Veertig jaar van seen

Sondag, Oujaarsdag, veertig jaar gelede is die jongeman Jakob Hendrik van Deventer en die jongevrou Gesina Susara van Wyk (toe nog nie 21 nie) op Bultfontein in die eg verbind.

Veertig jaar – dis ‘n stywe skof. Daardie lag-met-‘n-traan-grappie oor ‘n lang huwelik kan by so ‘n geleentheid seker afgestof word:

Twee gryskoppe sit en gesels oor die getroude lewe. Die een ou wonder hoe dit moet wees om 40 jaar ongelukkig getroud te wees. Die ander ou antwoord: Wel, dit moet hel wees. Ek is 40 jaar gelukkig getroud en dis erg genoeg!

Dat dit so erg sou wees, is seker oordrewe. Elke huwelik het vermoedelik maar sy goeie en sy minder goeie tye. Vir my is die groot toets opgesluit in ‘n eenvoudige vraag: sou jy weer?

As jy sukkel om daarop “ja” te antwoord, kyk jy waarskynlik terug op ‘n stuk groot onaangenaamheid.

A.G. Visser (een van my gunstelinge) het ‘n oulike versie gemaak oor Die Katkisasieklas (veertig dae lank gereen, veertig nagte agtereen…). Hier is my poginkie tot ‘n parodie:

Veertig jaar getroud met een,

Veertig jaar van ryke seen;

Dis ‘n lang skof tot op hede;

Oom, mag ek vir Oom iets vra?

Maar alte seker, seunie, ja:

Is die Tante daa’m tevrede?

Klink Sondag ‘n glasie op my en Tokkie. Veral op Tokkie. Sy moet maar hare op haar tande gehad het.

HvD

Feestyd

Een feesdag verby; vier om te kom. Dis die situasie by die Van Deventers hier aan die einde van 2006/begin 2007.

Kersfees was ‘n familie-besigheid: Ons en ons kinders en kleinkinders; ouma, swaer en skoonsus Fanie (Tokkie se broer) en Maretha, skoonsus Mimi (Mariza se ma).

Ons Kersete was iets van die bos en iets van die see. Van die bos was gebraaide vlakvarkboud. Mimi het dit in haar (oorgewig) bagasie uit Johannesburg saamgebring. Skitterend! Van die see was daar kreefsterte en calamari (Tokkie en Mariza se spanpoging). Ook koningskos!

Die middag het ge-eindig in Johan en Mariza se nuwe swembad. Vide die foto van die twee swaers plus Jacob en Thomas in die water. Wat ‘n vrolikheid!

Saterdag 30 Desember is Brent en Mariza 6 jaar getroud, en Oujaarsdag ek en Tokkie 40. Glo ons “robynherdenking”. Gelukkig het ek vir haar jare gelede ‘n robynjuweeltjie uit Rusland saamgebring. Saak afgehandel.

Ons nooi ons vriende vir ‘n korter of langer inloer Sondag na kerk. Hier sal wyn wees. Johan gaan wors braai vir worsbroodjies. Ek hoor ook iets van hoenderslaai en koue waatlemoen.

Ons fees van die jaar was egter op 15 Maart toe Tokkie 60 geword het. Hierdie is sommer maar net.

Woensdag 3 Januarie is die ou gryse 66. Die volgende dag gaan haal ek my nuwe registrasienommer: TY 24 WP. Die storie kom nog. In elk geval, ‘n lekker verjaardagpresent.

Saterdag vertrek ons op ons eerste skof Sabiepark toe, via die Karoopark, Sarel Venter-hulle in Bloem en Ben Smith-hulle in Randburg.

My kruisbande en baadjieknope begin waarsku dinge loop verkeerd – en hef-aan le nog voor.

Ai, dis lekker om mens te wees!

Groetnis – en mag 2007 ‘n GROOT jaar wees.

HvD.

Nancy Ames

En hierdie nooientjie? Ja, julle het al vergeet, ne!

Haar naam is Nancy …. Nancy Ames. ‘n Meisie met ‘n groot stem, wat deur haar sangleermeester beskryf is as “warm en sensueel – soos geel koring en ryp appels”.

