IMG_8256 IMG_8258Die drukkersink het soos lanklaas in my are gebruis toe ek en Tokkie die Claassens-kleinseuns, Jacob, Thomas en Christopher, gister met die binnewerkinge van ‘n reuse-drukkery laat kennis maak het.

Ons was by Paarl Coldset in Paardeneiland – ou tuiste, in my koerantedae, van Die Burger se fabriek. Ons is deur Irette de Waal, ‘n produksiebestuurder, stap vir stap deur die proses geneem tot die hoogtepunt: toe die pers begin rol om die TygerBurger teen 40 000 eksemplare per uur uit te spoeg.

IMG_8262Die kinders was in verwondering oor die enorme inktenks, die massiewe bale papier, die monstermasjiene en die fyn rekenaartegnologie agter hul volkleur-oggendkoerant. Vir my alte heerlik gewees om – al was dit met ‘n kierie – deur bekende hoekies en gangetjies te loop, trappies op en trappies af, en al die reuke en geluide te herken.

‘n Verrassing gewees om deur een van die jonger garde van destyds, Jerome Gurley, in die plaatmaak-afdeling herken te word. Nog ‘n verrassing: die Mondipapier waarop Die Burger gedruk word, word deesdae uit Rusland ingevoer!

IMG_8263daardie slim Ferag-masjien wat die koerant met ‘n ingewikkelde lugbrug van die pers na die invoegers en ander bestemmings bring – ek het soos ‘n peetpa gevoel. Die stelsel dateer uit my tyd. Het ‘n mooi foto in my album van my, Ton Vosloo en Jean le Roux, destyds hoofbestuurder van Die Burger, by die inwyding van die Ferag (al drie sowaar nog in donker pakke!).

Op die foto’s is die kinders met en sonder Irette de Waal op ons boeiende toertjie. Dankie, Irette.

Deel dit: