Mayafudi

Nee, HvD se blog staan nie uit sy “winterslapie” op nie (sien vorige inskrywing). Die status bly: Buite werking/Outside working.

Hierdie bydrae, versier met Sunette de Beer se eerste ontwerp vir die Engelse Mayafudi se omslag, is om twee redes:

(i) Om alle moontlike verwarring te probeer vermy oor hoe die blog se onaktiwiteit die res van die Van D-bedrywighede op die internet raak. Die antwoord is: Niks. Die staanplek www.hennievandeventer.com met al sy verwante werwe en foto-albums gaan onbelemmerd voort.

(ii) Om ook in hierdie kolom tot siens te se aan kollega Alf Ries oor wie se stryd teen kanker in vorige aflewerings berig is. Ek onthou een van ons laaste telefoongesprekke toe hy reeds uiters verswak by sy seun, Hartman, aan die Rand aan die bed gekluister was. Hy wou weet wat het Naspers se aandeleprys die dag gedoen. Ek het nie geweet nie. Hy was vies en gefrustreerd.

Ja, baie is sedert Donderdag om 16:10 gese en geskryf oor Alf die politieke beriggewer. Oor Alf die Beurs-entoesias (en suksesvolle belegger) en Alf die Franskraal-liefhebber (o, die vuurtjies onder die melkhoutbome!) kan ook boeke geskryf word.

Van die Engelkse Mayafudi gepraat: die wiele rol. Vroeg in die nuwe jaar trompetter my olifantjie met ‘n Oxford-aksent!

HvD

Buite werking

Buite werking – outside working. Dis die status van www.hennievandeventer.com/blog.html vir ‘n onbepaalde tyd. Dalk permanent. Dankie vir diegene wat die moeite gedoen het om in die paar weke van sy bestaan wel die blog op te soek.

Soos hulle se: tjeers vir eers.

HvD

Gasteboeke

Die Van Deventers het mos ‘n ding oor Gasteboeke. Hier op Melkbos is een wat nog uit Van Schoorstraat se dae in Bloemfontein kom. Dit is propvol name wat herinneringe bring. In Sabiepark is ook ene. Wonderlik om deur te blaai en gaste se op- en aanmerkings te lees en te geniet.

Nou’s daar ‘n derde een. In www. hennievandeventer.com, die webwerf waaroor ek al lank hoopvolle vooraf-reklame doen. Ja, kom kuier vir die Van Deventers op die web! Met die kundige hulp van ‘n “engel voor ‘n rekenaar” met die naam Sunette de Beer is ‘n klomp persoonlike memorabilia so verpak dat dit hopelik vir aangename kuiers sal sorg.

Die kuierseisoen is oop. Ag, en teken tog die Gasteboek, mooi asseblief!

Die skakels op hennievandeventer.com het name soos Bosveld, Melkbos,Witnek, Tokkie60, Nog Tokkie, Versies, Boeke, Mayafudi, Kerk, Ware Jakob en Hennie van Deventer. Dit bevat hope foto’s. Meer verklap ek nie.

Op die tuisblad is ook lewende skakels na my blog, www.hennievandeventer.com/blog.html , en ‘n paar ander plekke, wat ek graag onder die aandag bring:

www.picasaweb.google.com/hennievandeventer vir nege foto-albums (soek jou eie gesig!);

flickr.com vir ‘n versamelinkie hoofsaaklik wildfoto’s;

www.krugerview.co.za vir ‘n webwerf wat Buurman van die Wildtuin (in die oorspronklike Afrikaans) bemark;

www.sabiestories.com waarmee die (sagte) bemarking begin vir die Engelse Buurman wat op pad is (Living next door to the Kruger), en

www.mayafudi.com wat die weg moet voorberei vir die Engelse Mayafudi.