Haar debuutalbum, The Incredible Nancy Ames, kom uit die dae van my jonkheid, circa die Goue Vyftigs. Dalk Sestigs. Op daardie album sing sy o.m. Cu Cu Rru Cu Cu Paloma dat jy wil uitstorm en die duifie gaan soek.

Nou waarheen is ou Hennie nou vandag op pad heen?

Ek wil julle net vinnig vertel van ‘n Kerspresentjie vir myself. Ek het ‘n klompie uitsoek-langspelers op CD laat sit.

Nou vul Nancy se “warm, sensuele stem” na jare se stilswye weer ons woonkamer. En regtig: dis soos “geel koring en ryp appels”.

Maar dis nie net Nancy Ames wat die hart laat warm klop nie. As huweliksgeskenk van Jan-Jakob de Jager het ek en Tokkie gekry die plaat Homage a Piaf. Boeta, luister maar as Piaf die sentimentele Jimmy Brown aanhef (Les Trois Cloches). En Milord – absoluut meesleurend.

Wonderlik soos die dinge werk, hoor ek nou die dag uit die bloute per e-pos van Jan-Jakob. Moet hom tog laat weet die “Mossie van Parys” het weer nuwe lewe in die Van Deventerwoning.

Gaan julle nie van al die plate vertel nie. Hier’s net ‘n voorsmakie van waarna ek en Tokkie nou saans luister:

Stille Nacht, gesing deur die Bielefelder Kinderchor op ‘n Kersplaat wat Lufthansa my present gegee het terwyl ek nuusredakteur van Die Volksblad was;

Komm herab, o Madonna Theresa – Joseph Schmidt;

Bella figlia dell” amore (kwartet uit Rigoletto) – Gigli, Galli-Curci, De Luca, Homer (wonderskoon!);

M’appari Tutti Amor – Jussi Bjoerling;

Capricio Italien – Munchen Philharmoniker.

Genoeg, genoeg. Maar dan het ons ook kompilasieplate wat komplikasie -CD’s geword het, soos 50 Great Moments of Opera en 30 Piano Masterpieces.

En ons het ‘n Clayderman wat Johan as ‘n klein seuntjie vir Tokkie gekoop het. Snitte soos Elvis se Love Me Tender, Speak To Me Of Love en Tristesse (So Deep Is The Night) is soos maroela- roomlikeur.

Groetnis

HvD

Oupa, bursjie

Die kindertjies in die swembad is maar die begin van die storie. Dis by hul swemles geneem. In Durbanville. Ek en Tokkie moes die twee verlede Vrydagmiddag daar besorg omdat hul pa en ma vir die naweek Mosselbaai toe was. Ek neem toe my kamera saam en kom met ‘n pak swemfoto’s huis toe.

In elk geval, toe hulle Maandag moet terug Welgemoed toe is Oupa se beursie weg. Ek is maar agtelosig met sulke klas dinge, maar die keer kon ek sweer ek kan my spore volg totdat ek die beursie in die woonkamer op ‘n tafeltjie neergesit het.

Ons keer die huis om. Ek. Tokkie. Lydia (huishulp). Die twee word ondervra, maar kom net vorendag met: “Oupa, bursjie.”

Nou-ja die feesdae le voor en vroeg in die Nuwejaar wil ons pad vat met die ou CR-V. Die word nou ons Bosbus. Ek laat neem dus dadelik foto’s vir ‘n rybewys; ek ry AA toe en reel vir ‘n nuwe kaart; ek bel Infinity – en hou tot in die “infinity” aan voordat iemand antwoord – om ‘n nuwe Wildkaart te bekom. Ek reel met die bank om van elke transaksie ‘n sms te stuur, dag en nag.

Die Dinsdag hang onweerswolke nog in die lug. Ek is ongelukkig want ek glo my beursie het in die huis weggeraak, Tokkie is ongelukkig want sy se ek beskuldig maklik ander terwyl my eie rekord maar power is, Lydia is ongelukkig want sy vermoed haar onvermoe om die beursie op te spoor, reflekteer sleg op haar.

Die Woensdagoggend roep Tokkie uit die kamer. Hier is die beursie, waaragtig. Onder haar fyngoedjies op ‘n lae rak in die kas. Die scenario wat homself aanbied, is nie moeilik om te ontrafel nie.

Op my program vir die dag was om in Milnerton te gaan toustaan vir ‘n rybewys. My nuwe AA- en Wildkaarte was reeds op pad, Die sms’e kom in, selfs elke keer as T net melk en brood koop. Nou die verligting! Ek was so bly, ek was niks kwaad nie – nie eens toe T bely sy onthou vaagweg iets van Jacob wat beursie in die hand by haar aangekom het nie. Toe se sy net: “Gaan bere dit.” Toe gaan bere hy dit gehoorsaam, soos sy ouma gese het. Soet seuntjie!

Ewenwel, nou pas ek daardie beursie omtrent op, hoor. Kontroleer minstens twee keer per dag of ek weet waar dit is.

Laas het ek gedreig met die storie oor TY24. Kom ons bere dit vir Januarie as my nuwe nommerplate opkom. (Maar die nuwe CRV ry darem wonderlik!)

Intussen ‘n kort bulletin oor die Kaapse Volksbladmense se welstand nadat ek gister telefonies die ronde van Vader Cloete gedoen het:

CHRIS MOOLMAN: Hy was gister by sy artse. Die behandeling is op spoor. Hy is daar weg met nog R8 000 se interferon vir die volgende maand. Die goed maak hom naar en moeg, maar die dokter meen in die lig van die dosis wat hy kry, is die reaksie nie te erg nie. Die goeie nuus is dat die behandeling nie die witbloedselle aanval nie. Dus is dit volstoom voort.

PIET GOUWS: Hy was die vorige dag in die tonnel vir ‘n “cat scan”. Nou moet bepaal word presies waar en hoe hy bestraal moet word. Die behandeling sal waarskynlik a.s. week begin.

FRED SCHNETLER: Hy kla hy is maar erg kortasem. Word gou moeg, en soek dan dringend ‘n bed vir so 20 minute. Die wakker FS-verstand werk steeds oortyd. Hy het ontdek wat almal vergeet het: dat Afrikaans op plate vanjaar 100 jaar oud is. Die resultaat was ‘n rubriek gister in Volksblad. Ek moedig hom aan om vir By iets te maak dat die res van die land ook daarin kan deel.

CHRIS KOOLE: Hy is in remissie tot middel Januarie. Die behandeling word dan hervat. Hy klink goed en rapporteer dat hy goed lyk en goed voel.

BEN VAN RENSBURG: Perdfris na ‘n nag in die hospitaal met ek weet nie presies wat nie.

Nog Kaapse nuus is dat Salie en Lisa de Swardt se jaarlikse Beeld-party vir oudgediendes vanaand op hul pragplasie by Stellenbosch gehou word. Dis altyd ‘n feestelike geleentheid. Gerda Pienaar en Salome Iemand (ek ken haar nie) het vir die geleentheid ingevlieg. Ben en Rina Koen ry van Langebaan af. Piet Gouws ruk op uit Muizenberg. Ek sny vanjaar daardie koord deur. Raak te oud om in die aand te ry op ‘n pad wat my plek-plek die horries gee – en dit boonop met ‘n lyf vol wyn. Gaan dus maar hier op Melkbos die huweliksherdenking van vriende in ons portuurgroep bywoon.

‘n Laaste dingetjie is ‘n algemene ekskuus aan almal wat ek die laaste ruk onder e-posse begrawe het, party glo taamlik veeleisend om af te laai. Jammer, vriende, dis net dat ek so lekker met al die nuwe goeters speel. Sal vorentoe groter selfbeheersing aan die dag probeer le.

Dis dan dit. Gesondheid in die rondheid.

HvD

More uit Melkbos

Hierdie “blog” was lank geblokkeer – al van einde Oktober af. Die rede was die min aanvanklike verkeer. ‘n “Blog” sonder lesers is vir die skrywer natuurlik erg frustrerend, soos ‘n dollee (umlaut op die tweede e) saal vir ‘n politikus of ‘n sanger moet wees.

Natuurlik moet blog-skrywer, politikus, sanger of wie ookal, nie elders die skuld gaan soek nie. So ‘n toedrag van sake noop (of behoort te noop) tot ‘n hand wat in die eie boesem gaan delf. Dit is presies wat ek gedoen het. Die gevolgtrekking was voor die hand liggend: my “blog” is droog.

