat ek eers op 4 Februarie 1960 my rybewys gekry het. Trouens, pa Malan, het my met die Pudjou leer bestuur. ‘n Amperse onvermydelikheid weens die onervarenheid was dat my wiele binne weke blinkpens bo gele het.

Op pad met die oulike Retha Vaandrager na ‘n tafeltennis-oefening het ek een aand op die hoek van Farenden en Schoeman in Pretoria ‘n stopteken teen ‘n jakarandaboom misgekyk. Ek het reg voor ‘n ander motor ingery. Die slag het mense uit woonstelgeboue laat storm. Iemand is met Retha vort hospitaal toe en ek was bra bedremmeld. Gelukkig wa net Retha se horlosie daarmee heen en haar arm rou geskuur teen die teerstraat. Maar daardie nag het ek my hart le en uithuil oor my flenterse voertuig; boonop nie verseker nie. Wat sou my ouers se? Wie sou betaal?

Die volgende dag het tant Minnie Smith Klerksdorp toe gebel. Haar mededeling aan ma was kort en kragtig: “Hennie staan hier langs my. Hy makeer niks nie. Maar hy was in ‘n ongeluk. Sy kar is vol duike.” Die blydskap oor haar seun se ontkoming het gelukkig ma se skok oor die skade oortref. Die motor is na ‘n woonbuurt-garage iewers in die Brooklyn-omgewing met gebrekkige duikklopgeriewe vir herstelwerk. Dit het lank geduur.

Op ‘n dag vra ek speel-speel vir Naas du Toit, ‘n HK-lid: “Wanneer dra jy by tot die Van Deventer-hulpfonds?” Hy begin stotter en verduidelik hy wag net tot die volgende maand se sakgeld opdaag. ‘n Paar weke later is ‘n koevert onverwags aan my oorhandig met bydraes van Kollegemanne. Dis nou vir jou kameraderie. Ek wonder egter of Naas ooit geglo het dat ek werklik totaal en absoluut van daardie onverwagte insameling onbewus was.

Die Pudjou was nooit weer dieselfde nie. Een grou Sondagmiddag het ek en Cas Jacobs die kar voor Asterhof gaan trek met ‘n yslike “Hoekie vir Eensames” op die voorruit. Toe dit donker word, was ons steeds eensaam! Maar vir uitstappies fliek en padkafee toe was die 203 eersteklas. Vir besoeke aan die Uniegebou om in ‘n meisie se geselskap Pretoria se liggies te bewonder, was sy ruimte snoesig en gerieflik. En op ‘n epiese tog na Bloemfontein vir die Uniefees (met behulp van ‘n stuk bloudraad en ‘n tang vir probleme met die vergasser) was hy in meer as een opsig ‘n staatmaker. In ‘n bitter koue Bloemfontein het vier bibberende Kollegemanne een nag in hom geslaap.

Halfpad deur 1962 was die Pudjou nie meer lekker nie. Sy betroubaarheid was onder verdenking. Dit het die era ingelui van die “Grassnyer” of die “Skoolbus”, ‘n 1962 Fiat 500-stasiewaentjie. Maar dis nou weer ‘n ander storie …

Later vandag mik ek en Tokkie noord – Sabiepark toe. Ons ry nie met TY 24 nie, wel met CY 7755 (dis die ou CR-V). Hy word nou die “Bosbus”. Weet iemand dalk van ‘n koper vir ‘n 1997-Volkswagen Mikrobus 2.3?

Weens die Sabiepark-uitstappie gaan hierdie “blog” nou so vier of vyf weke van die lug – tensy ek natuurlik daar ‘n bevlieging kry. ‘n “Blog” van Tarlehoet se stoep af, dink net! (Ja, dis moontlik, danksy die “invertertjie” wat 14 volt tot 220 omskep. Die “wonderboksie” trek my skootrekenaar.)

Twee slot-mededelings:

(i) Dat Brent en Mariza getroud is (vorige “blog”) is natuurlik ‘n vergissing. HvD raak oud en minder skerp. Brent is getroud met Marisa (met ‘n s), ma van die tweeling, wat nou met haar regterarm in gips sit. Maar dis ook ‘n ander storie.

(ii) Die ouderdom wat ek op 3 Januarie bereik het, 66, word in Bingo Clickety-click genoem. Die inligting kom van Fred Schnetler – die man met die wydste algemene kennis wat ek ken.

Iemand: “Hoe oud is jy nou?”

HvD: “Clickety-click.”

Wonder wat sal daai iemand dink!

Groetnis

HvD