En die leeufoto hierbo? Die verskyn wel in my internet-goeters (in die picasa-album met die titel Wildtuin), maar hy staan vandag daar waar hy staan omdat hy vanoggend ook lewensgroot in Die Burger pryk – HvD se vertraagde toetrede tot Die Burger se natuurfotokompetisie. Ek het twee foto’s van daardie leeutoneeltjie ingestuur, en na my persoonlike oordeel is die beste een snippermandjie toe. Maar nou-ja, ek’s darem bly een ou ooilammetjie is in die kraal.

Vir die Volksbladhoekie:

Alf Ries se behandeling is vir eers gestaak. Sy situasie word oor ‘n maand heroorweeg. Dit gaan nie goed met Alf nie. Die nommer van sy seun, Hartman, waar hy versorg word, is 011-478 1871.

Chris Moolman se wond het mooi herstel nadat hy ‘n week met ‘n ongemaklike dreineringspyp geloop het. ‘n Onkoloog sal binnekort oor sy behandeling besluit.

Oor Chris Koole het ek nie nuus nie. Tobie Wiese sal na die naweek rapporteer.

Hier te huise gaan dit goed. Die grasperk is net erg omgedolwe vir ‘n waterlei-stelsel. Ons wil al hoe minder moeite in en om die huis he. Om daardie rede is ‘n stukkie tuin aan die voorstoep terselfdertyd in plaveisel omgeskep. Hopelik skud ons hierna darem iets van ons erge huisgebondenheid af as gras en blomme wat verwelk, nie meer ‘n daaglikse kopseer is nie.

Vriende, skud julle dus reg vir die Van D’s by jul voordeur die een of ander tyd!

Groetnis

HvD

(Naskrif: Indien iemand die ander leeufoto wil sien, brul net. Dan e-pos ek hom. H.)

Olifante

Die kinders kom uit Sabiepark terug met foto’s soos hierdie.

Maandagamiddag braai Johan vir hulle ‘n laaste worsie by die piekniekplek. Toe’s die olifante skielik soos ‘n tampans op ‘n hoender se rug.

Hier’s plus-minus 43, SMS Mariza. Later: “Korreksie, hier was 72!” Maak nie saak presies hoeveel nie; wat hulle gesien het, is indrukwekkend. Ek en Tokkie is jaloers. Baie ander Sabieparkers sal ook wees.

OP my Picasa-bladsye het ek begin met ‘n album oor olifante by die piekniekplek. Klik net www.hennievandeventer.com. Onderaan die tuisblad is ‘n skakel na die Picasa-albums. Die nege olifantfoto’s (fotograaf: Mariza) in die nuwe album is maar net ‘n begin.

Robbie Wessels se Leeuloop het die mense aan’t gons. Toe kry ek ‘n in die nag ‘n ingewing. Hier’s my nagversie – titel Leeuloop.

Satan loop rond

soos ‘n leeu wat brul,

boeta, dis ‘n leeuloop

met ‘n enorme verskil.

Ou Robbie se leeuloop

is net vermaaklik … of laf,

die Bose se leeuloop

spel die ewige straf.

Spits dus jou ore,

hou jou oe wawyd oop:

kan ‘n mensvreterleeu wees

wat daar loop, wat daar loop ….

Mooi loop!

HvD

More uit Melkbos

En die hoop pap? Die foto kom van Philip van Rensburg. Die oorsprong is Sabiepark se jaarvergadering in Julie. Klaarblyklik kom dit uit die era voor die bloeddruk-skrik en die duneet-dissiplines.

Dit is natuurlik ietwat onsensitief om juis nou so ‘n foto te stuur. Maar nou ja, dit herinner darem hoe (buitensporig) lekker tot ‘n ruk gelede nog ge-eet en gedrink is. En daardie pap en “sheba” (‘n spesiale soort tamatie- en uiesmoor) smaak vorentoe, hoor!

Van Sarel Venter kom die blink idee dat hierdie blog onder meer as ‘n soort “kletskamer” vir oud-Volksbladders dien. Die “onder meer” is ‘n doelbewuste woordkeuse. Die bedoeling sou immers nooit kon wees om dit net vir die of daardie groep af te baken of te reserveer nie. Maar ek hou van Sarel se idee – ene wat voortbou op sy vorige suggestie dat die Volksbladmense van ons generasie van tyd tot tyd mekaar oor hul doen en late op die hoogte hou.

Hierdie blog kan daardie funksie verrig. Sonder veel moeite. Laat die e-posse dus instroom!

Of wag, kommunikasie hoef natuurlik nie noodwendig per e-pos te wees nie. Onderaan die blog is ruimte vir opmerkings of kommentaar. Benut dit gerus om saam te gesels.

Maar is “kletskamer” ‘n lekker woord? Klink dalk ‘n bietjie onwaardig vir gryskoppe en kierieswaaiers. Met my liefde vir ‘n vuurtjie sou ‘n naam soos “kampvuur” my meer geval. Ander voorstelle?

Sarel was so vriendelik om ook van my ander e-aktiwiteite onder die aandag te bring. Die webwerf, www.hennievandeventer.com, behoort hierdie week ver te vorder. Teen Woensdag sal die meeste blaaie gelaai wees. Ek sal laat weet.

Belangstellendes wat nou al wil gaan rondloer, is egter meer as welkom.

Met die Van D’s gaan dit in die algemeen voorspoedig. Die tweeling se gebrek aan spraaksaamheid (anders as hul oupa!) veroorsaak ‘n effense ongerustheid. Kundige evaluering dui egter net op ‘n spiertraagheid wat reggestel kan word. Ons moet maar geduldig wees.

Johan en Mariza kom Dinsdag terug uit Sabiepark. Die twee – en Mariza se Aussiesuster en haar gesin – was baie gelukkig aan die dierefront. Hulle het ‘n groot verskeidenheid wild gesien. Sabiepark se piekniekplek was veral ‘n groot bron van Bosveldvreugde.

Ek brand om weer by Tarlehoet ‘n vuurtjie aan te steek. Maar dit sal waarskynlik moet wag tot Januarie.

Nuus oor vriende is o.m. dat Alf Ries nou in Johannesburg by sy kinders is. Hy moet nog ses of so bestralings ondergaan. Daarna sal hy graag wil terugkom Kaap toe. Die tyd sal maar moet leer hoe haalbaar dit is. My plan is om more by Chris Moolman in te loer. Weet nie of al besluit is watter behandeling hy moet kry vir die gewas onder sy arm wat Maandag verwyder is nie.

Rina Koen het ‘n sleg ding oorgekom. Sy was Johannesburg toe vir M-Net se feestelikhede, en kry toe in ‘n restaurant ‘n dwelm in wat haar totaal uitskop. Bloedtoetse dui aan dit was dagga wat skynbaar in ‘n poeding ingeroer was.

Hoe meer dae hoe meer dinge!

Groetnis

HvD

Van D se foto’s sit ini hek!

A, dag ek toe Die Burger sy natuurlewe-fokompetisie aankondig. My beste foto’s is wel in Sabiepark. Maar hier het ek darem ook oorgenoeg. Ek begin dadelik uitsoek en instuur. Maar verrassing, verrassing, Van D. se foto’s sit in die hek op ‘n yslike skaal.

Hiertdie enetjie het darem DB se webwerf gehaal – met die sittende bokkie se bors en die maat se voetjies afgesny. In die koerant self is nog geen gepubliseer nie. Lyk my daar’s ‘n definisieprobleem: ek dink oor goeie natuurfoto’s onmiddellik aan onderwerp (luiperd wat gaap op ‘n gapende boomtak, ‘n hiena wat ruik aan die vlammetjies in ‘n braaier se bak, ens), DB se beoordelaars dink in terme van tegniese uitmuntendheid en kreatiwiteit (slim beligting, ens). “Never the twain shall meet.”

Die bokkie is nogal sjarmanterig, ne? Maar tot nou sou ek dit nie juis as een van die keur uit die uwe se Bosveld- versameling beskou het nie.

Terwyl Sabiepark aan die beurt is: die kinders (Johan en Mariza) is nou daar met M. se familie uit Perth. Die diere sit hul beste voetjie voor: olifante en buffels by die piekniekplek, kameelperde in die strate, ‘n verskeidenheid besoekers by die watergat en die voels se drinkbak. Eergisteraand beleef hulle toe ook die skouspel van ‘n (“elektriese”) donderstorm oor die Bosveld.

Mense kan maar praat oor Johannesburg se weerlig. In my eie ervaring is die verblindende flitse en oorverdowende gedonder van ‘n Bosveldstorm in ‘n liga van sy eie. So beleef hulle dit toe ook (en het Brent en Mariza dit ook al beleef). Mariza stel toe net almal gerus: “Toemaar, ons het ‘n paal.”

(Ja en ene wat ‘n pakkie kos om die SABS-stempel te kry wat die versekeraars vereis – HvD).

Maar ek onderbreek myself. Die volgende oggend hoor hulle by Gerard van Niekerk, parkhoof, ‘n huis het geheel afgebrand. Ene in Wildevy. Nie ver van ons af nie. Laat ‘n mens se keel toetrek. As Tarlehoet darem moet afbrand… ‘n Stukkie van my hart sal saam in vlamme opgaan.

Terloops, terwyl die jong Van D’s daar die wildlewe geniet, kuier hul honde, Intwa en Manzi hier. Eers Sasha, nou Intwa en Manzi! Die drie se gedrag demonstreer iets oor jeug en ouderdom – Sasha is ‘n regte storm-en-drang hondjie ; Intwa en Manzi vertoon die groter rustigheid van die ouderdom. Net as ek die kierie vat om te gaan stap, raak hullke skoon oorhoeks. Arme honde! Want nee, ek het nog nie geswig nie.

Aan die eie gesondheidsfront is dinge wel. Ek het net nie oral myself met glorie bekroon deur op nommer 99 kleinkoppie te trek vir my geskeduleerde sinusoperasie nie. Tokkie se as die sinus weer lostrek, moet ek nie by haar simpatie soek nie. Maar my entoesiasme vir die operasie het oornag tot op so ‘n lae vlak getaan dat ek eenvoudig nie kon voortgaan nie, verleentheid of te not. Nou grap ek maar: ek het my neus opgetrek vir die operasie! (Lag iemand?)

By kollegas en vriende is die nuus nie oral so goed nie. Alf Ries is gister Johannesburg toe om sy behandeling (bestraling) daar by sy kinders voort te sit. Ek het hom gaan groet by die Panorama Medi-Clinic waar hy vir ou laas bestraal is voordat hulle lughawe toe is. Dit was ‘n emosionele oomblik. Chris Moolman is 12 uur vroeer in die C. Louis Leipoldt-hospitaal geopereer. ‘n Gewas so groot soos ‘n tennisbal en kleiner gewassies is verwyder. Dit is weggestuur vir ontleding. Die vrees is dat dit ‘n melanoom is wat hervat het. Die is twee jaar gelede uit sy rug verwyder.

Ek, Alf en Chris is middagete-maats. So elke paar maande eet ons saam. (Het ons saam ge-eet?)

Besoekers aan Melkbos sal die HvD-muur in die woonkamer onthou: ietwat oorbevolk met foto’s en sertifikate. Wel, kom kyk nou nadat Rina Koen dit beetgehad het. Minder rame, meer spasie, alles waterpas. Tokkie moes selfs ‘n waterpas gaan koop vir die oefening. Die stomme Rina het ‘n dag lank gemeet en gepas. Haar rug was af. Ek was skoon uitgeput net van kyk. Wat ‘n job! Maar dankie, Rina, dis ‘n muur met karakter en styl – al moet ek dit self se.

HvD