‘n Inspuiting van die een of ander leser-stimulant of permanente opskorting was skynbaar die enigste opsies. Aptekers verkoop eersgenoemde nie oor die toonbank nie. Laasgenoemde was dus al wat oorgebly het.

Een keer tevore het ek tog die dooie perd weer opgesaal. Vandag doen ek dit ‘n tweede keer. Hoekom?

Vir eers is Kerstyd ‘n baie spesiale tyd. ‘n Mens voel ‘n soort toegeneentheid teenoor jou ewenaaste wat anders en sterker is as in die res van die jaar. Jy stuur Kerskaartjies, sms’e en e-posse. Jy soek vriende op of bel.

In sulke tye van wellewendheid moet die blokkering van jou “blog” nie ‘n blok aan jou been wees nie! Jou “blog”-ruimte bied homself immers as ‘n bykomende kanaal vir Kerswense aan. Hoekom dit dan nie benut nie? (Kyk hierbo.)

Ten tweede beleef die hvd-blog die afgelope tyd ‘n soort “Indiese somer”, met heelwat meer verkeer as aan die begin. Koppeling met die Afrikaanse sambreeldomein Die Knoop speel daarin ‘n klaarblyklike rol. Nou het die Peterjasie Patriot van Pretoria (www.peterjasie.co.za/patriot102) hennievandeventer.com die eer aangedoen om hom uit die bloute by sy intekenare aan te beveel .

Ek kon vir die peterjasie-mense laat weet: dit werk, hoor! Uit die peterjasie-oord word ‘n gereelde besoekerstroom na die dotkom ondervind. Dit spoel oor na die “blog”. Die “outside working”-kennisgewing word dus ‘n verleentheid.

Aan die “ou einde van die dag” (met apologie aan Naas Botha) het ek ‘n paar mededelings op die hart:

(i) Mayafudi- memories of an elephant staan boksevol hier op my studeerkamer se vloer. Die bemarking aan boekwinkels sal vroeg in die nuwe jaar afskop. Die spesiale Mayafudi-webwerf, www.mayafudi.co.za, staan ook voet in die stiebeuel (met apologie aan Johan van Wyk).

(ii) George Holloway, die ou doring, se laaste hoofstukke van die Engelse Buurman (Next Door to the Kruger) is by die tikster. Hou gerus ook www.sabiestories.co.za dop.

(iii) Oud-kollega Ruti van der Merwe en sy vrou, Naomi, het na 11 jaar uit Nieu-Seeland kom kuier. Hulle gaan hier in die Kaap tuis by Tom Ferreira (eweneens ‘n oud-Volksbladder) en sy vrou, Marietjie, in Van Riebeeckshof. Toe kom die ellende soos diewe in die nag… Terwyl hulle rustig slaap, word feitlik als wat hulle saamgebring het, weggedra – geld, paspoorte, vliegkaartjies, die lot. Vanselfsprekend is hulle galbitter. Hy sit nie weer sy voet in sy ou vaderland nie, se Ruti. Kan ‘n mens die stomme man kwalik neem?

(iv) Na sewe jaar is die Honda CR-V met ‘n nuwe vervang. Sulke spandabelheid van ‘n ou man rus swaar op my pensioentrekker-gewete, maar, ai, die nuwe wiele is darem ‘n reuseplesier. Ek gaan loer elke nou en dan by die motorhuis in om te kyk of die rooksilwer meneer met die papiernommers nog veilig daar staan. (Registrasie vind eers in Januarie plaas – dan word hy TY24 – WP, wat weer ‘n ander storie vir ‘n ander tyd is).

(v) Die Van D’s verlang na die bos met ‘n seer hart. Vroeg in Januarie swaai ons die ou CR-V se neus noordwaarts. Hy word nou ons “bosbus”. Die blou kombi kom op die mark. Enige aanbiedings? (Laat ek so rustig afsluit soos ek begin het, maar as een Kapenaar weer vir my wil vertel hoe warm ons in die somer in die Laeveld gaan kry, skree ek uit volle bors. Alla kragtie, die hitte van die bos is ver-ver verkieslik bo die Suidoos se gereelde somer-aanslae hier. In Sabiepark sal elke aand vleis braai. Hier kan jy maar daarvan vergeet. Boonop wink die ou swembadjie wat TvD met haar bos-kreepy-krauley so kraaknetjies hou…)

Wederom

HvD