1219988821512034089little%20angel4_svg_medVIR KERSFEES 2016 – Piet Cillië se mooi Kersverhaal: Die engeltjie wat agtergebly het (met erkenning aan die outeur en onbekende verwerker).  

Daar was eendag twee meisietjies  wat elke jaar saam met hul ouers by Willie-se-Baai vakansie gaan hou het.  Hulle name was Anna en Susanna.  Op ‘n dag speel die twee op die hoogste duin.  ‘n Seuntjie kom nader en vra of hy mag saamspeel.

Natuurlik laat die dogtertjies hom saamspeel.  Hulle het hom nog nooit gesien nie en vra wie hy is en waar hy vandaan kom.  Die seuntjie sê hy is ‘n engeltjie.  Die meisietjies lag, en sê hy bedoel sekerlik hy is figuurlik gesproke ‘n engeltjie.  Nee, sê die seuntjie, en lig sy hempie op om sy goue vlerkies te wys.

Wat maak hy dan op Willie-se-Baai?  Wel, hy het eeue gelede saam met ‘n groot koor hier aangeland.  Hy was een van die beste seun-soprane.

Nou hoekom het hy nie saam met die engelekoor teruggegaan nie? Die seuntjie vertel hy het die aarde liefgekry en van die mense begin hou.  Ja, hy verlang soms terug, maar hulle moenie bekommerd wees nie want dis nie so ver na sy blyplek as wat mense dink nie.  As die mense net kon weet hoe naby dit alles is.

Anna wil weet of hy dan verlof gekry het om op die aarde te bly.  Ja, solank hy net nie sing nie.  Dit is streng verbode.  Sodra hy sing, moet hy dadelik terug.   Dis baie swaar om nie te sing nie, want hy doen dit graag.

Susanna het dadelik ‘n plan.  Hulle hou die volgende aand ‘n Kersboom in die saaltjie by Willie-se-Baai.  Daar sal ‘n kinderkoortjie liedere sing.  Die engeltjie moet kom saamsing.  Sy stem sal meng met die stemme van ander, en sy hemelse mense sal nie eens weet hy sing nie.

Die engelseuntjie twyfel eers, maar die meisietjies praat hom om.  Hy het in elk geval baie lus vir sing, veral Kersliedere.

Die volgende aand staan hy tussen die kinders by die Kersboom op Willie-se-Baai.  Hulle sing die mooiste Kersliedere.  Meteens styg ‘n goue kinderstem bo al die ander uit in ‘n onbekende lied, so mooi soos nog nooit op aarde gehoor is nie (behalwe een keer by ’n krip).  Die kinderkoor raak stom van verbasing en almal sien dit is die vreemde seuntjie wat alleen sing.

Anna fluister vir Susanna die seuntjie sal nou moet teruggaan.  Maar die engeltjie sing voort, vir die eerste keer in tweeduisend jaar.

Skielik word oor Willie-se-Baai die geruis gehoor van ‘n magtige koor wat niemand kan sien nie.  Hulle val in by die pragtige stem van die engeltjie en hulle sing ‘n lofsang asof die hemel oopgegaan het.  Hulle sing: Eer aan God in die hoogste hemele!

Die stemme sterf weg en stilte kom oor die strand.  Die engeltjie is nie meer tussen die kinders nie. ….

Daarmee: ‘n geseënde Kersfees vir almal.

(Na ‘n taamlik soektog op die internet het ek hierdie verwerkte weergawe van die koerantman Piet Cillië se Willie-se-Baai-Kersverhaal raakgeloop in ‘n Kerspeek van die NG gemeente Somerstrand in Port Elizabeth.  Merwe Scholtz het dit, so ver ek weet , opgeneem in Vertellers 2.  Rykie van Reenen wat gewaag het om hom as “’n grommende ou MGM-leeu” te beskryf, het na aanleiding van die verhaal opgemerk: P.J.C. is eintlik self “’n agtergeblewe engeltjie – toegegee, swaar vermom, die klei maaifoerie”.)

Deel dit: