Boulderskamp tussen die rotse.

Boulderskamp tussen die rotse.

Die drie wildtuinkampe wat van almal dalk die heel diepste in my hart gekruip het, is die natuurskone Olifants, sy buur-boskampie aan die Olifantsrivier, Balule, en die knusse private kampie Boulders, versteek tusen rotskoppies, naby Mopanie.

Om die drie spesiale liefdes in een kort wildtuinkuiertjie in te pas, klink amper te goed om waar te wees. Dit is presies die droom wat einde aanstaande week vir die VanD’s bewaarheid word.

Ons slaap Donderdagaand in Olifants, nogal in ‘n hut met daardie hemelse arendsnes-vallei-uitsig wat net hierdie kamp aan sy uitverkorenes bied, dan twee aande in Boulders en twee in Balule. Hoogtepunt op hoogtepunt, soos sappige vlesies aan ‘n sosatiestokkie ingeryg.

Olifants het ‘n amper mistieke magnetisme – iets in die lug wat jou opkikker, ‘n atmosfeer, ‘n gevoel van tuiskoms wat jou oorweldig die oomblik as jy deur die hek met die kenmerkende reuse-olifanttande aan weerskante ry.

Die uitsig op die Olifantsriviervallei is skouspelagtig, die panorama so groots dat die tydskrif “Weg” se spesiale Krugerpark-gids dit waag om doodernstig te sê-vra: “Dit is immers hoekom jy hierheen (Olifants toe) kom, of hoe?”

Maar daardie aanspraak is darem nie honderd persent juis nie. Die plantegroei (kenmerkende mopanies en nabome by die hope), die rotsagtige Lebombo-wêreld en die uitleg van die kampterrein met sy norring inheemse bome dra ook hul deel by om verslaafdes telkens terug te lok.

Die Olifantsrivier se water is soet. Daaroor is ons dit met die olifante eens. Albei keer maar altyd terug – ons na die kamp doer bo op ‘n steil heuwel om sielsaligheid te vind, en die grootvoete na die vlak, breë waters van die mooi rivier, ver benede die kamp, om te drink, te bad en te speel.

Uitsig op die Olifantsrivier.

Uitsig op die Olifantsrivier.

Boulders waarheen ons op dag twee op pad is, is nog sowat 75 km noordwaarts, dieper mopanieveld in.

Boulders se naam is presies in die kol. Die onomheinde kamp (vyf uiters ruim dubbelkamers met private badkamers en ‘n enorme kuierplek) is omring deur skilderagtige rotskoppies.  Die bekroonde kamp op pale het waarlik ‘n eie karakter. Ek gee hom sommer ses sterre.

Die braaiplek teen ‘n natuurlike muur van ruwe rotse, die bedrywige watergat en die meesleurende stilte (vir sommige dalk ook die lang kroegtoonbank) ding hier sterk mee om die hoogste louere, sou ek reken.

Die massiewe klipstapels sorg vir ‘n ervaring op sy eie. Met ons kennismaking in 2015 was vier klipspringers deurgaans in die klippe aan’t klouter. Die lewendige voëllewe sluit kleurryke dassievoëls en blou sysies in.  In skeure in die rotse gaan muskejaatkatjies tuis.

Drie groepe olifante het minstens vyf keer die watergat kom beset; een keer ‘n troppie van agt. ‘n Grote het soos ‘n verwoede stormram onder twee wildehonde ingevlieg wat ‘n kleintjie kom steur het.

Maar die buffelfees! Die swaar gestaltes met hul indrukwekkende horings het vir die onvergeetlikste hoogtepunt gesorg. ‘n Trop van minstens 80 het rustig uit die bosse gekom en later tot amper teenaan die kamp gewei. Toe skrik hulle eensklaps en storm oor die klippe. Dit het gedruis.  Twee uur later was hulle terug, weer op volle vaart in die teenoorgestelde rigting.

In die lig van die amperse volmaan het ek en Tokkie op ons stoepie gestaan en wonder oor die veiligheid van die Honda wat tussen die pilare onder die struktuur geparkeer was.

Boulders se bosveld-vreedsaamheid  is amper oorweldigend. Des te meer wanneer die vlamme van die kampvuur die lug begin inklim en ‘n ronde rooi maan tussen die bome verskyn. Onbeskryflik.

Kuier by Balule. Nommer ses is in die agtergrond.

Kuier by Balule. Nommer ses is in die agtergrond.

Met Balule, die oorspronklike Olifantskamp by die laagwaterbrug oor die Olifantsrivier, het ons in 2011 kennis gemaak. Daardie nag het ek en Tokkie in rondawel nommer vyf (van net ses) in die klein ruskampie, 11 kilometer van Olifantskamp, oornag – ‘n lank gekoesterde wens.

Balule, ‘n verkorting van Rimbeluli, die Tsonganaam vir die Olifantsrivier, is ‘n uiters basiese, amper primitiewe plek. Hierdie outydse kampie, soos ‘n reliek in ‘n museum, is ook intiem, knus, gesellig en strelend op die oog, veral in die silwer maanlig.

Die ses rondawels staan in ‘n kring om ‘n grasperk waar reuse-essenhoute en worsbome (met ‘n yslike kremetart in die een hoek) vroeg reeds lang skadu’s begin gooi. Huilboerbone, jakkalsbessies, wildevye, koorsbome en wildedadelpalms dra by tot ‘n blaredak.

Teenaan die kamp druis die rivier en raas die seekoeie onophoudelik. Visarende roep. Saans patrolleer hiënas kwylend die grensdraad met sy vanmelewe se “bekslaner”-hek. Leeus brul genoeglik by hul prooi. Die sterre skitter soos diamante. Die maan skep ‘n sprokiesland saam met die vuurtjies, lanterns en gaslampe van die ontspanne groepies wat buite kos maak en kuier. ‘n Swart vrou daag om 17:30 op met ‘n tros lanterns in die hand.

Die rondawel, net muur, dak en vloer en taamlik karig gemeubileer, kan dien as illustrasie vir ‘n hartbeeshuisie. Vensters ontbreek. ‘n Korterige mens moet buk by die deur wat skewerig in sy raam hang. Ventilasie is deur ‘n strook sifdraad direk onder die lae grasdak. Jou “en-suite” bestaan uit ‘n waskom op ‘n driepoot-metaalstaander en, ewe bedagsaam, ook ‘n outydse “koos”.

Elke winter  het ‘n sesstuks studentemaats van Tukkies se Kollegetehuis  daarna op my inisiatief  vyf jaar lank– en een keer ook ses ou Volksbladkollegas  –  na Balule opgeruk om ou bande te verstewig.

Elkeen van die vyf Kollegesaamtrekke was die okkasie vir drie dae se groot ure om yslike vure; van herinneringe opdiep, slimstories vertel en koningskos geniet. Tussen die braai van die wors en die tjops die laaste aand  is die glasies gelig en die Kollegelied tradisioneel uit volle bors om die gloeiende kole in die braaidrom aangehef. “Aan het oewers van de Schelftzee, tussen Delft en Rotterdam…”

Vanjaar het die Kollegespan om logistiese redes  na Orpen verskuif – self ‘n eersteklas-kamp wat dadelik ‘n houvas op ‘n mens kry. Maar die Baluleherinneringe is heilig. Oor ‘n week sit ek daar by my vuurtjie met my wyntjie en diep hulle weer een vir een op. Dink net.

 

Deel dit: